SKRIFLESING: EF 4:16
TEKS: EF. 4:11, 12 & 13
TEMA: LAAT JOU TOERUS VIR DIENS EN DIE OPBOU VAN CHRISTUS SE LIGGAAM
Elke kind het die begeerte om te groei, groot te word en uiteindelik volwasse te wees.
Ons hoogste roeping is om God te verheerlik. Ons kan dit slegs doen as ons so in ons geloof groei, en soos Paulus sê, ons nie meer kinders in die geloof is wat deur winde van dwaalleer rondgeslinger word nie. Ons moet groei tot volwassenheid sodat ons kan werk aan die opbou van Christus se gemeente. 'n Lewende geloof groei tot volwassenheid.
Maar nou is die vraag: Hoe sal ek en jy weet of ons ‘n lewende geloof het?
Die eenvoudige antwoord is: ‘n Lewende geloof word in dade sigbaar. Soos jy ‘n boom kan dophou en sien hoe dit groei en vrugte dra, netso kan jy deur ‘n ware gelowige dop te hou ook sien hoe sy/haar geloof groei en hoe die vrug van die Gees in so ‘n mens se lewe sigbaar word.
Maar nou moet ons ook goed verstaan, en dit is die punt waarby ons vandag kom, dat geloofsgroei wat in dade sigbaar word, nie sommer outomaties kom nie. Geloofsgroei gebeur nie sommer net vanself nie en geloofsdade verskyn ook nie sommer uit die bloute nie.
Om in die geloof te lewe en in die geloof te groei verg moeite en dit vra van ons opoffering.
Luister wat sê iemand soos die apostel Petrus oor geloofsgroei:
Sy goddelike krag het ons alles geskenk wat ons nodig het om te lewe en Hom te dien .... En juis om hierdie rede moet julle alles in die stryd werp om julle geloof te verryk met deugsaamheid en die deugsaamheid met kennis, die kennis met selfbeheersing, die selfbeheersing met volharding, die volharding met godsvrug, die godsvrug met liefde onder mekaar en die liefde onder mekaar met liefde vir alle mense. (2 Pet 1:3 – 7).
Hoor u wat Petrus hier vir ons sê?
Hy sê ek en jy moet ALLES IN DIE STRYD WERP om ons GELOOF TE VERRYK .... Is ons bereid om dit te doen?
Omdat die Here ons oneindig liefhet en ons as sy kinders aangeneem het, wil hy ons versorg. Hy wil ons die heel beste gee. En luister wat sê Petrus: Sy goddelike grag het ons alles geskenk wat ons nodig het om te lewe en Hom te dien .....
In ons teksgedeelte kry ons by die apostel Paulus presies dieselfde gedagte:
Kom ons lees net weer vers 11 en 12:
En dit is die “gawes” wat Hy “gegee het”: apostels profete, evangeliste en herders en leraars. Sy doel daarmee was om die gelowiges toe te rus vir hulle diens en die opbou van die liggaam van Christus.
Sien u? Die Here gee. Hy gee om jou en my TOE TE RUS en OP TE BOU sodat ek en jy ʼn lewende geloof kan hê en dat ons in die geloof kan groei.
Ons is so geneig om ons teen materiële dinge van die lewe blind te staar. Ons sien kos en klere, gesondheid, geld en besittings as seëninge van die Here. Ja, dit kom ook uit die Here se hand, maar die belangrikste is ons geloof. Prioriteit nommer een is hoe ons die Here dien. Hoe ons Hom verheerlik. Die Here wys in ons teksgedeelte wat die belangrikste is. Nie die materiële nie, maar wel die geestelike.
