Sosiale Skakels

Besoekers

We have 24 guests online

Teken In

Follow us on FacebookFollow us on Twitter


Sunday, 06 November 2011 15:38

MOENIE BANG WEES NIE - LEWE IN CHRISTUS - OPENBARING 1:9 - 20

Written by 
Rate this item
(0 votes)

SKRIFLESING:  OPENBARING 1:9 - 20

TEKS: OPENBARING 1:17 & 18.

TEMA: MOENIE BANG WEES NIE - LEWE IN CHRISTUS!

 

Maak die wêreld waarin ons deesdae leef u ook soms bang?

·         As  ʼn mens hoor van aanvalle en rooftogte op onskuldige mense?

·          As jy sien hoeveel mense deesdae aan kanker ly.

·         As jy hoor van wêreldwye ekonomiese onstabiliteit?

·         As jy sien hoe die huidige regering met korrupsie en selfverryking besig is om die land na chaos toe te lei.

·         As jy sien hoe mense van die Here afvallig raak.

·         As jy sien hoe mense hulle eie koppe volg en agter mensgemaakte godsdienste aanloop.

Ja, dan begin jy wonder: Waar gaan alles heen?  Wat gaan van ons word?  Wat gaan van ons kinders of ons kleinkinders word? Sommige mense vra:  Moet  ʼn mens nie maar liewer probeer om hier weg te kom nie?

In hierdie deurmekaar wêreld waarin ons leef, moet ons weer 'n slag opnuut kyk na die Here se bedoeling met alles.  Het God vir ons  ʼn doel? Het ons  ʼn taak in hierdie land?

Met die boek Openbaring wil die Here ons help om perspektief te kry. 

Die feit van die saak is:

1. ONS VOEL SO WEERLOOS

As  ʼn mens na ons omstandighede kyk, kan jy maklik in moedeloosheid verval.  Ons is regtig weerloos.  Hierdie week het ons opnuut onder die indruk van ons weerloosheid gekom met die aanval op lidmate. André en Desiré was weerloos en die slagoffers van misdadigers.

As die ekonomie onder druk kom, is ons die slagoffers van rentekoerse. As dit hoog is, ly party en as dit laag is ly daar weer ander. Politieke onstabiliteit wat die noodwendige gevolg van  ʼn swak regering is, raak ons almal.

Ja, broeders en susters, die sonde maak ons so kwesbaar voel.  Boonop val ons so maklik vir Satan se verleiding. Ons glo sy misleiding soos Adam en Eva dit destyds al gedoen het. Ons plaas ons hoop op mense en op geld. Mense stel ons teleur en geld verdwyn so maklik. Ons gesondheid kan in  ʼn oogwink verander. En dan word ons moedeloos.   Dan wil ons hande in die lug gooi en sommer saam met die Prediker uitroep: Alles is tevergeefs en  ʼn gejaag na wind.

Die probleem is, geliefdes, ons kyk te veel teen mense vas.  Ons ontstel ons te gou oor dinge wat mense sê en wat mense doen.

Ons moet na God kyk!

Die apostel Johannes was  op die eiland Patmos in die Middellandse See.  Hy was daarheen verban omdat Hy Christus as die mens se enigste Verlosser en Saligmaker verkondig het.  Ja, hy was ook weerloos teen die owerheid van destyds. Duisende Christene is destyds verskriklik vervolg en wreed dood gemaak. Johannes self was op  ʼn stadium amper dood toe hulle hom met olie verbrand het.

Nou kan  ʼn mens jou indink hoe Johannes gevoel het. Hy is as  ʼn gevangene na hierdie eiland verban. Dit was sy tronk. Dalk moes hy uitmergelende dwangarbeid verrig. Hy is bekommerd oor homself en hy is bekommerd oor sy medegelowiges in Klein- Asië. Hy verlang na hulle. Hy weet nie wat nog van die kerk gaan word nie.

Maar dit is hier waar die Here Jesus met Johannes begin praat.  Hy verskyn Persoonlik daar aan Johannes.   En kyk dan wat gebeur met hom! 

Johannes word onmiddellik verdwerg deur die Here Jesus se heerlikheid. Vers 17:

Toe ek Hom sien, het ek by sy voete neergeval en bly lê soos een wat dood is"

      

Johannes kan nie voor die Here Jesus bly staan nie!  Hy is te klein, te nietig. Hy val soos 'n dooie op die grond.....

Maar, dan lees ons verder "Hy het toe met sy regterhand aan my gevat en vir my gesê: 'Moenie bang wees nie, dit is Ek, die Eerste en die Laaste, die Lewende'"

Wat sien Johannes in sy weerloosheid en in sy haglike omstandighede?  Broeder en suster, hy sien

 

2. DIE HERE JESUS CHRISTUS IS DIE MAGTIGE KONING!

Johannes sien Iemand wat lyk die Here Jesus tussen sewe goue staanlampe!  Aan die einde van die hoofstuk word verduidelik dat die sewe staanlampe die gemeentes is, die kerk van Christus.

