SKRIFLESING: DEUT 8:1 – 20 EN MATT 4:1 – 11
TEKSVERSE: DEUT 8:2 EN MATT 4:1
TEMA: DIE WOESTYN HELP MY OM TE GROEI.
God se optrede is nogal dikwels vir ons totaal onverstaanbaar. Sy optrede is party keer heeltemal anders as wat ons sou verwag en soms lyk dit selfs of daar in sy optrede teenstrydighede is.
Kyk byvoorbeeld wat het gebeur toe Hy sy volk uit hulle ellende van slawerny in Egipte verlos het. Hy verlos hulle na Hy die tien plae oor die Egiptenare gebring het, maar net daarna lees ‘n mens die volgende:
Toe die farao die volk laat trek het, het God hulle nie die pad na die land van die Filistyne laat vat nie, hoewel dit die korste was .... God het die volk met ‘n ompad laat gaan, met die woestynpad ... (Eks13:17 &18)
Nog ‘n voorbeeld: Pas nadat die Here Jesus deur Johannes die Doper gedoop is, lees ons hoe God met ‘n stem uit die hemel aankondig:
Dit is my geliefde Seun. Oor Hom verheug Ek My (Matt 3:17)
Maar dan net in die volgende vers staan daar:
Toe is Jesus deur die Gees die woestyn in gelei om deur die duiwel versoek te word. (Matt 4:1)
Wat ‘n mens verstom laat is
1. GOD LEI DIE WAT HY LIEFHET DIE WILDERNIS IN
God lei sy verbondsvolk nie op die kortpad na hulle beloofde land toe nie. Hy lei hulle met ‘n ompad deur die woestyn...... En dan sy eie Seun...... Pas nadat Hy by Jesus se doop gesê het dat Hy Hom oor sy Seun verheug, lei God die Heilige Gees vir Jesus die woestyn, die wildernis in, en luister na die rede! ...... Om daar deur die duiwel versoek te word.
Dit was nie die volk Israel wat maar hulle eie koers ingeslaan het nie. Ook het die Here Jesus nie maar op sy eie die woestyn in gedwaal nie. Dit is God wat sy volk met ‘n ompad deur die woestyn laat trek en dit is die Heilige Gees wat die Here Jesus die woestyn in lei.
Nou is die logiese vraag:
Waarom? ........
Waarom lei God mense vir wie Hy lief is, sy verbondsvolk Israel en selfs sy eie geliefde Seun, die wildernis in?
En dan nog ‘n verder vraag:
Waarom juis na so ‘n onherbergsame plek? ‘n Woestyn waar gebrek aan kos en water jou uitmergel en die son ongenadig op jou neer brand?
Broeder en suster ek en jy het mos ook al soortgelyke situasies beleef. Jy kom op ‘n punt waar jy vra:
· Hoe op aarde het ek hier beland?
· Kyk net na my finansiële situasie. Ek het gedink dat ek verantwoordelike besluite neem en versigtig met my geld werk. Nou sit ek in ‘n doodloopstraat.
· Myhuwelik. Dit wat as ‘n wonderlike verhouding vol liefde begin het, het nou in ‘n slagveld ontaard.
· My gesondheid. Ek wat nog altyd probeer het om gesond te lewe, is nou met hierdie ellendige siekte gediagnoseer.
· My geloofslewe .... My verhouding met die Here wat op ‘n stadium so lewend en opwindend was, het nou in ‘n gewoonte en ‘n sleurgang ontaard.
· Dit voel regtig of ek in die wildernis verdwaal, of God my op ‘n lang ompad deur die woestyn lei.
Mens kan selfs insien dat daar mense is wat vra:
Hoe kan ‘n God van liefde sulke dinge doen?
Wat ek en jy moet verstaan, broeder en suster, is
2. GOD LEI JOU NA SY TOETSGROND
As God jou op ‘n lang en moeilike pad laat loop, is dit omdat Hy jou toets. Ons het in Deut. 8:2 gelees wat Moses vir die volk sê:
Jy moet onthou hoe die Here jou God jou nou veertig jaar lank in die woestyn gelei het. Hy het dit gedoen om jou nederig te laat word en om jou op die proef te stel sodat Hy kan weet wat jy dink en of jy sy gebooie sal gehoorsaam of nie.
