SKRIFLESING: JAKOBUS 4 TEKS JAKOBUS 4:15 BUIG VOOR GOD SE WIL - DIT MAAK SIN
‘n Nuwe jaar!
Dit is nou die tyd vir sogenaamde nuwejaarsvoornemens. Gesond eet en meer oefen. Nou is die tyd om te beplan vir alles wat in hierdie jaar moet gebeur. Daar is nuwe uitdagings en wonderlike ideale. Ons kyk vorentoe en ons maak ons planne.
Dit is mos maar soos ‘n mens is. ..... Ons maak planne....
Luister na die mense waarmee Jakobus in sy brief praat. Hulle sê:
“Vandag of môre sal ons na dié en dié stad toe gaan en ‘n jaar lank daar bly; ons sal sake doen en geld maak” (vers 13).
Oënskynlik reageer Jakobus baie negatief op hulle planne en ideale.
Luister wat sê hy:
Julle wat nie eers weet hoe julle lewe môre sal wees nie! Julle is maar ‘n damp wat ‘n oomblik verskyn en sommer weer verdwyn. (vers14)
As ‘n mens weer mooi lees wat Jakobus sê, kom jy agter dat hy nie negatief is oor hulle ideale het en planne maak nie. Sy negatiwiteit gaan oor hulle houding, oor die gesindheid waarmee hulle planne maak.
Broeders en susters. Om planne te maak en nuwejaarsvoornemens te hê is nie verkeerd nie. Inteendeel, dit is goed en belangrik om te beplan. Die Here wil hê ons moet deeglik beplan.
Die probleem ontstaan egter wanneer ons die Here buite rekening laat. As ek en jy ‘n nuwe jaar aanpak en planne maak om ons ideale te verwesenlik en dit nie in volkome afhanklikheid van die Here doen nie, dan is ons beslis op die verkeerde pad. Op dié manier stuur ons ‘n boodskap uit. ‘n Boodskap wat sê: Ons self kan regkom ........ ‘n Boodskap wat inderwaarheid duidelik wil sê: Ons het die Here nie regtig nodig nie ........
Jakobus spreek gelowiges aan wat so selfversekerd is. Hy sê vir hulle:
BUIG VOOR GOD SE WIL - DIT MAAK SIN
Voordat ek en jy voor God se wil kan buig, moet ons vier waarhede begryp en dit goed vashou:
· Ons lewe is net ‘n damp
· God is soewerein
· Selftevredenheid is ons almal se sonde
· Nederige gehoorsaamheid aan God is die regte ding om te doen
Kom ons kyk wat Jakobus bedoel as hy sê
1. ONS LEWE IS NET ‘N DAMP
Jakobus sê:
....... Julle is maar ‘n damp wat ‘n oomblik verskyn en dan sommer weer verdwyn.
‘n Asemteug op ‘n wintersoggend. ‘n Miswolkie teen die berghang. Nou is dit daar...... As jy weer kyk, is dit sommer net weg. So is die lewe.
As Jakobus sê ons lewe is net ‘n damp, is daar veral 3 dinge wat ter sprake kom:
Ons lewe is broos
In Psalm 90, wat ons saam gelees het, het ons gehoor hoe Salomo sê, die mens is soos gras:
“Hy is soos gras wat in die môre afgesny word: In die môre is dit nog groen, maar dit word afgesny en teen die aand is dit verlep en dit verdroog” (Ps. 90:5b & 6)
Ons lewe gaan tot niet, so vinnig soos gras verlep. Dink net hoe maklik kan ‘n mens siek word. Hoe jy ernstig in ‘n motorongeluk beseer word sodat jy verlam is, of sterf. Ons het mos ervaring daarvan dat jongmense soms met kanker gediagnoseer word en dan sterf. Selfs mense in hulle twintigerjare sterf aan hartaanvalle. Hoe ouer ‘n mens word, hoe meer ervaar jy die aftakelingsproses van die liggaam.
En dan, in die tweede plek, is ons lewe kort.
Luister weer na Moses:
Onder u toorn vlieg ons dae en skiet ons jare verby soos ‘n gedagte. Ons lewe maar sewentig jaar, of as ons baie sterk is, tagtig .... Dit is gou verby, ons vlieg na ons einde toe (Ps. 90:9&10)
Vra gerus vir enige ouer mens hoe vinnig die tyd verbygaan. Hoe ouer jy word, hoe vinniger gaan die tyd verby. Dit voel vir ‘n ouer mens soos sommer nou die dag wat hy in die skool was.
En dan is daar die derde punt as bewys dat die lewe net ‘n damp is.
Ons dood kom verseker.
Geen mens kon nog die dood vryspring nie. Elke mens word een of ander tyd met die finaliteit van die dood gekonfronteer. Veral katastrofiese gebeurtenisse soos aardbewings en tsunami’s, waar sommer duisende mense op een slag sterf, laat ons besef hoe nietig die mens is en hoe onafwendbaar die dood is.