Hy is in sy almag en heerlikheid by die kerk.  Luister net weer hoe Johannes Hom beskryf:  (Lees verse 12 – 16).

Vir Johannes moes hierdie glansryke verskyning, hoewel oorweldigend,  tog ook 'n heerlike troos gewees het.

Johannes het mos die Here Jesus geken. Hy was daar toe Jesus gevange geneem en gekruisig is.  Hy was by toe Hy begrawe is.  Hy het ook die opstanding en die hemelvaart beleef.

Intussen het dit egter nie maklik met hom wat Johannes is, en die ander apostels gegaan nie.  Hulle het bitter swaar gekry. Hulle het teenstand van die Jode ervaar en vervolging van die Romeine. Hulle het seker baie oor hulle situasie en oor die toekoms gepraat.  Waar sou alles eindig?  En nou sit hy hier as banneling op Patmos.

Maar hier staan die Here Jesus nou in sy almag en heerlikheid voor Johannes! 

En hoor wat sê die Here vir hom:  Skrywe wat jy SIEN in  ʼn boek op en stuur dit vir die sewe gemeentes.  Johannes ontvang hier die Here Jesus se boodskap aan die kerk!

En wat sien Hy?  Wat moet hy skryf?  Hy sien die Here Jesus in sy almag en heerlikheid.  Voor Hom word die mens klein, verdwerg in sy nietigheid. Ja, voor Hom is die magtigste mens klein en nietig.

Luister wat sê die Here Jesus vir die bekommerde  en moedeloses Johannes: "Moenie bang wees nie, dit is Ek."  Weer is dit God wat na ons nietige mensies toe kom! 

Ja

3. ONS HOEF NIE BANG TE WEES NIE!

Die Here Jesus Christus is in volle beheer.  Hy het alle mag in die hemel en op die aarde!

En kyk wat doen Hy!  Hy vat met sy regter­hand aan Johannes. Dit is 'n gebaar van liefde, medelye en krag. Hy gee aan Johannes die versekering van sy teenwoordigheid.

Ja, Hy is by sy kerk. Johannes het Hom sien staan tussen die sewe goue lampe, wat die sewe ge­meentes voorstel. Die getal sewe is die volheidsgetal.  Dws Jesus is by sy volle kerk teenwoordig.  Boonop hou hy ook die sewe leraars, hulle wat God se Woord moet bring, in sy regterhand vas. Hy versorg en lei sy kerk!

En het u gehoor? Hy het selfs die sleutels van die dood en die doderyk. Daarom hoef die gelowiges nie eers vir die dood bang te wees nie. Die dood kan geen gelowige hou nie, want Christus was dood, maar Hy het die dood oorwin. Johannes en die kerk wat destyds so wreedaardig vervolg is, moes hoor: Selfs die dood nie vir hulle  'n bedreiging nie. Die Here Jesus het selfs die dood oorwin!

Wat sê die Here vir ons, vir sy kerk, vandag in ons omstandighede?

Hy sê: Moenie bang wees nie. Hy is daar en Hy is almagtig. Hy is in volle beheer!  Hy het  ʼn doel met alles wat in jou en my lewe gebeur.

Ons is geneig om teen ons persoonlike omstandighede vas te kyk. Ons staar ons blind teen gesondheid en finansiële sukses. Ons wil hê die Here moet ons met wêreldse voorspoed en aardse geluk seën.

Maar dit is nie wat die Here kom gee nie!  Johannes en die ander apostels het alles behalwe aardse geluk en voorspoed gehad!

Hulle is vervolg en doodgemaak! 

Wat moet die kerk dan hoor?  Wat moes Johannes vir die kerk skryf?

Hy moes skryf wat Hy gesien het.  Die Here Jesus is die magtige Koning wat alle mag in die hemel en op die aarde het. Gryp aan Hom vas. Soek jou lewe buite jouself in Christus!  Laat Hy al hoe meer word en word jyself al hoe minder.

Dan kry jy vrede. Dan kan jy met dankbaarheid en blydskap lewe. Dan word jy ʼn oorwinnaar

·         Jy oorwin die sonde.

·         Jy oorwin die vrees vir die toekoms.

·         Jy oorwin die vrees vir die dood.

·         Ja, jy oorwin ook die Satan.

 

SLOT

Geliefdes, moenie toelaat dat bekommernis en vrees u ver­swelg nie.

Die Here Jesus is by sy kerk. Hy is by ons tot met die voleinding van die wêreld.  Onthou, niks kan jou van sy liefde skei nie. Nie vervolging nie, nie  ʼn korrupte regering nie, nie  ʼn aanvaller of moordenaar nie. Nie kragte of magte of owerhede nie.

Lewe vanuit die krag wat Jesus Christus die Oorwinnaar u gee.

Hy het sy Heilige Gees uitgestort. Lewe daarom onder leiding van die Heilige Gees tot eer van God.

 Alleen sò sal u kan volhard tot die einde toe.

                                       AMEN.

Read 5170 times Last modified on Thursday, 08 March 2012 11:47
Danie de Kock

Website: www.facebook.com/profile.php?id=1438745475 Email This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it
Login to post comments

Soek