SKRIFLESING: MATTEUS 6:25 – 34
TEKS: MATTEUS 6:31 – 33
TEMA: YWER VIR DIE KONINKRYK LAAT BEKOMMERNIS VERDWYN
Bekommernis kan ‘n mens gedaan maak. Dit laat jou nagte wakker lê, dit steel jou vreugde en jaag jou vrede skoon weg.
Bekommernis het natuurlik tot ‘n groot mate met onsekerheid te doen en boonop maak dit jou bang. Dink net vir ‘n oomblik: As jy byvoorbeeld met ‘n hangbrug, waarvan ‘n paar sporte weg is, oor ‘n afgrond moet loop, raak jy bekommerd. Jy voel baie onseker, want jy is bang jy val daar af.
In ons teksgedeelte, wat maar net uit 10 verse bestaan, kom die woord bekommer sowaar ses keer voor! In hierdie gedeelte is ons Here Jesus Christus aan die woord en dit is Hy wat ses keer sê:
Moet jou tog nie so bekommer nie!
1. WAT IS BEKOMMERNIS?
Bekommernis, is ‘n tipies menslike reaksie. Ons hemelse Vader het ons so geskep. Hy het ons gemaak om dinge te beoordeel te antisipeer en keuses te maak. Bekommernis het met ons sin vir verantwoordelikheid en ons veiligheid te doen. Ons beland in ‘n situasie waar onseker begin voel, ons antisipeer die moontlikhede en naderhand pak die vrees ons beet. Op die manier probeer ek en jy om onsself en ons geliefdes te beskerm. Ons kan dit ‘n soort ingeskape selfverdedigingsmeganisme noem.
Wat maak ‘n mens gewoonlik bekommerd? Kom ons kyk wat sê die Here:
Vers 25
Moet julle nie bekommer oor julle lewe, oor wat julle moet eet of drink nie, of oor julle liggaam, oor wat julle moet aantrek nie.
Hier gaan dit oor sommer oor ons gewone lewe: ... Oor kos en klere.
En dan vers 27:
..... wie van julle kan deur hom te bekommer sy lewe met een enkele uur verleng?
Hier gaan dit ook oor ons lewe, maar nou meer oor gesondheid en veiligheid.
Al ses plekke waar die Here Jesus in die gedeelte oor bekommernis praat, het dit met ons elkeen se eie lewe te doen.
Bekommernis, so het ons mos gesien, is ‘n natuurlike eienskap van menswees. Dit is ‘n soort ingeboude beskermingsmeganisme. Dit wil lewe beskerm en in stand hou. Daarom laat bekommernis jou planne maak en voorsorg tref. Sodoende wil jy graag van jou bekommernis en onsekerheid ontslae raak.
Nou is dit tog belangrik om te verstaan:
2. MY BEKOMMERNIS HET MET MY IDENTITEIT TE DOEN
Ons elkeen het ‘n bepaalde siening oor onsself. Jou identiteit sê wie jy is of graag wil wees.
Maar kom ons vra: Waar kom ‘n mens se identiteit vandaan? Dit is ‘n belangrike vraag en juis die punt waaroor dit gaan. Hoe ek en jy hierdie vraag beantwoord gaan uiteindelik bepaal of ons van ons bekommernis ontslae sal raak of nie.
Verder is die antwoord op die vraag nie soseer ‘n antwoord wat ek en jy met ons verstand gee nie. Nee, hierdie antwoord kom uit ‘n mens se hart. M.a.w. jou antwoord lê jou hart bloot.
Die punt is, broeder en suster. Jou en my identiteit is direk gekoppel aan dit wat ons liefhet, dit wat ons wil hê en dit waarop ons ons hoop bou. Dit beteken dat ons konstant ons identiteit sal vind in dit wat ons god is.
Wat is jou god?
