Sosiale Skakels

Besoekers

We have 22 guests online

Teken In

Follow us on FacebookFollow us on Twitter


Monday, 09 January 2017 05:07

Openbaring 5:6 & 7 ONS BELEEF ELLENDE, MAAR HOU MOED - GOD IS IN BEHEER

Written by 
Rate this item
(0 votes)

SKRIFLESING:  OPENB. 4 & 5                                                                                           

TEKS: OPENB. 5:6 & 7                                                                                                                       

ONS BELEEF ELLENDE, MAAR HOU MOED - GOD IS IN BEHEER!

In die jaar 95 het dit gelyk of Christenskap op ‘n ramp afstuur. Byna elke Christen was ‘n sterk kandidaat vir een of ander vorm van wrede vervolging.  Om ‘n Christen te word, was op daardie stadium  regtig lewensgevaarlik.

‘n Mens sou seker daardie mense  nie kwalik kon neem, as hulle met vrae oor die waarheid en nut van hulle geloof geworstel het nie.  Dink net wat het hulle ervaar.  Hulle het die evangelie gehoor, die Here Jesus Christus as hulle Verlosser en Saligmaker aangeneem en is gedoop.  Hulle was nou burgers van die koninkryk van God.  Maar kyk wat gebeur:

·         Hulle word deur  sommige van hulle familie verwerp.

·         Van hulle het hulle werk verloor.

·         Sommige is gevang en in die tronk gegooi

·         Ander is weer op die wreedste maniere doodgemaak 

Hulle moes eenvoudig vra:

Is dit ooit die moeite werd om ‘n Christen te wees?

In hierdie moeilike tyd sit die apostel Johannes, ook omdat hy ‘n Christen is en die evangelie verkondig het, as ‘n banneling op die eiland Patmos.   As apostel van die Here Jesus Christus, kry hy ‘n besondere openbaring deur middel van die Heilige Gees.  Vers 1:

Hierna het ek, Johannes, in die hemel ‘n deur gesien wat oopgemaak is, en die stem, soos die geluid van ‘n trompet, wat ek die eerste keer met my gehoor praat het, het gesê: “kom op hierheen en Ek sal vir jou wys wat hierna moet gebeur

Wat Johannes  toe beleef het, kan in ‘n tema kort saamgevat word:

ONS BELEEF ELLENDE, MAAR HOU MOED - GOD IS IN BEHEER!

Ons kan dit in drie punte uiteensit:

GOD SIT OP SY EWIGE TROON

GOD REGEER DEUR CHRISTUS OP HIERDIE AARDE

GOD LAAT ONS SAAM MET CHRISTUS REGEER

 

1.       GOD SIT OP SY EWIGE TROON

Kyk wat sien Johannes toe hy deur die Gees na die hemel meegevoer word:

.........  Ek het gesien daar staan ‘n troon in die hemel en op die troon sit daar Iemand.  Sy voorkoms was soos opaal en karneool.  Om die troon was daar ‘n reënboog met die glans van smarag.  Reg rondom die troon was daar vier en twintig ander trone, en op die trone het daar vier en twintig ouderlinge gesit  ......

Volgens vers 8 is die “Iemand” wat op die troon sit die Here God, die Almagtige.  Dit laat ‘n mens dadelik dink aan ‘n Koning en ‘n Regter. Sy heerskappy is absoluut en sy uitsprake is finaal.

Alles wat Johannes sien as hy na die troon kyk, word oorheers deur ‘n glansryke en verblindende lig. Soveel so dat Johannes nie na die Persoon wat op die troon sit, kan kyk nie.  Hy is immers die onsienlike God.  Die reënboog om die troon is simbool van God se genade en heerlikheid.

Die vier en twintig ouderlinge wat op vier en twintig trone rondom die troon van God sit, is beeld van die kerk van die Here.  Dit is die verteenwoordigers van die 12 stamme van Israel in die Ou Testament asook die 12 apostels van die Nuwe Testament.  Die syfer vier en twintig is dus die simbool van die volledige of totale kerk van die Here deur die eeue.

Wat die gelowiges in die jaar 95 onder baie moeilike omstandighede moes weet, is dat God in volle beheer is. Alhoewel God se troon in die hemel is en sy koninkryk verhewe bo die aardse koninkryke is, is Hy in volle beheer van dit wat op die aarde gebeur.  Nie net ten opsigte van die groter wêreldtoestande  en die toestande in ons land nie, maar ook in ons elkeen se persoonlike lewe.  Ons moet verstaan: God is in volle beheer.

