Sosiale Skakels

Besoekers

We have 26 guests online

Teken In

Follow us on FacebookFollow us on Twitter


Monday, 26 September 2011 07:05

DIE HERE SE VERLOSSING EN OORDEEL - OBADJA

Written by 
Rate this item
(1 Vote)

SKRIFLESING: OBADJA

TEKS: OBADJA VERS 21

DIE HERE SE VERLOSSING EN OORDEEL

 

Het  dit u ook al opgeval dat die boek Obadja  in werklikheid net bestaan uit 'n oordeelsaankondig­ing oor die volk Edom.

 

Wat  sê hierdie oordeelsaankondiging  van  Obadja vir  ons vandag? Ja, met reg kan u vra:  Maar wat het ons  vandag  met  Juda en sy buurvolke se onderlinge rusies uit  te waai?

 

Kom  ons gaan kyk weer mooi. Wie is hierdie  volk Edom?  In vers 12 lees ons dat die Here  Juda  as Edom se BROER beskryf.  Tussen broers  moet  daar mos liefde en vrede heers!

 

1. GOD VERWAG EENHEID IN LIEFDE

 

Edom  en  Juda was BROERS omdat  hulle  dieselfde stamvader het. Hierdie twee volke is die  direkte afstammelinge van Isak en Rebekka se  tweelingse­uns Esau en Jakob.

 

Juda en Israel  is Jakob se nageslag terwyl Edom weer  Esau  se nageslag is. Die twee volke het boonop  langs mekaar  gewoon.

 

Edom het aan die suid-ooste  kant aan  Juda gegrens. Juda se handelsroetes het  tot 'n groot mate deur Edom gegaan. Ekonomies was die twee volke dus ook interafhanklik.

 

Edom  was  ook nie soos die ander  buurvolke  van Israel afgodsdienaars nie! Hulle het die enigste ware God aanbid. In Deuteronomium  23:7 gee die Here byvoorbeeld opdrag oor  die toegang  tot die vergadering van die Here en  dan staan daar:

 

Die Edomiet moet jy nie as 'n gruwel beskou nie, want hy is jou broer......"

 

Edom  en Juda was bloedbroers sowel  as  geloofs­broers!  'n Hegter band kan 'n mens jouself nou­liks voorstel

 

Die vraag is egter: Waarom word Edom, die  bloedbroer  en  geloofsbroer  van Juda  dan  so  skerp veroordeel?

 

Skrifkritiese teoloë beweer Obadja was 'n tipiese nasionalistiese  profeet wat in die hitte van  'n politieke  twis hierdie woorde  neergeskryf  het. Tog kry 'n mens soortgelyke uitsprake by verskeie 

ander profete van die Ou Testament. Amos, Jesaja sowel as Jeremia en Esegiël maak soortgelyke  oordeelsuit­sprake oor Edom!

 

Die  feit van die saak is dat Juda en Edom in  'n  voortdurende  stryd gewikkel was.  Edom  was  jare lank  aan Israel onderdanig.  Hulle  welvaart  was grootliks aan die van Juda gekoppel. En Edom  wou 

graag hierdie juk afgooi!  Hulle wou nie van  Juda  afhanklik wees nie!

 

Om hierdie weerstand by Edom te verstaan, moet 'n mens terug tot by die stamvaders. Ons ken mos die geskiedenis. Jakob het mos met bedrog die seën wat sy tweelingbroer Esau moes kry, gesteel. Hy het homself mos by sy ou blinde vader Isak, as Esau voorgedoen.

 

Toe  hy vir Jakob  in Esau se plek geseën het,  het  Isak gesê:

 

"Wees 'n heerser oor jou broers, en die seuns van  jou moeder moet hulle voor jou neerbuig"         (Gen. 27:29)

 

Toe Esau later daar aankom om geseën te word,  het Isak vir hom gesê:

 

"En van jou swaard sal jy lewe, en jou broer sal jy dien. Maar as jy jou kragte inspan, sal jy sy juk van jou nek afruk."(Gen. 27:40)
 

Hier  sien 'n mens die rede waarom  die  Edomiete gedurig  teen Israel en Juda in opstand was!   