Luister mooi wat sê die Here Jesus:
Julle moet julle dus nie bekommer en vra: “Wat moet ons eet of wat moet ons drink of wat moet ons aantrek nie?” nie. Dit is alles dinge waaroor die ONGELOWIGES begaan is. Julle hemelse Vader weet tog dat julle dit alles nodig het. (Verse 31 & 32)
Die ongelowiges, hulle wat nie ‘n hemelse Vader het nie, is bekommerd oor hulle eie lewe, oor wat hulle sal eet en drink en aantrek. Hulle soek hulle identiteit in alles wat met hierdie aardse lewe te doen het. Die enigste gevolgtrekking wat ‘n mens kan maak is: Hulle eie lewe is hulle god. Dit gaan vir hulle net oor hulleself en hulle eie belange. Hulle vertrou op aardse en materiële dinge. Dit is die ongelowiges se gode.
Kyk mooi wat gebeur: Enige mens begin bekommerd raak wanneer iets sy of haar gevoel van identiteit bedreig. As jy jou bekommer oor kos en klere en jou eie lewe ... dan sien mens wie of wat is jou afod.
Kom ons vra maar elkeen vir onsself die vraag. En dan gee ons ook sommer ‘n eerlike antwoord:
Wie of wat het, sover jy weet, die grootse invloed op jou identiteit of te wel jou siening van jouself? .......
· Is dit jou geleerdheid?
· Is dit jou besittings?
· Is dit jou prestasies op die sportveld?
· Is dit jou sakevernuf?
· Is dit jou kunstigheid of jou sangtalent?
· Is dit jou goed gevormde liggaam en mooi voorkoms?
Broeder en suster..... Wat is dit? ....... Wat gee aan jou jou identiteit?
Hoe wil jy hê moet ander mense jou sien?
· Die suksesvolle boer?
· Die ryk sakeman?
· Die sportster?
· Die kunstenaar?
· Die skoonheidskoningin?
Onthou, daar waar jy jou identiteit soek - daar vind jy jou god!
En dan is die volgende vraag: Is jy nie met afgodery besig nie?
Nou kan ons mos goed verstaan
3. WAAROM DIE HERE NIE BEKOMMERNIS BY ONS WIL SIEN NIE
In ‘n sekere sin is bekommernis goed, want dit laat jou hulp soek en planne maak.
Maar daar is ‘n probleem: Dikwels soms soek ‘n mens na die oplossing op die verkeerde plek.
So kan jy byvoorbeeld verkeerdelik dink dat jou finansiële probleme deur ‘n dobbelsessie of twee opgelos kan word. ‘n Ander verkeerde manier om bekommernis te hanteer, is ontvlugting. Jy neem jou toevlug dan na die bottel en probeer jou sorge verdrink.
Sien u wat gebeur?
As ‘n mens op dinge van die wêreld vertrou, probeer jy op verkeerde maniere van jou bekommernis ontslae raak. Dikwels ontaard hierdie eie planne dan in slegte gewoontes. Jy probeer jouself beskerm, maar doen dit deur verkeerde keuses. Dit is hoe mense aan dinge soos drank, dwelms of dobbel verslaaf raak. Sulke dinge begin jou lewe oorneem en dan stelselmatig vernietig
God het ons so geskep sodat ‘n gevoel van bekommernis kan hê wat ons van gevaar bewus maak. Bekommernis is rooi ligte wat aangaan om vir ons betyds te sê iets is verkeerd.
Nou is die vraag: Wat is die regte ding om te doen wanneer bekommernis jou benoud en beangs laat voel?
Luister wat sê die Here Jesus:
Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee. (Matt 11:28)
As ek en jy bekommerd is, nooi die Here ons uit om die valse sienings oor wie ons is, wat van ons verwag word, en wat ons uiteindelik werd is, eenkant toe te skuif en rus by Hom te vind. Hy roep ons om van ons materiële en wêreldse afgode ontslae te raak en daarmee saam ook sommer van daardie EIE-EK-AFGOD......
Sien u die oplossing? ..... Verstaan u wat die Here ons hier wil leer?
Hy sê:
4. VOORDAT JY JOU BEKOMMER MOET JY JOU EERS BEYWER
Niemand hou van bekommernis nie. Bekommernis maak ‘n mens siek. Dit maak jou gedaan en vreet jou op! Bekommernis is ‘n selfgesentreerde vernietigingsdrang.