Ons staan vandag nog so half op die drumpel van in 2017. Ons moet weet  dat die politieke onsekerheid, ekonomiese onstabiliteit asook geweldsmisdade, korrupsie en  ook al die sosiaal-maatskaplike probleme nie buite God se beheer is nie. 

President Zuma en die ANC kan nie maar doen wat hulle wil nie – al dink hulle dalk dat hulle kan.  Ons kan maar net weet mooi luister wat Psalm 2 oor die aardse konings en maghebbers sê:

Hy wat in die hemel woon, lag hulle uit, die Here spot met hulle. Hy spreek hulle aan in sy toorn en in sy gramskap jaag Hy hulle op loop (Ps. 2:5)                    

Maar broeder en suster, hoe regeer God daar van sy verhewe hemeltroon af? Hoe presies is Hy daagliks in jou en my lewe besig?  Die antwoord is:

2.       GOD REGEER DEUR CHRISTUS OP HIERDIE AARDE

Soos wat Johannes na die troon kyk,  sien Hy in die regterhand van Hom wat op die troon sit ‘n boekrol wat aan die voor- en agterkant vol geskryf is en met sewe seëls verseël is.

Hierdie boekrol is God se plan vir die wêreld.

Aanvanklik, toe die mens geskep is, was God opdrag dat die mens die aarde moet bewoon en bewerk.  Adam en Eva het uit sy mond gehoor dat hulle moes heers as God se verteenwoordigers.   Hulle laat egter toe dat die satan hulle verlei. In die proses hulle verlaat hulle pos en hulle werk as God se verteenwoordigers verval.   Die mens word uit die paradys verdryf. Die satan neem oor en word die heerser op die aarde.  Sy heerskappy is vernietigend. Sommer gou lees ons van haat en geweld. Abel word die eerste moordslagoffer as sy broer Kain hom vermoor. 

Daar is toe nie meer ‘n mens wat God se plan met die wêreld verder kon uitvoer nie. God se bestuurder op aarde is deur die satan verlei en moes sy pos verlaat. .....  Satan neem oor.

In die gesig wat Johannes gesien het, lees ons hoe daar gesoek word na iemand om die boek van God se plan met die wêreld oop te maak en dit wat daarin staan uit te voer, maar daar is niemand nie.  En dat sê Johannes:

Ek het baie gehuil omdat daar niemand gekry is wat waardig was om die boek oop te maak en daarin te kyk nie (vers 4)

Johannes huil oor die ellendige toestand ..... satan is die verdeler, die vernietiger. Die wêreld is in ‘n ellendige toestand.

Maar dan sê een van die ouderlinge vir Johannes:

Moenie huil nie.  Kyk, die Leeu uit die stam van Juda, die Afstammeling van Dawid, het die oorwinning behaal en kan die boek met die sewe seëls oopmaak.  Toe het ek voor die troon  .... ‘n Lam sien staan, een wat geslag was.

Ja, God kom gryp in. Hy stuur sy eie Seun na hierdie wêreld. Maar dan probeer die satan dit keer.  Eers probeer hy om deur middel van Herodes die baba Jesus te laat doodmaak.  En dan later, pas nadat die Here Jesus gedoop is, versoek die satan Hom in die woestyn. Satan probeer vir Jesus vang, soos hy destyds vir Adam en Eva gevang het.  Op ‘n stadium neem die satan vir die Here Jesus na ‘n hoë berg en wys Hom al die koninkryke van die wêreld en dan sê hy:

Aan U sal ek al hierdie mag en majesteit gee, want dit is aan my oorgegee, en ek gee dit aan wie ek wil.  Dit sal alles aan U behoort as U maar net voor my buig en my aanbid.  Daarop antwoord Jesus: Daar staan geskrywe: Die Here jou God moet jy aanbid en Hom alleen dien. (Luk 4:6 – 8)

Die satan kan nie die Here Jesus Christus oorwin nie.  Hy is die Leeu uit die stam van Juda.  Hy regeer. Maar sy oorwinning kom nie op die normale manier nie. Hy kom om vir die mens die oorwinning te bewerk. Hy die Leeu, word die Lam wat geslag word. Daar aan die kruis bevry Hy elkeen wat in Hom glo uit die mag van die satan en sy bose magte. Hy behaal die oorwinning oor die sonde en die dood.

