Skriflesing: Romeine 6:1 – 14
Teks: Rom. 6:6 en HK Son 16
IN CHRISTUS OORWIN EK ALLE SONDE EN DIE DOOD
Iets waaroor ek en jy, broeder en suster, geen illusie moet hê nie, is dat daar gelowiges, Christene, is wat soms baie onverskillig lewe.....
Enersyds is daar gelowiges wat willens en wetens, al worstel hulle soms met hulle gewete, steeds sonde doen ..... en andersyds is daar gelowiges wat sonde doen en dan maar net aanvaar dat die Here hulle weer en weer en weer sal vergewe ...... Hy is mos vol genade .......
Die apostel Paulus is baie ernstig as hy hierdie probleem aanroer. Luister wat sê hy in vers 1:
Wat sal ons nou hiervan sê? Moet ons aanhou sonde doen sodat die genade kan toeneem?
Paulus antwoord dan sy eie vraag met ‘n ondubbelsinnige: “Beslis nie!” En dan gaan hy voort om te vra:
“Hoe kan ons wat dood is vir die sonde nog daarin voortlewe?”
Die feit van die saak is: SONDE PAS NIE BY ‘N GELOWIGE NIE, want luister mooi:
1. DIE OU SONDIGE MENS HET SAAM MET CHRISTUS GESTERWE
Ons belydenis sê dat Christus se dood die volledige betaling vir die sonde is. Hy het met sy sterwe aan die kruis volledig aan God se eis om geregtigheid voldoen. Paulus druk dit baie duidelik uit in sy brief aan die gelowiges in Rome:
Ons weet tog dat die sondige mens wat ons was, SAAM MET CHRISTUS GEKRUISIG IS, SODAT ONS SONDIGE BESTAAN BEËINDIG KON WORD. Ons is dus nie langer slawe van die sonde nie.
Nou is die vraag: Hoe kan ek en jy weet dat dit ook op ons van toepassing is?
Ons belydenis begin met die wonderlikste versekering:
My troos is dat ek aan Christus behoort. Hy het my met sy kosbare bloed uit die mag van die satan, die sonde en die dood losgekoop. Hy het my uit die heerskappy van die duiwel verlos en sonder die wil van my hemelse Vader kan daar nie eers ‘n haar van my kop val nie! (HK Son 1)
Die apostel Paulus sê in soveel woorde:
Elkeen wat in Christus glo, se ou sondige mens is dood – saam met die Here Jesus in die graf in! Boonop is dit juis wat die doop aan ons belowe: Vers 4
Deur die doop is ons immers saam met Hom in sy dood begrawe ...
Elkeen van ons wat deur ‘n ware geloof in Christus ingelyf is, kan met oortuiging sê:
Die sondige mens wat ons was, is saam met Christus gekruisig en begrawe....
Daarom waarsku die apostel Paulus:
2. LAAT GEEN SONDE HEERSKAPPY IN JOU LEWE TOE NIE
Broeder en suster u sal saamstem dat die apostel Paulus in vers 2 ‘n baie logiese vraag vra:
Hoe kan ons wat dood is vir die sonde nog daarin voortlewe?
Sonde pas nie by ‘n Christengelowige nie, daarom is elkeen wat aanhou sonde doen besig om die Heilige Gees te bedroef.
In Galasiërs 5 gee Paulus aan elke gelowige baie goeie raad:
Laat julle lewe steeds deur die Gees van God beheers word, dan sal julle nooit swig voor begeertes van julle sondige natuur nie. (Gal 5:16)
Solank ek en jy nog in hierdie liggame en in hierdie wêreld leef, staan ons nog binne die invloedsfeer van die sonde en die dood. Ons word daagliks met die sonde en die dood gekonfronteer. Boonop probeer die satan ons gedurig tot ongehoorsaamheid verlei. Hy probeer met alle mag ons so ver kry om ons hoop en vertroue op iets anders as God te stel.
