SKRIFLESING: ESEGIËL 37:1 – 14
TEKS: ESEGIËL 37:14 en 1 KOR 1:18
TEMA: GOD WEK LEWE UIT DIE DOOD
Geliefdes in ons Here Jesus Christus
U het seker ook al gesien hoe hopelose saak dit is om iets wat dood is aan die lewe te probeer kry. Dink maar net byvoorbeeld aan iets soos ʼn potplant wat as gevolg van te min water dood is. Die blare hang pap en lyk dof en uitgedroog. Jy gee water en probeer alles om die plant weer aan die gang te kry, maar alles is tevergeefs. Jy kan maar los. Die enigste raad is: Haal die plant uit en plant ʼn nuwe lewende een in sy plek.
Toe die Here sy profeet, Esegiël, hierdie gesig van die droë beendere laat sien het, was hy in Babel saam met ʼn klomp Israeliete wat as ballinge daarheen weggevoer is. Die mense was verslae en moedeloos. In die jaar 586 vC het Koning Nebukadnesar van Babel se leërmag Jerusalem finaal verwoes. Die tempel is afgebreek, die mure is stukkend. Net 'n murasie het oorgebly van die stad met sy paleise en toringtranse waarvan Ps. 48 sing.
Vir die ballinge was daar skynbaar nie 'n toekoms nie. Die volk Israel was vir alle praktiese doeleindes dood.
Maar God stuur sy profeet na hulle toe. Hy moes vir die volk gaan preek.
Esegiël was natuurlik diep onder die indruk van sy eintlik bomenslike taak. Hy het met sy eie vrae geworstel: Wat moes hy vir hierdie mense sê? Watter hoop kon hy hulle gee?
Die Here wys dan in ʼn gesig aan hom ʼn vallei vol doodsbeendere. En dan gee die Here aan hom 'n vreemde opdrag: “Tree op as profeet vir hierdie beendere.....” Hy moes vir dooie en baie droë beendere preek! Maar dan wanneer hy begin preek, gebeur die skynbaar onmoontlike. Die beendere word ʼn groot skare mense!
En kyk wat sê die Here in vers 11:“Mens al hierdie beendere stel die hele Israel voor. Hulle sê: ‘Ons bene is uitgedroog, ons het geen hoop meer nie, dit is klaar met ons’ ”
Byna soos dit met Israel se ballingskap die geval was, lyk die toekoms vir ons hier aan die Suidpunt van Afrika deesdae ook maar vaal en onseker. Die ekonomie wil maar net nie weer behoorlik op koers kom nie. Boonop maak al die onverantwoordelike politieke uitsprake ons mense moedeloos en onseker. Die toekoms lyk donker.
Maar kom ons keer terug na Esegiël. Luister na die Here se opdrag:
1. PREEK VIR DIE DROË BEENDERE:
Kom ons lees weer vers 4: “Toe sê die Here vir my: Tree op as profeet vir hierdie bene en sê vir hulle: Hoor die woord van die Here droë bene!”
Die Here verwag van sy profeet om ʼn skynbaar dom en sinnelose ding te doen. Hy moet vir droë, dooie bene preek. Bene wat nie kan hoor nie en nie kan voel nie. Ons weet mos dat jy iets wat dood is moet uitlos. Jy kan niks doen nie!
Nou verwag die Here van sy profeet om 'n baie onlogiese ding te doen. Esegiël moet, as ons mooi daaroor dink, inderwaarheid van homself ʼn gek maak. As iemand na hom sou kyk, sou hulle dink sy kop werk nie lekker nie. Hy preek vir ʼn vallei vol doodsbeendere.
Die wêreld waarin ons lewe, broeders en susters, is 'n wêreld vol doodsbeendere. Rondom ons is duidende mense wat geestelik dood is. Daarom is daar soveel haat, geweld, misdaad en korrupsie. Die mense is geestelik dood in hulle sonde. En net ons kan onder leiding van die Here iets daaraan doen.
Ons as kerk is mos die Here se profete. Ons moet vir die geestelik dooies gaan preek. Vir mense wat skynbaar nie kan of wil hoor nie. Ja, dit lyk na 'n sinlose optrede wat geen resultaat kan lewer nie.
Maar geliefdes, dit is die Here se opdrag. Dit mag vir ons na ʼn onsinnige opdrag lyk, maar dit is hoe die Here werk. In 1 Kor. 1:21 skryf die apostel Paulus: “Dit was die bedoeling van God in sy wysheid dat die wêreld nie deur geleerdheid tot kennis van God sou kom nie. Daarom het God in sy goedheid besluit om deur die prediking WAT VIR DIE WÊRELD ONSIN IS, dié te red wat glo”
En kyk wat gebeur geliefdes. Wanneer Esegiël vir die dooie beendere preek, kom die bene bymekaar en word geraamtes en daarna word die geraamtes met vleis bedek. En dan staan daar ʼn duisende mense!
Maar Esegiël sien in die gesig dat daar nog iets kort. Daar was nog nie gees in hulle nie. Hulle was nog net soos poppe.
Die prediking, broeders en susters, bring orde en struktuur. Ja, die prediking kan mense selfs na ʼn goeie lewenswyse laat verander. Op die oog af kan alles in orde lyk.
Ja, dit kan gebeur dat van mense uit die wêreld deur middel van die prediking na die kerk en na die eredienste toe gelei word, maar dit beteken nie noodwendig dat daardie mense al werklik die nuwe lewe ontvang het nie. Daar kom wel net orde en struktuur, maar daar is nog nie werklik lewe nie.