Hy is waardig om die boek oop te maak en daarin te kyk. In Matt 28:18 sê Hy:

Aan My is alle mag gegee in die hemel en op die aarde.

Die Here Jesus het met sy Hemelvaart aan die regterhand van God  op die troon gaan sit. Hy regeer.  Hy word beskryf as die Lam met 7 horings  - volledige heerskappy.  Hy het ook sewe oë wat, weer die volledige, Gees van God is wat oor die wêreld uitgestuur is.  Hy is die alomteenwoordige God wat alle mag in die hemel en op die aarde het.  Alle regeemag is volledig in sy hande geplaas.

Maar kyk nou na die wonder, broeder en suster.  Dit laat ‘n mens byna stom van verbasing:

3.       GOD LAAT ONS SAAM MET CHRISTUS REGEER

Toe die Lam die boek uit die regterhand van God neem, so lees ons, het die vier lewende wesens en die vier-en-twintig ouderlinge voor Hom gekniel.  En dan sing hulle ‘n nuwe lied, d.w.s. ‘n lied wat nog nooit voorheen gesing is nie.

U is waardig om die boek te neem en die seëls daarvan oop te maak omdat U geslag en met u bloed mense vir God losgekoop het uit elke stam en taal en volk en nasie.  U het hulle ‘n koninkryk van priesters vir ons God gemaak en hulle sal oor die aarde regeer ..... (verse 9 en 10)

Ons Here Jesus Christus is ons Verlosser.  Hierdie lied gaan oor sy verlossingswerk en sy finale oorwinning.  Hierdie lied sê:  Hy het  mense vir God losgekoop en hulle ‘n koninkryk van priesters gemaak.  Mense in diens van God wat as konings regeer!

Broeders en susters, weet u wie is hierdie mense?  Hierdie koninkryk van priesters wat oor die aarde regeer?

Dit is ek en jy!      Dit is die Christengelowiges oor die hele aarde!

Ek en jy is deur die verlossingswerk van ons Here Jesus Christus weer opnuut in die plek van Adam en Eva aangestel om God se beeld en sy verteenwoordigers hier op aarde te wees.   Ons regeer saam met ons Koning en Verlosser.  Ons is koninklike priesters.  Ons is saam met ons Here Jesus Christus meer as oorwinnaars. Letterlik niks kan ons van sy liefde skei nie en niks kan ons uit sy hand ruk nie.  Ja, selfs die dood is oorwin, daarom is ons ook nie vir die dood bang nie. Nie finansies, ook nie slegte verhoudings of ouderdom, siekte of misdaad of vervolging of honger of pyn .... ja net mooi niks kan ons van God se liefde in Christus skei nie.  Gaan lees gerus weer Paulus se oorwinningslied in Romeine 8:31 - 39.

SLOT

Broeder en suster, uit eie krag sukkel ek en jy om as oorwinnaars en as koninklike priesters, te lewe.  Soms voel dit of die ellende van hierdie wêreld eenvoudig net te veel word. Ernstige siekte soos kanker, ‘n gruwelike motorongeluk,  ‘n plaasaanval, diefstal en geweld en nog soveel ander dinge druk ‘n mens plat.  Dit maak jou moeg en moedeloos.  Dit laat jou huil .....  soos Johannes gehuil het.

Maar ‘n mens huil net as  jy nie jou oë op die Here Jesus hou nie. ‘n Mens huil net as jy voel dinge in jou lewe is buite beheer.

Maar niks is mos buite beheer nie .......

Ons Here Jesus Christus het die boek uit God se hand ontvang. Hy het alle mag in die hemel en op die aarde ...... 

Onthou:  Ek en jy is ledemate van sy liggaam.  Ons is die skape in die kudde van die Goeie Herder.   Ons is lote aan die ware Wingerdstok.....

Hy het ons koninklike priesters gemaak en Hy het deur sy Gees in ons elkeen se hart kom woon.  Onder leiding van die Heilige Gees kan ons elke dag as oorwinnaars lewe.  Kan ons, en moet ons,  God se verteenwoordigers wees.

Ons belewe ellende ja, maar hou moed. God is in beheer.  Jesus Christus het alle mag. Hy het ons verlos. Hy lei ons deur sy Gees en Hy gebruik ons as koninklike priesters in sy diens.     

                                                                             AMEN 

Read 2962 times
Danie de Kock

Website: www.facebook.com/profile.php?id=1438745475 Email This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it
Login to post comments

Soek