Sosiale Skakels

Besoekers

We have 21 guests online

Teken In

Follow us on FacebookFollow us on Twitter


Error
  • JUser::_load: Unable to load user with id: 133
Thursday, 24 November 2011 07:19

NAGMAAL: BLY IN CHRISTUS EN DRA BAIE VRUGTE - JOH. 15:1 – 8

Written by 
Rate this item
(1 Vote)

NAGMAAL

SKRIFLESING: Joh. 15:1 – 8

TEKS: JOH 15:5

BLY IN CHRISTUS EN DRA BAIE VRUGTE

 

Die Here Jesus het, toe hy reeds oppad na die kruis was, dieselfde nag wat Hy verraai is en gevange geneem is, vir sy dissipels gesê:  Ek is die ware wingerdstok en my Vader is die boer. En net  ʼn paar verse verder: Ek is die wingerdstok, julle die lote.

Met hierdie beeld van die wingerdstok met sy lote, wat deur die boer versorg word, het die Here Jesus  ʼn volmaakte illustrasie gegee van ons elkeen se verhouding met God. Verder ook wat ons plek en ons doel in hierdie verhouding is.

Ons weet mos dat die uitsluitlike doel van  ʼn wingerdstok met sy lote is om vrugte te produseer. Daarom sê die Here Jesus in vers 8: My Vader word juis daardeur verheerlik dat julle baie vrugte dra...

Die wingerdstok het natuurlik deur ou Israel se geskiedenis  ʼn baie prominente rol gespeel.  ʼn Mens lees die eerste keer van  ʼn wingerd in die Bybel toe Noag uit die ark gekom het. Hy het toe ʼn wingerdstok geplant.  Dit was simbolies vir God se nuwe begin met die mensdom. Maar Noag vergryp hom aan die vrug van die wingerd.  Jesaja beskryf op sy beurt in Hfst. 5 die volk Israel as die Here se wingerd.  Hy sê die Here verwag  ʼn goeie oes, maar die wingerd bring suur druiwe voort.  Daarom beland die volk in ballingskap.

Die tragiese lyn deur die Ou Testament was die feit dat die Here se wingerd as gevolg van die sonde, nie  ʼn goeie oes kon lewer nie.  Daarom gryp God persoonlik in. Hy kom maak Self, in die Persoon van die Seun,  ʼn heel nuwe begin.   Verstaan u waarom ons Here Jesus kom en sê:  Ek is die ware wingerdstok....

En luister nou sy opdrag aan ons elkeen wat  ʼn loot aan daardie wingerdstok is:  

 

 

 

1. BLY IN MY

Bly in Mysê die Here ... want sonder My kan julle niks doen nie

Wat dink u beteken dit om in die Here Jesus te bly?  Die Griekse woord, wat hier gebruik word, se basiese betekenis is om in  ʼn huis te woon.  Dit gaan oor jou woonplek. Daar waar jy tuis is en veilig voel.  As die Here Jesus sê dus dat elkeen van ons in Hom moet bly, beteken dit dat ons geestelik by Hom sal intrek.  Hy moet ons huis, ons woonplek wees!

Maar kom ons word nou prakties. Wat dit beteken om in ons daaglikse lewe in die Here Jesus te bly?

Kom ons sê eers wat dit nie beteken nie. Dit beteken nie dat jy vreeslik baie van die Bybel en geloof en die kerk hoef te weet nie. 

Wat beteken  dit wel? As jy in die Here Jesus Christus bly of in Hom woon, beteken dit dat jy na Hom soek, na Hom verlang, vir Hom wag, Hom sien, Hom  ken, Hom liefhet, na Hom luister en op Hom reageer.

Dit gaan oor  ʼn lewende verhouding met Hom as persoon.  Jy bly immers saam met Hom!  En omdat jy en die Here Jesus so saam woon, weet Hy presies wat jy dink en doen en voel. En op jou beurt weet jy ook baie goed wat Hy dink en doen en voel.

Weet u? Dit is nou presies wat ons vanoggend weer hier aan die tafel gaan beleef! Ons gaan sy teenwoordigheid ervaar.  Hy gaan ons deur sy Heilige Gees met sy liggaam en bloed voed en versterk!  Ons wys en beleef ons eenheid met Christus en ook met mekaar.

Die Here Jesus gaan elkeen van ons wat hierdie nagmaal met  ʼn opregte hart vier, innerlik voed en versterk sodat ons baie vrugte vir ons hemelse Vader kan dra.

