Sosiale Skakels

Besoekers

We have 1 guest online

Teken In

Follow us on FacebookFollow us on Twitter


Monday, 11 June 2018 06:58

Openbaring 22:17 KOM ROEP SAAM MET DIE GEES

Written by 
Rate this item
(0 votes)

Skriflesing: Openbaring 22:6 – 21

Teks: Openbaring 22:17

 

KOM ROEP SAAM MET DIE GEES!

 

Dit het seker ook al met jou gebeur dat jy op pad was om iets te gaan doen, maar voordat jy dit kan doen, trek iets anders jou aandag af. Dan raak jy so besig met dit wat jou aandag afgetrek het, dat jy skoon vergeet wat jy oorspronklik wou gaan doen. Jy was dalk op pad kombuis toe om koffie te gaan maak, maar toe jy verby die TV loop, is daar 'n program aan die gang wat jou aandag aftrek en so interessant lyk dat jy gaan sit en kyk.  Later wonder jy waarheen jy eintlik op pad was?

 

Presies dieselfde gebeur met die kerk. As navolgers van ons Here Jesus Christus is ons op pad na ons hemelse bestemming, maar van tyd tot tyd gebeur daar iets wat ons aandag aftrek.  Dan raak ek en jy so vasgevang in die dinge van hierdie wêreld dat ons skoon vergeet waarheen ons op pad is.  Luister na die apostel Paulus se waarskuwing 1 Kor. 7:31:

 

             ".... dié wat met die dinge van die wêreld te doen het,           moet leef asof hulle niks daaraan het nie, want             hierdie           wêreld, soos ons hom ken, is aan die verbygaan.

 

Ons teksgedeelte is die heel laaste gedeelte in die boek Openbaring en daarom ook die heel laaste gedeelte in die hele Bybel.  Dit is die afsluitingswoorde van God aan ons wat op hierdie aarde woon en werk.

 

En hierdie gedeelte gaan daarom oor hoe die Here van ons verwag om in die eindtye waarin ons leef op te tree.

 

Die Heilige Gees het die apostel Johannes geïnspireer om  ‘n besonder gepaste beeld te gebruik om ons gesindheid en ingesteldheid op die wederkoms te verduidelik. Dit is die beeld van ‘n bruid wat besig is om haar voor te berei vir haar troudag met die bruidegom van haar drome.

 

Luister wat sê die apostel Johannes

 

1. DIE BRUIDSKERK VERLANG NA HAAR HEMELSE BRUIDEGOM

 

Soos 'n bruid haar trourok en ook haarself met groot moeite en noukeurigheid vir die bruidegom versier, so is ons, die kerk as bruid, besig om gereed te maak vir die hemelse Bruidegom Jesus Christus wat op pad is.

 

Dink net hoe besig sy is!  Hoe sy met groot moeite sorg dat haar rok presies reg is sodat sy op haar troudag op haar mooiste sal lyk. In haar ywer en entoesiasme maak sy sommer 'n klomp mense rondom haar ook entoesiasties en aktiveer hulle om saam met haar alles gereed te kry.  Die blomme, die onthaal – alles en almal moet saamwerk vir die dag wat sy en haar bruidegom in die huwelik bevestig gaan word.

 

So is die kerk, broeders en susters. Ons as kerk, sê Johannes, is elke dag entoesiasties besig met voorbereidings. Daar is by die kerk 'n gespanne afwagting vir die koms van die Here Jesus Christus, want dan begin die bruilofsmaal van die Lam.  Ja, dan gaan ons die ewige heerlikheid van ons hemelse erfenis binne.

 

Maar nou gebeur die tipies menslike. Die Here Jesus se bruidskerk se aandag word afgetrek en sy vergeet waarheen sy op pad is.  Ons raak dikwels so besig met dinge wat ons aandag aftrek. En dan vergeet ons om ons einddoel, naamlik die bruilof van die Lam, in die oog te hou. .