Maar kyk wat staan in ons teksvers:
Ons is nie langer slawe van die sonde nie...
Hoor u dit? Die sonde is nie ons baas nie! Onder die kragtige leiding van die Heilige Gees kan en moet ons weerstand bied. Ons kan “Nee” sê vir die versoekings van die satan en die verleiding van die wêreld.
Ons is in Christus nuwe mense. Daarom is ons in staat om op te hou skinder. Ons is in staat om ons humeure te beteuel. Ons is in staat om op te hou met vloek. Ons is in staat om ons selfsugtigheid eenkant toe te skuif. Ons hoef nie onvriendelik te wees nie. .... So kan ‘n mens voortgaan.
Die blye boodskap is:
3. SONDE EN DOOD IS NIE MEER BEDREIGINGS NIE
Dit klink byna te goed om waar te wees......
Die feit van die saak is: Ons struikel nog steeds en val soms plat op ons gesigte in die sonde. ....... En ons gaan nog steeds eendag sterf ......
Kyk na vraag 42 in ons belydenis:
As Christus dan vir ons gesterf het, waarom moet ons dan nog sterwe?
Die antwoord maak dit baie duidelik dat ons dood nie, soos Christus se dood, ‘n betaling vir ons sonde is nie. Christus se kruisdood en sy opstanding het die mag wat die sonde en die dood oor ons gehad het vernietig!
Die dood is nou glad nie meer ‘n straf op ons sonde nie. Die dood word, in ‘n sekere sin, nou vir ons ‘n uitkoms ... ‘n mens kan byna sê die dood is nou vir ons ‘n ontsnaproete na die ware, ewige lewe in die Vaderhuis! Die dood is vir elke ware gelowige net ‘n deurgang na die ewige lewe. Die dag as ek en jy sterf, raak ons totaal van die sonde se invloed en die satan se aanvalle ontslae.
Die oomblik wat ek en jy sterf, gaan ons onmiddellik die ewige hemelse heerlikheid binne.
Dit is met hierdie hoop op die toekoms en die wonderlike vooruitsig om vir ewig in ons hemelse Vader se teenwoordigheid te wees, wat ons elke dag die moed gee vir ons aardse stryd.
Verder aan in sy brief, in Hfst. 8:31 ev. sing Paulus sy oorwinnings lied:
Hiervan is ek oortuig: geen dood of lewe of engele of magte of teenswoordige of toekomstige dinge of kragte of hoogte of diepte of enigiets anders in die skepping kan ons van die liefde van God skei nie, die liefde wat daar is in Christus Jesus ons Here. (Rom. 8:38 & 39)
In Christus is ons meer as oorwinnaars en daarom is ek en jy volledig in staat om die pad van heiligmaking te loop.
Ons het die Heilige Gees ontvang sodat ons elke dag as oorwinnaars kan lewe. In Gal. 5 verduidelik Paulus baie mooi hoe ‘n mens jou nie deur die begeertes van jou sondige natuur op sleeptou moet laat neem nie, maar dat jy onder die kragtige leiding van die Gees moet lewe. Dan word die vrug van die Gees in jou lewe sigbaar (Gal. 5:22).
Dit is die pad waarop Christus meer word en ekself minder.
SLOT:
Geliefdes. Ek en jy het saam met Christus gesterf. Ons doop is die teken wat ons daaraan herinner. Omdat ons ou sondige mens dood is, kan die satan, die sonde en die dood nie meer oor ons heers nie.
God het immers sy Gees aan ons gegee. As ek en jy ons deur die Heilige Gees, die lewendmakende Gees van God, laat lei, sal ons nie swig voor die begeertes van ons sondig natuur nie. Dan sal ons as oorwinnaars lewe. Doelgerig met ons oë gerig op ons ewige bestemming in die Vaderhuis. En almal wat met ons te doen kry, sal dit in ons optrede kan sien!
AMEN.