Sosiale Skakels

Besoekers

We have 10 guests online

Teken In

Follow us on FacebookFollow us on Twitter


Thursday, 01 March 2018 14:09

Lukas 3:21 - 22 WELKOM IN DIE HUISGESIN VAN GOD

Written by 
Rate this item
(0 votes)

SKRIFLESING:  LUKAS 3:1 – 22

TEKS: LUKAS 3:21 – 22

WELKOM IN DIE HUISGESIN VAN GOD

Die doop is ‘n teken waarmee ons in God se huisgesin verwelkom word.  As ‘n mens verwelkom word, is dit gewoonlik die begin van ‘n besoek by iemand of dis die begin van  ‘n pad wat jy saam wil loop.  So is doop die verwelkoming en die inlywing in ‘n nuwe lewe saam met ons Here Jesus Christus.

In die gedeelte wat ons saam gelees het, vertel Lukas hoe Johannes die Doper mense wat na hom toe gekom het en na sy prediking geluister het ook gedoop het.  Johannes was ‘n eksentrieke soort mens. Hy het in die woestyn gelewe. Sprinkane en veldheuning geëet en klere van kameelhaar gedra. Tog was hy ook baie gewild. Na 400 jaar van stilte was hy weer ‘n profeet.  Hy het met ‘n boodskap gekom. Hy het gesê:

                Bekeer julle, want die koninkryk van die hemel het naby gekom.

En die mense het na hom toe gestroom. Hy het die Here se woord aan hulle gebring. Hulle opgeroep tot bekering en hulle gedoop.

In vers 15 lees ons:

                Die volk was vol verwagting en almal het hulle begin afvra of     Johannes nie miskien die Christus is nie.

 Johannes reageer egter op hierdie verwagting wat by die mense ontstaan het deur onmiddellik daarop te wys dat hy die Here Jesus se mindere is.  Hy vergelyk homself met ‘n slaaf wat mense se voete moes was.  Hy sê:

                Ek doop julle met water, maar my meerdere kom, en Ek is nie eers           werd om sy skoene los te maak nie. Hy sal julle met die Heilige Gees      en met vuur doop. (vers 16)

Met hierdie uitspraak het Johannes duidelik gemaak dat hy maar net die wegbereider van  die Here Jesus was.  Hy moes die mense nie na homself aanlok nie.  Hy moes vir hulle die pad wys. Die pad na die Here Jesus as die ware Verlosser en Saligmaker. Hy het gewys en gesê:

                “Daar is die Lam van God wat die sonde van die wêreld kom       wegneem”

Die Here werk vandag nog op dieselfde manier.  

  1. DIE HERE ROEP ONS DEUR WEGBEREIDERS NA SY HUISGESIN

Die wegbereider is net ‘n dienskneg. Hy wys maar net waar die pad loop. Die pad wat na die Here Jesus lei. En as jy die pad dan verder saam met die Here Jesus loop, is jy op ‘n nuwe pad. Die pad wat na die lewe lei.

Die pad waarop die mens gebore word en dan normaalweg loop, is die ou pad - pad wat na die dood lei.  Daarom begin die doopsformulier met die volgende woorde:

                Ons en ons kinders is in sonde ontvang en gebore en is daarom onder     die toorn van God, sodat ons nie in die ryk van God kan inkom nie,         tensy ons opnuut gebore word.

Johannes die doper praat met die mense wat op hierdie ou pad is. Luister net hoe skerp is sy woorde:

                Julle slange, wie het julle wysgemaak dat julle die dreigende toorn kan ontvlug? Dra liewer vrugte wat bewys dat julle bekeer is. En moenie     by julleself sê: Ons het Abraham as voorvader nie, want dit sê ek vir        julle: God kan uit hierdie klippe kinders vir Abraham verwek.

