Skriflesing: Markus 8:34 – 9:1
Teks: Markus 8: 34 & 35
JY MOET EERS VERLOOR OM TE KAN WEN
Die normale reaksie wanneer ‘n mens ’n wedstryd verloor of in ’n geveg oorgee, is ’n vernedering. Niemand verloor graag nie. Nee, jy moet wen, want dan kry jy die prys en ontvang jy al die eer!
In vandag se kompeterende wêreld word ons geleer om nooit op te gee nie. Jy moet jouself in jou beroep of in die skool of op die sportveld kan handhaaf..... Om te verloor is eintlik onaanvaarbaar. Luister maar net na alles wat gesê word as die Springbokke ‘n paar wedstryde na mekaar verloor
Dit is ook so hartverskeurend om van tieners te hoor wat as gevolg van ‘n swak skoolrapport of die feit dat hulle nie die span gehaal het nie, selfmoord pleeg
As ’n mens egter na Jesus se woorde in ons teksvers luister, hoor jy iets wat direk teen hierdie manier van dink indruis. Hy sê:
…wie sy lewe vir homself wil behou, sal dit verloor, maar wie sy lewe vir My en die evangelie verloor, sal dit behou.
Wat bedoel ons Here Jesus as hy dit sê? Hy bedoel
1. OM GOD TE DIEN, MOET JY OORGEE
Die Here sê dat ek en jy nooit ware gelowiges sal wees nie, tensy ons elkeen ons hele lewe aan Hom oorgee. Hy wil hê ons moet ons lewe, wat vir ons so kosbaar is, verloor....
Dink ‘n bietjie mooi broeder en suster. Wanneer ek en jy ons eie lewe wil beheer en bestuur, sê ons inderwaarheid dat ons sonder die Here kan regkom. Ons maak dan ons eie planne en neem ons eie besluite. Ja, ons probeer mos om alles wat nie volgens ons sin is nie, regmaak.
Dit is natuurlik die pad van die sonde. Adam en Eva het destyds in die paradys ook gemeen dat hulleself oor hulle lewe wil besluit. Die satan het hulle verlei om van die boom van alle kennis te eet sodat hulleself, oor wat vir hulle goed of kwaad sou wees, kon besluit.
Die sonde in ‘n mens laat jou heeltyd spook om beheer te kry.... Inderwaarheid wil jy soos God wees… Jy wil bepaal wat moet gebeur.
Die feit van die saak is egter dat ek en jy nie soos God kan wees nie. Ons kan nooit volle beheer kry nie. Ek en jy bly maar net nietige ‘n mense. Daarom moet ons aanvaar as jy teen God probeer veg om beheer van die lewe, gaan jy nooit vrede hê nie.
Luister wat sê die Here Jesus: As jy jou eie lewe probeer reël en heeltyd probeer om te doen net wat jy begeer, gaan jou lewe verloor!
Dit beteken jy gaan die ware lewe, die ewige lewe verloor.
Hoe dink u, broeders en susters, waarom is daar soveel spanning en stryd in die wêreld?
Die antwoord is in werklikheid baie eenvoudig:
Die sondige mens wil alles na sy smaak reël en daarom wil hy homself nie aan God onderwerp nie. Die mens wil beheer. Die mens wil die heerser wees. En dan is die uiteinde presies daardie punt waar die Prediker by uitgekom het, naamlik:
Alles tevergeefs. Net 'n gejaag na wind.
Die Here Jesus sê as ek en jy ‘n sinvolle en vredevolle lewe wil hê, dan is die voorwaarde:
Ek en jy moet ons eie lewe verloor. Dit beteken dat ons moet oorgee.......
Dawid sê dit so mooi in Psalm 37:5
Laat jou lewe aan die Here oor en vertrou op Hom. Hy sal sorg.
Om oor te gee en jou lewe te verloor is egter nie so maklik nie. Daarom is die vraag:
2. HOE MOET EK OORGEE ?
Oorgee klink so passief. So hande in die lug gooi en sê: “Wat gebeur moet nou maar gebeur”. Of “Laat Gods water nou maar oor Gods akker loop” nie
As ‘n mens sommer jou hande in die lug gooi en sê: Hy is God, laat Hy maar doen wat Hy wil, verstaan jy nog nie wat dit beteken om jou lewe aan Hom oor te gee nie.
Onthou, die Here is nie ons vyand nie. Hy is ons Vader!
Daarom bely ons saam met Salomo in Ps. 127: 1 & 2
As die Here die huis nie bou nie, werk die wat daaraan bou, tevergeefs. As die Here die stad nie beskerm nie, waak dié wat dit beskerm tevergeefs.
En kyk verder:
Tevergeefs dat julle vroeg opstaan en laat gaan slaap om met moeite ‘n bestaan te maak. Vir dié wat Hy liefhet, gee die Here dit in hulle slaap.
En in Matt 6:25 sê Jesus:
Moet julle nie bekommer oor julle lewe oor wat julle moet eet of drink nie, of oor julle liggaam, oor wat julle moet aantrek nie…julle hemelse Vader sorg vir julle....
