Sosiale Skakels

Besoekers

We have 9 guests online

Teken In

Follow us on FacebookFollow us on Twitter


Monday, 31 October 2016 08:16

Matt 4:19 & 20 en 2 Tim 2:2 WORD 'N DISSIPEL VAN DIE HERE JESUS EN BELEEF KRAGTIGE GELOOFSGROEI

Written by 
Rate this item
(0 votes)

SKRIFLESING:  MATT 4:18 – 28 EN 2 TIM 2:1-7                                                                  TEKS MATT 4:19 & 20 en 2 TIM 2:2

WORD ‘N DISSIPEL VAN DIE HERE JESUS EN BELEEF KRAGTIGE GELOOFSGROEI 

Vanoggend gaan ons kyk presies wat dit beteken om ʼn dissipel van die Here Jesus te wees.  Toe die Here Jesus sy eerste dissipels geroep het, het Hy gesê:

Kom hier!  Kom saam met My, en Ek sal julle vissers van mense maak. (vers 19)

Ek weet nie of die kinders vandag nog die speletjie speel nie. Toe ons kinders was het ons “Follow the Leader” gespeel.  Dit het so gewerk: Een is die leier. Hy of sy loop voor en al die ander loop agterna.  As die leier iets doen, moet almal presies dieselfde doen. As een wat saamspeel nie regkry of nie kans  sien om te doen wat die leier doen nie, is hy uit.  Die speletjie het ons soms in die moeilikheid laat beland, want die leier moes die vreemdste dinge uitdink wat die ander agterna moes doen.  Soos om ouma se mooi blomme af te pluk of die hond se stert te trek.

As  ʼn mens ʼn dissipel is, beteken dit dat jy jou leier volg.  Net voor die Here Jesus na die hemel opgevaar het, was sy groot opdrag:

Gaan dan na al die nasies toe en maak die mense my dissipels: doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees en leer hulle om alles te onderhou wat ek julle beveel het. (Matt 28:19)

Ons leier is die Here Jesus Christus.  Hy is ons Koning en  Hy is die Hoof van die kerk.     En ons wat lidmate van die kerk is?   Waar pas ons in?                                                                                  

1.       DIE HERE JESUS ROEP ONS OM SY DISSIPELS TE WEES

Omdat ons deel van sy kerk is, verwag die Here Jesus van ons elkeen om Hom persoonlik te volg.  Om Hom te volg, is natuurlik iets anders as om van Hom te weet. 

‘n Mens kan baie goed weet Wie die Here Jesus is en ook wat Hy doen, maar dit beteken beslis nog nie dat jy Hom volg nie.

Wat ek probeer sê, broeder en suster, is dat daar ‘n baie groot verskil is tussen die persoon wat die Here ken en baie oor Hom kan praat aan die een kant. En dan aan die ander kant, die persoon wat  die Here Jesus volg, wat elke dag saam met Hom loop, wat sy voorbeeld volg en sy opdragte uitvoer.   Die eerste persoon weet dalk baie en kan baie oor die Here praat, maar is passief.  Hy is soos ‘n toeskouer langs die sportveld.  Raak opgewonde en is voluit betrokke by dit wat op die veld gebeur, maar hy bly net ‘n saamprater.  Hy is nie op die veld nie.  Die tweede persoon, die een wat die Here Jesus volg,  wat saam met Hom gaan.  Dit is die aktiewe persoon.  Hierdie persoon is aktief soos die speler op die veld.  Hy laat die dinge gebeur. Hy praat nie net nie, nee hy doen.   U stem seker saam dat daar ‘n groot en ook duidelike verskil tussen die twee mense is.

Soos ons reeds gesê het, het die Here Jesus destyds vir Petrus en sy broer Andreas  gesê:

Kom hier! Kom saam met My en Ek sal julle vissers van mense maak”. 

Hulle het dadelik hulle nette gelos en sy dissipels geword.  Hulle het Hom begin volg. Letterlik elke dag saam met Hom geloop.

Ek het so ʼn bietjie gaan nalees om te probeer verstaan hoe ʼn dissipel in daardie dae gelyk het.

Daar was in die Joodse kultuur Rabbi’s of Leermeesters. Dit het veral onder die Skrifgeleerdes voorgekom.  So ʼn Rabbi of Leermeester het ʼn paar dissipels gehad.  Oral waar die Rabbi’s gaan, het sy leerlinge of te wel dissipels hom gevolg.  Dissipelskap was, in die tyd toe die Here Jesus op aarde was,  ʼn algemene gesig.  ʼn Mens lees op verkillende plekke in die Evangelies hoe die Here Jesus se dissipels Hom Rabbi of Leermeester noem.  En dan lees ‘n mens ook van Johannes die Doper se dissipels en van die Here Jesus se dissipels.  

Almal wat volgelinge, of te wel dissipels van die Leermeester geword het, moes aan die volgende 5 vereistes voldoen:

·         Hulle moes die leermeester se woorde memoriseer.      

