Sosiale Skakels

Besoekers

We have 21 guests online

Teken In

Follow us on FacebookFollow us on Twitter


Friday, 09 September 2011 03:48

GRYP VAS AAN GOD SE BELOFTE VAN VERLOSSING - JEREMIA 38:1 - 13

Written by 
Rate this item
(0 votes)

SKRIFLESING: JEREMIA 38:1 - 13

TEKS:  JEREMIA 38:10

TEMA:  GRYP VAS AAN GOD SE BELOFTE VAN VERLOSSING

 

Soms bevind  ʼn mens jou in  ʼn situasie wat jou laat vra:  Maar hoe het ek hier beland?  Wat het ek verkeerd gedoen?  Partykeer weet jy onmiddellik: Dit is net my eie skuld. Swak keuses en verkeerde besluite kan  ʼn mens in ongemaklike posisies plaas.  Daar is egter ook gevalle waar  ʼn mens regte besluite geneem het en goeie keuses gemaak het, maar nogtans in een of ander onhoudbare situasie beland – soos Jeremia.

Jeremia sit in die modder in  ʼn diep put waar die koning se amptenare hom ingegooi het.  En  nou kan ons onsself voorstel hoe Jeremia  daar onder in die put met soortgelyke vrae geworstel het.  Hy was immers aan die Here gehoorsaam.  Hy het die Here met oorgawe gedien.  En nou dit!  Hoe kon die Here dit toelaat?  Hy het dit mos nie verdien nie.

Geliefdes, hierdie is baie moeilike lewensvrae wat mense dikwels van die spoor af gooi. Sulke vrae laat mense aan God en sy liefde twyfel. Daarom moet ons dit met groot verantwoordelikheid uit die Skrif beantwoord. 

Kom ons begin by  ʼn punt en vra:  Wat bely ons op grond van die Skrif oor die mens se algemene toestand voor God?

 Volgens ons belydenis, die Heidelbergse Kategismus Sondag 2 & 3, is alle mense van nature vol sonde.   Ja, die mens, alle mense, is van nature

1.  DIEP IN DIE ELLENDE

En ons kan uit onsself niks doen om uit hierdie ellende te ontsnap nie. Die mens is, as gevolg van sy sonde, net soos Jeremia diep onder in die put van ellende met sy klewerige en stink modder vasgevang.  Die doopsformulier sê: Ons word in sonde ontvang en gebore. Alle mense op aarde is in werklikheid in hierdie put van sonde en ellende.

Die mens se enigste hoop is God Self.  Hy moet ons deur sy Heilige Gees aan die mens wat so in sy sonde dood is, en homself nie kan help nie, die wedergeboorte  skenk.

Kyk weer na Jeremia.  Hy bevind homself in  ʼn situasie waarin hy nie wil wees nie en waarvoor hy ook nie gesoek het nie.  Hy het nie swak besluite geneem en ook nie verkeerde keuses gemaak nie.  Inteendeel, al wat Jeremia gedoen het, was om op  ʼn volgehoue en gehoorsame manier die Here se woord aan die inwoners van Jerusalem te verkondig. 

Hy was gehoorsaam en het die Here gedien, maar selfs dit kon nie verhoed dat hy in die modderrige put beland nie. En daar sit Jeremia. Hulpeloos, op pad na sy dood.  Hy kan letterlik niks aan sy eie redding doen nie.

Dit lyk asof God en mens hom verlaat het. Omdat die stad Jerusalem nou al vir  ʼn geruime tyd deur die aanvalsmagte van Babel beleër was, was daar nie eers meer brood in die stad nie. Niemand sou eers vir Jeremia  ʼn stukkie oorskietkos in die put kon afgooi nie.  Jeremia, in sy toestand, staar die dood in die gesig.

Van nature is alle mense in  ʼn soortgelyke situasie. Die mens sit vasgevang in die put van die sonde.  Geen mens kan hom- of haarself uit hierdie toestand red nie. Die ewige dood is die sondige mens se voorland.....  tensy God ingryp!

En nou is die aangrypende, juis dit:

2.  GOD GEBRUIK MENSE IN SY DIENS

Hy het mos die mens geskep om sy verteenwoordiger op aarde te wees.  En kyk net hoe gebruik hy die mens wat hy geskep het. Hier, in Jeremia se geval, stuur Hy boonop hulp uit  ʼn baie onverwagte oord.

Ebed-Melek was  ʼn Kussiet. Hy was dus  ʼn swartman uit Ethiopië. Hy het in die koning se paleis gewerk en waarskynlik vir Jeremia leer ken terwyl Jeremia daar in die binneplaas van die paleiswag ingeperk was.

Die Here gebruik dan vir Ebed-Melek, wat vroeër deur Jeremia se invloed,  ʼn gelowige geword het,  om met die koning te gaan praat.

Sien u? God werk met mense. Hy het Jeremia gebruik om sy profeet te wees.  Terselfdertyd het Hy ook hierdie Kussiet gereedgemaak en gelei om Jeremia  uit die put, waar hy sekerlik sou sterf, te red.

Wat leer ons hieruit?

