Sosiale Skakels

Besoekers

We have 28 guests online

Teken In

Follow us on FacebookFollow us on Twitter


Tuesday, 04 October 2011 05:22

GOD SE BELOFTES OF MY VOORWAARDES? - GENESIS 28:15 en 20-22

Written by 
Rate this item
(0 votes)

GENESIS 28:15 en 20-22

                                      

GOD SE BELOFTES OF MY VOORWAARDES?

 

Geliefdes in ons Here Jesus Christus.

 

As daar nou een mens was wat sy slegte naam gestand gedoen het, was dit seker Jakob. Sy naam beteken mos bedrieër.  En hoe goed kon Jakob nie bedrieg nie! Hy het sy broer omgekoop en selfs sy eie pa bedrieg!

 

Daar is sekerlik geen fout met idealisme nie.  ʼn Mens moet  ideale hê en vir jouself doelwitte stel. Maar hoe ver moet jy gaan om jou ideale te bereik?  Jakob was bereid om te lieg en te bedrieg solank dit tot sy eie voordeel kon wees!

 

Iets wat Jakob nie mooi begryp het nie en dit is iets wat ons ook nie altyd goed verstaan nie, broeders en susters, is die Here se rol in ons elkeen se lewe.

 

Jakob se probleem was dat hy gedink het alles hang van homself af.

  Kom ons kyk na sy

 

 

1.  POGING TOT SELFVERLOSSING

 

Reeds in die derde vers van sy biografie lees ons hoe hy self probeer om op sy eie manier iets te bereik. Hy koop sy ouer broer om vir die  eersgeboortereg!  Nou weet ons mos Eersgeboortereg is nie iets wat jy kan koop nie. Jy kry dit op grond van jou geboorte.  Dit word maw deur die Here bepaal.

 

Maar Jakob wil dit anders hê. Hy maak sy eie plan. Na hierdie saketransaksie, so meen hy, het hy nou die eersgeboortereg.

 

'n Paar jaar later, toe Isak sy oudste seun Esau wil seën, gryp Jakob weer in. Met behulp van sy ma bedrieg hy sy ou blinde vader op die mees agter­bakse manier denkbaar. Sodoende steel hy letter­lik sy broer se seën. Hy het nou wat hy wou gehad het. Hy het die eersgeboortereg en hy het die eersgeborene se seën.  Of so het hy gedink......

 

Maar wat van die Here?  Jakob is tog  ʼn verbondskind.  Hy is uit gelowige ouers gebore.  Waar is die Here in sy lewe?   ʼn Mens hoor of sien niks daarvan dat hy aan die Here in sy lewe erkenning gee nie.

 

Hy wil sy lewe inrig soos hy dink dat dit goed is. Hy maak sy eie planne en werk dit met leuens en bedrog uit.  Waar is die Here?

 

Kyk waar is die Here!  Jakob is op sy eie missie. Hy vlug op hierdie stadium weg van sy broer en sy ouerhuis en in die proses ook weg van die Here af.  En dan in die nag, terwyl hy slaap, kom die Here na hom toe.  En luister na

 

2. DIE HERE SE PERSOONLIKE BELOFTE

 

Kom ons lees weer vers 15

 

En wat het die Here aan Jakob beloof?  Reeds voor sy geboorte het die Here 'n baie duidelike aan sy ma Rebekka gesê:

"Daar is twee nasies in jou, twee volke uit jou sal van mekaar geskei word. Een sal serker wees as die ander, die oudste sal die jongste dien.(Gen. 25:23)

 

Of Rebekka vir Jakob van hierdie belofte vertel het, weet ons nie. Dalk is dit die rede waarom hy al die sluwe planne gemaak het om te kry wat hy graag wou hê.

 

As Jakob nog nie van die belofte van die Here gehoor het nie, hoor Hy dit nou. En let op: Die Here sê aan hom in soveel woorde dat hy sal doen wat Hy aan hom beloof het!

 

Jakob hoor al hierdie dinge.... maar dit dring skynbaar nie werklik tot hom deur dat die Here al hierdie dinge in sy lewe sal gee nie! Jakob wil hierdie dinge op sy eie manier self verwerf. Hy maak sy eie planne. Hy werk met sy eie skemas.  Hy vertrou nie die Here nie.