Onthou, ons het aan die begin gesê dat die Here Jesus  ʼn opdrag gee:  Bly in My.  In die 8 verse wat ons saam gelees het, sê die Here Jesus 10 keer dat ons in Hom moet bly!   Dit is bepaald vir Hom baie belangrik is dat ons in Hom moet  sal bly.

 

2. HOE VOER ONS SY OPDRAG UIT?

Wanneer ek en jy verstaan hoe geweldig groot sy liefde vir ons is en hoe Hy sy lewe met ons wil deel, soos die wingerdstok sy sap met die lote deel, het ons al die eerste belangrike stap geneem.  En dan verstaan ons uiteraard ook meer van vandag se nagmaal.

Om in Hom te bly, het egter met meer as die nagmaal te doen. Dit gaan oor  ʼn verhouding.

Ons verhouding met Hom word duidelik uit  ʼn leefwyse waar ons daaglikse Bybellees en bid  ʼn wesenlike deel van ons dagprogram uitmaak.  Maar nou mag dalk vir baie van ons  ʼn skok wees as ons uitvind dat  ʼn mens vir jare lank kan Bybellees en bid sonder om  in Hom te bly. 

Dit gaan oor HOE jy Bybellees en bid! 

Jy kan Bybellees  byna soos om  ʼn outobiografie van ʼn persoon te lees sonder om die persoon wat die boek geskryf het regtig te ken.  Dan bly net  ʼn verstandsding wat eintlik niks met jou hart te doen het nie. Jy weet alles wat jy gelees het, maar dit het niks met jou hart te doen nie.

Net so kan  ʼn mens ook bid, sonder dat dit uit jou hart uit kom. Ons tafelgebede is dikwels van so  ʼn aard. Jy sê so  ʼn bekende rympie uit gewoonte op, maar dink nie eers werklik oor dit wat jy sê nie.

Om in die Here Jesus te bly, beteken om deur sy Woord en Gees gevoed te word. Ons Bybellees en gebed moet in die ware sin van die Woord  ʼn daaglikse, bewustelike en opbouende gesprek tussen ons en die Here wees. Ons moet met Hom praat soos omdat ons Hom persoonlik goed ken en omdat ons Hom liefhet en Hom vertrou. Sodoende groei ons in ons verhouding met Hom!   En dan sal ons, so belowe die Here Jesus

 

3. BAIE VRUGTE DRA

Onthou, vrugte groei op  ʼn natuurlike wyse uit die plant. Omdat die lote aan die wingerdstok vas is, en die lewensap vanuit die wingerdstok in die lote invloei, verskyn daar vrugte.

Hoe beter die verbinding met die wingerdstok, hoe beter is die oes aan die loot!

Onthou u? Verlede week met voorbereiding het ons gehoor dat ons hemelse Vader ons reg snoei sodat ons meer vrugte kan dra.  Hy werk met elkeen van ons persoonlik, want Hy is soos enige goeie boer nie tevrede met  ʼn bietjie vrugte nie.  Hy wil  ʼn goeie oes hê.  En by  ʼn wingerdstok  is snoeiwerk, selfs in die groeiproses  aan elke indiwiduele loot van die uiterste belang.

Vandag drink ons hier aan die Nagmaalstafel wyn wat uit die oes van  ʼn wingerdstok gemaak is om ons daaraan te herinner dat ons deel het aan die ware wingerdstok Jesus Christus.

Die Here Jesus wys ons op die feit dat ons net soos lote nie op ons eie kan vrugte dra nie. Ons moet in Hom bly, dan kan ons baie vrugte dra en ons hemelse Vader verheerlik.

SLOT

Hier aan die Nagmaalstafel beleef ons die hegte eenheid met ons Here Jesus Christus. Ons ervaar die werking van die Heilige Gees wat die ware lewe van Christus in ons laat invloei. Ja, ons kry weer nuwe krag om uit te gaan en vir ons hemelse Vader vrugte te gaan dra.

                                                                  AMEN.

Read 14592 times Last modified on Thursday, 08 March 2012 11:06
Danie de Kock

Website: www.facebook.com/profile.php?id=1438745475 Email This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it

1 comment

  • Comment Link Gerhard du Plessis Tuesday, 29 November 2011 17:47 posted by Gerhard du Plessis

    dagse
    Dit was 'n goeie preek gewees wat my aangereek het en ek is bly ek kan al die preke op die webblad kry.
    Ds. danie hou so aan met die goeie preke van jou.
    Groete
    Gerhard du Plessis

Login to post comments

Soek