 

Waar  die Here van broers verwag om in liefde  en vrede saam te leef, was hier net sprake van  haat en  twis.  Waar  kom dit  vandaan?

Natuurlik van Jakob en Esau se sonde!  Al was Jakob die stamvader van Israel, was hy die een wat gelieg en bedrieg het. Hy was alles behalwe die engeltjie sonder sonde.

 

Hy moes ook maar eers  ʼn pad loop. Die pad deur sy oom Laban se huis en later by sy terugkeer deur die Jabbok rivier.  Eers daar het hy met God geworstel en om genade en God se seën gesmeek.  Maar tog was hy die oorsaak van Esau se wraakgedagtes en sodoende die Edomiete se wraaklus.

 

Ons elkeen moet versigtig lewe sodat ons nie met ons optrede ander mense negatief oor die kerk en oor Christenskap maak nie.  Te veel kerkmense skrik met hulle sondige optrede mense af  om na der aan die kerk te kom.

 

Die probleem is:

 

2. SONDE BRING SKEIDING TUSSEN BROERS

 

Die Satan blaas die vuur van die mens se  sondige natuur aan!  Die stryd wat tussen die tweelingbroers, Jakob en Esau ontbrand het, het voortgewoed.

 

Edom het net waar hy kan met  die vyande van Israel en Juda saamgewerk.  En elke keer wanneer 'n ander vyandige volk Israel  binnegeval het, het Edom sy broer in die rug gesteek!

 

Die  hoogtepunt van hierdie rugstekery het  gekom toe die Babiloniërs in die jaar 587 vC  Jerusalem binnegeval  het.  Die  Edomiete  het grynslaggend toegekyk  en  selfs gehelp om Juda  te  verneder. 

Hulle het van die Judeërs wat ontvlug het  gevang en aan die Babiloniërs oorgelewer om  tereggestel te word.  (Lees gerus weer verse 13 en 14)

 

Edom het die verraaier van Israel geword.  Die rugsteker  wat verheug was oor die ondergang  van Sion!  En  Edom  was Israel se  bloedbroer  en  sy geloofsbroer.....

 

Tog,  broeders  en susters, hier is meer  in  as bloot  net nasionale verraad.  

Hierdie verraad  is om  'n bepaalde rede gepleeg. Ons moet die groter prent sien.

 

Ons het mos al  die lyn tot by Jakob en Esau teruggetrek.  Kom ons vat

nou  die  lyn weer van daar af vorentoe  in  die geskiedenis.

 

U  onthou  mos nog die tyd toe Dawid so  vir  die waansinnige Saul moes vlug.  In 1 Sam 22 lees  ons dan van Doëg wat aan Saul vertel het dat Dawid by die  priesters van Nob brood en 'n  swaard  gekry 

het. Toe gaan Saul mos om al die priesters in Nob dood  te maak. Toe Saul se manskappe nie die  opdrag, om  die priesters dood te maak, uitvoer nie.  Toe is  dit  op  die ou end Doëg  wat  die  priesters 

doodmaak!  Hierdie Doëg was 'n Edomiet! Die  stryd duur  voort. En let op wie bly in die  slag.  Die  priesters van die Here!

 

Opvallend is die feit dat Edom, die bloedbroer en  geloofsbroer,  voortdurend in die hande  van  die magte  van  die duisternis speel!  Hulle  is  nie openlik  vyandig nie, nee, hulle is die  wolf  in 

skaapsklere.

 

Edom, die broer, wat selfs in die vergadering van die  Here, maw in die kerk, toegelaat is, is  die rugsteker!

