Sosiale Skakels

Besoekers

We have 17 guests online

Teken In

Follow us on FacebookFollow us on Twitter


Monday, 03 July 2017 10:36

Hand 17:24 & 25. HK SON 10. GOD SE VOORSIENIGHEID WAARBORG ONS SEKERHEID

Written by 
Rate this item
(0 votes)

SKRIFLESING:  HAND 17:16 -34

TEKS: HAND 17:24 & 25; HK SON 10

TEMA: GOD SE VOORSIENIGHEID WAARBORG ONS SEKERHEID

 

Elke Sondag bely ons saam met miljoene ander Christen-gelowiges:

“Ek glo in God die Vader, die Almagtige, die Skepper van hemel en aarde.”

Op grond van dit wat God in sy Woord aan ons openbaar, bely  ek en jy dat letterlik alles wat bestaan,  deur God geskep is.

Verder bely ons dat alles wat bestaan, nie net ten opsigte van hulle ontstaan van God afhanklik nie, maar is ook geheel en al van Hom afhanklik wat hulle voortbestaan betref.

Terwyl sommige ateïstiese geleerdes vas glo dat daar glad nie iets soos ‘n skepper kan wees nie, is hulle oortuig dat alles deur evolusie ontstaan het. Ander geleerdes gaan egter nie so ver nie. Hulle  aanvaar dat daar een of ander bonatuurlike intelligensie bestaan wel alles geskep het, maar dat die skepping daarna aan sy eie lot oorgelaat is om op sy eie te funksioneer.  Volgens die idee moes die skepsels verder onafhanklik van die Skepper ontwikkel en funksioneer.

Die probleem is:  Jy kan nie van ‘n onafhanklike skepsel praat nie.  Mens noem so iets ‘n contadictio in teminus, of te wel, ‘n inherente teenstrydigheid. 

Die feit van die saak is:  ‘n Skepper en ‘n skepping veronderstel voorsienigheid. 

1.       WAT IS GOD SE VOORSIENIGHEID?

Volgens ons belydenis (HK Son 10 vr. 27) is voorsienigheid

Die almagtige en alomteenwoordige krag van God waardeur Hy alles asof met  sy hand nog onderhou en so regeer dat lower en gras, reën en droogte, vrugbare en onvrugbare jare, voedsel en drank, gesondheid en siekte, rykdom en armoede en alles ons nie per toeval nie, maar uit sy Vaderhand toekom.

Die vertrekpunt van God se voorsienigheid is sy alomteenwoordigheid.   

God se alomteenwoordigheid bestaan uit twee fasette naamlik God se immanensie en sy transendensie.

·         God se immanensie het te doen met sy absolute teenwoordigheid in sy skepping.  Dit weerspreek die gedagte van Deïsme. Deïsme is die gedagte dat God alles geskep het en toe dit gelos het om verder te funksioneer. Byna soos iemand wat ‘n motor maak en dit dat  verkoop om verder te funksioneer.

·         God se transendensie het te doen met sy totale andersheid en  verhewenheid bo sy skepping.  Dit het te doen met die feit dat Hy in ‘n ander dimensie as sy skepping bestaan.  Dit weerspreek die gedagte van Panteïsme.  Panteïsme is die idee dat God in elke ding, soos ‘n boom of dier of klip teenwoordig is.

In Hand. 17:28 sê Paulus: ... deur Hom lewe ons, beweeg ons en bestaan ons.

Die feit van die saak is:  God is in sy almagtige en alomteenwoordige krag in sy skepping besig. Hy onderhou en regeer alles wat Hy geskep het. Sonder Hom kon niks bestaan nie en sonder Hom kan niks voortbestaan nie.

Hy is volledig in sy skepping teenwoordig en werksaam, maar Hy is terselfdertyd ook hoog bo sy skepping verhewe. Sy skepping kan Hom nooit volledig bevat of openbaar nie.

En dan is God natuurlik nog verder  op ‘n baie spesiale manier in ‘n persoonlike verhouding met sy uitverkorenes – hulle wie se name in die boek van die lewe opgeskryf is.   Hy is ons Vader in en deur Christus, maar meer daaroor ‘n bietjie later. 

Kom ons kyk nou eers na

2.       DIE REIKWYDTE VAN GOD SE VOORSIENIGHEID

Daar is letterlik niks in die hele skepping wat buite God se beheer en bestuur staan nie.  

Hy bewerk en beweeg letterlik alles en dan in die absolute sin van die woord. Die son, maan en sterre in hulle bane, die see en die droë land, die berge en valleie, reën en sonskyn, die brood wat ons eet en die water wat ons drink, die lug wat ons inasem asook die klank wat ons hoor en die lig in ons oë – al hierdie dinge se bestaan en voortbestaan is in God gesetel. Sonder Hom kan letterlik geen ding bestaan of voortbestaan nie.

