SKRIFLESING. ESEG. 13:1 – 16
TEKS: ESEG. 13:10
VALSE GERUSTHEID IS GEVAARLIK
Voor ons vanoggend by die dieper betekenis van hierdie Skrifgedeelte kom, wil ek eers net so ‘n bietjie met u gesels. Ek gaan ‘n paar vrae stel:
Wat wil jy hê moet ‘n preek aan jou doen?
- Moet die preek jou vertroos en bemoedig?
- Kan die preek jou maar ongemaklik maak of skuldig laat voel?
- En kan die preek jou maar kwaad maak?
- Of wil jy hê die preek moet jou net goed laat voel?
In die Ou Testamentiese tyd het die Here profete in sy diens gehad. Hy het hulle na die mense gestuur om sy woord te verkondig. Kyk wat sê Esegiël in verse 1 en 2:
Die woord van die Here het tot my gekom: Mens, tree jy as profeet op ..... Sê vir die mense .....: Hoor die woord van die Here!
Vandag stuur die Here nog steeds mense om sy woord te verkondig. Vandag moet predikante ook duidelik sê:
Hoor die woord van die Here!
Maar kyk nou mooi wat gebeur!
In Esegiël se tyd was daar mense wat hulleself as profete van Israel voorgedoen het. Hierdie mense was nie deur die Here gestuur nie en het ook nie die Here se woord gebring nie. Hulle het hulle deur hulle eie gedagtes laat lei.....
Eeue later waarsku die apostel Paulus, self ‘n gestuurde van die Here, met presies dieselfde probleem. Hy skryf aan Timoteus:
….daar sal ‘n tyd kom wanneer die mense die gesonde leer nie meer sal verdra nie. Hulle sal hulle eie begeertes volg en vir hulle leermeesters bymekaarmaak wat net sal sê wat hulle graag wil hoor.(2 Tim. 4:3)
Hierdie profete in Esegiël se tyd en die leermeesters in Paulus se tyd het almal graag gesê:
So spreek die Here!
Maar dan is dit glad nie die Here se woord nie! Hulle kom met hulle eie gedagtes en sê die dinge wat die mense graag wil hoor.
In ons teksgedeelte waarsku Esegiël die volk Israel:
JOU PROFETE is soos jakkalse tussen die puinhope.
Het u dit opgemerk? Die Here praat van JOU profete Israel ..... Met ander woorde, dit is nie die Here se profete nie!
En nou is die probleem:
1. DIE VALS PROFETE ONDERMYN DIE VOLK
Die Here sê hulle is soos jakkalse ..... ‘n Jakkals is mos maar ‘n skelm ding. ‘n Agterbakse en lafhartige soort aasdier.
Die Here sê hierdie selfaangestelde profete is soos jakkalse tussen die puinhope.
Op die stadium was die volk Israel mos in ballingskap. Hulle is as krygsgevangenes weggevoer na Babel. Hulle eie land het verlate gelê en die stad Jerusalem was verwoes.
Jerusalem wat in puin gelê het, was inderwaarheid simbolies van die volk se geestestoestand – vervalle, deurmekaar en hopeloos.
En nou het hierdie selfaangestelde profete hulle in die puin van die volk se vervalle geestelike toestand tuisgemaak. Soos jakkalse is hulle tuis in die puin. Daar waar ellende is, sak hulle toe om te aas.
Kyk waaroor verwyt die Here hulle. Hy sê in vers 5:
Hulle het nie gegaan na waar die muur omgeval het en weer ‘n muur om Israel gebou sodat hy staande kan bly in die oorlog wanneer die oordeelsdag van die Here kom nie.
Die selfaangestelde profete, sê die Here in vers 10, het die volk verlei.... hulle het gesê:
Dit sal goed gaan toe nie sou goed gaan nie....
Sit ons nie ook deesdae grootliks in ‘n soortgelyke toestand nie?
