1. WAARHEID SONDER LIEFDE IS HARD
Hierdie gemeente het, soos dit hoort, met groot erns en toewyding aan die waarheid vasgehou, maar die liefde het ontbreek.....
Om aan die waarheid vas te hou verg groot inspanning en voortdurende opoffering. Dit verg volgehoue studie om jou kennis van die Skrif uit te brei. Hoe meer jy jouself in die Skrif verdiep hoe beter sal jy weet wat die Here se wil is. Ja, hoe beter sal jy die WAARHEID ken en dit ook in jou daaglikse lewe kan toepas.
Sonder die waarheid, raak die kerk sommer gou die spoor byster, want dan word mense se idees en sienings of selfs bepaalde gewoontes die maatstaf.
Ons moet egter goed verstaan dat blote kennis van die Woord maklik in 'n klomp koue feite kan ontaard.
Daar is mense wat die Skrif jare lank bestudeer en vir wie dit niks anders as 'n koue harde akademiese kennis is nie. Sogenaamde moderne teoloë is ook met die Bybel besig, maar hulle lees dit vanuit hulle humanistiese oogpunt en vergelyk dit met allerhande buite-Bybelse geskrifte. So kom hulle by allerhande standpunte uit wat in stryd met die boodskap van die Bybel is. Die beste voorbeeld is seker vandag die sogenaamde nuwe hervormers wat nie meer die letterlike maagdelike geboorte of opstanding van Jesus Christus wil aanvaar nie.
Om die Bybel te ken, beteken nog glad nie dat jy 'n goeie gelowige is nie! Dit is mos Jakobus wat in sy brief geskryf het:
"Glo jy dat daar net een God is? Dit is reg, die bose geeste glo dit ook - en hulle sidder van angs"
Om van die HERE te weet, maw om kennis van Hom te hê soos wat dit in die Bybel staan, beteken nog glad nie dat jy werklik as gelowige lewe nie. Geloof nie net ’n gewisse kennis nie, maar ook ’n vaste vertroue. Dit gaan dus oor meer as die waarheid. Dit gaan oor hoe die waarheid in jou hart lê.... en dan gaan dit mos oor liefde.
Waarheid sonder liefde is hard en genadeloos. Hierdie soort waarheid sukkel om te vergewe. Dit sukkel om barmhartigheid te bewys.
As ʼn mens met nougesette ywer en toewyding by die waarheid bly, maar nie die liefde daarmee saam het nie, verys jou godsdiens in ’n yskoue formalisme. Dan sukkel jy met verhoudings. Jy kry dit dan nie behoorlik reg om God bo alles lief te hê en jou naaste soos jouself. Die apostel Paulus sê:
"Al het ek die gawe om God se boodskap te verkondig en ken ek al die geheimenisse en besit ek al die kennis en al het ek al die geloof om berge te versit, maar ek het geen liefde nie, dan is ek niks". (1 Kor. 13:2)
Die teendeel is egter netso waar. Liefde sonder die waarheid werk ook glad nie, want
2. LIEFDE SONDER DIE WAARHEID IS SENTIMENTEEL
Hoe lyk liefde. Ons het dit mos in 1 Kor. 13 gelees. Liefde glo alles, hoop alles en verdra alles. Liefde gaan bo-oor die grense wat ons mense stel.
Liefde opsigself word egter deur die mens skeefgetrek. Daarom sê die spreekwoord: Liefde is blind. Ouers is byvoorbeeld dalk so lief vir hulle kinders dat hulle soms blind is vir die kinders se foute. Jong verliefde paartjies trap ook maklik in die slaggat om verby mekaar se foute te kyk.
Liefde sonder waarheid is sentimenteel. Dit is ʼn blote gevoel wat mettertyd verdwyn. Ongelukkig probeer sommige mense hulle geloof net op liefde wat so ʼn gevoel is, bou. Dan soek hulle gedurig na ʼn nuwe gevoel of ervaring
Wanneer God sy liefde aan ons bewys, gaan dit nie oor een of ander gevoel nie. God se liefde is ʼn daad! Hy stuur sy enigste Seun om hier op aarde vir ons, sy vyande, aan die kruis te kom sterf!
In Christus vind waarheid en liefde die perfekte balans.
Die gryse ou Johannes het dit goed geweet en daarom waarsku hy die gemeente aan wie hy skryf. In vers 8 en 9 sê hy: "Julle moet toesien dat julle nie verloor wat ons voor gewerk het nie, maar dat julle die volle loon ontvang. Elkeen wat nie by die LEER oor Christus bly nie, maar daaraan verander, erken God nie"
Sonder die Here Jesus Christus is daar nie waarheid of liefde nie.
Johannes sê in vers 10: "As iemand na julle toe kom en 'n ander leer bring, moet julle hom nie eers in julle huise ontvang nie en hom selfs nie groet nie, want wie hom groet, is saam skuldig aan die kwaad wat hy doen"