Die spoed van lig en die kleur van ‘n roos die brul van ‘n leeu, die asemrowende sonsondergang in die bosveld asook die weerligstraal wat deur die wolkemassa sny, alles word deur God bestuur.  Die bloed wat in ons are vloei en feit dat ons kan dink, redeneer, onthou en besluite neem dit is alles te danke aan God se voorsienigheid. Die feit dat die aarde om sy eie as draai, dag en nag mekaar opvolg asook die winter met sy koue en somerhitte wat weer met groei en kosvoorsiening te doen het – dit alles werk volgens die strukture wat God daarstel.

Luister wat staan in  Ps. 104:27 – 30

Hulle is almal van U afhanklik, U gee hulle kos op hulle tyd. U gee, en hulle eet, U maak u hand oop, en hulle kry meer as genoeg.  Maar as U U terugtrek, is dit klaar met hulle, as U hulle asem wegneem, is hulle dood en word hulle weer stof. U gee die lewensasem en daar is lewe; ook uit die grond laat U nuwe lewe spruit.

Daar is geen, maar geen ding in die skepping wat onafhanklik van God is nie.

God bepaal in sy alwysheid wat sal gebeur asook wanneer en hoe dit gebeur.

Selfs die mens wat  ‘n etiese en morele wese is, besluite kan neem en doelbewuste aksies kan neem, is nie onafhanklik nie.

Ons ken almal die geskiedenis van Josef wat deur sy broers aan die Midianiete verkoop is en hoe hy nadat hy in Egipte in die tronk beland het op die ou end onderkoning geword het.   In Gen. 50:20 sê hy vir sy broers, wat toe bewend van vrees voor hom gestaan het:

Julle wou my kwaad aandoen, maar God wou daarmee goed doen:  Hy het gesorg dat ‘n groot volk nou in die lewe gebly het.

Op Pinksterdag na die uitstorting van die Heilige Gees sêPetrus vir die Jode in Jerusalem:

Israeliete, luister na hierdie woorde! God het Jesus van Nasaret aan julle bekend gestel deur die kragtige dade, die wonders en die tekens wat God Hom by julle laat doen het.  Daarvan weet julleself.  God het besluit en dit vooruit bepaal om Hom aan julle uit te lewer, en julle het Hom deur die heidene aan die kruis laat spyker en Hom doodgemaak. (Hand 2:22 & 23).

Kom ons lees ook Romeine 9:17

In die Skrif sê God immers vir die farao: Juis hiervoor het Ek jou teen My in opstand laat kom: dat Ek in jou my krag kan toon en dat my Naam oor die hele aarde verkondig kan word.

God se voorsienigheid het te doen met alles wat op aarde gebeur. Selfs besluite wat mense neem, word deur Hom bepaal.

 

3.       DIE DOEL VAN GOD SE VOORSIENIGHEID

Tot nou toe het ons gepraat oor hoe God in sy voorsienigheid sy hele skepping, van die verste sterrestelsels tot elke skepsel se beweging en aktiwiteit, en selfs goed en sleg wat gebeur, beheer en bestuur.

Maar nou kom ons belydenis met ‘n volgende baie belangrike vraag:

Wat baat dit ons dat ons weet dat God alles geskep het en dit nog deur sy voorsienigheid onderhou?

Hierdie is ‘n wesenlike vraag, want dit het te doen met die doel van ons bestaan.  Waar pas ek en jy in God se plan?  En wat presies is ons as Christen-gelowiges se taak en opdrag in hierdie tyd, plek en omstandighede waarin ons leef? 

Broeders en susters. God se bestuur en beheer oor sy skepping gaan nie net oor die beheer tot in detail van elke skepsel  nie.  Sy beheer en bestuur gaan ook oor die verloop van sy skepping se geskiedenis – van die begin tot end.

‘n Mens kan God se skepping vergelyk met ‘n groot skip op die see. Van die betrokke skip die hawe verlaat en duisende kilometers  op die oop see vaar tot waar dit weer by sy bestemming vasmeer is dit onder die kaptein se beheer.  Op die skip self is daar ‘n miernes van bedrywighede van die bemanning en die passasiers wat aangaan terwyl die skip ook op sy koers beweeg en ook dit alles word deur die kaptein bestuur en beheer.

So beheer en bestuur God sy die hele skepping volgens sy plan wat reeds voor die grondlegging van die wêreld vasgestel is. Die hele skepping met alles wat daarbinne is en alles wat daarbinne gebeur is op ‘n koers en beweeg na ‘n eindpunt wat God bepaal het.  Ons Almagtige God en hemelse Vader is die Kaptein aan boord van die skip van die heelal en Hy bepaal sy hele skepping se koers en bestemming.