Esegiël besef daar moet nog iets gebeur. Die Here gee vir hom die opdrag: “Praat nou as profeet met die gees......” Esegiël se opdrag is:
2. BID VIR DIE LEWENDMAKENDE GEES:
Broeder en suster. Die kragtige en suiwer prediking van God se Woord alleen is nie genoeg nie. Dit kan orde en struktuur bring, maar as die Heilige Gees nie daar is nie, is daar nog nie lewe nie.
Die Gees moet lewe bring! Daarom is volhardende gebed om die kragtige werking van die Heilige Gees ʼn baie belangrike deel van ons as die Here se profete se werk.
Die Heilige Gees skep lewe. Hy het dit aanvanklik by die skepping gedoen. Die eerste mens het ook eers begin lewe nadat God die asem van die lewe in sy neus geblaas het. En onthou Jesus Christus is deur die kragtige werking van die Heilige Gees uit die dood opgewek. Dit is dieselfde Gees wat in elke mens die ware geestelike lewe moet wek.
Geliefdes dit is belangrik dat ons elkeen na ons eie lewe sal kyk. Is daar nie in ons lewe bloot net goeie orde en struktuur nie? Is daar werklik lewe – geestelike lewe?
Alles kan so van buite reg en ordelik lyk. 'n Mens kom kerk toe, jy lees jou Bybel, jy gee jou dankoffer. Die vraag is egter: Maar is daar lewe en groei? Die klomp mense wat Esegiël in die vallei gesien het was mense, maar hulle kon niks doen nie. Hulle was soos poppe!
Die kerk word dikwels van louheid en liefdeloosheid beskuldig, want alles lyk uiterlik reg, maar daar is nie lewe in nie. Dink maar hoe die Here self in Openbaring sy kerk, die sewe gemeentes in Klein- Asië vermaan omdat hulle liefdeloos en lou geword het. Hy sê selfs dat van daardie gemeentes die naam het dat hulle lewe, maar intussen heers daar doodsheid en ʼn koudheid.
ʼn Vol gemeenteprogram en allerhande kerklike bedrywighede soos eredienste, vergaderings asook gemeentefunksies
en fondsinsamelingsprojekte waarborg nie lewe nie. Dit is alles nog net die uiterlike vorm. Die lidmate van so ʼn gemeente kan op geloofsvlak met ʼn klomp poppe vergelyk word. Die strukture is daar en die vorm lyk mooi, maar geestelik heers daar ʼn doodsheid. Ja, dit lyk van buite baie indrukwekkend, maar op geestelike gebied is dit dood en koud.
Broeders en susters die Here soek, lewende harte! Hy soek geloofsdade. En dit kan net kom as die Heilige Gees aan jou as mens die wedergeboorte skenk.
Sonder die nuwe lewe in Christus, wat deur die kragtige werking van die Heilige Gees bewerk word, bly die toekoms duister en ervaar jy ʼn gevoel van hopeloosheid. Dan oorweldig die ellende van hierdie sondige wêreld jou. Dan sien jy net doodsbeendere.
Maar wanneer jy deur God se Gees lewend gemaak word, begin jy geestelik lewe. Dan eers hoor jy die duidelike opdrag:
3. WERK VIR GOD SE KONINKRYK:
God se belofte wat die volk uit die mond van Esegiël moes hoor, was dat hulle sou terugkeer na hulle beloofde land en na Jerusalem. Kom ons lees vers 14: “Ek sal my Gees in julle laat kom sodat julle kan lewe en EK SAL JULLE IN JULLE LAND LAAT WOON”
Vir elkeen wat geestelik begin lewe, skep die Here 'n toekoms. Israel het destyds terug gekeer na hulle land. Hulle kon Jerusalem weer opbou. Israel word weer 'n leërmag in God se koninkryk.
Ons beloofde land is die ewige Vaderhuis met sy baie woonplek. Ons wat wedergebore is om in die Here Jesus Christus te glo, is God se leërmag wat Hy uit die sondedood gewek het. Hy het ons met sy Gees gevul. Hy wil hê dat ons teen die sonde en ellende in hierdie wêreld moet stry en oorwin. Hy wil hê dat ons die vrug van die Gees sal dra en in ons omgewing waar ons woon en werk ʼn verskil sal maak.
Boonop kry ons die belofte van ewige rus en vrede in ons hemelse erfenis.
Omdat ons lewend gemaak is, en omdat ons weet watter krag God in sy almag het, moet ons aanhou om te profeteer en te bid. Ons moet die evangelie van Jesus Christus uitdra en bid dat die Heilige Gees lewe in dooie, sondaarharte sal bring. Ja, net God kan ware lewe skenk. Net Hy maak van 'n klomp dooie bene ʼn geestelik lewende leërmag in sy diens!
SLOT:
Geliefdes. Eers moet ons na onsself kyk. Ons as gemeente kan net werklik geestelik lewe, as ons God se Woord hoor en ons volhardend bid om die kragtige werking van die Heilige Gees.
Kom ons maak erns met God se Woord tydens eredienste, maar dan ook met wyksgroepbyeenkomste waar ons geestelik kan groei. Kom ons bid daagliks om die lewewekkende krag van die Heilige Gees in ons lidmate se lewe.
En dan gaan ons uit met die Woord. Kom ons vertel die mense wie se lewe geestelik dood is van die verlossingswerk van ons Here Jesus Christus. En kom ons bid dat die Here geestelik dooie mense sal lewend maak en met sy Gees sal vervul sodat hulle saam met ons 'n leërmag in sy diens sal word. Amen.