 

Soos Jakob vergeet ons al te maklik van die Here se beloftes aan ons. By elkeen van ons se doop het die Here belowe dat Hy as ons Vader ons sal versorg. Dat Hy ons in en deur Jesus Christus sal verlos van die sonde en die dood en dat Hy deur sy Heilige Gees in ons wil woon en werk.

 

Maar dan in plaas daarvan om op die versorging van die Here te vertrou, werk ons ons eie begrotings uit en maak planne vir ons eie lewensonderhoud.  Ons vergeet dat die Here gesê het ons moet ons nie bekommer nie, want ons is meer werd as voëls of veldblomme.

 

Ons weet ons Verlosser leef en dat Hy alle mag in die hemel en op die aarde het, maar dan wanhoop ons so gou as dinge rondom ons op politieke of ekonomiese gebied begin skeefloop.  Dan maak ons weer ons eie planne. 

 

Ons weet dat ons deur die kragtige werking van die Heilige Gees tot ‘n nuwe lewe opgewek is, maar dan gaan soek ons nog steeds ons vreugde en plesier in die wêreld se aanloklikhede.

 

Ons hoor die Here se beloftes, maar GLO ons dit werklik?

 

Is ons nie maar in baie opsigte presies soos Jakob nie?

 

 

3 DIE HERE SE DIREKTE INGRYPE

 

Wanneer Jakob op pad is na sy oom Laban toe, gaan lê hy die aand om te slaap. En kyk net na sy totale weerloosheid. Hy wat so vol planne en skemas is, lê daar stok siel alleen in die oop veld net met sy klere aan sy lyf en met 'n klip as kopkussing.

 

En hier, broeders en susters, waar Jakob geheel en al weerloos is. Hier waar hy self niks kan doen nie. Ja, terwyl hy slaap! Kom die Here na hom toe. In 'n droom sien hy 'n leer wat van die aarde af tot aan die hemel raak. Die engele  klim teen die leer op en af.

 

Die Here wys aan Jakob die geopende hemel! Die Here wys aan Jakob die pad van verlossing. Hier­die leer wys inderwaarheid na Jesus Christus as Verlosser en Saligmaker. Hy is die weg na die hemel.

 

In Joh 1:51 sê Jesus self aan sy dissipels:

 

"Dit verseker Ek julle: Julle sal die hemel oop sien en julle sal die engele van God sien op- en afklim na die Seun van die mens toe."

 

Jakob het eeue voor Jesus se koms reeds van God self hierdie openbaring ontvang.  En dan kom staan die Here by Jakob en sê aan hom:

 

"Ek is die Here die God van jou voorvader Abra­ham, die God van Isak. Ek sal die grond waarop jy lê, vir jou en jou nageslag gee....... Ek is by jou en Ek sal jou beskerm waar jy ook al gaan...

Ek sal jou nie in die steek laat nie...."  Hoor u wat die Here alles vir Jakob sê?

 

Kyk nou na Jakob se reaksie:

 

Kom ons lees vers 16:

 

"Jakob het wakker geskrik en gesê: Hoe skrikwek­kend is hierdie plek! Dit is niks anders nie as die huis van God; dit is die poort van die hemel."

 

Jakob het hom lam geskrik. (Ons sou seker ook as ons in sy posisie was.) Die Here het met hom gepraat. Om so direk met die Here kontak te maak, vervul jou met ontsag en respek. Jakob voel klein voor die Here, maar, kyk mooi broeders en susters, hy sien nog steeds nie die Here se genade nie. Hy begryp nog steeds nie dat dit die Here is wat sy lewe beheer nie!

 

Kyk wat doen Jakob! Hy begin met die Here onder­handel! Hy stel aan die Here sekere voorwaardes!  Kom ons lees vers 20:

 

"Jakob het toe 'n gelofte afgelê en gesê: As U, o God, by my is, en my beskerm op my reis en vir my kos en klere gee, sodat ek behoue terugkom by my ouerhuis, sal U, Here, my God wees....."

