SKRIFLESING: HEB. 4:1 – 13
TEKS: HEB. 4:12 & 13
BELEEF DIE KRAG VAN DIE WOORD
As God praat, begin dinge gebeur.....
Jy sien dit sommer op die eerste bladsy van die Bybel en boonop binne die eerste 3 verse waar daar staan:
Toe het God GESÊ: "Laat daar lig wees!" EN DAAR WAS LIG... (Gen1:3)
In Jes. 55 sê die Here:
So sal die woord wat uit my mond kom, ook wees: Dit sal nie onverrigter sake na My toe terugkeer nie, maar DIT SAL DOEN WAT EK GEDOEN WIL HÊ en tot stand bring waarvoor ek dit gestuur het. (Jes. 55:11)
In ons teksvers het ons gelees:
Die woord van God is lewend en kragtig. Dit is skerper as enige swaard met twee snykante en DRING DEUR TOT DIE SKEIDING VAN SIEL EN GEES en van gewrigte en murg. DIT BEOORDEEL die bedoelings van die hart.
Wat deur ons teksvers op die tafel geplaas word, is die feit dat die Bybel beslis nie sommer maar net nog 'n boek op die rak nie.
Sodra ek en jy die Bybel oopmaak en daarin lees, kry ons met God persoonlik te doen. Ons word met sy kragtige woord gekonfronteer, daardie woord wat dinge laat gebeur. Die woord wat nie onverrigter sake na Hom toe terugkeer nie.
In ons teksgedeelte waarsku die Hebreërskrywer sy lesers teen die groot fout om die krag van God se woord te onderskat.
Die woord van God is ‘n saak van lewe of dood .... ewige lewe of ewige dood.
As ‘n mens die boek Hebreërs met aandag lees, kom jy agter dat die skrywer van die boek, wat terloops onbekend is, ‘n bepaalde skema gebruik. Gewoonlik praat ons van die brief aan die Hebreërs, maar dit is nie ‘n brief nie, dit is eerder ‘n lang preek. En in die preek gebruik die skrywer deurgaans ‘n skema of struktuur van verlede, hede en toekoms. Hy praat met sy lesers oor hulle huidige situasie, d.w.s in die hede. Hy is dus baie aktueel. Dit wat hy oor die hede sê, gryp hy egter nie sommer uit die lug nie. Hy begrond dit in die verlede. En dan laat hy ook nie dit wat hy sê sommer in die lug hang nie. Hy sê dit met die oog op die toekoms.
Kom ons kyk wat het die Hebreërskrywer destyds vir sy lesers in hulle bepaalde omstandighede gesê:
1. BEYWER JULLE OM IN DIE RUS IN TE GAAN
Hy praat oor die hede. Kyk na vers 1:
Terwyl die belofte om in sy rus in te gaan nog van krag is, moet ons oppas dat dit nie miskien later blyk dat een van julle agtergebly het nie.
Wat is hierdie RUS waarvan ons lees?
Vir die volk Israel het dit die verlossing uit die slawerny van Egipte beteken. As slawe is hulle verneder en onderdruk. Hulle is onder die slawedrywers van alle vryheid en regte beroof. Hulle het geen rus geken nie – net lyding en nood. Die Here het hulle deur Moses uit die slawerny bevry en hulle na hulle beloofde land Kanaän gelei. Daar sou hulle nie soos slawe werk nie, want dit is ‘n land van vryheid en ook oorvloed.
Vir die mense in die Nuwe Testamentiese tyd, en ook ons vandag, beteken hierdie RUS om van die slawebande van die sonde bevry te wees. Onder leiding ons Verlosser Jesus Christus wat God, soos Moses destyds na die Israeliete, ook na ons gestuur het, is ons op pad na ons beloofde land – die ewige lewe!
Om die RUS wat God belowe in te gaan, moet jy aan Hom gehoorsaam wees. Jy moet die woord van God in geloof aanneem.
Kyk wat staan in vers 2:
Ons het die blye boodskap ontvang net soos hulle, maar hoewel hulle die prediking gehoor het, het dit hulle niks gebaat nie, omdat hulle nie geglo het wat hulle gehoor het nie.
Verstaan u wat die Hebreërskrywer doen?
Hy waarsku sy lesers, wat waarskynlik Joodse Christene in Rome was, om nie soos hulle voorouers, die Here se woord te minag nie.
Hy het hulle verlos uit Egipte en aan hulle sekere beloftes gegee, maar hulle die woord van God geminag en daarom het die meeste van hulle in die woestyn gesterf!
