Sosiale Skakels

Besoekers

We have 17 guests online

Teken In

Follow us on FacebookFollow us on Twitter


Monday, 20 February 2017 08:44

Joh. 4:10 DIE HERE GEE LEWENDE WATER AAN MENSE WAT DOOD IS VAN DIE DORS (NAGMAAL)

Written by 
Rate this item
(0 votes)

SKRIFLESING:  JOH. 4:1 - 26

TEKSVERS:  JOH. 4:10

TEMA: DIE HERE GEE LEWENDE WATER AAN MENSE WAT DOOD IS VAN DIE DORS

 

Die Here Jesus ken ons elkeen persoonlik. Hy gee aan ons die versekering dat diegene wat in Hom glo se name in die boek van die lewe opgeskryf is..

Luister wat sê Hy net twee hoofstukke verder in Johannes 6:

Ek het van die hemel af gekom nie om my wil te doen nie, maar die wil van Hom wat My gestuur het. En dit is die wil van Hom wat My gestuur het: dat Ek van almal wat HY My gegee het, nie een verlore sal laat gaan nie, maar hulle almal op die laaste dag uit die dood sal laat opstaan. (Joh. 6:38 & 39)

Deur sy Woord en Gees kom die Here Jesus op sy tyd en op sy manier by elkeen wat die Vader aan Hom gegee het, persoonlik uit. Hy kom om te verlos en om nuwe lewe te gee.

In Jesaja 55 hoor ons hoe die Here roep:

Kom, almal wat dors is, kom na die water toe, ..........

En saam met Dawid bely ons in Psalm 23:

Die Here is my herder; ek kom niks kort nie. Hy laat my rus in groen weivelde. Hy bring my by waters waar daar vrede is....  (Ps. 23:1 & 2)

Vanoggend hoor ons in die prediking:

DIE HERE KOM GEE LEWENDE WATER AAN MENSE WAT DOOD IS VAN DIE DORS

Uit jouself kan jy, omdat jy van nature as ‘n sondige mens is gebore is, op geen manier by die Here uitkom nie.  Jy is in sonde verlore. Daarom moet die Here na jou toe kom. Hy moet jou uit jou sonde dood kom red. Kyk net wat het met die Samaritaanse vrou by die put gebeur.

1.       DIE HERE JESUS KOM DEEL IN ONS DORS

In vers 4 lees ons dat die Here Judea verlaat het en weer na Galilea toe gegaan het.  Die probleem was dat Samaria tussen Galilea in die Noorde en Judea in die Suide gelê het.  Die Jode en die Samaritane het nie langs dieselfde vuur gesit nie en daarom het die Jode nie daarvan gehou om deur Samaria te reis nie. Hulle het op die Samaritane neergesien en daarom gewoonlik of links - of regs om Samaria gereis.  Hier lees ons egter:  Hy (die Here Jesus) moes deur Samaria gaan.  Dit beteken dat Hy die pad deur Samaria moes neem omdat Hy so ‘n opdrag van sy Vader gekry het.   Hy moes iemand spesifiek in Samaria gaan ontmoet.

Naby die dorp Sigar was daar ‘n put wat Jakob jare terug daar gegrawe het. Omdat hy moeg en dors was, het die Here Jesus en sy dissipels daar gerus. Jesus het by die put gewag terwyl sy dissipels gaan kos koop het. 

Terwyl die Here Jesus daar sit, kom ‘n Samaritaanse vrou na die put om water te kom haal. Sy kom om haar fisiese dors te les, maar dan ontmoet sy die Here .....

Sien u wat hier gebeur?

Die Here Jesus kom stap binne in ons  mense se gewone lewe in.  Hy stap na die dorstiges en ontmoet hulle – daar waar hulle woon en werk.

En kyk net hoe werk die Here op ‘n persoonlike manier met hierdie vrou. Hy vra eers vir haar water. Hy vereenselwig Hom met haar in haar dors.

En sy is baie verbaas.....  Verbaas dat hy wat ‘n Joodse man is, met haar – ‘n Samaritaanse vrou, begin praat.  Dit was ongehoord!  Destyds het ‘n man  nie sommer met ‘n vreemde vrou gepraat nie. En hier praat ‘n Joodse man met ‘n Samaritaanse vrou op wie die Jode so neersien.  Boonop vra Hy vir haar om water uit haar emmer en beker te drink.  En dit terwyl die Jode destyds nie eers dieselfde eet- en drinkgerei as die Samaritane wou gebruik nie.

Die Here het egter die vrou kom opsoek. Hy gaan teen al die menslike sienswyses en gebruike in om haar uit haar sonde te verlos.  Sy is ‘n uitverkorene. Haar naam is in die boek van die lewe opgeskryf en sy moes die Here Jesus leer ken.  Dit is God se plan met haar lewe.