·         Hulle moes sy tradisies en interpretasies leer (Julle het gehoor, maar Ek sê vir julle: ......

·         Hulle moes sy optrede en gedrag navolg (Hom na-aap)

·         Hulle moes self dissipels maak. (ʼn Volgende geslag dissipels)

·         Hulle moes hulleself volledig aan sy wil onderwerp

Uit hierdie vereistes is dit baie duidelik:                                                          

2.       DISSIPELSKAP VRA SELFVERLOËNING

Luister net wat sê die Here Jesus vir elkeen wat Hom wil volg:

As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën, elke dag sy kruis dra en My volg ...” (Luk 9:23)

By ʼn ander geleentheid sê Hy:

Hy wat vader of moeder liewer het as vir My, is nie werd om aan My te behoort nie; hy wat sy seun of sy dogter liewer het as vir My, is nie werd om aan My te behoort nie. Hy wat nie sy kruis opneem en My volg nie, is nie werd om aan My te behoort nie. Hy wat sy lewe wil behou, sal dit verloor; en hy wat sy lewe ter wille van My verloor, sal dit vind(Matt 10:37 -39).

Toe die Here Jesus sy eerste dissipels geroep het, lees ons dat hulle die vissersnette, skuite en ook hulle pa net daar gelos het.  Hulle het hulle hele ou lewe agtergelaat en ʼn nuwe lewe saam met die Here Jesus begin.  

Ons kan maar sê hulle het sy vakleerlinge geword.  Hulle het letterlik alles saam met Hom gedoen sodat hulle by Hom kon leer.  En toe Hy hulle klaar geleer het, het Hy hulle uitgestuur en gesê:

Gaan na al die nasies toe en maak die mense my dissipels ......

Op grond van die eerste dissipels se gehoorsaamheid, het die evangelie vinnig versprei.  Oral het nuwe gemeentes ontstaan. Mense het dissipels van die Here Jesus geword.  Hulle lewens het verander. Baie het ook in die proses letterlik hulle lewens verloor. Duisende dissipels is doodgemaak omdat hulle nie die pad van die wêreld wou loop nie. Hulle het die Here Jesus gevolg, al het dit beteken dat hulle alles verloor, selfs hulle eie lewens.

Tog is daar ook voorbeelde van mense wat die voordeel van dissipelskap wou hê, maar nie bereid was om aan die vereistes te voldoen nie. 

Dink byvoorbeeld aan die ryk jongman. Hy het mos na die Here Jesus gekom en gevra:

Leermeester watter goeie daad moet ek doen om die ewige lewe te verkry?

Toe die Here Jesus sê dat hy al sy goed moet verkoop en sy geld aan die armes gee en Hom dan moet kom volg, maw sy dissipel word, het die ryk jongman bedruk weggegaan. ...... hy kon nie van sy besittings afstand doen nie. 

Ons noem onsself gelowiges en sê ons is Christene. Daarmee bedoel ons dat ons in die Here Jesus glo. Ons sê ook: Ons is lidmate van die kerk. 

Wat ons onsself nie juis noem nie is: Dissipels.

Waarom nie? 

Dit is nogal insiggewend as ‘n mens die twee woorde: Christen en dissipel in die Nuwe Testament nagaan.  Die benaming Christen of Christene kom net drie keer voor. Die benaming word deur ander mense gebruik om na die navolgers van die Here Jesus te verwys en dan word dit boonop in ʼn negatiewe sin gebruik.  Die woord dissipel kom egter nagenoeg 250 keer voor.

Ons noem onsself Christene, maar nie dissipels nie........ 

Is dit nie juis op hierdie punt waar ʼn groot probleem ontstaan nie? 

Het ons nie tot ‘n groot mate passiewe Christene geword nie?  Het ons kerk nie grootliks in praatkerke ontaard nie?   Ons kom Sondae kerk toe om die dominee se preek te hoor. Ons woon Bybelstudie geleenthede by waar ons oor die Bybel praat.  Ook tydens huisbesoek word daar  oor die Woord gepraat, ...... 

Maar die vraag is:   Is ons dissipels?  Is ons vakleerlinge?  Is ons werklik navolgers van ons Here Jesus? .......  En maak ons die mense sy dissipels?

Dissipels wat die Here Jesus navolg. Sy Woorde leer, sy gedrag naleef en Hom onvoorwaardelik gehoorsaam?

Te veel Christene van vandag het vir hulleself ʼn eie Jesus gemaak. ʼn Jesus wat by hulle aanpas.... ʼn Liewe Jesus wat jou aanvaar soos jy is. Hy is nie te kwaad oor jou sonde nie en jou net altyd wil help om gelukkig te wees.  Jy moet net sê jy het jou hart vir Hom gegee, dan is jy op pad hemel toe... 

Te veel mense leef in ‘n selfgemaakte Christenskap wat totaal verwyderd is van dit wat die Here Jesus ons in sy Woord leer.