Toe Paulus aan die lidmate van die kerk in Efese skryf, gebruik hy ‘n beeld van ‘n koning met sy leërmag wat na ‘n oorwinning oor sy vyand na sy eie stad toe terugkeer. Hy kom met ‘n optog, ons noem dit ‘n triomftog. Hy rys voor op sy strydwa en dan volg sy offisiere en soldate. Agterna kom die krygsgevangenes wat aan mekaar vasgeketting is. As die koning by sy stad aankom deel hy van al die goed wat hy in die oorlog gebuit het aan sy onderdane uit. Hulle kry geskenke by die koning wat sy vyand oorwin het.
Net so, sê Paulus, is Christus die Oorwinnaar Koning. Hy het die satan en sy bose magte oorwin. Sy hemelvaart is sy triomftog en hy gee ook geskenke aan sy dienaars.
Ons sy kerk is sy dienaars. Ons kry die gawes. Gewoonlik was die gawes wat die koning uitgedeel het, juis materiële dinge, maar kyk net wat sê Paulus is die gawes wat Hy gee!
1. DIE HERE GEE MENSE MET LEIERSGAWES
Hy gee mense: apostels, profete, evangeliste en herders en leraars..... Dit is mense wat leiding in die gemeente neem sodat ek en jy geestelik kan groei.
Broeder en suster, omdat die Here vir jou met ‘n geweldige stryd aan die kruis, waar sy bloed gevloei het, verlossing bewerk het vryheid bewerk het, wil Hy jou nou in sy oorwinning laat deel. Daarom gee Hy aan jou geskenke. Hy gee aan jou ‘n diaken en ‘n ouderling en ‘n predikant.
Hoe ontvang jy hierdie mense wat die Here aan jou gee? Sien jy hulle maar net as blote mense? Of kan jy verby hulle foute en tekortkominge kyk en hulle as gawes uit die Here se hand sien?
Die Here gebruik ouderlinge, diakens en predikante om jou te bedien. Hierdie mense is die Here se bediendes. Hulle is nie die vernames of die hooggeplaastes in die gemeentes nie.
Hierdie mense bedien jou met die Here se Woord. Hulle is daar om jou te help sodat jy in die geloof kan groei. Hulle werk in die Here se diens tot jou voordeel. Daarom gaan Paulus verder en sê:
2. DIE LEIERS RUS DIE GEMEENTE TOE
Kom ons lees weer verse 11 en 12:
En dit is die gawes wat Hy gegee het ....... Sy doel daarmee was om die gelowiges toe te rus vir hulle diens...
Die leiers is geskenke van die Here aan ons ons elkeen toe te rus vir ons diens.
Hoe dink u, waarom kom doen die diaken en ouderling en predikant by jou huisbesoek?
Kom kyk hulle hoe dit met jou gaan?
En as hulle dan sien jy het ‘n probleem, moet hulle jou help. Vir jou uit die Bybel lees en jou bemoedig? Hulle moet dit ook doen, maar het u gehoor wat hulle belangrikste werk in die Here se diens is?
Die apostel Paulus sê, die Here gee hulle aan jou OM JOU TOE TE RUS..... VIR JOU DIENS.
Broeder en suster, ons elkeen staan in die Here se diens. Dit is nie net die leiers in die gemeente wat in die Here se diens staan nie. Elke lidmaat het werk, want elke lidmaat is ‘n dissipel van ons Here Jesus Christus. En die here het vir sy dissipels gesê:
Gaan na al die nasies toe en maak die mense my dissipels.....
Die Here het vir sy dissipels gesê: Ek gaan julle vissers van mense maak. Ek en jy, ons almal, is as dissipels van die Here Jesus Christus, vissers van mense....
Die Here gee leiers in die gemeente om jou toe te rus om ‘n ware dissipel van die Here te wees. Hulle moet jou help om ‘n visser van mense te word. Die diaken moet jou help om in jou geloof te groei, sodat jy ʼn ware en getroue dienskneg van die Here kan wees.
Die Here wil egter nie net vir ons elkeen as indiwidu toerus sodat ons kan vissers van mense word nie. Paulus het gesê die leiers moet ook die lidmate toerus vir die opbou van die liggaam van Christus.