Die Here is op ‘n baie persoonlike en intieme manier met sy volk besig. Sy volk is immers sy kinders! Daarom sê Hy:
Jy moet diep in jou hart weet: soos ‘n man dissipline by sy seun kweek, so het die Here jou God vir jou dissipline geleer (Deut. 8:5)
Vir 40 jaar lank was die Here besig om sy volk te leer hoe om die pad saam met Hom te loop. Daar in die woestyn waar geen ander mense was nie en ook nie water of kos was nie, moes die volk leer dat hulle volledig van Hom afhanklik is. Hy het vir hulle manna en kwartels en water uit die rots gegee. Met die wolkkolom bedags en die vuurkolom snags het die Here vir hulle koers aangedui en rigting gegee.
In vers 17 sê die Here vir sy volk:
Jy kan dalk dink: my krag en my sterk hande het vir my hierdie rykdom verwerf. Maar jy moet die Here jou God nie vergeet nie, want dit is Hy wat jou die krag gee om die rykdom te verwerf....
En ons ken mos die geskiedenis. Na al die jare in die woestyn, kom die volk toe mos op die drumpel van hulle beloofde land. Al het hulle vir dekades lank gesien en ervaar hoe die Here vir hulle sorg en hoe hulle Hom volledig kan vertrou, is hulle bang om hulle beloofde land in besit te neem. Hulle is bang vir die Kanaänitiese volke wat vir hulle soos reuse lyk..... Al sien en ervaar hulle God se teenwoordigheid, is hulle nou bang vir mense. En dan laat God hulle omdraai, terug die woestyn in .... ‘n Hele geslag wat nie die Here vertrou het nie, moet eers uitsterf!
En dit bring ons nou by ons Here Jesus. Nou kan ons verstaan waarom dit so nodig was dat Hy na hierdie aarde toe moes kom.....
Hy moes die wildernis in. Hy moes die woestynpad kom loop, om ons uit die woestyn van ons selftevredenheid, hoogmoed, eie geregtigheid, liefdeloosheid en ongehoorsaamheid te kom red.
Pas nadat die Here Jesus deur Johannes die Doper in die Jordaan gedoop is, hoor ‘n mens hoe God se stem uit die hemel sê:
Dit is my geliefde Seun. Oor Hom verheug Ek My. (Matt 3:17)
En dan direk daarna lees ons:
Toe is Jesus deur die Gees die woestyn in gelei om deur die duiwel versoek te word.
Dit kan ook vertaal word: .... om deur die duiwel getoets te word.
Die volk Israel het na al die jare in die woestyn nie die toets geslaag nie. Die volk het selfs nadat hulle later die beloofde land ingetrek het, telkens die spoor byster geraak. Hulle het die Here vergeet en afgode gedien. In hulle selftevredenheid het hulle nie meer op die Here vertrou nie. Hulle het op hulle eie insigte staatgemaak ......
Die feit van die saak, broeder en suster, is dat geen mens uit eie krag die Here kan dien nie. Van nature is die mens, soos Adam en Eva en ook die Israeliete in die woestyn, tog maar geneig om ongehoorsaam, ontrou, liefdeloos en selfgesentreerd te wees. Die mens glo die duiwel se leuens en verloor in die proses alle vertroue op die God.
Daarom moes die Here Jesus na hierdie aarde kom mens word. Hy moes die woestyn in ..... Om deur die duiwel getoets te word!
En dan daar in die woestyn ..... 40 dae sonder kos ..... kom die duiwel en probeer, byna net soos hy vir Adam en Eva met kos gevang het, om ook vir Jesus verlei om aan God ongehoorsaam te wees. Jesus kon natuurlik as Seun van God die klippe in brode verander, maar dan sou Hy nie meer sy hemelse Vader vertrou om vir na sy fisiese, sy liggaamlike behoeftes om te sien nie. Daarom sê Jesus:
Daar staan geskrywe:
‘n Mens leef nie net van brood nie, maar van elke woord wat uit die mond van God kom.
En wat die tweede versoeking betref. Daar op die tempel se dak kon die Here Jesus spring en toegee aan die duiwel se verleiding om God uit te daag. Hierdie is ’n geestelike verleiding. God word op die proef gestel. ...... Hy moet nou kom wys Wie Hy is!