Alle mense sit, as gevolg van die sonde, soos Jeremia vasgevang in die put van die ewige dood.  Jy kan jouself nie red nie. Daar is vir jou geen hoop nie, tensy God ingryp.  Hy moet jou die wedergeboorte gee. En hoe doen Hy dit?

Hy gebruik mense. Hy stuur mense uit om die saad van die wedergeboorte te saai!  Dit is die Woord. 

 ʼn Mens kan slegs wedergebore word as die saad van die wedergeboorte, naamlik die Woord van God, in jou hart gesaai word. Dit gebeur wanneer mense uitgaan en die evangelie gaan verkondig. Die mense wie se harte deur God daarvoor voorberei is, hoor die Woord en die Heilige Gees werk dan die wedergeboorte in hulle harte.

Maar dis nie al manier nie. Ons God werk mos van geslag tot geslag. Hy is mos die God van die verbond wat al aan Abraham belowe het dat Hy vir hom en sy nageslag, in hulle geslagte  ʼn God sal wees.  Daarom gebruik Hy ook ouers om die saad van die Woord in hulle kinders se harte te saai.  Die apostel Petrus baie duidelik aan die mense op Pinksterdag toe die eerste gemeente gesig is:

Bekeer julle en laat elkeen van julle gedoop word in die Naam van Jesus Christus en God sal julle sondes vergewe en julle sal die Heilige Gees as gawe ontvang. Wat God belowe het, is vir julle en vir julle kinders en vir almal wat daar ver is, vir almal wat die Here ons God na Hom toe sal roep. (Hand 2:38 en 39).

Kom ons kyk weer na Jeremia. God belowe verlossing, maar daar is ook  ʼn eis.  En hierdie eis is:

 

3.  GRYP VAS AAN GOD SE BELOFTE

Toe Ebed-Melek met die manne wat die koning vir hom gegee het, by die put aankom, roep hy na Jeremia.  En dan laat sak hy toue af. En ook stukke ou klere wat Jeremia onder sy arms moes sit sodat die toue sy swak en uitgeteerde liggaam nie sou skaaf nie.

Jeremia kon homself nie red nie. Nou kom daar van bo af  ʼn belofte tot redding.  Hierdie manne belowe, hulle sal hom uit die put optrek. Al wat Jeremia moes doen, was om die stukke ou klere en die toue onderdeur sy armholtes te sit.

 As hy dit nie gedoen het nie, was daar vir hom geen redding nie. 

Ons as mense, kry God se belofte van verlossing in Christus. En hierdie belofte is nie net vir grootmense nie. Ons troue Verbondsgod gee ook sy belofte aan kinders!  Hy het dit al in die ou Testament gedoen en doen dit net so ook in die Nuwe Testament!

In die Ou Testament was die teken van God se belofte aan volwassenes sowel as verbondskinders die besnydenis.  In die Nuwe Testament is die teken van God se belofte aan volwassenes sowel as verbondskinders, die doop!

God gee sy belofte deur middel van sy Woord.  En ons weet mos nou, sy Woord is die saad van die wedergeboorte. As jy sy Woord glo en die Here Jesus as jou Verlosser aanneem, is dit  ʼn bewys dat jy wedergebore is.  God het jou deur sy Gees lewend gemaak en jy gryp dan gelowig aan sy belofte vas!

Kyk weer na Jeremia.  Hy het vir Ebed-Melek en die ander manne hoor roep.  Hy het die belofte van redding gehoor en die toue geryp en dit onder sy arms vasgemaak.  En toe word hy uit die put opgetrek.  Hy word gered!

So groot is God se liefde en ontferming oor sy volk. Hy wil hulle red. Hy wil hulle uit hulle put van ellende optrek.  Maar as hulle nie reageer nie, is daar geen hoop nie.

Die volk Juda, was ook in hulle eie put.  Die stad was omsingel en hulle was besig om van die honger te sterf.  Vrouens het hulle eie kinders begin eet... Jeremia het aan hulle die belofte van redding verkondig.  Hulle moes hulleself oorgee.  Hulle moes hulle eie geregtigheid laat vaar.  Maar hulle wou nie hoor nie.  Hulle wou nie op die Woord van God reageer nie.  En toe is Jerusalem verwoes en die volk is in ballingskap weggevoer.

 

SLOT

Geliefdes, hoe reageer ons op God se Woord,  op die saad van die wedergeboorte?  Wat maak ons met God se belofte van verlossing deur sy Seun?  Val die saad van die Woord op die vrugbare grond van ons ontvanklike harte of is ons harte koud en hard soos klip?

Onthou, Juda was God se verbondsvolk. Dit was mense wat in Jerusalem gewoon het en die tempel daar by hulle gehad het, maar nogtans was hulle harte van klip!

As ons na God se belofte vir ons en ons kinders luister, sy belofte van verlossing in en deur ons Here Jesus Christus,  sal ons verlos word uit die mag van die sonde en die dood.

Ons sal die nuwe lewe in Christus ontvang en onder die kragtige leiding van die Heilige Gees  ʼn lewe van liefde en diensbaarheid leef.

                                                                   Amen. 

Read 5803 times Last modified on Friday, 09 March 2012 08:08
Danie de Kock

Website: www.facebook.com/profile.php?id=1438745475 Email This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it
Login to post comments

Soek