Daarom, broeder en suster, gaan dit oor twee belangrike dinge:
Vertroue en gehoorsaamheid.
Wat vertroue betref, ‘n mens kom agter dat jy jou lewe aan God oorgegee het wanneer jy Hom vertrou om die regte dinge in jou lewe te laat gebeur. Dan hou jy natuurlik op om jou eie agenda te volg en jou wil te probeer deurvoer. Ja, jy begin vrede maak met die pad waarop Hy jou lei
En dan word dit ook sommer maklik om gehoorsaam te wees, want dan stel jy jou eie wil en begeertes ondergeskik aan sy wil. Dan word alles wat Hy sê, vir jou die regte ding om te doen. En dan kan jy baie makliker jou eie wil eenkant toe skuif. In die proses vervaag jou eie begeertes. Dan wil ‘n mens graag doen wat Hy wil hê.
.
- Abraham, byvoorbeeld, het God vertrou en kon toe gehoorsaam wees toe die Here hom roep. Hy kon sy familie verlaat en uit sy vaderland trek sonder om te weet waarheen God met hom op pad was.
- Hanna, Samuel se ma, het God vertrou sonder om te weet wanneerHy haar gebed sou verhoor.
- Josef het God vertrou sonder om te weet waaromHy deur sy broers verkoop is en in Egipte beland het.
- Maria het ’n wonderwerk verwag toe Jesus gebore is sonder om te weet hoe God dit sou laat gebeur dat sy as ’n maagd ’n kind sou hê. Elkeen van hierdie mense het hulle lewe ten volle aan God oorgegee.
Die mees uitstaande voorbeeld van ’n lewe wat aan God oorgegee is, is sekerlik ons Here Jesus self. Hy het die nag toe Hy verraai is in Getsemane gebid:
“My Vader, as dit moontlik is laat hierdie lydensbeker by my verbygaan. Moet nogtans nie doen soos Ek wil nie, maar soos U wil.”
Duidelik het dit vir Hom oor sy hemelse Vader se wil en nie sy eie gegaan nie.
Broeders en susters, kom ons kyk
3. WAT GEBEUR AS ’N MENS AAN GOD OORGEE?
In die eerste plek ervaar jy dat daar ‘n vrede oor jou kom. Jy kry vrede omdat jy verstaan alles hang nie meer van jouself en jou eie kragte af nie. Dan hou jy ook sommer op om gedurig met God te worstel om dinge na jou sin te verander.
Dit was juis die raad wat Elifas, een van Job se vriende, tydens Job se worsteling, aan hom gegee het:
Onderwerp jou aan God, dan sal jy in vrede leef, en so sal jy voorspoed hê.
In die tweede plek volg vryheid. Jy word bevry van al jou laste en bekommernisse. Jy word bevry van die dinge in hierdie lewe wat jou vashou en saamsleep. Jesus het mos gesê:
Kom na My toe almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee.
En dan in die derde plek begin jy om God se krag in jou lewe te sien. Dit, sê Paulus is dieselfde krag waarmee Hy Christus uit die dood opgewek het! Dinge wat jy nooit gedink het, moontlik is nie, begin in jou lewe gebeur, want by God is niks mos onmoontlik nie.
Verstaan u waarom is dit so belangrik om eers te verloor? Om eers oor te gee, voordat jy kan wen?
…wie sy lewe vir homself wil behou, sal dit verloor, maar wie sy lewe vir My en die evangelie verloor, sal dit behou
Die mens is oorspronklik geskep om God te dien. As gevolg van die sondeval het die mens homself blootgestel aan allerhande ander invloede. Wat nou gebeur, is dat elke mens hom- of haarself aan iets of iemand oorgee. As dit nie aan geld of werk is nie, is dit aan sport, vriende of plesier. Daar is altyd iets waaraan die mens homself vasmaak en wat so ‘n mens dan beheer.
Die probleem is net dat solank jy toelaat dat ander dinge, behalwe die Here Jesus Christus jou lewe beheer, jy nooit ware vrede of vreugde hê nie.
SLOT
Broeder en suster.
Die geheim van die lewe is: om jou lewe te verloor.
Jesus sê jy moet jouself verloën, jou kruis dra en Hom volg. Dit kan ‘n mens natuurlik net onder leiding van die Heilige Gees doen. Bid daarom elke dag dat God die Heilige Gees jou sal lei en
- Volg Hom na die kruis waar Hy sy lewe afgelê het, en lê ook jou lewe daar af.
- Volg Hom na die graf, waar Hy dood is en sterf daar jou sonde saam met Hom af.
- En dan staan jy saam met Hom op in ’n nuwe lewe waar jy in en deur Hom ’n oorwinnaar is.
Dan sal jy vrede kry wat alle verstand te bowe gaan en dan sal jou lewe vol liefde en vreugde word.
Ja, dan sal dinge in jou lewe begin gebeur wat jy nooit gedink het moontlik sou wees nie.
AMEN.