Sosiale Skakels

Besoekers

We have 13 guests online

Teken In

Follow us on FacebookFollow us on Twitter


Monday, 10 October 2011 07:43

OORVLOEDIGE BLYDSKAP GEWAARBORG - PSALM 16

Written by 
Rate this item
(0 votes)

SKRIFLESING: PSALM 16

TEKS: PSALM 16:11           

TEMA: OORVLOEDIGE BLYDSKAP GEWAARBORG!

 

 

Oktober is depressiebewustheidsmaand. Skynbaar is dit die maand in die jaar wat depressie sy hoogtepunt bereik. Om een of ander rede is daar  ʼn radikale teenstelling  of kontras tussen “Oktober die mooiste, mooiste maand” en “Oktober die neerdrukkendste maand”.

                                                                             

Dit is juis nou in die mooiste, mooiste maand wat daardie mense wat neerslagtig of depressief is, besig is ommoed te verloor. 

 

Ons samelewing dra ook nie juis veel by om ons mense bly en opgewonde te maak nie, inteendeel al die misdaad en ekonomiese onsekerheid dra by tot  ʼn gees van neerslagtigheid en selfs negatiwiteit.

 

Hoe kan ons mekaar bemoedig? 

·         Is daar iets wat ons vir mekaar kan sê? 

·         Is daar vreugde wat ons met mekaar kan deel?

 

Of is die besef van al die negatiewe dinge net té neerdrukkend?  Die spreekwoord sê: Die gees is gewillig, maar die vlees is swak. Soms voel selfs  vir  ʼn mens asof die gees ook kragteloos is!

 

Wat kan ons aan hierdie moedelose toestand doen? Wat is die koers wat  ʼn mens moet kies om uit die doolhof van moedeloosheid en neerslagtigheid te ontsnap?

 

In sulke tye moet jy doelbewus op die waarheid fokus.Die waarheid staan immers sterker as ons eie persepsies van dinge. Die waarheid is groter as die skynbaar onoorkombare struikelblokke.

 

Dawid gaan ons met Psalm 16 voor op hierdie pad van die waarheid:

 

1. WEES EERLIK

 

Teenoor jouself, jou omgewing en – bo alles – teenoor God.  Ons soek dikwels die fout by ander mense met wie ons moet saamleef. 

·         Dit is my man of my vrou se skuld dat ons finansieel sit waar ons sit. 

·         Ek kry nie my werk behoorlik gedoen nie omdat my baas te veel van my verwag. 

·         Ek doen so swak in die vak op skool omdat die onderwyser my nie verstaan nie.

 

Ek en jy is klein mensies in God se reusagtige, onmeetbare skepping. Daar is soveel dinge waaraan ons niks kan doen nie. Daarom vra die Here Jesus: Waarom bekommer julle, julle oor kos en klere.  En hoe kan jy jou deur jou te bekommer iets by jou lengte byvoeg. Hy s Julle hemelse Vader sorg vir julle!

 

Om by die waarheid uit te kom, is dit belangrik om, soos Dawid te erken:  “ek soek skuiling by U”  (Ps. 16:1).  Ek en jy is geheel en al van God afhanklik.  Ons lewe is in sy hande. As ons dit verstaan, kom daar  ʼn vrede in ons gemoed.

Maar kom ons kyk wat ons nog kan doen:

 

 2. HERINNER JOUSELF AAN DIE ONVERBREEKBARE BAND MET GOD

Dawid bely dit in alle eerlikheid in vers 2 voor die Here: “Ek behoort aan U”.   Ja, nie een van ons is ons eie baas nie.  Nie een van ons durf sê: Ek sal doen wat ek wil, nie.  As jy net doen wat jy wil,  onderwerp jy jou nie meer aan die Here nie.  Dan verwerp jy sy genade en liefde.

Onthou  ons Here Jesus Christus het ons met sy bloed gekoop!  Hy het die duurste prys moontlik betaal!  Hy het sy lewe gegee om my en jou as sy eiendom te kry!

 

 Daarom sê Hy in Joh. 10:28 van diegene wat die Vader aan Hom toevertrou het:

Ek gee hulle die ewige lewe, en hulle sal in alle ewigheid nooit verlore gaan nie. Niemand sal hulle uit my hand ruk nie

 

Die apostel Paulus beklemtoon dieselfde waarheid as hy in Rom 8:37 - 39 sê: 

Maar in al hierdie dinge is ons meer as oorwinnaars deur hom wat ons liefhet.  Hiervan is ek oortuig : Geen dood of lewe of engele of magte of teenswoordige of toekomstige dinge of kragte of hoogte of diepte of enigiets anders in die skepping kan ons van die liefde van God skei nie, die liefde wat daar is in Christus Jesus ons Here.