 

Vandag sien 'n mens dieselfde gebeur. Is dit  nie juis sogenaamde christene wat die grootste  skade  aan die koninkryk van God aanrig nie?  Wanneer die moderne teoloë die gesag van die Skrif in  twyfel 

trek  of  wanneer  duidelike  Skrifuitsprake   as outyds en onvanpas afgemaak word, dan is dit  mos deel  van  hierdie stryd. Dis die magte van  die duisternis wat aan die werk is!

 

As die Wêreldraad van kerke deesdae poog om selfs die  Islam en die Hindoeïsme onder dieselfde  sam­breel saam met die Christelike kerke in te  trek, is dit mos deel van hierdie stryd!  Geloofsbroers wat die rugstekers word!  Die kerk van die Here word deur mense wat hulleself gelowiges noem, uitmekaar geskeur!

                                                               Wat is die oplossing?


3. WAAR GOD REGEER, DAAR IS VREDE

 

Kyk na die stryd agter die stryd!

 

Hierdie  stryd het op die aarde begin  reeds  met die  sondeval.  Kyk na die stryd tussen  Kain  en Abel. En tussen Jakob en Esau.  Dit woed voort as Doëg die priesters van die Here doodmaak.  Saul is waansinnig, gedryf deur 'n bose gees, agter Dawid aan.  Waarom? Dawid moet dood, want dit is uit  sy nageslag wat die Christus gebore moes word.

 

Kyk  ook  na  die Nuwe  Testament.  Toe  Christus gebore  is, laat Herodes al die  seuntjies  onder twee  jaar  doodmaak. Weer dieselfde stryd.  Die Christus moes dood. En wie was Herodes? Hy was 'n 

Edomiet!  Die broer van Juda!

 

En  meer nog. Elke keer as daar in die  Bybel  na Judas,  die verraaier van Jesus verwys word,  dan word daar bygevoeg dat hy Judas Iskariot is.   Dws 'n  man  van Keriot.   Keriot is in  Edumea  geleë. Weereens Edom!  Die bloedbroer, die  geloofsbroer, die rugsteker!

 

Sien  u  waarom  die oordeel so  skerp  oor  Edom uitgepreek word? Edom laat toe dat die satan hom misbruik. Hy wat dieselfde agtergrond het, is die skeurmaker.

 

Sien u wie sit agter hierdie stryd?  Die Satan  en sy bose magte.

 

En  vandag word dieselfde taktiek  toegepas.  Die Satan  gebruik mense wat as volksgenote  en  ge­loofsgenote  bekendstaan (bloedbroers en  geloofsbroers) om die aanvalle teen  God se volk te rig. Hierdie stryd is 'n hewige stryd.

 

Maar ons  moet  nie te gou moedeloos  word  nie. Onthou, die Here regeer!  Dit wat Hy sê, dit is wat uiteindelik gebeur.


In vers 21 lees ons: "Die bevrydes op Sionsberg sal optrek om oor  die bergland van Esau te regeer

 

Die Here gee hierdie bevryding.  Sionsberg, die tempelberg in Jerusalem, is simbolies vir die heerskappy van God.  En uiteindelik ook  die oorwinning  in Christus. Hy regeer. Hy het mos alle mag in die hemel en op die aarde.  En Hy het belowe dat Hy by ons is tot met die voleinding van die wêreld!

 

Saul en Doëg se priestermoord kon Dawid nie stuit nie.  Herodes  se kindermoord  kon  Christus  nie stuit nie.  Selfs Judas se verraad kon die oorwin­ning deur Christus nie verhoed nie.

 

SLOT

Ons het die duidelike bewyse dat God in beheer is. Dat die poorte van die hel nie die kerk van die Here sal oorweldig nie.  Laat ons aan die beloftewoord van die  Here vashou.   Waar Hy regeer is daar vrede. In ons persoonlike lewe en in sy kerk.

 

                                                                    AMEN.

Read 5091 times Last modified on Thursday, 08 March 2012 13:04
Danie de Kock

Website: www.facebook.com/profile.php?id=1438745475 Email This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it
Login to post comments

Soek