Sosiale Skakels

Besoekers

We have 21 guests online

Teken In

Follow us on FacebookFollow us on Twitter


Sunday, 17 September 2017 14:15

HK Son 13 Joh 20:25,28 & 29 GLO IS SIEN!

Written by 
Rate this item
(0 votes)

 

SKRIFLESING: JOH.  20:19 - 31

TEKS:  JOH 20:25, 28 & 29;  HEID. KAT. SON 13;

 

GLO IS SIEN!

 

Die bekende spreekwoord,“sien is glo”, het na alle waarskynlikheid sy ontstaan uit hierdie stuk geskiedenis van Thomas wat nie wou glo dat Jesus uit die dood opgestaan het nie - Nie voordat hy persoonlik vir Jesus gesien het nie.

 

Ons het natuurlik ook nog ‘n ander spreekwoord, die van “ ‘n ongelowige Tomas”. Dit het beslis sy ontstaan by hierdie gedeelte wat van Tomas se .optrede vertel.

 

Thomas wou eers sien......     Hy het gesê: 

 

As ek nie sien nie...    sal ek nooit glo nie.

 

Alles gaan oor geloof.      

 

Sondag 11 begin met ons belydenis oor die Here Jesus se name. Wat presies beteken sy verskillende name vir ons geloof.  In Sondag 11 het ons bely: Die Naam Jesus beteken Verlosser. In Sondag 12 het ons bely ons  Christus beteken Gesalfde.

 

Vandag kyk ons na ons belydenis in Sondag 13.  Dit handel oor die feit dat Jesus die Seun van God,  en ook ons Here, genoem word.

 

Ons gaan die volgende drie punte behandel:

 

·         Jesus is Seun van God

·         Ons is saam met Hom kinders van God

·         Hy is ons Here

 

Johannes se doel met sy evangelie is om die Here Jesus Christus bekend stel as die Seun van God.      Kyk wat sê hy in vers 31:

 

..... hierdie wondertekens is beskrywe sodat julle kan glo dat Jesus die Christus is, die Seun van God, en sodat julle deur te glo, in sy Naam die lewe kan hê.

 

  1. JESUS IS DIE EWIGE WARE SEUN VAN GOD

 

In die Ou Testamentiese tyd is die koning soms die seun van God genoem.  So lees ons in Psalm 2:

 

Ek wil vertel wat die Here aangekondig het. Hy het vir my gesê:  Jy is my seun, van vandag af is ek jou Vader. (Ps. 2:7)

 

In Psalm 89 vind ‘n mens soortgelyke woorde wat oor ‘n koning gaan:

 

In vers 19 praat die volk: Ons koning behoort aan die Here.

In vers 27 praat die Here:  Hy sal My aanroep met die woorde: U is my Vader.

 

Soos reeds gesê was die apostel Johannes se doel met sy brief om mense te verduidelik dat Jesus die ware en ewige Seun van God is. Hy  begin sy brief met die Woorde:

 

“In die begin was die Woord daar, en die Woord was by God en die Woord was self God

 

En dan sê hy in Hfst. 1:14

 

Die Woord het mens geword en onder ons kom woon. Ons het sy heerlikheid gesien, die heerlikheid wat Hy as die enigste Seun van die Vader het...”

 

Johannes gebruik deur sy evangelie  sewe  “Ek is.....” uitsprake van Jesus en daarmee saam ook wondertekens wat juis by hierdie “Ek is”- uitsprake aansluit om te wys dat Jesus werklik die ewige Seun van God is.

 

Terloops, die “Ek is” wys dat Jesus ware God is omdat God Homself by die brandende doringbos aan Moses as “Ek is” geopenbaar het. Toe Moses vra wie moet hy vir die Israeliete sê het hom gestuur om hulle uit Egipte te verlos, het God gesê: Gaan sê vir die Israeliete “Ek is” het jou gestuur.

 

Kyk na die 7 (volheidsgetal) Ek is-uitsprake:

 

1. Joh. 6:35 — "Ek is die brood vir die lewe."  (Gee kos vir 5000 mense)

2. Joh. 8:12 — "Ek is die lig vir die wêreld."  (Laat ‘n blinde sien)

3. Joh. 10:7 — "Ek is die deur vir die skape."

4. Joh. 10:11 — "Ek is die goeie herder."

5. Joh. 11:25 — "Ek is die opstanding en die lewe." (Wek Lasarus op).

6. Joh. 14:6 — "Ek is die weg, die waarheid en die lewe."

7. Joh. 15:1 — "Ek is die ware wingerdstok."

 

Met hierdie “Ek-is”-uitsprake sê Jesus bo alle twyfel dat Hy waaragtig God-in-die-menslike liggaam was en is.

 

Ook weer hier met Tomas, wil Johannes aantoon dat Jesus werklik die Seun van God  is wat aan die kruis moes sterf en wat die dood oorwin het.

