SKRIFLESING: EKSODUS 3:1 - 15
TEKS: EKSODUS 3:14 EN HEID KAT. SON 8.
TEMA: ONS GLO IN DIE ENIGSTE WARE DRIE-ENIGE GOD
Die volk Israel het as gevolg van die ellende van hierdie sondige aardse bestaan in Egipte beland. Aanvanklik was hulle eregaste van die Farao toe Josef nog die onderkoning was, later word hulle vir die Egiptenare ‘n bedreiging en uiteindelik hulle vyand.
Die Egiptenaars het toe die Israeliete hulle slawe gemaak.
Die Israeliet, God se verbondsvolk, het slawe van die wêreld geword.... ‘n Uiters tragiese toestand! ...... God se volk in die hande van die goddelose wêreld.
Kom ons lees net enkele verse in die vorige hoofstuk.
Die jare het verbygegaan, en die koning van Egipte het te sterwe gekom, maar die Israeliete het nog steeds gesug en gekreun onder die swaar werk. Hulle geroep om hulp het tot God opgegaan. God het hulle gekerm gehoor en aan sy verbond met Abraham, Isak en Jakob gedink. Hy het die nood van die Israeliete gesien en dit ter harte geneem. (Eks 2:23 – 25)
Dit is baie duidelik: Hier was verlossing nodig...... God self moes hier dringend kom ingryp!
Op grond van sy verbond met Abraham, Isak en Jakob gryp Hy dan ook in. Hy wil sy volk verlos. En Hy het spesiaal ‘n man vir die taak voorberei. Moses.
Ons het gelees hoe Moses besig was om skape vir sy skoonpa Jetro op te pas. En dan, daar by die berg Horeb, verskyn die Here aan Moses.
1. DIE LEWENDE GOD OPENBAAR HOMSELF
Inderwaarheid was hier ‘n hopelose toestand. Die klomp Israeliete was slawe in Egipte. Moses, was as prins in die Farao se paleis grootgemaak is, moes vlug omdat hy ‘n Egiptenaar doodgemaak het. Hy woon in Midian by sy skoonouers. Hy is ‘n skaapherder.
Daar is niemand wat as leier vir die volk kan optree nie. Die volk is moedeloos, verslaaf, verlore. Hulle sug en kreun in hulle ellende.....
En dan kom die Here na hulle toe. Hy gaan haal vir Moses. Hy wil hom gebruik. Sien u? Dit is hoe God werk. Toe Adam en Eva in sonde geval het en weggekruip het, is dit God wat hulle kom soek. Toe die mense in Noag se tyd so goddeloos geword het, is dit God wat ingryp en vir Noag en sy gesin bewaar en met hulle ‘n nuwe begin maak. Later weer, maak God so ‘n nuwe begin as hy vir Abram uit Ur gaan roep en met hom ‘n verbond sluit... So kom God deur die geskiedenis weer en weer na die mens toe en maak telkens ‘n nuwe begin....
En dit is juis, broeders en susters, hoe God vir ons wys dat Hy die enigste ware God is.
Toe Moses daar alleen in die veld is, roep God hom uit die brandende bos om nader te kom. Daar openbaar God Homself aan Moses. Hy sê baie duidelik aan Moses Wie Hy is en wat Hy doen.
Kom ons lees weer ons teksvers.
Toe sê God vir Moses: Ek is wat Ek is. Jy moet vir die Israeliete sê: “Ek is” het my na julle toe gestuur. (vers 14)
Wat het Hy bedoel? Deur te sê: "Ek is", sê die Here dat Hy WERKLIK BESTAAN. Hy is nie maar net 'n gedagte of 'n menslike idee nie. Hy bestaan werklik. ...... HY IS DIE WERKLIKHEID!!
En verder beteken dit dat Hy die EEN en die AL is. Daar is nie nog iemand soos Hy nie. Hy bestaan van ewigheid tot ewigheid. Ja, Hy is die Enigste
Hy is die Ware
Hy is die Ewige.
As God sê dat sy naam "EK IS" is, dan beteken dit dat hy uniek is en daar dus niks en niemand is wat met Hom vergelyk kan word nie!
As 'n mens nou verder in die oorspronklike Hebreeus gaan delf, kom jy agter dat die naam JAHWE wat in ons Bybels as HERE vertaal word dieselfde stam as die woord "EK IS " het.
As ons dus van die Here praat of as ons God HERE noem, gebruik ons juis dieselfde woord as wat die HERE hier vir Moses gesê het om Hom te noem. Die naam HERE dui juis dan op sy getrouheid as die VEBONDSGOD. Die God van Abraham, Isak en Jakob. Die God van die verbondsvolk in hulle geslagte.
2. HY OPENBAAR HOMSELF AS DIE ENIGSTE WARE GOD
In Egipte was daar natuurlik verskillende afgode met verskillende name. Elke afgod het daar sy eie naam gehad. Mense het van die een na die ander geloop om hulle te aanbid, maar daardie afgode kon niks uitrig nie. Hulle was mense se maaksels. Produkte van mense se verbeelding.