Die Here Jesus kom met sy Woord en deur sy Gees so na elkeen van ons toe. Hy kom deel in ons dors na die lewende water. Hy ken ons elkeen lewe en ons persoonlike omstandighede.

En dan, kyk wat doen Hy....

2.       DIE HERE JESUS VRA:  WEET JY?

Uit die aard van die saak, het die Samaritaanse vrou aanvanklik nie die Here Jesus geken nie.  Sy is verbaas en uit die veld geslaan dat ‘n Joodse man met haar praat en boonop vir haar vra om saam met haar water te drink.

Maar dan verander die Here Jesus die onderwerp.  Sy is nog verbaas omdat Hy vir haar water vra, en dan bied Hy sommer vir haar water aan.....

Hy doen dit deur enkele vrae:  .....  Weet jy......?

Die eerste vraag is:

Weet jy wat God gee?

‘n Mens kan nie van die ware lewe bewus wees as jy nie sien wat God gee nie.  As jy Hom nie as die Skepper en die Onderhouer ken nie, is alles tevergeefs.  Die Samaritaanse vrou moes dit verstaan en ons vandag moet dit ook verstaan dat alles uit die hand van die Here kom. Nie net die water uit die put nie, maar alles wat ons sien en alles wat ons gebruik is dinge wat God vir ons gee.

En dan is daar ‘n tweede vraag wat die Here Jesus vra:

Weet jy wie dit is wat met jou praat?

Die Samaritaanse vrou moes weet Wie die Here Jesus is. Sy moes verstaan dat Hy die beloofde Messias, die gesalfde van God, is.  Dit is Hy wat na die wêreld toe moes kom as Redder en Verlosser. Hy is die Een wat die fontein met lewende water kom oopgrawe sodat elkeen wat daarvan drink nooit weer dors sal kry nie.

Maar dan is daar nog die derde vraag: 

Weet jy dat jy vir die Here Jesus lewende water kan vra?

In vers 15 lees ons:

Die vrou het vir Hom gesê: Meneer, gee vir my van daardie water, sodat ek nie weer dors sal kry en hier hoef te kom water haal nie.

En kyk dan

3.       DIE HERE JESUS GEE LEWENDE WATER

Hy sê aan die vrou:

                Gaan roep jou man en kom terug hierheen.

Nou is konfronteer Hy haar met haar persoonlike lewe. Hy ontbloot haar lewe.  Sy het al vyf mans gehad en die een wat sy nou het, is nie haar man nie. Hulle woon sommer net saam.  Meteens staan die vrou daar met haar sondige lewe voor die Here Jesus oopgevlek.

Nou verstaan sy:   Sy is in werklikheid die een wat dors is - Geestelik dors!

Sy het die lewende water van ‘n nuwe lewe so nodig. Sy voel op daardie stadium toe soos die wildsbok van Psalm 42 wat smagtend blêr en skreeu na water om haar verterende dors te les.

En hier staan die Bron van lewende water hier voor haar!

Broeder en suster, die Here se liefde en sy ontferming is geweldig groot!  Ek en jy kan Hom nie soek nie, want ons is van nature geneig om ons eie koers in te slaan.  Met ons sondige geaardheid en selfsugtige optrede loop ons loop op die pad van die dood. Ons sou sterf van die dors...

Maar die Here kom na ons toe. Hy kom na ons toe en ontmoet elkeen persoonlik wat die Vader aan Hom  gegee het. Hy kom om aan ons die lewende water te gee.

Om ons as sy eiendom te kry, moes Hy die hoogste prys betaal. Hy moes die volle toorn van God oor ons sonde dra. En toe Hy daar aan die kruis gehang het en van God en mens verlate was, roep Hy uit: 

EK HET DORS!

En al wat Hy kry om sy dors te les, was ‘n spons met suur soldatewyn wat soos asyn geproe het...

Ons kan vandag aan die Nagmaalstafel ons geestelike honger en dors kom les met sy liggaam wat vir ons gebreek is  en sy bloed wat vir ons gevloei het.

Met hierdie nagmaal verseker Hy ons elkeen wat die tekens van brood en wyn met ‘n gelowige hart aanneem dat ons op pad is na die ware ewige lewe in die Vaderhuis.

In Openbaring 22 lees ons hoe die apostel Johannes die ewige lewe beskryf wat aan Hom geopenbaar is:

Toe het die engel my die rivier gewys. Dit is helder soos kristal en dit stroom uit die troon van God en van die Lam uit.....

SLOT

Vandag verseker die here ons dat ons daardie lewende water uit ons Here Jesus se hande ontvang en dat ons op pad is na die ewige heerlikheid met ‘n rivier vol lewende water.

Ons het in Christus nou natuurlik elkeen ‘n waterdraer geword.  Ons taak is om hierdie lewende water aan dorstiges op ons lewenspad uit te deel.                                                                            AMEN.

Read 3605 times
Danie de Kock

Website: www.facebook.com/profile.php?id=1438745475 Email This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it
Login to post comments

Soek