Nou sou jy dink dat dinge soos ‘n ongeneeslike siekte, motorongeluk of katastrofiese gebeure mense sal laat besef dat die dood nie net ‘n moontlikheid is nie, maar ‘n onvermydelike realiteit is. En verder dat die dood enige minuut en totaal onverwags kan kom. En dan natuurlik dat elke mens dan voor God se regterstoel te staan sal kom. En ja, dat dit alles ‘n mens sal dwing om jou saak met God reg te maak, maar dit gebeur nie. Dit is te eienaardig, mense gaan so met die lewe aan asof die dood nie bestaan nie.
Jakobus se eerste punt is: Ons lewe is ‘n damp, ‘n asemteug, ‘n miswolkie, wat verskyn en sommer gou weer verdwyn. Ons is regtig sommer nietig en klein en ons lewe net ‘n gedagte wat verbyskiet.
Kom ons kyk nou na Jakobus se tweede punt. Hy sê:
2. GOD IS SOEWEREIN
Dit beteken, ek en jy is nie soewerein nie. God kan doen wat Hy wil, hoe Hy wil en wanneer Hy wil, maar ons kan nie.
Die probleem was nie dat daardie mense aan wie Jakobus sy brief geskryf het, planne vir hulle toekoms gemaak het nie. Die feit dat hulle wou gaan sake doen en geldmaak is eweneens nie verkeerd nie. Die Bybel leer ons duidelik dat ons juis planne moet maak. Die Here Jesus gebruik by geleentheid die beeld van ‘n man wat ‘n kosteberekening maak voordat hy ‘n huis bou en ‘n koning wat uitwerk of sy leërmag sterk genoeg is om ‘n veldslag aan te pak (Luk 14:25 ev.)
Die probleem waarop Jakobus hier fokus, is die feit dat die betrokke mense beplan het asof hulle soewerein was. Hulle het op ‘n arrogante manier beplan sonder om vir God in berekening te bring. Hulle vertroue was nie in God nie, maar in hulle eie sakevernuf en die geld wat hulle sou maak. Hulle het beplan asof hulle in beheer van hulle eie lewe is.
Op ‘n stadium het ons Here Jesus in ‘n gelykenis verwys na iemand wat dieselfde gesindheid gehad het. Die man word die ryk dwaas genoem. Sy landerye het ‘n besonder goeie oes opgelewer. Kom ons lees Luk 12wat die man gedink het:
.... Ek sal my skure afbreek en groter bou. Daarin sal ek al my graan en my ander goed opgaar. Dan sal ek vir myself sê: Mens jy het baie goed wat weggesit is vir baie jare. Hou op met werk: eet drink en leef lekker.
En dan lees ons:
Maar God het vir Hom gesê: Jou dwaas. Vannag nog sal jou lewe van jou opgeëis word, en wie kry dan alles wat jy bymekaar gemaak het? So gaan dit met elkeen wat vir homself skatte vergader en nie ryk is by God nie.
Die punt is: God is soewerein. Ons lewe en ons toekoms is in sy hand. Jakobus wys dan sy lesers daarop, dat ons ‘n mens liewer moet sê:
As die Here wil, sal ons lewe en sal ons dit of dat doen, maar nou is julle te seker van julleself en praat julle groot. Al sulke grootpratery is verkeerd.
Vroeër jare het jy gereeld gehoor hoe gelowiges sê:
As die Here wil sal ons lewe en die naweek by julle kom kuier. As die Here wil sal ek jou aan die einde van die maand betaal. As die Here wil.... ‘n Mens hoor dit byna nooit nie meer nie...... Waarom nie? Het ons nie te seker van onsself geword nie? Wys ons manier van praat nie dalk net dat deesdae al hoe meer geneig is om God buite rekening te laat nie?
Is ons nie eenvoudig net te selfversekerd en selftevrede nie?
3. SELFTEVREDENHEID IS ONS ALMAL SE SONDE
Kom ons kyk net vir ‘n oomblik weer na vers 13. Kyk net hoe spreek dit van ‘n oormaat van selfvertroue:
Vandag of môre sal ons na dié en dié stad toe gaan en ‘n jaar lank daar bly; ons sal sake doen en geld maak.
Hier staan baie van wat “ons” sal doen, maar net mooi niks van wat God sal doen nie. Jakobus noem hierdie soort uitsprake “grootpratery”. Dit gaan oor selfverheerliking. In plaas daarvan dat God verheerlik word, soek hierdie sakemanne die mense se bewondering vir hulle sukses.
In die Ou Testament lees ons van iemand wat homself so hoog geag het. Koning Nebukadnesar van Babel in die tyd van die profeet Daniël.
