Sosiale Skakels

Besoekers

We have 22 guests online

Teken In

Follow us on FacebookFollow us on Twitter


Monday, 27 November 2017 13:23

Matt 28:18 - 20 MISSIO DEI - GOD MAAK MET ONS 'N NUWE BEGIN

Written by 
Rate this item
(0 votes)

SKRIFLESING:  MATT 28:16 – 20

TEKS: MATT 28:18 – 20

 MISSIO DEI -  GOD MAAK MET ONS 'N NUWE BEGIN

 

Toe die Here Jesus uit die dood opgestaan het, het  daar ‘n heel nuwe bedeling aangebreek.  Die apostel Paulus sê:

Iemand wat aan Christus behoort, is ‘n nuwe mens. Die oue is verby, die nuwe het gekom. (2 Kor. 5:17)

Omdat ons nuut gemaak is, kan ek en jy nie anders as om ook op ‘n vars, nuwe manier op te tree nie.  Die Here Jesus het mos gesê:

Kyk Ek maak alles nuut!

Ons gaan vanoggend kyk na die Missio Dei = God stuur ons!

Ons gaan drie punte behandel

·         Ons het ‘n nuwe identiteit.

·         Ons het ‘n nuwe krag.

·         Ons het ‘n nuwe opdrag.

 

 

1.       ONS HET ‘N NUWE IDENTITEIT

Voor ons by ons nuwe identiteit kom, moet ons dalk net eers na ons ou identiteit kyk. Hoe lyk ons ou identiteit? Dit word ook ons ou mens genoem.

Dit is uiteraard ‘n toestand waar die mens in die sonde verstrengel en vasgevang is.  Jakobus skryf in sy brief:

‘n mensword verlei deur sy eie begeertes wat hom aanlok en saamsleep.

Hy sê dan verder:

Daarna, as die begeertes bevrug geraak het, bring dit die sonde voort; en as die sonde ryp geword het, loop dit uit op die dood                                          (Jak 1:14 en 15)   

Die ou identiteit word deur ‘n sondige en tipies selfgesentreerde leefwyse aangedryf.

Nou gebeur dit mos soms dat hierdie sondige mens met die ou identiteit, en gewoonlik met die beste voornemens, hom- of haarself probeer verbeter, ..... Op ‘n manier kry die persoon dit reg, .......... maar dit hou nie....   Kort voor lank bevind die ou mens homself maar weer in presies dieselfde ou doodloopstraat van sy sondige begeertes.  Onthou, dit is onmoontlik vir die sondaar om self te verander.  Niemand kan self uit hierdie sondedood loskom nie, want alle mense is as gevolg van die sondeval van nature geestelik dood.  

Maar ons wat in die Here Jesus glo, het ‘n nuwe identiteit.  God die Heilige Gees het ons uit louer genade met ‘n ware geloof aan Jesus Christus verbind.   Hy het ons wat dood was in ons sonde saam met Christus in ‘n nuwe lewe opgewek.  In sy brief aan die Kolossense hoofstuk 2:12 skryf Paulus:

Deur julle verbondenheid met Hom (Christus) is julle ook saam met Hom opgewek, omdat julle geglo het in die krag van God wat Hom uit die dood opgewek het.

Ek en jy beleef hierdie genadewerk van God.   Ons is deur die wedergeboorte  saam met Christus in ‘n nuwe lewe opgewek. As burgers van sy koninkryk ontvang ons  ‘n nuwe identiteit.

  Ons lewe is nou in Christus verborge.   Ons Here Jesus het immers Self gesê:

En dit is die wil van Hom wat My gestuur het: dat Ek van almal wat Hy My gegee het, nie een verlore sal laat gaan nie, maar hulle almal op die laaste dag uit die dood sal laat opstaan. (Joh. 6:39)

Paulus sê van hierdie nuwe lewe, hierdie nuwe identiteit, dat niks ons nou van die liefde van God kan skei nie. Nie lyding of benoudheid, honger, naaktheid, gevaar of swaard nie.  Hy sê : In al hierdie dinge is ons meer as oorwinnaars deur Hom wat vir ons liefhet.  (Rom. 8:31 ev.)

Ons het nie net ‘n nuwe identiteit nie ..... Die tweede punt wat ons moet vashou, is:

2.       ONS HET ‘N NUWE KRAG

Maar voor ons by ons nuwe krag kom, kyk ons eers weer net gou na ons ou krag.

Hoe het ons ou krag gelyk?

Ons ou krag  was maar altyd net ons eie bietjie menslike krag.  Daarom is dit net logies dat ons uit onsself tot niks goed in staat was nie.  Boonop het ons die bietjie menslike krag gebruik om ons eie voordeel te soek.