Oor al ons bekommernis sê die Here Jesus:
Moet julle nie bekommer oor julle lewe nie, dit is iets wat die ongelowiges doen..... Julle het ‘n hemelse Vader en Hy weet wat julle nodig het...... Hy sorg vir julle ... selfs nog meer as wat Hy vir die veldlelies en die voëls in die lug sorg.
Die Here wil nie bekommernis by ons as sy kinders sien nie, want bekommernis is loop saam met kleingeloof en selfs ongeloof ............
Hoe keer ‘n mens dan bekommernis?
Luister wat sê ons Here Jesus:
Beywer julle allereers vir die koninkryk van God en die wil van God, dan sal Hy julle ook al hierdie dinge gee.
Die Here Jesus is baie ernstig as Hy hier praat. Die Griekse woorde wat die Here oorspronklik hier gebruik het, beklemtoon dat ywer vir die koninkryk prioriteit in ons lewe moet kry. Verder beklemtoon die Here met die Griekse woorde se tydsaanduiding dat jou en my ywer vir die koninkryk moet aanhou. Dit mag nooit stop nie! En ja, dit vra volharding. Baie letterlik en direk vertaal, staan hier:
In die heel eerste plek moet jy voortdurend aanhou om jou voluit te beywer vir die koninkryk van God en die wil van God ......
Hoe dink u, broeder en suster, hoe doen ‘n mens dit? ....... Hoe beywer jy jou voluit en aanhoudend vir God se koninkryk en vir sy wil?
· In die eerste plek moet ons God volledig as Koning in ons harte en lewens te erken.
· Verder moet ons alles in ons vermoë doen om ander mense so te begelei dat hulle Hom ook as Koning in hulle harte en lewens sal leer ken.
· En dan moet Hy letterlik in elke faset van jou lewe as Koning vereer word: In die onderwys, die wetenskap, jou beroep, jou sakebelange, die industrie en ook in sport.
As jy God se Koningskap in al die fasette van jou lewe erken en bely, lewe jy in geregtigheid. Ja, dan is jou saak met God reg!
Ek en jy kan ons net vir God se koninkryk beywer as ons ons in sy Woord verdiep en ook in liefde lewe.
Wanneer Paulus vir die gemeente in Efese bid, is sy gebed dat hulle innerlik sterk sal word. Luister dan wat bid hy:
..... dat Christus deur die geloof in julle harte sal woon en dat julle in die liefde gewortel en gegrondves sal wees. (Ef. 3:17)
As ek en jy, broeder en suster, ons in die Woord van God verdiep, as ons elke moontlike geleentheid met albei hande aangryp om sy Woord beter te verstaan, sal Hy en sy koninkryk ook vir ons al hoe belangriker word.
As ek en jy verder in die liefde van ons medegelowiges in die gemeente gewortel en gegrondves is, sal ons al hoe meer volgens sy wil lewe.
Op hierdie manier kom ons los van die dinge van die wêreld en kry ons hoe langer hoe meer ons nuwe identiteit – naamlik kinders van die lewende God, burgers van sy koninkryk. ..... Oorwinnaars in Christus!
SLOT
Kom ons sluit af.
Wat maak jou so baie bekommerd? Wat laat jou nagte wakker lê? Wat laat jou sweet van angs? Wat is dit wat jou so gespanne laat word?
Dit is dinge wat jou lewe beheer. Dit is dinge wat jou van God af wegtrek. Dit is dinge wat jou vrede en vreugde steel.....
Bid om die kragtige leiding van die Heilige Gees. Bid dat Christus in jou hart sal woon en bid dat Hy jou in die liefde van jou medegelowiges sal grondves.
Dan sal jy sien dat jou prioriteite begin verander, Dan sal jy begin verstaan wat dit beteken om jouself voluit en aanhoudend vir die koninkryk van God en die wil van God te beywer.
En dan eers ...... so ê die Here Jesus ..... sal ook al hierdie ander dinge, waaroor jy jou tog so kan bekommer, in plek begin kom.
AMEN