SKRIFLESING: KOLOSSENSE 2:1 – 5 en 16 – 19
TEKS: KOLOSSENSE 2:18 & 19
TEMA: WAARSKUWING TEEN MISTISISME
Die meeste van ons het mos al met mense te doen gekry wat jou op ʼn manier laat voel of jou geloof nie op standaard is nie. Gewoonlik vertel hulle jou van ʼn besonder droom wat hulle gehad het en hoe die Here toe iets buitengewoon aan hulle openbaar het. Hulle vertel jou van buitengewone ervarings wat hulle gehad het nadat hulle tot bekering gekom het en hulle groot laat doop het. As jy so luister, na alles wat hulle ervaar, voel jy dat jou geloof nie op standaard is nie. Jy voel dat daar iets in jou lewe kort!
Wat moet ons reaksie op hierdie soort benadering wees?
Broeders en susters. As iemand sy verhouding met die Here op so ʼn misterieuse of bonatuurlike en geheimsinnige manier bedryf, word dit mistisisme genoem.
U ken mos die woord misterieus. Dit het iets te doen met geheimsinnigheid en raaiselagtigheid. Met iets soos onbegryplikheid. As iets vir ons menslike verstand onverklaarbaar is, beskryf ons dit as misterieus.
Mistici soek in hulle geloof dié soort dinge wat gewoonlik as misterieus en bonatuurlik daarom as onverklaarbaar beskryf word. Hulle maak daarop aanspraak dat hulle, anders as ons gewone gelowiges, buitengewone gawes besit. Hulle probeer jou beïndruk met spesiale profetiese openbarings wat hulle in drome of visioene ontvang het. Sommige sê dat hulle met die Heilige Gees gedoop is en daarom so spesiaal is.
Hierdie mistieke manier van doen, is egter glad nie iets nuut nie!
In die eerste twee hoofstukke van sy brief aan die Kolossense het die apostel Paulus destyds al die gelowiges teen die misleiding van die mistici gewaarsku.
In Hfst. 2:2 sê Paulus wat sy doel is met die brief wat hy skryf: Dat die gelowiges: God se geheimenis kan ken. Die Griekse woord wat hier gebruik word is misterion. Paulus praat hier van God se misterie of te wel sy geheimenis. En dan sê hy verder: Die geheimenis is Christus. En luister dan: ... in Hom is al die verborge skatte van wysheid en kennis te vind. Paulus stel dat God se geheimenis teenoor die menslike geheimenis van die mistici.
Dit gaan vir Paulus om Christus en Christus alleen!
Maar kom ons begin by ʼn punt.
Paulus sê in ons teksvers: Moenie dat iemand ..... julle ... mislei nie.
Hierdie woord mislei is al op verskeie maniere vertaal:
· Moenie dat iemand julle verlei nie.
· Moenie dat iemand julle verkul nie.
Die beste vertaling is egter: Moenie dat iemand julle diskwalifiseernie.
Dan beteken: Moenie toelaat dat iemand soos ʼn skeidsregter optree en julle dan diskwalifiseer nie.
Paulus noem die mistici mense wat soos skeidsregters optree en jou diskwalifiseer
Hoe doen hulle dit? Hulle maak asof hulle ʼn beter of meer intieme verhouding, as die gewone lidmate van die gemeente, met die Here het.
Kom ons kyk wat sê Hy oor die mistici. Hy gee drie feite:
1. Mistisisme word gemotiveer deur misplaaste nederigheid
2. Mistisisme word gebou op buite Bybelse gesag
3. Mistisisme openbaar ʼn onverskilligheid oor Christus.
1. MISTISISME WORD GEMOTIVEER DEUR MISPLAASTE NEDERIGHEID
In vers 18 praat Paulus van: iemand wat behae skep in danige nederigheid. ʼn Mens sou dit ook kon vertaal met: iemand wat behae skep in selfopgelegde nederigheid.
Hierdie mistici is mense wat voorgee dat hulle in ʼn besonder nederige verhouding met die Here staan. Maar die probleem is dat hulle op hulle nederigheid roem, en daarom is dit nie ware nederigheid nie!
Verder, sê Paulus, is hulle ook besig om engele te aanbid. Hulle is so nederig dat hulle nie direk met God praat nie, hulle werk deur die engele. Die engele kom skynbaar na hulle om vir hulle boodskappe van God te gee en hulle praat weer met die engele as hulle vir God iets wil sê. Daar was in Kolosse selfs ʼn standbeeld van die aartsengel Migael.