Ja,
3. DIE GEMEENTE DIEN EN BOU MEKAAR OP
Die lidmate wat toegerus word, begin in die geloof lewe. Hulle geloof is dan nie net meer ‘n praatgeloof nie. Dit word ‘n doengeloof.
Die probleem is dat die kerk oor jare in ‘n passiewe soort Christendom ontaard het. Dit kan met ‘n passasierskip vergelyk word. Die predikant is die kaptein met die kerkraad as sy offisiere en bemanning. Hulle moet die passasiers bedien en gelukkig hou. Die passasiers vaar net rustig saam en lê op dekstoele met drankies in die hand. Hulle word met etes bedien en hulle kajuite word versorg. Daar is ook genoeg vermaak op die skip. Die kerk behoort egter veel eerder met ‘n oorlogskip vergelyk te word. Daar is ook ‘n kaptein, offisiere en bemanning. Op die oorlogskip is elke persoon egter besig met sy besondere taak om die skip ‘n oorlogmasjien te maak. Niemand is ledig of word net bedien nie. In die kerk is elke lidmaat ‘n soldaat in aktiewe diens (Vgl. Ef 6 – Trek die volle wapenrusting aan)
In ‘n aktiewe gemeente sien en ervaar jy hoe lidmate na mekaar begin omsien. Die een reik uit na die ander wat siek is. Nog een gaan en vertroos die een wat hartseer is. Die een wat het, gaan gee vir die ander een wat nie het nie. Die eensame begin nou die familiebande van die huisgesin van God ervaar. Saam reik die lidmate uit na mense buite die gemeente. Dissipels wat vissers van mense word!
Ja, lidmate begin vir mekaar omgee en bedien mekaar onder leiding van die Heilige Gees met die Here se liefde.
Kom ons lees net weer verse 13 – 16
Sien u wat gebeur?
4. ALMAL WORD SOOS CHRISTUS
Hoe meer diensbaar ons almal saam word, hoe meer word Christus in ons as gemeente sigbaar.
Ons moedig mekaar aan om in liefde en goeie dade toe te neem. Ons leer by mekaar. Ons versterk mekaar en dra mekaar se laste.
As die gemeente as liggaam van ons Here Jesus in liefde by die waarheid bly en in alle opsigte na Christus toe groei, sien die mense in ons omgewing die heerlikheid van ons Here Jesus.
Hulle beleef ons liefde en toewyding. Hulle sien ons entoesiasme en oorgawe in diens van ons Koning En dan, broeder en suster, kry hulle lus om ook soos ons te wees.
Soos lig ‘n mot aanlok, so sal die lig van ons Here Jesus Christus wat in ons as gemeente skyn, dan ook mense aanlok.
Dan word dit al hoe makliker om vissers van mense te wees, want hulle kom na ons toe. Ons hoef hulle nie te gaan soek nie. Die heerlikheid van die Here wat so helder in ons skyn, lok hulle aan!
SLOT
Kom ons sluit af.
Die Here Jesus wil elkeen van ons toerus om in sy koninkryk diensbaar te wees. Om ons toegerus te kry, gee Hy gawes aan sy kerk. Gawes soos diakens, ouderlinge en predikante wat ons toerus. Die woord wat hier vir toerus gebruik word is dieselfde as om ‘n visnet heel te maak. Die Here gee leiers in die gemeente om ons lewe heel te maak sodat ons vissers van mense kan wees. As ons mekaar help en opbou, word ons almal saam meer en meer soos Christus. Sy heerlikheid begin in ons lewe skitter en dit lok mense aan. Hulle wil dan deel van ons word en so word die liggaam van Christus opgebou.
Hoe dankbaar is u vir die gawes van diaken, ouderling en predikant wat die Here aan u gee? Hy gee aan u omdat Hy u liefhet en u wil toerus vir u dienswerk in sy koninkryk.
AMEN.