- Die kerk of te wel die volk van die Here se geestelike toestand laat veel te wense oor.
- ‘n Groot klomp Christene is deur die wêreld in ballingskap weggesleep. Baie Christene se lewenstyl en die van die wêreld lyk presies dieselfde.
- Mense wil graag nog bekendstaan as Christene, maar hulle dien die Here net op hulle eie voorwaardes. Jy sien dit sommer maklik aan swak erediensbywoning en die willekeurige dankoffers.
- En dan, soos Paulus sê, soek hulle leermeesters wat net sê wat hulle graag wil hoor.
- Die mense wil graag hoor: Dit sal met jou as Christen goed gaan .... Die Here is aan jou kant.... Tipies van die hedendaagse voorspoedsgodsdiens ....
- En dan is daar mos deesdae ook baie van hierdie sogenaamde geestelike leiers wat met die evangelie geld maak. Hulle lewe in absolute weelde omdat hulle soos jakkalse tussen die puinhope aas. Mens dink hier onder andere aan Amerikaanse evangeliste soos Kenneth Copeland, Benny Hinn, Joel Olsteen en Joyce Meyer. Hierdie mense kom met dwaalleer. Met hierdie dwaalleer sê hulle juis dit wat die mense graag wil hoor.
En dit bring ons by die groot probleem naamlik:
2. VAN NATURE SOEK DIE MENS SY EIE VERLOSSING
Om dit te verduidelik gebruik Esegiël ‘n volgende beeld wat by die vorige beeld aansluit.
Die Here sê die volk het vir hulleself tussen die puinhope van die verwoeste stad ‘n eie skermmuur gaan bou.
In vers 5 het die Here die selfaangestelde profete verwyt omdat hulle nie gaan werk het waar die stadsmuur omgeval het om dit te herstel nie... En nou gaan Hy verder en sê in vers 10:
Hulle (die vals profete) het my volk verlei, hulle het gesê: Dit sal goed gaan toe dit nie sou goed gaan nie, EN TOE DIE VOLK ‘N EIE MUUR BOU, het daardie profete dit netjies afgewit.
Die Here verwyt hierdie selfaangestelde profete dat hulle die volk sterk in hulle kwaad. In plaas daarvan dat die profete die volk teruglei om die stad van God en die tempel van God te herbou, help hulle die volk om hulle eie selfgeboude skermmuur tussen die puinhope te verf.
Verstaan u broeder en suster? Die profete leer nie die volk om hulle verhouding met die Here te herstel nie, nee, hulle praat die volk na die mond. En daarom is hulle baie gewild!
‘n Mens hou mos nie daarvan om op jou foute en tekortkominge gewys te word nie. Nee, jy verkies dit as jy opgehemel en aangemoedig word. Die mens wil sy eie lewe reël en niemand mag vir jou voorskryf wat jy moet doen nie. Die sondige mens wil doen soos hy wil en soos hy voel. Elkeen het mos sy menseregte!
Broeder en suster. Kom ons vra:
Wat verwag ek en jy vandag van die profete, die leermeesters, die predikante?
- Moet hy so preek dat jy goed voel?
- Wil jy van ‘n erediens af wegstap en sê: Dit sal met my goed gaan?
- Wil ek en jy hoor wat ons graag wil hoor of wil ons hoor wat die Here regtig sê?
- Is ons bereid om opofferings te maak deur uit ons gemaksone te beweeg sodat ons kan help opbou waar die geestelike muur omgeval het?
- Of verwag ons dat die leermeester of predikant ons moet help om ons eie skermmuurtjies wat ons vir onsself gebou het mooi te verf?
Broeder en suster. Mag die Here se profeet of te wel leermeester jou en my aanspreek oor betrokkenheid en diensbaarheid by omgeegroepe, erediensbywoning, dankoffers en gebedsbyeenkomste?