Dit gaan dus oor reaksie op die woord......
Wat doen die woord aan jou en my?
Ons teksverse beskryf die woord:
Die eerste eienskap van die woord is: Dit is lewend.
Die woord van God is nie maar ‘n klomp dooie letters op papier nie. Dit lewe. Dit is soos saad wat in die grond val en begin groei en dan vrugte dra. Dit is soos ‘n helder lig wat die donker verdryf. Dit is soos water – sonder water kan daar nie lewe wees nie.
In die tweede plek is God se woord kragtig. Die oorspronklike woord wat hier in Grieks gebruik word, is “energes”. Hier hoor jy ons woord“energie”. Dit beteken dus God se woord is vol energie.
En dan is dit verder skerper as enige swaard met twee snykante. Dit skei dinge wat normaalweg nie geskei kan word nie: Siel en gees en gewrigte en murg. Dit lê selfs die bedoelings en gedagtes van jou hart bloot!
Daarom, broeder en suster. Gee ag op God se Woord!
Kyk wat staan in vers 13:
“Daar is ook niks in die skepping wat vir God onsigbaar is nie; alles lê oop en bloot voor sy oë........
En aan Hom moet ons rekenskap gee. “
Ek en jy hoor Sondag vir Sondag God se woord. Ons het sy beloftes gehoor die dag toe ons kinders gedoop is. Ook met elke Nagmaal hoor en sien ons wat Hy aan ons belowe.
Ja broeder en suster, wat doen die woord aan ons? Israel het die woord gehoor, maar nie geglo nie!
Die Hebreërskrywer waarsku sy lesers: Julle loop op dun ys.
2. LEER UIT DIE FOUTE VAN DIE VERLEDE
Israel het die Here se woord gehoor, sy wonderdade gesien en nog steeds in opstand gekom. Kom ons lees weer vers 6:
Dié wat vroeër die blye boodskap gehoor het, het dus vanweë hulle ongehoorsaamheid nie in sy rus ingegaan nie....
Die Israeliete was almal op pad na die rus van hulle beloofde land. Maar toe hulle aan God se beloftes moes vashou, verlang hulle terug na die vleispotte van Egipte! Hulle kla oor hulle lewe in die woestyn.
Selfs toe hulle al op die drumpel van die beloofde land staan, is hulle te bang om in te trek. Hulle sien nie kans om God met hulle lewe en hulle toekoms te vertrou nie. Hulle staar hulle blind teen mense en omstandighede. En wat is die gevolg? Op die ou end sterf hulle almal in die woestyn!
Nou sê die Hebreërskrywer aan sy lesers en ook aan ons vandag:
Leer uit die foute van die verlede.
Wat maak ek en jy vandag met God se opdrag om sy rus in te gaan? Is ons bereid om ons hele lewe vandag in Suid Afrika in sy hand te plaas en saam met ons Here Jesus Christus as oorwinnaars te lewe?
Gryp ek en jy met ‘n ware geloof aan die nuwe lewe in ons Here Jesus vas? Leef ons onder die kragtige leiding van die Heilige Gees? Ons hoor mos ons Sondag vir Sondag dat ons in Christus meer as oorwinnaars is. Keer op keer verseker die Here ons dat niks ons van die liefde van Christus kan skei nie........
Glo ons dit? ............ Of kla ons?
Kla ons oor die Here ons laat woon in die haglike toestande in ons land? Kla ons oor ons nie genoeg geld het nie? Kla ons oor die Here toelaat dat ons gesondheid agteruitgaan? Kla ons oor mense wat die Here op ons pad bring? Kla ons oor dinge nie volgens ons wil en vereistes loop nie?
Die Here lei ons op die spreekwoordelike woestynpad, maar Hy is met ons op pad na ons beloofde land - die ewige lewe in die Vaderhuis.... Glo ons dat Hy ons elke dag lei en bewaar?
Die Here sien so 'n selfsugtige gekla as opstandigheid!
Die meeste Israeliete het nie die rus van hulle beloofde land gesien nie. Hulle het in die woestyn gesterf!
Wat moet ons dan doen?
Wat moet ek en jy vandag hier leer?
3. GEHOORSAAM DIE WOORD, DIT WAARBORG EWIGE RUS
Die Here gee ons die versekering: Sy woord keer nooit leeg na hom terug nie.
Die Here praat voortdurend met ons. En daar is nie wegkruipplek nie. Die helder lig van sy woord skyn tot in die donkerste hoekies van ons elkeen se lewe. Dis soos 'n vlymskerp swaard wat oopkloof en ontbloot. Dit beoordeel die bedoelings en oorwegings van die hart.
