Sosiale Skakels

Besoekers

We have 22 guests online

Teken In

Follow us on FacebookFollow us on Twitter


Sunday, 06 November 2011 15:36

NAGMAAL: TEMPEL vs TEMPEL - JOHANNES 2:13 – 22

Written by 
Rate this item
(0 votes)

 

 Nagmaal   Skriflesing:  Johannes 2:13 – 22                                                                              Teks:  Joh.  2:19 en 20 en  Matt 27:40                                                                            Tema:   TEMPEL  vs  TEMPEL

 

 

Ons elkeen het, toe ons hierdie naweek na die Gereformeerde Kerk Krokodilrivier se eeufeesvierings gekom het, mos met  ʼn bepaalde  verwagting gekom.   Ons het gekom met  ʼn verwagting om iets te sien en ervaar.   Wat wou u sien?  Wat het u verwag?

 

·         Het u met  ʼn gevoel van nostalgie kom kyk of u nog iets van die verlede, iets uit die geskiedenis kan herleef?

·         Het u kom kyk hoe die kerkgebou en gemeente vandag lyk teen die agtergrond van hoe u dit kan onthou?

 

Ja,  ʼn mens dink met heimwee en verlange terug na dit wat ons voorheen beleef het.  Daar is bepaalde dinge uit  ʼn mens se verlede wat soos bakens uitstaan en jy wil dit graag onthou.  Dit is vir jou belangrik. Dit is kosbare kleinode wat  ʼn mens in jou gedagtes wil koester.

 

Maar wat is dit wat ons hier in die gemeente wil vashou en koester?

Wat is vir ons belangrik en kosbaar? 

 

Toe die Here Jesus vir die Paasfees na die tempel in Jerusalem gegaan het, het hy ook met  ʼn bepaalde verwagting gegaan. Dit wat hy toe daar by die tempel gesien en beleef het, het hom hewig ontstel. Die tempel wat Hy gesien en beleef het, het heeltemal verskil van die tempel wat Hy verwag het.

 

In die gedeelte wat ons saam gelees het is daar sprake van twee tempels.  Die tempel wat die mense van destyds ingerig het en die tempel waarvan ons Here Jesus gepraat het toe Hy gesê het dat Hy die tempel wat afgebreek is, in drie dae sal oprig..

            

Dit gaan dus hier oor TEMPEL vs TEMPEL  

 

Kom ons kyk:

 

 

1.  HOE LYK DIE TEMPEL WAT JESUS GESIEN HET?

 

Hy het die bepaalde dag na die tempel toe gegaan met die verwagting dat dit die huis van sy hemelse Vader sou wees.  Die tempel wat Jesus egter gesien het, was een wat deur die mense vir eie gewin ingerig en misbruik is. 

 

Op die plein voor die tempel, wat as die voorhof vir heidene bekend gestaan het, was mense besig om handel te dryf.   Hoe ironies was dit nie!  Annas, die hoëpriester moes sorg dat die tempel  ʼn godshuis wees, het saam met sy seuns die plein by die tempel vir eie-gewin misbruik.  Hierdie plein was spesiaal gebou om mense uit die heidendom by die tempel te ontvang.  Dit was dus uitsluitlik bedoel vir evangelisasiewerk, maar Annas en sy seuns het dit gebruik om offerdiere daar te verkoop en om geld te wissel.   Die Here Jesus sê hulle het die plein  ʼn besigheidsplek gemaak. Van evangelisasie of sendingwerk onder die heidene was daar nie eers sprake nie!

 

Voordat  ʼn Jood sy offer kon bring, moes die dier eers deur die priesters goedgekeur word.  In plaas daarvan om  ʼn dier van ver af saam te bring, kon hulle van die hoëpriester en sy seuns se private diens op die plein van die heidene gebruikmaak.   Hulle kons sommer ʼn klaar goedgekeurde dier daar koop.  Verder was net Joodse geld by die tempel aanvaar.  Daarvoor het Annas en sy seuns  ʼn gerieflike geldwisseldiens verskaf. Alle buitelandse valuta is hier omgeruil. Natuurlik ook teen  ʼn stywe fooi.

 

Die tempel was nie  ʼn Godshuis nie, maar  ʼn plek wat mense vir hulle eie vormgodsdiens misbruik het. 

 

Hoe lyk hierdie tempel, hierdie gemeente, wat die naweek 100jaar oud is?  Is ons  ʼn ware huis van God?  Is ons  ʼn plek waar die Heilige Gees woon?   Is ons ʼn plek waar mense uit die heidendom verwelkom kan word of staan ons persoonlike belange ons lewe en die gemeentlike lewe vol?   Volgens Openb. 2 & 3 beweeg die Here Jesus gedurig tussen die gemeentes en Hy sien wat in elke gemeente gebeur. Dink u die Here Jesus is tevrede met wat Hy in ons lewe sien? 

