Sosiale Skakels

Besoekers

We have 26 guests online

Teken In

Follow us on FacebookFollow us on Twitter


Thursday, 24 November 2011 07:16

ONS VADER VOED ONS OP TOT DIENSBAARHEID - JOHANNES 15:1 & 2

Written by 
Rate this item
(0 votes)

SKRIFLESING: JOH 15:1 – 8 EN HEB 12:4 – 12

TEKS:  JOH 15:1 & 2

TEMA: ONS VADER VOED ONS OP TOT DIENSBAARHEID

 

 ʼn Mens voel mos partykeer dat jou geloof nie op standaard is nie. Dan voel dit of jy nie behoorlik by die Here uitkom nie. Jy is Sondag in die erediens en tuis lees jy jou Bybel, maar daar kort iets.  Jy bid, maar dit voel nie of dit regtig help nie.  Jou lewe wil maar net nie lekker koers kry nie. Dinge loop eenvoudig net skeef.  En dan wonder jy: Wat gaan aan?

Die gedeelte wat ons sopas saam gelees het, vertel hoe die Here Jesus met sy dissipels praat net enkele ure voordat hy verraai is en gevange geneem is.  Vir Hom en sy dissipels sou die nag wat voorlê, verder baie traumaties verloop. 

Jesus en sy dissipels het pas die bovertrek waar Hy die nagmaal ingestel het verlaat en so oppad uit het Hy  gesê dat hulle almal Hom dieselfde nag nog in die steek sou laat. Dit het hulle hewig ontstel.  As hulle maar geweet het wat nog voorlê!

Buite die stad het hulle deur die Kedronvallei na Getsemane gestap. Teen die hange van die Kedronvallei was daar ou wingerde. Waarskynlik was dit daar tussen die druiwe waar die Here Jesus gaan staan en gesê het:

Ek is die ware wingerdstok en my Vader is die boer

Hierdie was heel waarskynlik die laaste gesprek wat die Here Jesus met sy dissipels voor sy kruisiging gehad het.  En waaroor praat Hy?  Oor hulle verhouding met Hom.

Hier tussen die druiwe, heel moontlik met  ʼn druiwerank in sy hande, verduidelik Hy aan hulle hoe  ʼn mens se verhouding met God werk.  ʼn Mens word deur geloof aan Jesus verbind. Hierdie verbintenis is so heg en innig soos lote aan ʼn wingerdstok.  Hierdie wingerdstok is God se eiendom.  Jesus sê: Ons hemelse vader is die boer.  Hy versorg sy wingerd, elke rank kry persoonlike aandag,  want Hy wil hê dat sy wingerd  ʼn oes sal lewer. 

Kom ons kyk  na ons hemelse Vader se werk in sy wingerd.  Die eerste lote waarna Hy kyk, is die lote wat afgesak het.  Veral nuwe lote groei vinnig, maar sak dan af.  Naderhand lê hulle sommer op die grond. Kyk wat doen Hy met die lote:

 

1.  HY TEL DIE WAT IN DIE STOF Lê OP

Soms kan die lewe jou so aftrek dat dit vir jou voel of jy in die stof en modder lê.  En jy kan net nie opkom nie!  Sodra jy probeer opstaan, kom daar weer  ʼn vlaag wind of  ʼn stortbui reën wat jou eenvoudig weer platdruk en die modder in jou gesig laat spat.

As  ʼn loot so in die grond lê, is daar nie  ʼn kans dat hy vrugte kan dra nie. Die boer moet baie spesiale aandag aan so ‘n loot gee om hom te help om te herstel sodat hy vrugte kan dra.

Maar nou moet ek net eers u gedagtes  ʼn oomblik onderbreek.  Ons sit hier in ons teksvers ongelukkig met  ʼn vertaalprobleem.  Kyk hier staan in vers 2: Elke loot aan My wat nie vrugte dra nie, sny Hy af....  Die Griekse woord wat hier met afsny vertaal word, word op ander plekke in die Bybel met optelof dra of wegneemvertaal.  So lees ons die dissipels het, nadat die Here Jesus die 5 000 mense kos gegee het, 12 mandjies oorskiet opgetel. Dieselfde woord word gebruik toe Simon van Sirene die Here Jesus se kruis moes dra. En Johannes die Doper het gesê dat Jesus die Lam van God is wat die sonde van die wêreld sal wegneem

Die Here Jesus sê vir sy dissipels:  Elke loot aan My wat nie vrugte dra nie....  Dit gaan dus oor iemand wat in Christus is, wat deur  ʼn ware geloof in Hom ingelyf is. Dit is  ʼn loot wat aan die wingerdstok vas is, maar nie vrugte dra nie.  .   ʼn Beter vertaling van ons teksvers is dus: Elke loot aan My wat nie vrugte dra nie, tel Hy op.  Hy maak so  ʼn loot skoon.  Hy neem die stof en modder weg en maak die loot netjies aan die prieel vas sodat dit ondersteun word om nie weer af te sak nie.

Is jy dalk so ʼn loot?  Het die lewe jou plat gedruk sodat jy in die stof lê?  Het mislukking of hartseer of siekte die modder op jou laat spat?  Is jou finansies soos  ʼn stoflaag oor jou blare sodat jy nie asem kry nie?  Het  jou huwelik jou lus om vrugte te dra geknou?  Laat jou kinders of jou kollegas by die werk jou blare verlep?

Jesus sê ons hemelse Vader sny nie  ʼn loot wat afgesak het en plat in die grond lê af nie.  Nee, Hy tel jou op en maak jou skoon en maak  jou hoër op aan sy prieel vas.  Hy wil hê jy moet vir Hom vrugte dra.