Daarom antwoord die Here Jesus:
Daar staan ook geskrywe:
Jy mag die Here jou God nie op die proef stel nie.
En dan die derde versoeking. Die duiwel beloof al die wêreldse rykdom as Jesus voor hom buig. Hy kom met ‘n leuen. Hy maak asof hy mag en gesag oor die wêreld se rykdom het. Jesus weerstaan ook hierdie versoeking. Nou jaag Hy die satan weg met die woorde:
Die Here jou God moet jy aanbid en Hom alleen dien.
Hoe reageer ek en jy wanneer die pad moeilik word of wanneer die duiwel met sy versoekings kom? Wat doen ons as ons in die wildernis beland en sien dat God met ons op ‘n woestynpad is?
Ons moet verstaan:
3. GOD SE TOETSE MAAK ONS STERK IN SY KONINKRYK
Dit was van die begin af God se doel met die woestynpad. In Deut. 8:3 sê Moses vir die volk:
Hy het dit gedoen om jou te leer dat ‘n mens nie net van brood leef nie, maar dat hy leef van elke woord wat uit die mond van God kom.
En dit is opmerklik: Volgens Matt 4:4 is die Here Jesus se antwoord aan die duiwel juis hierdie presiese woorde van Deut. 8.
God leer ons om Hom te vertrou! Hy leer ons om na sy Woord te luister!
Uit eie krag kon Israel dit nie regkry nie en uit eie krag kan ek en jy dit ook nooit regkry nie. Ons as mense val vir die duiwel se versoekings.
Op liggaamlike, geestelike en materiële vlak val ons vir die leuens van die satan. Ons dink ons voorsien in ons eie liggaamlike behoeftes. As ons met die Here besig is, wankel ons geloofsvertroue as ons nie die bonatuurlike, die uitsonderlike en die wonderwerke sien nie. En verder dink ons die wêreld se rykdom en aardse koninkryke bepaal ons toekoms ....... maar dis alles leuens van die duiwel om ons van ons vertroue op God te beroof!
Juis daarom het God sy Seun aan ons gegee.
Hy is ons Hoëpriester wat vir ons by God intree. In Heb. 4:15 staan:
Die Hoëpriester wat ons het, is nie Een wat geen medelye met ons swakhede kan hê nie; Hy was immers in elke opsig net soos ons aan versoeking onderwerp, maar Hy het nie gesondig nie.
Daarom kan ek en jy, broeder en suster, maar gerus mooi luister na die goeie raad wat die Hebreërskrywer gee:
(Hou) die oog gevestig op Jesus, die Begin en Voleinder van die geloof. Ter wille van die vreugde wat daar vir Hom in die vooruitsig was, het Hy die kruis verduur sonder om vir die skande daarvan terug te deins, en Hy sit nou aan die regterhand van die troon van God. (Heb12:2)
Weereens moet ek en jy bely dat ons dit nie uit eie krag kan regkry nie. God moet ons deur sy Gees help om dit te doen. Dit is slegs onder die kragtige en lewewekkende werking van die Heilige Gees wat ek en jy navolgers van die Here Jesus kan wees.
As ek en jy so onder leiding van die Heilige Gees die pad saam met die Here Jesus loop, kan ons ook die versoekings van die duiwel weerstaan. Ons kan saam met Hom as kinders van God lewe.
En het jy gesien wat uiteindelik gebeur?
Toe die Here Jesus die duiwel wegjaag met die woorde:
Die Here jou God moet jy aanbid en Hom alleen dien,
Het daar engele gekom en Hom versorg......
SLOT
Kom ons vat saam. God lei ons soms die wildernis in, op ‘n lang, moeilike en onherbergsame woestynpad. Ons beleef dit as ‘n baie moeilike pad wat ons by geleentheid selfs aan die Here se liefde vir ons laat twyfel. Hierdie woestyntog is egter die Here se toetsgrond. Hy leer ons dat ons nie op onsself en ons eie kragte kan staatmaak nie. Ons enigste hoop lê in die verlossingswerk van ons Here Jesus Christus. Daarom kan ek en jy net met ‘n ware toekomsverwagting lewe as ons onder leiding van die Heilige Gees volhard as navolgers van ons Here Jesus Christus.
AMEN.