Kom ons dink so ‘n bietjie mooi: Solank 'n mens buite bereik van die Woord beweeg, is jy gewoonlik heel tevrede met jouself. Jy meet jouself dan net aan ander mense met wie jy te doen kry. En jou ideale en drome word bepaal deur dit wat die wêreld rondom jou aan jou voorhou as sukses en voorspoed.
As die woord met sy helder strale en skerp snykante egter jou lewe binnedring, verander dit jou wese. Dit lê jou sondige begeertes en denkwyse bloot. Dit meet jou ongehoorsaamheid en belig jou klagtes. Dit sny dwarsdeur jou selfgesentreerdheid en ontbloot jou totale verlorenheid.
Die woord doen egter nog baie meer!
Dit vertel jou van God se liefde en genade. Dit wys aan jou die weg na die ware rus van ‘n lewe saam met jou hemelse Vader. Jy sien in die geloof die ware verlossing in en deur ons Here Jesus wat na ons toe gekom het juis om ons uit die slawebande van die sonde en die dood te kom verlos. Jy ervaar die bruising van 'n nuwe lewe onder leiding van die Heilige Gees.
En dan ervaar jy die vernuwing en die toewyding en die bereidheid tot opoffering in jou eie lewe. Ander mense merk dit ook op en dit spreek tot hulle. Hulle kan sien dat jy 'n pad saam met die Here loop. Jou gesindheid en jou optrede is die bewys daarvan.
Luister wat staan in vers 14
Terwyl ons dan nou ‘n groot Hoëpriester het wat reeds deur die hemele gegaan het, Jesus, die Seun van God, laat ons styf vashou aan die geloof wat ons bely.
Die vraag is nou:
- Hou ons styf vas aan die geloof wat ons bely?
- Hoe sien ons dit in ons eie en in mekaar se lewens?
- Hoe lyk ons erediensbywoning? Is ons nog so ywerig soos dit hoort of is Sondae al hoe meer 'n ontspanningsdag en uitstappiedag soos die Engelse spreuk dit stel: "Sunday is fun day"?
- Hoe lyk ons dankoffers? Kan mense aan ons dankoffers sien dat ons dankbaar is vir die Here Here se verlossingswerk en die nuwe lewe onder leiding van die Heilige Gees?
- Hoe lyk ons bereidwilligheid om in die Here se diens te werk? Om byvoorbeeld ywerig by 'n diensgroepe in die gemeente in te skakel?
- Wat is ons regtig bereid om op te offer vir die saak van die Here? Kom die dinge van die Here eerste of het ons ander prioriteite.
As ek en jy regtig erns maak met die Here se woord, waarborg hy ‘n nuwe lewe van rus en vrede. Dinge in ons lewe sal verander.
- Ons sal hierdie rus sekerlik ervaar as ons as huisgesinne weer elke dag rondom die woord saamkom en behoorlik huisgodsdiens hou.
- Ons sal die rus ervaar as ons die gulde geleentheid gebruik om saam met ons medegelowiges in Omgeegroepe saam te kom en saam te besin oor die lig van die woord in ons lewens. Dis die ware gemeenskap van die heiliges.
- Ons sal die rus ervaar as ons met ons medegelowiges eendragtig saam bid om die kragtige werking van die Heilige Gees. Dan sal daar groei in ons geloof kom. Ons sal vrugte dra tot die uitbreiding van God se koninkryk.
- Ons sal die rus ervaar as ons weer getrou is en erns maak met ons gereelde ontmoeting met die Here op Sondae.
- Ons as gemeente sal die rus ervaar in die feit dat ons ‘n helder lig in ons samelewing sal wees wat in liefde by die waarheid bly en in alle opsigte groei na Christus toe.
SLOT
Die Here se woord is lewend, kragtig en skerp.
As ek en jy dit ernstig opneem, maak die woord ‘n ware geloofslewe vol bruisende energie in jou los. Dit is ware rus ....
OF
As mens die woord minag, gebeur wat met Israel in die woestyn gebeur het: Hulle het in ‘n doodloopstraat beland. Hulle het geen rus gekry nie ....
Onthou wat staan in vers 6:
Dié wat vroeër die blye boodskap gehoor het, het dus vanweë hulle ongehoorsaamheid nie sy rus ingegaan nie....
As jy God se Woord minag, speel jy met jou toekoms!
AMEN.