Nou waaroor gaan dit alles?

                En wat is God se doel daarmee? 

En waar pas ek en jy in hierdie hele prentjie?

Sommige idealistiese teoloë wil hê dat alles se doel ‘n stelselmatige ontwikkeling moet wees na die uiteindelike realisering van die koninkryk van God op aarde. So asof alles uiteindelik tog goed en volmaak sal wees ....

Broeders en susters.  Die Skrif hou egter nie so ‘n idealistiese  toekoms voor nie. Inteendeel, as jy die Bybel bestudeer, sien jy dat die goddeloosheid op aarde stelselmatig gaan toeneem.  Die uiteinde van hierdie wêreld gaan God se vuur van oordeel wees.  Hierdie skepping staan onder God se vloek en oordeel.

In Rom. 1:18 staan:

God openbaar vanuit die hemel sy toorn oor al die goddeloosheid en ongeregtigheid van die mense wat die waarheid deur hulle ongeregtigheid probeer onderdruk.

En dan sê Paulus verder in verse 20 en 21:

Vir hierdie mense is daar dus geen verontskuldiging nie, omdat, al weet hulle van God, hulle Hom nie as God eer en dank nie.

Daarom gee God hulle aan die drange van hulle hart oor en aan sedelike onreinheid... (Vers 24)

Dit is hulle wat die waarheid van God verruil vir die leuen (vers 25).

Daarom gee God hulle oor aan skandelike drifte (vers 26)

 Alles loop nie uit op ‘n wonderlike nuwe lewe op hierdie aarde nie. Hierdie aarde gaan vernietig word, want hierdie aarde is vervloek.

God se koninkryk is die koninkryk van die hemel!

Tussen hierdie skepping en God se ewige hemelse koninkryk staan ons Here Jesus Christus – In sy menswording, sy kruisiging en sy opstanding.

En ons as kerk, as verbondsvolk van God, moet as navolgers van Christus ook in sy lyding, sterwe en opstanding deel. 

Alles gaan uiteindelik oor die openbaring van God in en deur Jesus Christus.

Kom ons lees Kolossense 1:15 – 20 saam:

Die Seun is die beeld van God, van God wat self nie gesien kan word nie. Die Seun is die Eerste, verhewe bo die hele skepping. God het deur Hom alles geskep wat in die hemel en op die aarde is: alles wat gesien kan word en alles wat nie gesien kan word nie, konings, heersers, maghebbers, gesagvoerders. Alles is deur Hom en vir Hom geskep.  Voor alles was Hy al daar, en deur Hom bly alles in stand.  Hy is die hoof van die liggaam, van die kerk. Hy is die oorsprong daarvan, Hy is die Eerste, die Een wat uit die dood opgestaan het, sodat Hy die eerste plek in die heelal inneem.  God het besluit om met sy volle wese in Hom te woon en om deur Hom alles met Homself te versoen. Deur die bloed van sy Seun aan die kruis het Hy die vrede herstel, deur Hom het Hy alles op die aarde en in die hemel met Homself versoen.

Omdat God in sy genade ons deel gemaak het van sy Seun in sy ewige koninkryk kan ons bely:

Dat ons in alle teëspoed geduldig en in voorspoed dankbaar kan wees. Verder dat ons ook vir die toekoms ‘n vaste vertroue in ons getroue God en Vader kan stel dat geen skepsel ons van sy liefde kan skei nie, aangesien alle skepsels so in sy hand is dat hulle sonder sy wil nie kan roer of beweeg nie. (Antw vr 28)

SLOT

Broeders en susters. My en jou doel op aarde is om die nuwe lewe in Christus bekend te stel.  Ons is dissipels, of te wel, navolgers van ons Here Jesus Christus.  Mense moet aan ons optrede kan sien en ervaar wat dit is om deel van God se ewige koninkryk te wees.

Ek en jy is nie gelowiges om God aan ons kant te kry sodat ons ‘n gelukkige lewe op aarde kan hê nie.

Ons is God se uitverkore volk wat verlos is om as burgers van sy koninkryk sy grootheid, almag, heerlikheid en liefde in Christus bekend te stel. Dit gaan alles net oor Hom en sy eer en sy heerlikheid.

Alles loop uit op die volledige openbaring van God in sy ewige hemelse koninkryk.

                                                                                           AMEN

Read 1882 times
Danie de Kock

Website: www.facebook.com/profile.php?id=1438745475 Email This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it
Login to post comments

Soek