Luister wat het die Here deur sy profeet Esegiël vir die volk gesê:
Sê vir dié wat die muur afgewit het wat gaan val: Daar kom stortreëns, Ek laat haelstene val, stormwinde losbreek. Die muur gaan val, en die mense sal vir julle vra: Waar is die witsel waarmee julle dit afgewit het?(vers 11)
Broeder en suster, ‘n selfgeboude geestelike muur kan nie teen die storms van die lewe bly staan nie. U ken mos die gelykenis wat die Here Jesus vertel het van die twee huise. Een wat sonder fondasie en op die sand gebou is het geval toe die storm kom. Die ander huis met ‘n goeie fondasie en wat op die rots gebou is, het bly staan.
3. NET BY DIE HERE IS DAAR WARE REDDING
Eers wanneer die Here die skanse, die skermmure wat ons vir onsself gebou het afbreek, sien mens jou eie sondeverlorenheid raak.
Ja, as Hy die lewensstorms oor jou en my laat losbreek, sit daar inderwaarheid 'n groot stuk genade in......
As ons eie skermmuur omgestoot word, staan ons daar op ons eie. Gestroop van alles wat ons vir onsself bymekaar gemaak het. Dan soek ons skuiling. Dan soek ons hulp.
En dan hoor ons eers werklik, ons Verlosser se stem:
Kom na My toe almal wat uitgeput en oorlaai is en Ek sal julle rus gee".
Broeder en suster, solank ek en jy nog agter ons eie skermmuur sit, is ons baie tevrede met onsself. Dan luister ons lekker na die profete wat ons muurtjie kom verf met boodskappies wat ons graag na luister ....... Maar onthou, die Here noem sulke profete, wat jou en my in ons gehoor wil streel, jakkalse!
Die boodskap van hoop, is die boodskap wat jou en my roep om agter ons eie skermmure uit te kom en om te help werk aan die herstel van God se kerk. Dit beteken ons moet ons eie voorkeure eenkant toe skuif en buite ons gemaksone kom. Dit vra opoffering en moeite. Dit vra dat ek en jy ons eie dinge eenkant toe sal skuif ter wille van God se stad. Die nuwe Jerusalem. Ons ware, ewige hemelse erfenis.
Broeder en ster. Die Here verwag van sy profete om sy volk terug te lei na die vervalle mure en die puinhope van 'n gebroke verhouding sodat hulle kan begin met herstelwerk. Ja, ware bekering is nodig!
God het sy Seun gestuur om hierdie herstelwerk te doen.
Daarom het Hy by geleentheid gesê:
Breek hierdie tempel af en in drie dae sal Ek hom oprig
Hy het toe mos sy eie liggaam bedoel wat aan die kruis sou sterf en na drie dae uit die graf sou opstaan!
Die enigste manier wat ons die ware ewige lewe het, is wanneer ons deel het aan sy liggaam. Die kerk is die Here Jesus se liggaam. Dit is hier waar ons ledemate van sy liggaam is en dit is hier waar ons saamwerk aan die opbou van God se geestelike huis, sy ewige tempel! Deur ‘n ware, lewende geloof is ek en jy lewende stene in hierdie geestelike huis van God.
Daarom kom die opdrag aan elkeen van ons:
Laat julle as lewende stene opbou tot 'n geestelike huis, om 'n heilige priesterdom te wees en geestelike offers te bring wat deur Jesus Christus vir God welgevallig is. (1 Pet 2:5)
SLOT
Geliefdes, wat verwag u van u profete, u leermeesters?
Moet jou profeet, die een wat die Here se woord bring, jou help om die muur wat jy vir jouself gebou het netjies te verf?
Of verwag jy van hom om jou op te roep tot bekering sodat jy saam kan werk om die vervalle mure en puinhope van ‘n kerk wat deur die storms van die lewe stukkend geslaan is, te herstel sodat dit die ware geestelike huis van God kan wees?
AMEN.