 

Vir 'n bruid wat, om watter rede ook al, nie meer vol verwagting en entoesiasme op haar bruidegom wag nie, word al die voorbereidings naderhand net 'n klomp moeisame laste.  Sy begin allerhande ander dinge doen en verloor inderwaarheid belangstelling in haar troudag wat voorlê.  So iets is byna ondenkbaar, maar dit is die groot gevaar vir die kerk.  ‘n Mens sien dit gebeur......

 

Broeder en suster, hier moet ons elkeen baie eerlik na ons eie ingesteldheid kyk: 

  • Leef ons met 'n entoesiastiese verwagting? 
  • Is ons oë nog op die wederkoms van ons hemelse Bruidegom gefokus of het ander dinge langs die pad ons aandag afgetrek? 
  • Wat is daardie dinge in jou en my lewe wat ons so besig hou dat ons vergeet het waarheen ons op pad is?

 

Onthou ons is bruidskerk!  Ek en jy moet daagliks werk aan ons voorbereidings vir die wederkoms. Ons hemelse Bruidegom is op pad! 

 

As ons dan gereedmaak is die vraag: Hoe maak ons gereed?  In vers 14 sê die Here: 

 

            Geseënd is dié wat hulle klere was sodat hulle reg kan hê    op die boom van die lewe...

 

Die heel belangrikste aspek van hierdie gereedmaak is:

 

2. DIE BRUIDSKERK WAS HAAR KLEED

 

Vanself kan die bruid nie gereed wees nie.  Ons weet dit mos. Geen bruid gaan maar sommer soos sy is en soos sy lyk na haar troue toe nie! 

 

Die kerk kan net gereed wees vir haar hemelse Bruidegom as sy haar klere, wat deur die sonde vuilgemors is, gewas het.   Hierdie reinigingsproses is nie iets wat sommer vanself gebeur nie.  Die seep wat hier gebruik moet word, is bloed.  In die eerste plek die bloed van Jesus Christus wat Hy aan die kruis kom stort het.  Ja, sy verlossingswerk moet in jou en my lewe sigbaar word.  Sy bloed moet al die vuil kolle van liefdeloosheid, ongehoorsaamheid, selfgesentreerdheid, rusie en verdeeldheid,  asook sedeloosheid en geweld in ons lewe afwas.

 

En hierdie proses, hierdie afwas , broeder en suster,  kan soms ‘n moeilike of selfs gewelddadige proses word. In die proses kan daar selfs bloed vloei.  Deur die eeue was daar al der duisende martelare in die kerk.  Mense wat ter wille van hulle geloof letterlik vermoor is – soveel so dat hulle bloed soms in die strate gevloei het! 

 

Elkeen van ons moet bereid wees om selfs ten bloede toe teen die sonde en die satan te stry.  Die Hebreër-skrywer waarsku juis in Hfst. 12:4:

 

            Julle het nog nie so teen die sonde weerstand gebied dat     dit vir julle 'n stryd om lewe of dood geword het nie.

 

Die bruidskleed van die kerk word nie alleen wit gemaak  deur die bloed van die Lam nie.  Dit word ook wit gemaak deur die bloed van die gelowiges wat in die groot verdrukking is. Dis gelowiges wat nie hulle eie lewe en voordeel bo hulle reiniging in Christus stel nie. 

 

In hoofstuk 7 lees mens die volgende:

 

            Een van die ouderlinge vra toe vir my: “Hierdie mense met   die wit klere aan, wie is hulle en waar kom hulle vandaan?”            “Ek weet nie,  Meneer”, sê ek vir hom, ‘maar u weet. Hy sê toe vir my: “Dit is die dié wat uit die groot verdrukking kom.   Hulle het hulle klere gewas en dit wit gemaak in die bloed   van die Lam. Daarom is hulle voor die troon van God en       dien hulle Hom dag en nag in sy tempel ..(Op 7:13 – 15).