Maar geliefdes,  daar is nog ander lote aan die wingerd. Wat doen Hy met hulle?

 

2. HY SNOEI DIE LOTE WAT MIN VRUGTE DRA, REG

Wat is hier die probleem?  Hy gepraat nou nie van lote wat geen vrugte kan dra nie.  Nou praat die Here van lote wat wel vrugte dra, maar nie genoeg nie!

In  ʼn wingerd moet daar baie snoeiwerk gedoen word om elke loot sy volle potensiaal te laat produseer.

Wat moet weggesny word?  As jy na  ʼn boer kyk wat lote of ranke regsnoei, sal jy hom wil keer. Op  ʼn stadium sny hy klein druiwetrossies af!  Te veel aan  ʼn loot belemmer sy produksie!

Ek of jy is dalk  ʼn loot wat te veel dinge in ons lewe het wat onnodig energie gebruik en ons aandag verdeel.  Dit is dinge wat in die pad van jou diensbaarheid staan. Waarom kla ons altyd oor hoe besig ons is? Ons het te veel hooi op die vurk!   Dinge soos geldgierigheid of   ʼn  slegte gewoonte moet weggesnoei word..  Verkeerde vriende of  ʼn verslaafdheid aan jou beroep staan in die pad van jou produktiwiteit.  As jy ʼn plesierjagter is of sommer net te selfgesentreerd lewe, kan snoeiwerk baie noodsaaklik wees. 

Die Here ontleed ons elkeen se lewe en Hy snoei al sulke slegte gewoontes en dinge wat jou aandag verdeel of waarop jy jou krag vermors uit jou lewe uit.  As Hy jou snoei, is dit ongemaklik, ja, dit is seer!

Ons het mos in Hebreërs 12 gelees:

My kind, moet dit nie gering ag as die Here jou tug nie en moenie mismoedig word as Hy jou teregwys nie, want die Here tug Hom wat Hy liefhet, Hy straf elkeen wat Hy as kind aanneem.

Ons is die Here se kinders en as ons met ons ongehoorsaamheid of eiewilligheid en selfgesentreerdheid ons toekoms in gevaar stel, tree Hy op!

Soms is  ʼn mens vir maande of selfs jare lank ongelukkig en terneergedruk.  Jou lewe kry net nie koers nie. Jou huwelik wil nie werk nie of  jou finansies bly in  ʼn toestand. Dit is wanneer die Here  besig om jou te dissiplineer. Solank jy aan verkeerde dinge vasklou of bepaalde sondes bly koester, sal Hy jou dissiplineer. Hy hou aan tot jy is waar Hy jou wil hê. In Hebreërs 12 sien ons hoe sy snoeiwerk in intensiteit toeneem:

·         Hy begin met  ʼn  teregwysing.  Dit beteken daar word gepraat. As jy luister en regmaak, is die probleem opgelos.  Maar as jy nie reageer nie, moet jou hemelse Vader strenger optree.

·         Daarom volg daar die tug. Dit is beteken om te dissiplineer. Die kind wat nie na  ʼn teregwysing reageer nie, word nou gedissiplineer. Hy word, sê maar, na sy kamer toe gestuur. 

·         Die ernstigste optrede volg wanneer niks anders meer help nie. Dit is staf. Ja,  ʼn goeie pakslae is die laaste uitweg!

Waarom gaan ons hemelse Vader tot hierdie uiterstes? 

 

3. HY WIL Hê ONS MOET MEER VRUGTE DRA

Die Here het ons mos verlos en met  ʼn ware geloof aan ons Here Jesus Christus verbind, sodat ons vrugte sal dra.  In vers 8 sê ons Here Jesus: 

My Vader word juis daardeur verheerlik dat julle baie vrugte dra en my dissipels is.

Met voorbereiding vir nagmaal, is selfondersoek mos juis die saak wat op die tafel is.  Ons moet elkeen na ons eie lewe kyk en persoonlik ons gesindheid ondersoek.

 Dan moet ons onsself afvra:

·         Wat is die vrugte waarmee u ons hemelse Vader verheerlik?

·         Wat doen ek om sy koninkryk uit te brei?

·         Op watter manier is ek vir Hom  ʼn getuie?  By die werk? In die skool? Tussen my vriende? By familie?

·         Ja, watter verskil maak ek aan die omgewing waar ek lewe? Verdryf ek die sondeduisternis met my lig? Is ek sout wat smaak gee en die bederf teenwerk?

·         Beleef mense die liefde en vergewensgesindheid van die Here Jesus as hulle met my te doen kry?

 

Ons is aan ons Here Jesus Christus verbind met die uitsluitlike doel om vir ons hemelse Vader vrugte te dra.

Genadiglik word ons nie aan ons eie kragte oorgelaat om dit te doen nie.  Ons Here Jesus is die wingerdstok. Ons is die lote wat aan Hom verbind is. Sodoende ontvang ons sy Gees, die Heilige Gees.  Daarom praat die apostel Paulus van die vrug van die Gees in  ʼn gelowige se lewe. 

SLOT

As ek en jy met  ʼn ware geloof aan ons Here Jesus Christus vashou en positief reageer op die liefdevolle versorging van ons hemelse Vader, ja selfs as ons gesnoei word, dan sal ons baie vrugte dra en sodoende ons hemelse Vader verheerlik.

                                                                     AMEN.

Read 3373 times Last modified on Thursday, 08 March 2012 11:46
Danie de Kock

Website: www.facebook.com/profile.php?id=1438745475 Email This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it
Login to post comments

Soek