Deur die geskiedenis is dit word dit duidelik:
1. DIE WÊRELDMAGTE BOU AAN BABEL
Sedert die toring van Babel is die proses aan die gang. Die goddeloses is met ʼn mensgemaakte wêreldryk besig. Hulle maak planne, bou strukture en werk aan die mense met onderrig en opleiding om die mens sterker te maak. Die mens word sodoende sy eie god.
En dan is die hartseer feit dat God se volk telkens deur die wêreld verlei word. Die mense se denke in die wetenskap neem die mens op sleeptou, soos met die evolusionisme. Daarvolgens het God nie geskep nie, nee alles wat bestaan, het deur ʼn proses van evolusie ontstaan.
Verder wat rykdom betref, word God se volk telkens verlei om aardse rykdom na te jaag. Baie geld eb besittings word die maatstaf vir aansien en vernaamheid. Daarom waarsku die Here Jesus: Maak vir julle skatte in die hemel bymekaar waar mot en roes nie verniel en diewe inbreek en steel nie.
Ja, ook wat blydskap en plesier betref, kom die wêreld met die vleeslike, die liggaamlike. Sport word verafgod. Mense raak veel meer opgewonde oor sportspanne en hulle prestasies as oor die Here se se kerk en sy koninkryk. Verder kry jy te doen met die mens se soeke na liggaamlike plesier in verheerliking van losbandige seks en dronkenskap.
Daarteenoor sê die Here: Verbly jou in die Here en Moet jou nie aan drank te buite gaan nie, maar laat die Gees jou vervul.
In Jeremia se tyd moes hy die ongehoorsame en hardkoppige volk van God teen hulle wêreldse ingesteldheid waarsku. Hulle wou in Jerusalem woon, maar met Babel se ingesteldheid. Daarom moes hy hulle tot bekering oproep. Hulle het afgode begin dien en hulle met die dinge van die wêreld besoedel. En die ergste is dat hulle dit ontken het. Hulle het gesê dat hulle besig is om die Here te dien!
Maar in die boek Jeremia sien ʼn mens wat met die volk van God gebeur. Hulle wou nie hoor nie. Hulle het Jeremia verwyt, hom beskinder en selfs in die put gegooi. En uiteindelik word hulle deur die magte van Babel omsingel en vasgekeer en as gevangenes na Babel weggevoer.
Hierteenoor is die Here besig.
Op ʼn stadium lyk dit asof die Here se koninkryk deur die wêreld oorwin word. Jerusalem is platgeslaan. Die volk van God is ballinge in Babel. Die wat oorgebly het, het na Egipte gevlug. Daar is niks oor nie...
En Babel. Aanvanklik lyk dit of niks of niemand die magtige ryk kan oorwin nie. Maar God kan. Hy laat Babel tot ʼn val kom uiteindelik totaal vernietig. Tot vandag nog is Babel vernietig. Daar is niks net enkele bouvalle waar wilde diere skuil.
Geliefdes, al lyk dit soms vir ons as mense nie so nie, God hou wel sy Woord. Hy het belowe. En wat Hy belowe, doen Hy!
2. DIE HERE HERBOU JERUSALEM
Selfs daar in die goddelose Babel gebruik die Here sy volk om ʼn lig te wees. Hy openbaar Homself aan die koning en sy onderdane. Mense soos Daniël en sy vriende getuig kragtig van die Here se liefde, sy almag en sy trou, maar die mense van Babel verwerp die lig. Hulle gooi die jongmanne in die vuuroond en Daniël beland in die leeukuil. Maar tog. Die Here die Almagtige sluimer nie en Hy slaap nie.
Hy ontroon vir Nebukadnesar en uiteindelik word Babel vernietig na koning Belsasar en sy regeringsamptenare se dronkparty.
Die Here maak die heidense koning Kores sy dienaar om Nehemia te help om Jerusalem te herbou en sy volk te laat terugkeer. Jerusalem word weer herbou. Daar word weer ʼn tempel opgerig. En die Here se opdrag aan sy volk wat ballinge in Babel is: Vlug uit Babel uit, red julleself, moenie deur sy sonde omkom nie. God se volk moet hulleself van die wêreld distansieer. God se volk is heilig!
Babel word platgeslaan en vir altyd vernietig.
Maar daar ontstaan nuwe wêreldryke. Die satan en sy bose magte bly bedrywig. Eers die Griekse ryk onder Alexander die grote en dan later die Romeine Ryk. Steeds word God se volk bedreig en selfs weer daar in Jerusalem onderdruk en oorheers.
Maar dan, as die volk nie na al die profete van die Here wil luister nie, stuur God sy Seun. En Hy bring nuwe lewe. Hy begin om ʼn nuwe Jerusalem te bou. ʼn Geestelike stad wat die sentrum van God se ewige koninkryk vorm.
En nou is die wonderlike boodskap vandag: Ons is deel van hierdie herbouproses. Ons lewe in en deur ons Here Jesus Christus. Ons is deel van God se ewige bouwerk. En hierdie bouwerk word uit die hemel gedoen. Met God se Woord en deur sy Gees!
En as ʼn mens die Nuwe Testament tot aan die einde lees, sien jy
3. BABEL WORD VERNIETIG, MAAR JERUSALEM GLINSTER
Ons het in Openbaring 18 gelees dat die moderne Babel wat maar weer soos altyd in wêreld ryke gesetel is en sy mag in geld en aansien soek, ook deur God vernietig sal word. En die konings en wêreldhandelsorganisasies sal oor haar val huil. Dink maar net aan die ontsteltenis as dit lyk of die wêreld ekonomie in ʼn afwaartse siklus beland of daar ʼn resessie ontstaan.
Ja, ons moet die groter prentjie sien. Ons moet weet dat God sy Woord hou. Hy belowe dat die wêreldse stad Babel afgebreek sal word. Soos dit gebeur het op grond van Jeremia se profesie sal dit weer gebeur op grond van die apostel Johannes se profesie. Babel sal ʼn plek wees vir bose en onrein geeste. Dit sal onbewoonbaar wees In Babel is daar nie ʼn toekoms nie.
Daarom sê die Here weer deur sy profeet: Gaan uit haar uit my volk, sodat julle nie aan haar sondes deel kry en die plae wat oor haar kom julle ook tref nie (Openb. 18:4)
Ja, ons moet vandag nog steeds waak en bid. Ons moet gehoorsaam voor God se Woord buig. Ons moet ons deur sy Gees laat lei. Ons moet ons Koning Jesus Christus gehoorsaam sodat ons al hoe meer soos Hy kan word. Dat ons sy gesindheid en sy oorwinningskrag kan beleef!
Ja, kyk na die Nuwe Jerusalem wat Hy bou. Die stad glinster in God se vlamme. Dis ʼn stad van ewige heerlikeheid en ewige vrede en vreugde!
SLOT
Ons is nou reeds deel van God se Nuwe Jerusalem, maar nog nie ten volle nie. Wanneer die Here Jesus weer kom, kom Hy om ons te kom haal om vir ewig saam met Hom in God se teenwoordigheid te lewe.
Is u gereed om saam met Hom te gaan?
Amen