Maar ons het ‘n nuwe krag! ..........  Luister wat sê ons Here Jesus:

Maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees in Jerusalem sowel as in Judea en in Samaria en tot in die uithoeke van die aarde. (Hand 1:8)

Die Heilige Gees gee ons krag om ons nuwe identiteit prakties uit te leef. Daarom skryf Paulus aan die gemeentes in Galasië dat hulle as gelowiges hulle deur die Gees moet laat lei, want

Die vrug van die Gees is liefde, vreugde, vrede geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing(Gal 5:22)

Toe die Here Jesus daar op die berg in Galilea vir sy dissipels belowe het dat Hy by hulle sal wees tot die voleinding van die wêreld het Hy bedoel dat sy Gees hulle nooit sal verlaat nie.   Ja, Hy het deur sy Gees ook in ons elkeen  kom woon.   Daarom  lewe ons nou deur die lewewekkende krag van die Gees. Luister net wat het Paulus vir die Efesiërs gebid:

Ek bid dat Hy julle geestesoë so sal verhelder dat julle kan weet ..... hoe geweldig groot sy krag is wat Hy uitoefen in ons wat glo. Dit is dieselfde kragtige werking van sy mag wat Hy uitgeoefen het toe Hy Christus uit die dood opgewek en Hom in die hemel aan sy regterhand laat sit het ....    (Vgl. Ef. 1:18 - 20)

Ek en jy voel soms of ons nie krag het vir al die dinge waarmee ons elke dag te doen kry nie. Soms word ons moedeloos. Maar dit gebeur wanneer ons vergeet dat die Heilige Gees in ons woon en dat Hy ons nuwe krag gee, dieselfde krag waarmee Christus uit die dood opgewek is!

Dink net wat ek en jy alles met hierdie bomenslike krag kan regkry  ..... Ons vergeet net so bietjie dat ons oor die krag beskik .....

Maar nou, broeder en suster, omdat ons oor hierdie bomenslike krag beskik, moet ons verstaan

3.       ONS HET ‘N NUWE OPDRAG

Ja, die mens het eers ‘n ou opdrag gehad.  Dit was die opdrag wat die Here destyds aan Adam en Eva in die paradys gegee het.

Wees vrugbaar, word baie, bewoon die aarde en bewerk dit. Heers oor die vis in die see, oor die voëls in die lug, oor al die diere op die aarde...(Gen. 1:28)

Wat het die mens met die ou opdrag gedoen?  In plaas daarvan om die aarde te bestuur tot eer van God, het die mens begin om die aarde en sy hulpbronne vir eie gewin te misbruik.  Kyk net hoe lyk hierdie aarde wat aan die mens se bestuur oorgelaat is deesdae!  Die sondige mens maak deur oorbenutting, besoedeling en wanbestuur van God se aarde ‘n vullishoop, ‘n puinhoop en ‘n slagveld.....   

Die sondige mens het van die bestuur en bewerking van die aarde ‘n mislukking gemaak. Verder het die sondige mens ook sy eie lewe opgemors en sy toekoms bederf.  Die mens het nie sy opdrag na gekom nie en van alles ‘n mislukking gemaak. Soveel so, dat God self na die aarde toe moes kom om ‘n nuwe begin te maak.

In die Persoon van die Seun het God met sy herskepping begin.  Waar Hy met die skepping by die aarde begin het en laaste die mens geskep het, werk Hy nou anders. Hy begin om die mens te herskep en laaste sal Hy dan ook die aarde weer nuut maak.  Deur die wedergeboorte kom verander God die sondeverlore mens in ‘n nuwe mens met ‘n nuwe identiteit, Hy gee aan hierdie mens die lewewekkende krag van sy Gees en dan kry hierdie nuwe mens ook ‘n nuwe opdrag:  Dit is die Missio Dei – God se sendingopdrag.

Gaan dan na al die nasies toe en maak die mense my dissipels: doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het....

Hoor u ons nuwe opdrag, broeder en suster? 

Omdat ons in Christus ‘n nuwe identiteit gekry het, het God vir ons nuwe krag gegee sodat ons ons nuwe opdrag kan uitvoer.

Ek en jy is, nog voordat die wêreld geskep, is spesiaal deur God uitverkies om in sy diens te werk tot uitbreiding van sy koninkryk.  

Wat doen ons prakties aan sy groot opdrag?

Hoe is ek en jy besig om mense dissipels van die Here te maak? Is dit iets wat ons daagliks deel van ons programskedule maak of sê ons so half verskonend dat ons eintlik te besig is en ook te skaam om met ander mense te praat......?

Kom ons elkeen dink mooi met wie wil die Here hê dat ons ‘n pad sal begin loop om daardie persoon of gesin dissipels van die Here Jesus te maak. 

 

SLOT

Die Here het ons verlos uit die mag van die sonde, die satan en die dood. Hy het aan ‘n nuwe identiteit gegee, ons is Christene wat met die Heilige Gees se  krag werk om ons opdrag uit te voer naamlik om mense dissipels van ons Here Jesus Christus te maak.  Bid dat Hy ons so sal lei dat ons sy as nuwe mense sy nuwe opdrag sal uitleef.

                                                                                         AMEN.

Read 2363 times
Danie de Kock

Website: www.facebook.com/profile.php?id=1438745475 Email This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it
Login to post comments

Soek