 

Maar is die groot vraag in ‘n mens se gemoed:

 Hoe kry die kerk dit reg?  Ja, hoe kry ek en jy as gelowiges dit reg om in alle omstandighede getrou te bly? 

 

Broeder en suster. Hierin het die Here ons te hulp gekom.  Hy het vir ons sy Heilige Gees gestuur!

 

Daarom lees ons in ons teksvers:                                                                               

           

            Die Gees en die bruid sê: "Kom!"

 

 

3. CHRISTUS SE BRUIDSKERK IS VOL VAN DIE GEES

 

Ons Here Jesus het sy bruid met sy eie bloed losgekoop uit die mag van die satan en die dood.  Daarna het Hy na die sy hemelwoning vertrek om vir sy bruidskerk plek gereed te maak.

 

Maar nou laat Hy nie sommer sy bruidskerk so oor aan haar eie lot nie!

 

Nee, terwyl die kerk op die Here Jesus se wederkoms wag, het Hy sy Gees vir haar gegee. Deur sy Gees is Hy by die kerk en in die kerk teenwoordig.  

 

Ons, die bruidskerk van Christus, wag onder leiding van die Heilige Gees geesdriftig op ons hemelse Bruidegom se koms. 

 

Ons en die Gees roep daarom saam:  Kom Here Jesus!

 

Maar, en dit is die gevaar, as ek en jy te besig raak met die dinge van hierdie wêreld vergeet ons dat ons met voorbereiding besig is. Ons aandag word tog so maklik afgelei van ons hemelse roeping!

 

In die vroeë Christelike Kerk, toe hulle nog elke Sondag nagmaal gevier het, het hulle elke keer na afloop van die nagmaal saam uitgeroep: Maranata!  .....   Dit beteken Kom Here Jesus!

 

Broeders en susters hoeveel keer u al gehoor dat gelowiges dit uitroep?  ......   Het ek en jy dit al ooit geroep?

 

As ons dit dan nie duidelik uitroep nie, bid ons daarvoor?  Is daar nog enigsins ‘n verlange by ons dat die wederkoms so gou moontlik moet kom?

 

Broeder en suster, word my en jou aandag nie al so deur die dinge van die wêreld in beslag geneem dat ons skoon vergeet het waarheen ons op pad is nie?

 

Moontlik is dit juis die rede waarom die kerk grootliks al sy suigkrag en evangelisasiekrag verloor het.  Is dit vergesog as ‘n mens dink dat ons as kerk ons fokus op ons hemelse Bruidegom verloor het.  Daarom is dit ‘n vraag hoe ons dan ander mense opgewonde oor die Here en sy wederkoms kan maak as onsself nie opgewonde is nie ..... 

 

SLOT

 

Geliefdes, wat kan ons doen?

 

Een van die uitstaande kenmerke van die vroeë kerk was die feit dat hulle voortdurend en ook dringend uitgeroep het:

 

            Kom Here Jesus!

 

Moet ons nie weer aan ons as kerk se ingesteldheid ten opsigte van die wederkoms werk nie? Ons kan gerus elke geleentheid aangryp om onder leiding van die Heilige Gees met mekaar daaroor te praat en saam daarvoor te bid.

 

Onder leiding van die Heilige Gees moet ons weer saam opgewonde en entoesiasties raak vir die bruilof wat voorlê......

 

Soveel so dat ek en jy ook ander mense wat dors het nader te roep na die Fontein van die lewe.

 

En as ons so met oorgawe onder leiding van die Heilige Gees  aanhou roep:

 

                        Kom Here Jesus,

 

sal ons die hemelse Bruidegom hoor wat antwoord:

 

            Ja, Ek kom gou!

 

                                                      Amen.

 

 

Read 1273 times
Danie de Kock

Website: www.facebook.com/profile.php?id=1438745475 Email This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it
Login to post comments

Soek