Johannes se skerp uitsprake het baie mense laat besef dat hulle nie op die regte pad is nie en so het hulle dan tot bekering gekom. Nie almal was egter so gelukkig met sy vermaning en die pad wat hy aangewys het nie. In verse  19  en 20 lees ons:

                Hy het ook vir Herodes, die heerser tereggewys oor Herodias, die vrou    van sy broer, en oor al die ander slegte dinge wat Herodes gedoen          het. Maar Herodes het nog verder gegaan en Johannes in die tronk         opgesluit.

En nou ken ons mos die geskiedenis. Johannes is uiteindelik daar in die tronk onthoof.

Die wegbereider, die een wat die pad na die Here Jesus en sy koninkryk moet aanwys, is nie altyd die gewilde een nie. Inteendeel. Dikwels is die dinge wat die wegbereider moet sê juis die dinge wat mense ongemaklik laat voel wat soms selfs negatief ervaar kan word.

Niemand hou mos daarvan om op sy foute gewys te word nie. Dit is egter juis hier, by mens se foute en by jou sonde, waar die groot en wonderlike genade van die Here sigbaar word.   Die doop is immers die teken dat jou sonde met die bloed van ons Here Jesus Christus afgewas word.  Sodoende word jy waardig gemaak om in die huisgesin van God verwelkom te word.

  1. DIE DOOP IS TEKEN VAN ONS INLYWING IN GOD SE HUISGESIN

Die feit dat die Here Jesus na Johannes die Doper toe gegaan het om gedoop te word, laat nogal ‘n vraag by ‘n mens opkom.

                Waarom moes die Here Jesus gedoop word?

Die doop is mos ‘n teken van reiniging.  Die mense het na Johannes toe gestroom om gedoop te word omdat hulle van hulle sondes gereinig wou word.

Maar wat van Jesus? ....... Hy het mos nie sonde nie!

In die evangelie volgens Matteus lees ons:

                In daardie tyd het Jesus van Galilea af na Johannes toe by die Jordaan   gekom om deur hom gedoop te word. Maar Johannes het dit probeer verhinder deur te sê: “Ek moet eintlik deur U gedoop word, en U kom      na my toe?”  (Matt 3:13 en 14)

Johannes wou aanvanklik glad nie vir Jesus doop nie, want hy het besef dat Jesus die Een is wat die eintlike Verlosser is. ..... Jesus, en nie hy wat Johannes is nie, is die een wat die reiniging moet doen!

Maar luister na die Here Jesus se antwoord:

                Nogtans moet jy dit nou doen, want op hierdie manier moet ons aan      die wil van God voldoen. (Matt 3:15)

Dit  was God se wil dat die Here Jesus gedoop moes word. In die Here Jesus se doop sien ons watter waarde die doop ook vir ons het.  Ons word in God se huisgesin verwelkom!

Luister wat sê die Vader se stem uit die hemel nadat Jesus gedoop is:

                “Jy is my geliefde Seun. Oor jou verheug Ek my.”

Hier sê die Vader in soveel woorde dat die Here Jesus, wat mens geword het, in sy huisgesin verwelkom word.  Jesus maak die pad oop sodat ons as mense saam met Hom in God se huisgesin verwelkom word.

Kom ons lees weer wat in ons teksverse staan:

                Jesus (is) ook gedoop, en terwyl Hy staan en bid, het die hemel oopgegaan en het die Heilige Gees in sigbare gestalte soos ‘n duif        op Hom neergedaal.

Nadat Hy gedoop is, het die Here Jesus gestaan en bid.  En kyk nou mooi: Nie terwyl Jesus gedoop is nie, maar daarna, toe Hy gestaan en bid het, toe het die hemel opgegaan. Jesus ontvang die Heilige Gees asook die versekering dat Hy deel van God se huisgesin is.  

Die Here Jesus dienswerk op aarde was met gebed deurweef. Hy het hom gereeld afgesonder om te bid.  En daar in Getsemane het Hy gebid terwyl sy sweet soos bloeddruppels op die grond val. Alles ter wille van sy dienswerk. Hy het sy krag in gebed gesoek en dit elke keer gekry.