Hierdie mense roem dan op die sogenaamde spesiale kennis en buitengewone verhouding wat hulle met die Here het, maar Paulus sê: Hierdie soort kennis ontstaan bloot uit ʼn subjektiewe gevoel. Kyk wat staan in die laaste deel van vers 18: So iemand verhef hom oor wat hy in eiewaan van homself dink.
Sulke mense begin dink dat net hulle eersteklas Christene is en dat ander mense nog nie daar is waar hulle in hulle verhouding met die Here staan nie. Dit maak dan dat hulle oor ander gelowiges begin oordeel.
Die verdere probleem met die mistisisme is:
2. MISTISISME WORD GEBOU OP BUITE BYBELSE GESAG
Paulus sê hierdie mense gee voor dat hulle allerhande visioene sien.
Hulle sê byvoorbeeld:
· Ek het so en so ʼn visioen gesien
· Ek wéét ek het die visioen gesien
· Ek weet dat ek in die droom wat ek gehad het, God se stem gehoor het.
· Ek weet in my gees dat God my gestuur het om dit of dat vir jou te kom sê.
As jy dan vir die mistikus vra: Maar hoe weet jy dat die droom van God af kom? OF Hoe weet jy God het met jou gepraat? Dan antwoord hy of sy: Ek weet dit net!
Hulle vertrou op die spesiale kennis wat hulle het, maar uiteindelik is dit alles subjektief! Net hulle eie gevoel!
En in die proses is hulle besig om jou te intimideer. Jy luister na hulle stories en vra jouself af: Hoekom het ek nie so ʼn spesiale verhouding met die Here nie? Hoekom openbaar die Here Hom nie in ʼn droom aan my nie? Hulle laat jou voel of jy iets mis en dat jou verhouding met die Here nie op standaard is nie. Onthou wat Paulus sê: Moenie toelaat dat hulle soos skeidsregters optree en jou diskwalifiseer nie!
Die derde probleem wat Paulus in ons teksgedeelte uitlig is:
3. MISTISISME OPENBAAR ʼn ONVERSKILLIGHEID OOR CHRISTUS
Paulus sê hierdie mense hou nie aan die hoof, aan Christus vas nie. Omdat hulle so op hulle eie gevoel en ook op allerhande geheimsinnige ervarings fokus, verloor hulle die Here Jesus Christus uit die oog.
Paulus sê BLY BY CHRISTUS
· Uit Hom, CHRISTUS, as die Hoof, groei die hele liggaam. In Joh. 15 sê die Here Jesus: Ek is die ware wingerdstok en julle die lote. Hy sê : Sonder My kan julle niks doen nie.
· Net Hy voed die kerk met sy Woord en Gees. In Ef. 4:16 staan: Die verskillende liggaamsdele pas bymekaar en vorm saam ʼn eenheid. Elkeen van hulle vervul sy funksie en so bou die liggaam homself op in liefde.
· As liggaam van Christus word ons, sê Paulus in ons teksvers: ondersteun deur die gewrigte en saamgebind deur die spiere.
· En God laat die liggaam, die gemeente, groei. God self bou sy kerk, nie ʼn mens nie. Die nuwe Jerusalem is besig om vanuit die hemel neer te daal.
Mistisisme is ʼn dubbele tragedie. Indiwidueel sowel as gemeenskaplik. Dit verhef die mens met sy persoonlike ervaring en gevoel bo Christus wat die Alfa en die Omega is. Dit verskeur mense in hulle verhouding met hulle familie asook hulle gemeenskaplike geloof in die gemeente wat liggaam van Christus is.
SLOT
Broeders en susters moenie toelaat dat hierdie mistici jou intimideer nie. Moenie toelaat dat hulle met hulle sogenaamde meerdere kennis wat op subjektiewe ervarings en persoonlike gevoel gebaseer is, jou diskwalifiseer nie!
Mistisisme is ʼn dwaling wat ʼn mens wegsleep van die objektiewe inhoud van die heilige Skrif. Dit verhef gevoel en ervaring bo helder objektiewe denke oor Jesus Christus wat in en deur die Heilige Gees gevorm word.
Ons het die Here Jesus Christus. Hy is genoeg. As jy met ʼn ware geloof aan Hom persoonlik vasgryp, het jy alles wat nodig is. Hy alleen is die weg, die waarheid en die lewe.
Ons het, benewens Hom, niks meer nodig nie!
AMEN.