 

Hy, Jakob, het sy planne reg. Die Here moet nou net kom en hom seën. Die Here moet hom tog nou net nie in die steek laat nie. En het u geluister na Jakob? Jy hoor net My en EK!  Dit gaan vir hom net om homself!  Ja, as die Here HOM seën op SY reis en aan HOM kos en klere gee, ja, dan mag die Here maar SY God wees!

 

En dan sal hy selfs so ver gaan om die Here te beloon! Hy sal van alles wat die Here aan hom gee, weer 'n tiende aan die Here gee.....

 

'n Mens kan amper nie dink dat Jakob so stiksie­nig kon wees nie, maar dit is hoe blind sonde 'n mens maak. Jakob het die beloftes van die Here gehad, hy het selfs die Here in 'n droom ontmoet. Dit het vir hom gevoel hy staan vlak voor die poort van die hemel, maar nog steeds begryp hy nie wat regtig aangaan nie. Hy dink nog steeds dat sy ideale en sy doelwitte net deur sy eie optrede verwesenlik sal word......

                  Die Here moet hom net help…

 

Geliefdes hoe ver staan ons van Jakob af. In jare baie ver ja, maar wat van lewensbenadering en lewenstyl?

 

Ons hoor ook die Here se beloftes aan ons. Die Bybel is vol van sy beloftes aan ons sy verbondskinders, maar wat maak ons met hierdie beloftes?  Eien ons dit vir onsself toe of probeer ons maar ons eie lewe bou?  Is ons nie ook so besig met ons eie ideale en ambisies dat ons nie regtig met die Here se wil en die Here se hand in ons lewe rekening hou nie?

 

Ons probeer selfs nog met die Here onderhandel. As Hy ons help om ons doelwitte te bereik sal ons vir Hom werk of vir Hom  ʼn tiende gee..

 

Die Here is daar. Maar dikwels moet Hy net eers so  ʼn bietjie wag, maar tog moet Hy net nie vergeet om ons te seën nie. En as ons eers genoeg geld het en, met sy hulp, ons eie lewe volgens ons behoeftes ingerig het, dan, daarna, sal  ons vir die uitbreiding van sy koninkryk begin werk en dan sommer ons agterstallige dankoffers by Hom  op datum bring......

 

SLOT

 

Geliefdes, sien ons nie in Jakob iets van onsself nie?  Die Here het al aan ons soveel beloftes gemaak. Hy het al in elkeen van ons se lewens meer direk ingegryp, maar steeds kyk ons by Hom verby.

 

Hy het in Christus die hemel vir ons oopgemaak, maar steeds probeer ons om self met ons min krag en beperkte insig  iets in die lewe te bereik. Ons hou die Here so half op ‘n afstand. Ons lewe nie met volle oorgawe in sy diens nie. Eintlik het ons nie regtig tyd om werklik in sy koninkryk diensbaar te wees nie.  As daar by die kerk iemand gesoek word om ‘n bejaarde kerk toe te vervoer, is dit vir my te ongemaklik. As ek geroep word om diaken te wees, het ek nie genoeg tyd nie, want ek is te besig met my werk. Ek kan nie saam met die susters in die gemeente werk nie, want my gesin en ander dinge hou my te vas.

 

Die Here moes met Jakob nog 'n pad loop om hom tot die regte insig te bring. Hy het nie vir Jakob verwerp nie. Al was Jakob 'n hardekop en 'n bedrieër en al wou hy selfs die Here gebruik om sy eie doelwitte te bereik, het die Here hom nie gelos nie. Hy is ʼn genadige God. Later in sy lewe, by die Jabbokrivier sou hy nog  ʼn groot worsteling met die Here ervaar.  Dit sou hom eers werklik verander.

          

Die Here los ons ook nie broeders en susters. Dit is sy genade ook aan ons. Al is ons hardkoppig en al dink  ons dat ons net aan onsself. Hy hou die beloftes wat Hy aan ons gemaak het. Toe ons gedoop is, het Hy ons verseker dat Hy ons God is. Hy sal die pad met ons elkeen loop, tot Hy ons het waar Hy ons wil hê.  Al gaan dit soms met baie worsteling gepaard.

                            

                                                                 AMEN.

Read 5742 times Last modified on Thursday, 08 March 2012 13:03
Danie de Kock

Website: www.facebook.com/profile.php?id=1438745475 Email This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it
Login to post comments

Soek