Ook hier met sy doop, juis by die aanvang, die begin van sy dienswerk word Hy vervul met die Heilige Gees om Hom die krag te gee vir die pad wat Hy moes loop. Die pad wat uiteindelik na die kruis op Golgota sou lei.

Ons wat deur die wering van die Heilige Gees in Christus ingelyf word, se pad saam met Hom is nie altyd ‘n maklike pad nie.

Dit is ‘n pad waar ons met die aanslae van die satan en sy bose magte te doen kry. Dit is ‘n pad waarop ons met die aanloklikhede van die wêreld gekonfronteer word.  Daarom moet ons aanhou bid!

Kom ons kyk na ons lewe ....

  1. DIE NUWE LEWE IN GOD SE HUISGESIN

Hierdie lewe is ‘n lewe waar ons deel in God se liefde en waar ons sy genade leer ken. Ons leer dat ons volkome van Hom afhanklik is.  Dit is waarom die Here Jesus juis na sy doop staan en bid. Hy wys sy totale afhanklikheid van sy hemelse Vader.

Broeder en suster.  Ek en jy moet ook biddend op hierdie nuwe pad saam met die Here Jesus Christus loop.  Dit is wel  ‘n pad van vreugde en dankbaarheid, maar dit is beslis nie ‘n pad wat net vol maanskyn en rose is nie.

Kyk maar net na die pad wat die Here Jesus geloop het. Hy is gedoop en net daarna, in die volgende hoofstuk,  lees ons hoe Lukas skryf:

                Jesus het vol van die Heilige Gees van die Jordaan af teruggekom en       deur die Gees is Hy na die woestyn toe gelei waar Hy veertig dae lank   deur die duiwel versoek is .....

Ons hemelse Vader lei ons op ons lewenspad. Hy lei ons deur die Heilige Gees, maar daar kom moeilike tye ... Tye van swaar beproewing. Tye wat die satan jou voorlê.  Veral in tye van moedeloosheid. Tye van hartseer. Tye van verwarring. Tye van siekte. Tye wat jy die pad byster raak en hard val!  Daarom moet ek en jy aanhou bid. Aanhou om ons krag by ons hemelse Vader te soek.

En dit is wat ons ook vir ons kinders moet leer.

Hierdie kindertjies wat vandag gedoop word, word  in God se huisgesin verwelkom.  Ons hemelse Vader sê ook aan hulle elkeen:

                 Jy is my geliefde kind. Oor jou verheug Ek my.

Dit is die grootste enkele belofte wat vir ons ewige waarde het!

Ons gaan netnou hoor hoe die ouers belowe dat hulle hierdie kindertjies sal leer om op die nuwe pad saam met die Here Jesus te loop. Hulle gaan belowe dat hulle hierdie kindertjies sal leer om biddend en in volle afhanklikheid van ons hemelse Vader te leef. 

Hierdie kindertjies word vandag in God se huisgesin verwelkom.  Daarom is ons saam met hulle ouers en ook oupas en oumas vandag so bly en dankbaar!

Maar ons bid ook.  Ons bid dat die Here hulle op sy pad sal lei en dat Hy hulle sal sterk maak om ook in biddende afhanklikheid saam met Hom te lewe.

SLOT

Kom ons sluit af.

Deur middel van die doop word ons en ons kinders in God se huisgesin verwelkom.  Ons word navolgers van ons Here Jesus Christus. Om die pad saam met die Here Jesus te loop, is glad nie so maklik nie. Op die pad is daar vele hindernisse en groot uitdagings. Boonop loop die duiwel rond soos ‘n brullende leeu en soek wie hy kan verslind.

Daarom is volhardende gebed nodig. Die Here Gee sy Gees vir almal wat dit in kinderlike afhanklikheid van Hom bid. 

                                                                                                              AMEN.

Read 2051 times
Danie de Kock

Website: www.facebook.com/profile.php?id=1438745475 Email This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it
Login to post comments

Soek