Hy het gesê: Kyk net hoe groot is Babel. Deur my groot mag het ek daarvan ‘n koningstad gemaak, tot my eer en roem. (Dan 4:29)
En dan staan hier verder:
Sy woorde was nog nie koud nie toe kom daar ‘n stem uit die hemel: Daar is besluit, koning Nebukadnesar, dat jy uit jou koningskap onthef gaan word. Jy sal uit die menslike samelewing uitgestoot word en saam met die wilde diere moet leef en gras moet eet soos beeste. (Dan 4:31 en 32)
Later jare in die geskiedenis het groot politieke en militêre leiers soos Napoleon Boneparte en Adolf Hitler min of meer dieselfde pad geloop. Net toe hulle begin dink hulle het al die mag, laat die Here hulle tot ‘n harde val kom.
Ons is so geneig om te dink dat ons sukses aan ons eie vermoëns en harde werk te danke is. Die Here sê: Sulke grootpratery is verkeerd!
Luister wat vra die apostel Paulus onder leiding van die Heilige Gees:
Wie maak jou so belangrik? En wat besit jy wat jy nie ontvang het nie? As jy dit dan ontvang het, waarom stel jy jou aan asof jy dit nie ontvang het nie? (1 Kor. 4:7)
In ons moderne samelewing wat teen ‘n tempo ontwikkel waarmee ons sukkel om by te hou, is die gevaar van selfversekerdheid en selftevredenheid regtig groot. Dit lyk so asof die mens met sy vermoëns self onbeperkte ontwikkeling kan bewerk .....
Wat nodig is, sê Jakobus, is:
4. NEDERIGE GEHOORSAAMHEID AAN GOD - DIT IS DIE REGTE DING OM TE DOEN
Met die eerste oogopslag lyk dit asof vers 17 los staan van die vorige verse.
As iemand weet wat die regte ding is om te doen en hy doen dit nie, is dit sonde.
Die waarheid is egter dat Jakobus sy lesers duidelik gewys het wat die regte ding is om te doen. Hy het vir hulle verduidelik dat God soewerein is en dat ons as mense in afhanklikheid voor Hom moet lewe. Daarom sê hy: Jy weet dit nou, as jy dit nie doen nie, is jy besig om te sondig.
Ons dink meesal dat sonde lê die verkeerde ding wat ons doen. Hier is dit duidelik dat ons kan sondig deur nie-te-doen nie.
Ons weet ons moet in afhanklikheid voor God lewe. Ons weet ons moet ons hele lewe in sy veilige hande plaas. Ons weet dat Hy volkome in beheer is. As ek en jy nou lewe so asof onsself in beheer is, doen ons sonde.
Kom ons vra dan: Hoe kan ek en jy in volkome afhanklikheid lewe?
Die enigste manier is: LEWE IN CHRISTUS!
Lewe as ‘n lewende loot aan Hom wat die ware wingerdstok is. Word ‘n lewende steen in die geestelike huis van God.
As ek en jy deur ‘n ware geloof in Christus ingelyf is, en sodoende deel van sy liggaam geword het, leef ons saam met Hom – in Hom, en deur Hom en tot Hom..... Dan leef ons nie meer nie...... Hy leef in ons! Dan gaan dit nie oor my en jou nie, maar oor Hom en sy koninkryk.
Broeder en suster. Ek en jy kan net in Christus lewe as die Heilig Gees ons met ‘n ware geloof aan Christus verbind.
Ons eie gees, is ‘n gees van selftevredenheid en selfversekerdheid. Ons eie gees soek eie eer. Ons eie gees vertel dat ons op onsself kan regkom. Ons eie gees vergeet voortdurend om te sê:
As die Here wil, sal ons lewe en sal ons dit of dat doen....
As die Here wil...... Het ons Here Jesus nie ook baie duidelik vir sy dissipels geleer om te bid: Laat u wil geskied, nie?
Hoe gehoorsaam is ek en jy regtig aan God? Hoe goed is ons bewus van God se soewereiniteit? Hoe ernstig is ons om in hierdie nuwe jaar waarvan ons vandag maar op die drumpel staan, God se wil te doen?
Beplanning vir die pad vorentoe, sonder God, is verkeerd! As ons weet wat die regte ding is om te doen en ons doen dit nie, is dit sonde!
SLOT
Kom ons sluit af.
Die jaar 2017 lê voor ons uitgestrek. Hoe gaan ek en jy die jaar binne?
Maak ons planne en sê so vol selfversekerdheid wat ons alles gaan doen en hoe ons dit gaan bereik?
Jakobus waarsku: As ek en jy aanhou vergeet om te sê: As die Here wil en ons lewe .... is ons besig met grootpratery en doen ons sonde.
Hy sê: BUIG VOOR GOD SE WIL - DIT MAAK SIN
As ek en jy hierdie jaar op die regte manier wil aanpak, moet ons bid dat die Heilige Gees ons al hoe meer in Christus sal inlyf sodat Hy meer sal word en onsself minder.
‘n Pad wat ons aan die hand van ons Koning en Verlosser, Jesus Christus, loop, is die pad van die lewe. Dit is die enigste pad waarop ons die Here se wil kan doen.
AMEN.