 

2. WAT IS DIE HERE SE REAKSIE?

 

Die Here Jesus het  ʼn sweep gevleg en die mense en diere uit die tempel uitgejaag! Niemand wat vir eie gewin en persoonlike belang na die tempel toe kom, is daar welkom nie. Dit is God se woonplek en nie  ʼn plek waar mense eie voordeel moet soek nie.

 

Wanneer die mense die Here Jesus oor sy optrede konfronteer, sê Hy:

Breek hierdie tempel af en in drie dae sal Ek hom oprig.  (Joh 2:19)

 

Op hierdie punt wys die Here Jesus dat die hele Ou Testamentiese tempeldiens in Hom in vervulling gaan.  Al die offers en reinigingseremonies trek in Hom as Persoon saam.  Sonder Hom wat die Offerlam van God is, is alle godsdienstige rituele tevergeefs!

                                             

Die Jode was destyds in Jerusalem onder die valse indruk dat hulle die Here in die tempel dien, maar hulle het die tempel vir eie gewin misbruik.  Hulle het die tempel ingerig soos hulle dit vir hulle gemaklik was.  Daarom jaag die Here Jesus hulle persoonlik met  ʼn sweep uit die tempel!

 

Voor ons vanoggend aan die Nagmaalstafel aansit moet ons eers deeglik oor ons eie ingesteldheid besin. In 1 Kor. 11 sê die apostel Paulus die volgende oor  ʼn mens se gesindheid by die Heilige Nagmaal:   Maar elkeen moet eers homself ondersoek voor hy van die brood eet of uit die beker drink, want hy wat eet en drink sonder om te besef dat dit die liggaam van die Here is, bring daardeur  ʼn oordeel oor homself

 

Die Here se oordeel is die sweep waarmee Hy elkeen wat sy tempel vir eie gewin misbruik, vir ewig uit sy tempel uitjaag!  En kyk wat gebeur dan!

 

3. ONS HERE JESUS IS DIE WARE TEMPEL

 

Toe Hy daar aan die kruis gehang het, het die mense wat verbygeloop het Hom gespot:  Jy wat die tempel afbreek en in drie dae opbou!  Red jouself as jy die Seun van God is en kom van die kruis af! 

 

Ironies genoeg het hulle nie verstaan dat Hy toe, daar aan die kruis,  juis in die proses was om die ou tempeldiens af te breek en Homself as die nuwe  ewige Tempel op te bou nie. Hulle het nie verstaan dat Hyself nou die Tempel word waarin  ʼn mens ingaan en ewig daar saam met Hom kan woon nie. Daar waar Hy alles en in almal sal wees.

 

Vanoggend aan die Nagmaalstafel kry ons brood wat gebreek is en wyn wat uit gebreekte druiwekorrels gemaak is.  Die brood en wyn, wat ons eet en drink,  is die teken en waarborg dat ons deel het aan die Nuwe Tempel wat die Here Jesus opgerig het.

 

Die apostel Paulus leer ons om te verstaan dat ons met ons deelname aan die Nagmaal openlik verklaar dat in Christus is en Hy in ons. As ons nagmaal gebruik verklaar ons openlik dat ons saam met Christus die ware tempel van God is!

 

Broeder en suster.  Aan die Nagmaalstafel sal ons dit vanoggend beleef.  Ons sal dit vanoggend ervaar dat ons in Christus woon en Hy in ons!  Voel dit beleef dit ervaar dit!

 

En as ons uit hierdie gebou na die nagmaalsfees uitstap, kan ons ons eenheid met ons Here Jesus gaan uitleef. Omdat Hy  letterlik deur sy Gees in ons woon, is Hy altyd by ons en daarom hoef ons vir niks en niemand bang te wees nie.

 

·         Nie vir die satan nie

·         Nie vir die dood nie

·         Nie vir die Malema’s met hulle moordliedjies nie

·         Nie vir  ʼn onstabiel ekonomie nie

·         Nie vir  ʼn dodelike siekte nie

 

SLOT

Ons weet niks kan ons van God se liefde skei nie. Die liefde wat daar is in Jesus Christus ons Here nie. Ons is meer as oorwinnaars Daarom vier ons vandag die fees van die Nagmaal!  Ons doen dit al vir 100 jaar in die gemeente!

 

                                                                                    AMEN.

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Read 3646 times Last modified on Thursday, 08 March 2012 12:56
Danie de Kock

Website: www.facebook.com/profile.php?id=1438745475 Email This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it
Login to post comments

Soek