 

Opvallend is dat Jesus geweet het wat Thomas se voorwaardes was

 

”As ek nie merke van die spykers in sy hande sien en my vinger in die merke van die spykers steek en my hand in sy sy steek nie, sal ek nooit glo nie”

 

Wanneer Jesus dan 8 dae later weer aan sy dissipels verskyn, sê hy dadelik vir Thomas:

 

“Bring jou vinger hier en kyk na my hande en bring jou hand en steek dit in my sy...”


 

Jesus het, al was hy nie in sy menslike gestalte daar toe Thomas so ongelowig gereageer het nie, tog in sy alwetendheid geweet wat Tomas dink en wat hy sê. Toe Jesus dus die volgende keer verskyn, het  Hy dadelik op Tomas gefokus en sy twyfel aangespreek.  Tomas het nou gesien en daarom roep hy uit:

 

“My Here en my God”.

 

Hy kom tot ‘n openlike belydenis oor Jesus se Godheid.

 

Nou glo Tomas werklik dat dit die Here Jesus is wat aan die kruis gesterf het en die dood oorwin het. Hy weet nou Jesus is die ware en ewige Seun van God!

 

Maar dan gaan die Here Jesus verder:

 

Toe sê Jesus vir hom:  Glo jy omdat jy My sien?  Gelukkig is dié wat nie gesien het nie en tog glo....

 

Ons glo, broeders en susters, en daarom:

 

2. ONS IS SAAM MET JESUS KINDERS VAN GOD

 

In Hebreërs 11:1 staan daar ‘n definisie van geloof:

 

“Om te glo, is om seker te wees van die dinge wat ons hoop, om oortuig te wees van die dinge wat ons nie sien nie”

 

Ja, as gelowiges sê ons nie soos die ongelowige Tomas: “Sien is glo nie” Nee, ons sê “Glo is sien

 

As ek en jy deur die kragtige werking van die Heilige Gees glo dat Jesus die ewige Seun van God is, dan is ons saam met Hom kinders van God. Hy is die enigste ware en ewige Seun van God. Ons is net aangenome kinders.

 


 

In Johannes 6:39 sê die Here Jesus:

 

En dit is die wil van Hom wat My gestuur het: dat Ek van almal wat Hy My gegee het, nie een verlore sal laat gaan nie, maar hulle almal op die laaste dag uit die dood sal laat opstaan.

 

Ons bely verder dat hier Jesus wat die ware en ewige Seun van God is

 

3.      HY IS ONS HERE

 

Die naam Here beteken EIENAAR of BESITTER.

 

As ek en jy vir Jesus Here noem, beteken dit dat Hy ons besit. Ons is sy besittings, want Hy het ons gekoop!

 

Ons belydenis sê in antwoord 34:

 

Hy het ons met liggaam en siel van die sondes en uit alle heerskappy van die duiwel , nie met goud of silwer nie, maar ......

 

MY MET SY KOSBARE BLOED TOT SY EIENDOM VERLOS EN VRYGEKOOP...

 Ons behoort aan Hom. Daarom lewe ons nie vir onsself nie. Ons lewe vir Hom wat ons vrygekoop het en ons kinders van God gemaak het!

 

Ja, broeder en suster.  Jesus Christus het bepaalde mense, wat die Vader aan Hom gegee het, met sy bloed gekoop.  Daarom behoort ek en jy aan Hom.  Hy het met die dag met ons doop alreeds gesê: 

 

Ek het jou op jou Naam geroep, jy is Myne(Jes. 43)

 

Om nou reeds saam met die Here Jesus kinders van God te wees, plaas ons in ‘n ander kategorie. Ons lewe nie meer nie. Christus lewe in ons en ons lewe in Hom. Ons is saam met Hom oorwinnaars oor die sonde en die dood. 

 

Omdat ek en jy die Gees van God ontvang het, kan ons nou as oorwinnaars lewe. Onder leiding van die Gees kan ons oor die sonde en die satan heers.  Ons kan rein lewe en in liefde lewe, want ons is in Christus meer as oorwinnaars!

 

Ons weet ook dat God in en deur Jesus Christus vir ons alles ten goede laat meewerk. Ons lewe is nie ‘n doellose en rigtinglose hoop-vir-die-beste-poging nie. Nee, ons lewe in Christus. En ons lewe is sinvolle dienswerk in God se ewige koninkryk.

 

SLOT:

 

Die ongelowige Tomas het gesê: Sien is glo.

Ons sê: Glo is sien!

 

Onder leiding van die Heilige Gees sien ons die onsienlike. Ons sien Jesus Christus is die Seun van God. Hy is ons Verlosser en Saligmaker. Ja, Hy het ons met sy Kosbare bloed gekoop en daarom is ons vir ewig sy eiendom.  Ons is vir ewig saam met Hom kinders van God!

 

                                                                               AMEN

 

Read 1624 times
Danie de Kock

Website: www.facebook.com/profile.php?id=1438745475 Email This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it
Login to post comments

Soek