Hy roep ons eers: Volg My en dan as ons sy dissipels geword het, by Hom geleer het, kom die opdrag: Gaan en maak die mense My dissipels  ... en leer hulle!

3.        ELKE GEKWALIFISEERDE DISSIPEL, WORD ‘N LEERMEESTER

Ons het mos gesê:  Dissipelskap werk presies soos vakleerlingskap. Die leerling is eers  ʼn nougesette en getroue volgeling. Hy word uiteindelik soos sy leermeester. 

Op sy beurt word hy self ʼn leermeester. Hy kry dan sy eie vakleerling.

Dit is wat Paulus met Timoteus gedoen het.

Kom ons lees weer wat Paulus vir Timoteus sê:

Jy dan , my seun, wees sterk deur die genade wat ons in Christus Jesus het. Wat jy my voor baie getuies hoor verkondig het,  moet jy toevertrou aan betroubare manne wat bekwaam sal wees om dit ook aan ander te leer.  (2 Tim 2:1 & 2)

Timoteus het by Paulus geleer om ‘n dissipel van die Here Jesus te wees. Dit wat hy geleer het, moet hy weer aan betroubare manne leer sodat hulle dit weer aan ander kan leer. 

(Doop:  Dit is presies wat ouers ook moet doen. Hulle moet sorg dat hulle van hulle eie kinders dissipels maak)

Hierdie gedagte van dissipels maak, loop regdeur die Nuwe Testament.

Iewers het die kerk egter hierdie belangrike beginsel van dissipelskap verloor.  Die kerkmense het tot ‘n groot mate maar net Christene geword.  Te veel kerkmense doen maar net wat vir hulle  gemaklik en gerieflik is en by hulle eie programme inpas.  Van selfverloëning, kruisdra en jou eie lewe verloor is daar nie veel sprake nie.  Liewe Jesus verstaan mos alles....

·         Liewe Jesus verstaan dat ek nie die erediens kan bywoon nie, want ek gaan Sondag saam met vriende of familie kuier...

·         Liewe Jesus verstaan dat ek  met my klein salarisse nie ʼn dankoffer kan gee nie....

·         Hy verstaan dat ek nie iemand is wat met ander mense oor geloof kan praat nie.....

·         Liewe Jesus sal my help as ek in die nood is. Ek moet net aanhou bid

Broeders en susters. Die apostel Paulus het al teen hierdie benadering gewaarsku. Hy sê dit is ʼn uiterlike skyn van godsdiens.  Luister wat skryf hy aan Timoteus:

Dit moet jy weet: in die laaste dae sal daar swaar tye kom. Die mense sal selfsugtig wees, geldgierig, grootpraterig en verwaand, beledigend teenoor hulle medemense en ongehoorsaam aan hulle ouers, ondankbaar en ongodsdienstig; hulle sal liefdeloos en onversoenlik wees, kwaadpraterig, bandeloos en wreed, sonder liefde vir die goeie; hulle sal verraaiers wees, roekeloos en hooghartig. Hulle sal eerder liefde vir genot hê as liefde vir God. Hulle sal nog die uiterlike skyn van die godsdiens hê, maar die krag van die godsdiens sal hulle nie ken nie ..... (2 Tim 3:1 – 5)

Vandag herdenk ons die Groot Hervorming. Dit was die begin van ‘n terugkeer na die Woord.  Die Roomse Kerk het in die Middel Eeue al hoe meer wegbeweeg van die pad van dissipelskap. Hulle het die kerk gemaak sodat dit by die mens aanpas.

Waar staan ons vandag?  Is ons nie op dieselfde pad nie?  Maak ons nie van Christenskap en kerkwees iets wat by ons behoeftes moet aanpas nie?

Waarom praat ons nie van onsself as dissipels van die Here Jesus nie. Is ons bang vir die gevolge? Of is ons nie bereid om te offer wat Hy vra nie?  Is ons soos die ryk jongman wie se lewe en besittings te belangrik was?

‘n Halfhartige dissipel is nie ‘n ware dissipel nie.  Ek en jy kan nie twee here dien nie.  Onthou wat die Here Jesus sê:

As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën, sy kruis dra en My volg. ....

Ek en jy moet eers ons eie lewe verloor .... en dan kan ons die Here Jesus se dissipels wees.

Is ek en jy bereid om ons eie lewe te verloor?

SLOT

As ek en jy in ons geloof wil groei, moet ons in die ware sin van die woord dissipels van ons Here Jesus Christus word. Ons moet elke dag saam met Hom loop. Hoe doen ‘n mens dit prakties? Jy doen dit saam met jou medegelowiges.  Die kerk is mos die liggaam van Christus. As ek en jy aktiewe, meelewende lidmate van die kerk is, wat die beginsels van dissipelskap gehoorsaam uitleef, sal ons groei ervaar. Groei in ons 

Read 2365 times
Danie de Kock

Website: www.facebook.com/profile.php?id=1438745475 Email This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it
Login to post comments

Soek