As die Moses dan na God se naam vra, is die antwoord bloot:
“EK IS”
Dit beteken Hy is die enigste ware God. Sy naam sê duidelik Wie Hy is ..... Die enigste ware God.
Toe Hy sy volk verlos, gebruik Hy vir Moses om hulle uit Egipte uit te lei. Hy lei hulle na ‘n nuwe land. ‘n Land waar Hy hulle koning sal wees.
En dit is presies Hy, broeder en suster, hierdie enigste ware God wat Homself ook aan ons openbaar.
Dit is Hy wat ons uit ons sondeslawerny kom verlos. Dit is Hy wat met ons voorgeslagte en ook met ons ‘n verbond kom oprig. Ek en jy dra immers die bewys daarvan in die feit dat ons gedoop is. En Hy is besig om ons ook na ons beloofde land te lei.
Ons toekoms is nie hier nie. Ons toekoms ‘n hemelse erfenis wat vir ons in bewaring gehou word.
Soos God vir Moses na sy verbondsvolk in Egipte gestuur het, het Hy sy Seun Jesus Christus na ons gestuur om ons na ons ewige hemelse erfenis te lei.
Israel moes Egipte agterlaat. Ja, al was hulle vir baie jare in die woestyn en het hulle selfs terugverlang na die vleispotte van Egipte, moes hulle vir Moses na die beloofde land volg.
Ek en jy is vreemdeling en bywoners op hierdie aarde. Ons moet versigtig wees om nie vir onsself ‘n god te soek wat ons omstandighede hier sal inrig sodat ons hier gemaklik kan lewe nie....
Die vraag is: Wat wil ons met ‘n supergebedsbyeenkoms soos die een gister by Bloemfontein bereik?
Wil ons nie dalk vir God probeer ompraat om ons lewe hier gemaklik te maak nie.
Terug by Moses en Israel in Egipte. Moes Moses so ‘n superbyeenkoms gereël het dat die Israeliete die Here kon vra om hulle omstandighede in Egipte te verander?
Nee, kyk wat gebeur! Dit is God wat sy volk op ‘n nuwe pad plaas.... ‘n Pad wat hy deur die see baan en hulle in die woestyn versorg.... ‘n Pad na ‘n nuwe lewe in Kanaän.
U sien, broeder en suster.
3. HY OPENBAAR HOMSELF AS DIE DRIE-ENIGE GOD
Hy werk op alle vlakke in ons elkeen se lewe.
- Hy is ons Vader wat ons as sy kinders verwek
- Hy is in die Seun ons Verlosser wat ons as God se kinders saamneem op die pad na ons hemelse erfenis.
- Hy is in en deur die Heilige Gees ons trooster wat ons lei om in Christus as kinders van ons hemelse Vader te kan lewe.
Hoewel ons nêrens in die Bybel die term DRIE-EENIG vind nie, is dit tog uit die hele Bybel duidelik dat God Homself as DRIE PERSONE OPENBAAR:
VADER, SEUN, HEILIGE GEES.
In die OU TESTAMENT, kan ons sê kry ons meer die Vader op die voorgrond, maar die Seun en die Heilige Gees is tog ook daar. Toe Jesus op aarde was, Kan ons sien dat Hy weer meer op die voorgrond was, terwyl die Heilige Gees na Christus se hemelvaart weer meer op die voorgrond kom.
Al is daar drie Persone is daar in die EEN GOD. Ons kan God se werke in die optrede van die drie Persone sien en onderskei, maar jy kan hulle nooit skei nie.
Die ware Drie-Enige God is met ons besig. Hy is besig om ons te verander sodat ons al hoe meer in sy koninkryk kan inpas en al hoe meer in sy diens kan werk.
Ons moet baie versigtig wees, selfs al is dit in ons onderbewuste, om nie vir onsself ‘n afgod te maak wat ons lewe hier vir ons verander sodat ons ‘n gemaklike lewe kan hê nie.
Ons kan probeer bid dat die Here ons omstandighede hier verander sodat ons hier ‘n gemaklike en voorspoedige lewe kan hê, maar is dit wat die Here wil hê?
Gaan dit oor ons voorspoed, ons gemak en ons geluk?
Nee, dit gaan oor die Here en oor sy koninkryk. Ons is op aarde ter wille van Hom. Hy is nie God ter wille van ons nie!
Ons is geskep om Hom te dien. Daarom moet ons in ons gebede in die eerste plek na sy wil vra. Die Here Jesus het sy dissipels geleer om te bid: Laat U wil geskied.
SLOT
Ek en jy moet verstaan dat die enigste, ware, Drie-Enige God ons verander om in sy diens te kan staan.
Hy het ons weer gebore laat word en ons gewas in die bloed van sy Seun. Hy plaas ons onder die heerskappy van die Heilige Gees sodat ons Hom kan dien.
Hierdie wêreld is nie ons woonplek nie. Daarom moet ons ons nie te veel vermoei en beywer om omstandighede hier te verander nie.
Ons taak as burgers van God se koninkryk is om die lig van die evangelie helder te laat skyn sodat mense die ware God kan leer ken en in sy koninkryk kan lewe.
AMEN.