Sosiale Skakels

Besoekers

We have 27 guests online

Teken In

Follow us on FacebookFollow us on Twitter


Sunday, 06 November 2011 15:31

GESLAGTE GEBORGE IN CHRISTUS - HANDELINGE 2:32 - 42

Written by 
Rate this item
(0 votes)

SKRIFLESING:  HANDELINGE 2:32 - 42

TEKS:  HANDELINGE  2:39  

TEMA:  GESLAGTE GEBORGE  IN CHRISTUS

 

Ons almal wat vanaand hier saam is, het op een of ander manier  ʼn verbintenis met die Gereformeerde Kerk Krokodilrivier en daarom ook  ʼn verbintenis met mekaar.  Ons is lidmate en oudlidmate en ook familie en vriende. Dit alles bind ons saam, maar die vernaamste van alles is: Ons is een in Christus! 

Die Gereformeerde Kerk Krokodilrivier kan in  ʼn sekere sin as  ʼn familiekerk beskryf word, want die gemeente bestaan byna uit een groot familie  -  of dalk twee families.  (Ja, as  ʼn mens die Du Plessis en die Van der Walts sou uithaal, bly hier regtig nie veel oor nie.)

Hierdie families is boonop meer as een geslag, dikwels drie geslagte, wat almal tegelyk lidmate is.  Hier is families wat vir 5 geslagte op dieselfde plaas woon.  En tans is hier families waarvan 4 geslagte tegelyk lidmate van die gemeente is.

Om dus van  Geslagte geborge in Christus te praat, is heel toepaslik en aktueel.  Ons sien dit prakties en ervaar daagliks hoe die Here hier in ons midde van geslag tot geslag werk.  Meer nog, hoe Hy al  ʼn eeu lank hier werk...

Ons het op die steen by die kloktoring  ʼn inskripsie aangebring: 

Wat God belowe het, is vir julle en vir julle kinders en vir almal wat daar ver is, vir almal wat die Here ons God na Hom toe sal roep.   (Hand 2:39)

 

1. WAT HET GOD BELOWE?

Toe die Here destyds vir Abram uit Ur van die Galdeërs geroep het, het Hy met hom  ʼn verbond gesluit. Hierdie verbond was  ʼn ooreenkoms wat die Here met Abram aangegaan het.  Ons lees daarvan in Gen. 17:7 ev

Ek bring  ʼn verbond tot stand tussen My en jou en jou nageslag en al hulle geslagte. Dit is  ʼn blywende verbond:  Ek sal jou God wees en ook die God van jou nageslag. .... Verder het God vir Abraham gesê: Jy moet my verbond nakom, jy en jou nageslag en al hulle nageslagte.  En dan sê die Here dat hierdie verbond met die besnydenis as verbondsteken bevestig moet word.

En toe, op Pinksterdag, net na die uitstorting van die Heilige Gees, praat Petrus onder leiding van die Heilige Gees met die mense in Jerusalem.  En het u gehoor? Hy praat dieselfde taal!  Hy praat ook oor  ʼn belofte wat God maak!  Hy sê dat dit wat God belowe vir hulle is en vir hulle kinders en almal wat daar ver is...

Die inhoud van die belofte is dieselfde as aan Abraham:  Ek sal jou God wees en ook die God van jou nageslag.  Maw  Ek sluit  ʼn verbond met jou.  Dit is die belofte van die Drie-Enige God.  In die doopformulier hoor ons die inhoud van die belofte:  Ons Vader wat ons met alle goeie dinge wil versorg. Ons Here Jesus Christus wat ons met sy bloed van al ons sondes wil reinig. Die Heilige Gees wat in ons harte wil woon en ons gedagtes wil nuut maak.    

Maar hoe werk die belofte?  Soms dink mense daaraan soos aan  ʼn voorspelling. Dis nie  ʼn voorspelling nie.  Nee, dit werk meer soos  ʼn aanbod. God sê Hy sal dit gee, maar jy moet dit uit sy hand vat.

Nou is die volgende vraag:  

2.  VIR WIE BELOWE HY HIERDIE NUWE LEWE?

Die dag daar in Jerusalem toe die Heilige Gees uitgestort is, het God se belofte aan Abraham ten volle in vervulling gegaan. Daarom praat Petrus met die Jode, die nageslag van Abraham.  Maar nou verander die mense aan wie God sy belofte maak.  Die belofte  gaan nou na alle volke tale en nasies toe.   Dit gaan nou nie meer net oor Israel wat die belofte gekry het nie, maar almal wat die woord hoor en hulle laat doop.  Ook almal wat daar ver is, almal wat die Here ons God na Hom toe sal roep. Hulle en hulle kinders is geregtig op die belofte.

Dit is juis op grond van hierdie belofte wat God gemaak het, dat hier langs die Krokodilrivier  ʼn gemeente ontstaan het. God se belofte aan ons voorouers wat Hy geroep het.

En ons voorouers hier het daardie belofte van God aangegryp en dit deur  ʼn ware geloof vir hulleself toegeëien.  Hulle het hulle kinders met die belofte grootgemaak en opgevoed om verbondskinders te wees. God se volk!    In hierdie gemeente is ons geslagte lank geborge in Christus. 

 3.  WAT BETEN SY BELOFTE VIR ONS?

In die eerste plek beteken dit dat ons kinders van God is.  Hoe voel dit om kind van God te wees?  Ons is nie  ʼn klomp indiwidue wat elkeen op ons eie koers die lewe instorm nie. Nee, omdat ons kinders van God is, lewe ons op grond van sy belofte.

·         Hy is ons Vader, daarom dank ons Hom voor elke ete vir die kos wat Hy vir ons gee.  Ons dank Hom elke dag vir die lewenskrag en die geleenthede wat Hy vir ons gee.

·         Hy is in en deur ons Here Jesus Christus ons Verlosser, daarom gryp ons aan Hom vas en beleef dan hoe ons van ons sonde, die satan en die dood bevry word.

·         Hy is deur sy Gees daagliks besig om ons heilig te maak. Ons al hoe meer te maak soos Christus.  Ja, Hy moet meer word en ons minder.

In die tweede plek beteken dit dat ons  ʼn taak het.  Omdat ons as verbondsvolk lewe, ja omdat ons nuwe mense is wat skoon gewas is met die bloed van ons Here Jesus Christus, gaan ons uit om  ʼn verskil te maak in die wêreld waar ons leef.  Ons opdrag is om uit te gaan en mense dissipels van ons Here Jesus Christus te maak.  Ons taak is om sout te wees en lig te wees.

Onthou lig werk net waar dit donker is. Ons moet uit die ligkring van die gemeente uitbeweeg na die donker in die wêreld om daar te gaan lig maak.  Ons moet sout wees wat uit die soutpot uitkom om smaak te gee en bederf teë te gaan.

 SLOT

As ons more aan die Nagmaalstafel aansit, gaan ons opnuut die versekering kry dat God se belofte van heil vir ons bedoel is.  Ons gaan opnuut ervaar dat ons kinders in God se huishouding is.  Ons gaan opnuut die opdrag ontvang om uit te gaan en  ʼn verskil te gaan maak.                                                                          

AMEN.

Read 3842 times Last modified on Thursday, 08 March 2012 12:56
Danie de Kock

Website: www.facebook.com/profile.php?id=1438745475 Email This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it
Login to post comments

Soek