 

Maar Dawid gee nog goeie raad om in die waarheid te lewe.  Hy sê

 

3. VERWERP DINGE  WAT JOU VERTROUE STEEL 

Kyk wat sê hy in vers 3:  “Die afgode in die land, so aantreklik vir baie - met hulle wil ek niks te doen hê nie.”  

 

Dawid het gesien dat dit wat die wêreld bied, in werklikheid niks beteken nie.  Die wêreld probeer  ʼn toekoms bou met die mens se tegnologiese vermoëns. Die mens probeer sekuriteit vind in die wêreldekonomie. 

 

Ons het soveel moderne afgode. Dinge wat tussen ons en die ware God kom staan. Dinge wat ons aandag van God aftrek.  Dit gebeur prakties op hierdie dag met die rugby wat mense so besig hou dat die Here eenkant toe geskuif word.  Die Here se dag word  ʼn dag van die mens en sy sport. Op die radio word erediens-uitsendings verskuif sodat die mens net sy sport-uitsending kan hoor.

Dikwels word my ontspanning bo my ontmoeting met die Here gestel. Veral in skoolvakansies sien jy hoe baie lidmate liewer saam met familie en vriende ontspan as wat hulle die Here in  ʼn erediens gaan ontmoet.

 

As jy die Here vir jou eie afgode verruil, gaan jy moedeloos en alleen raak. Jy dwaal weg in jou eensaamheid. Daarom is dit belangrik om by die waarheid te hou:  Besef die leegheid van alle wêreldse hulpmiddels. Dit is alles soos geknakte riete. Die oomblik as jy daarop leun, gee dit pad.

 

Daarom wys Dawid ons onder leiding van die heilige Gees op nog  ʼn belangrike punt:

 

4. KYK NA DIE MOOI WAT DIE HERE GEE

 

In vers 6 sê hy:  “ ’n Pragtige deel is vir my afgemeet, ja, wat ek ontvang het, is vir my mooi.”  

 

Ons materialistiese samelewing is  ʼn samelewing wat die mens se begeerte aanwakker en stimuleer.  Dit maak die gierigheid in die mens wakker.  Jy wil ook dit hê wat ander mense het.  As jy dit nie kan kry nie, raak jy ongelukkig en terneergedruk.  Dink maar aan Nabot se wingerd.  Die koning het die wingerd so begeer dat hy later vir Nabot doodgemaak het.  En koning Dawid met Batseba?  Ons ken mos die geskiedenis.

 

Jakobus sê in sy brief: Julle wil dinge hê, maar kry dit nie en wil dan moord pleeg, julle is jaloers op  ʼn ander man se goed en kan dit nie in die hande kry nie en dan maak julle rusie en baklei julle....

 

Paulus sê: Gierigheid is afgodery! 

Die waarheid is:  God gee vir jou en my alles wat ons nodig het om te lewe en hom te dien.  Daarom is dankbaarheid die gees en gesindheid wat ons moet openbaar: “ ’n Pragtige deel is vir my afgemeet, ja, wat ek ontvang het, is vir my mooi.”  

 

Ons het  ʼn hemelse erfenis. Ons het  ʼn ewige toekoms.  Ons is in Christus tot in alle ewigheid ryker as die rykste mense op aarde!

 

SLOT:

 

Die waarheid is dit wat Dawid in vers 11 bely:

 

“By U is daar oorvloedige blydskap. Uit u hand kom net wat mooi is.”

 

Ware blydskap is net in God self.  Daarom sê Paulus in Filippense: Wees altyd bly jou in die Here! Ek herhaal wees bly.  Ware sekuriteit is net in God: Daarom sê Dawid: Ek soek skuiling by U.   En die Here Jesus sê: Niemand sal hulle uit my hand ruk nie

 

Broeder en suster:  Gaan lewe uit God se hand.  Hy sorg vir u. Hy meet vir u  ʼn pragtige deel af. Kyk goed na dit wat Hy u gee, dan sal u juig en bly wees.

                                                             Amen

Read 5633 times Last modified on Thursday, 08 March 2012 13:02
Danie de Kock

Website: www.facebook.com/profile.php?id=1438745475 Email This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it
Login to post comments

Soek