1. KYK NA DIE AANSLAG:
Terwyl Koning Hiskia en sy leërs gereed is om hulle stad Jerusalem teen die inval van koning Sanherib van Assirië te verdedig, storm daar toe nie ʼn klomp soldate op die mure van die stad af nie. Nee, daar word met ʼn heel ander strategie vorendag gekom - daar word gepraat!
Daar gaan eers ʼn boodskap na die koning. Hy moet vrede met die vyand maak. Hy moet hom aan die vyand onderwerp. Hy het tog nie ʼn kans teen die oormag nie, sê hierdie gesante van die Assiriese koning. As koning Hiskia hierdie boodskap hoor, moet hy begin twyfel. Twyfel aan sy eie vermoëns. Twyfel aan sy weermag se vermoëns.
En dan gaan staan daardie gesante van koning Sanherib boonop op so ʼn manier en praat dat die gewone manskappe wat op die stadsmuur wag gehou het dit kan hoor. Daar moet ook by hulle twyfel gesaai word.
En waaraan moet die koning sowel as die amptenare begin twyfel? Aan die Here, hulle God, se vermoë om hulle uit die mag van koning Sanherib te red!
Kom ons lees weer verse 15 – 18.
Die mense van Jerusalem moes twyfel aan die Here. Hulle moes dink dat Sanherib, ʼn aardse koning, vir hulle dieselfde voordele kan bied. Hulle moes begin glo dat die wêreld maar net so goed soos die volk van God is. Almal is maar dieselfde. Satan wil hê dat ons moet dink dat die Here nie regtig ʼn verskil kan maak nie.
Die satan weet waar die mens se swakpunt is. Ons wil gerieflik leef. Oorlog en stryd is vir ons moeilik. Dit maak ʼn mens moeg en moedeloos. Daarom kom die Satan en saai twyfel. Hy probeer ʼn mens verlei met ʼn sogenaamde rustiger en ʼn gemakliker lewe waar daar oorvloed is.
Hiskia was een van die beste konings wat Juda ooit gehad het. In sy tyd het die volk na die Here teruggekeer. Sy voorgangers het die volk van die Here afvallig laat word, soveel so dat die tempel van die Here in Jerusalem in onbruik geraak het.
Toe Hiskia egter koning word, het hy weer die tempel wat in onbruik verval het, laat skoonmaak. Hy stel weer die priesterdiens in en hy laat al die ander afgodsaanbiddingsplekke afbreek. Hy lei die volk terug na die Here. Hy staan hy ook sterk teen die vyande wat die land bedreig. Hy dryf tot selfs vir Egipte terug toe hulle vir Juda wou binneval.
Maar kyk wat gebeur: Toe hy die Here met oorgawe dien, word die aanvalle van die satan net feller!
Wanneer koning Sanherib van Assirië die Noordelike deel van Israel inneem en die mense as ballinge wegvoer, staan Hiskia sterk en verklaar openlik dat hy op die Here vertrou.
Maar tog, broeders en susters, is Hiskia nie volmaak nie. Wanneer Assirië begin om Juda ernstig te bedreig en die stede rondom Jerusalem stelselmatig begin inneem, maak Hiskia sy eie planne. Hy laat die waterfonteine buite die stad afsny en gooi die watervoor toe. Hy laat die mure van die stad regmaak en bou dit hoër. Hy laat maak ʼn klomp spiese en skilde. Hy is gereed! Ons almal doen dit. Wanneer die nood hoog is, maak ons planne.
Maar kyk wat gebeur dan. Die aanslag wat kom is op ʼn heel ander vlak. Dit is nie ʼn militêre aanval, soos Hiskia en sy mense verwag het nie. Nee op geestelike vlak kom die aanslag: Moenie dat Hiskia julle mislei om op die Here te vertrou nie. Die Here kan julle nie red nie!
3 ONS IS NIE VAN ELLENDE GEVRYWAAR NIE
God se volk is nie van die aanvalle van die Satan gevrywaar nie. Daar gebeur dinge wat ons lewe totaal omkrap.. Daar kom ernstige siekte, daar kom dood, daar kom bedreiging deur die vyand, daar kom benoudheid en bekommernis. Dit maak jou sommer moedeloos. Later wil jy saam met die Prediker uitroep: Alles is tevergeefs!
En dan kom saai die satan die saadjie wat jou laat twyfel. Dink jy God bestaan regtig? Sal ʼn god van liefde jou so swaar laat kry? En dan bied hy sommer vir jou ʼn gemaklike oplossing: Los die Here! Hy kan tog nie regtig ʼn verskil maak nie.
Koning Hiskia sien die probleem. En kyk nou wat doen hy! Hy skeur sy klere en hy gaan na die huis van die Here toe. Die oplossing, wanneer die satan jou wil laat twyfel, is:
3. GRYP VAS AAN DIE HERE
Hiskia gaan na die tempel toe en stuur ook dadelik ʼn boodskap na die profeet Jesaja: “Bid tog vir die klompie van ons wat nog oor is” (37:4)
Hy sien hoe die volk van die Here rondom hom verlei word om aan die Here te begin twyfel. Dit gryp hom in sy hart en daarom roep Hy na die Here. Net God kan red. Hy weet dit!
Die feit van die saak is: Die ware gelowiges is maar min. Daar is min wat werklik die toets kan deurstaan. Daar is baie wat met die mond die wonderlikste belydenisse uitspreek, maar wat onder beproewinge wegvlug. Daar is ook baie, wat soos die apostel Petrus op die kritieke oomblik die Here verloën.
Daarom is volhardende gebed nodig. Petrus was baie selfversekerd. Hy het openlik gesê al moet hy saam met die Here Jesus sterwe sal hy Hom nooit verloën nie. Voor die haan gekraai het, het hy Jesus toe reeds drie maal verloën.
Ons kan net staande bly as die Heilige Gees ons die nuwe lewe skenk. Ons kan net oorwin as ons aan ons Here Jesus vashou.
Toe Hiskia na die Here toe gaan en aan Hom vasgryp, stuur die Here sy profeet met ʼn belofte. Kom ons lees weer vers 7. (lees). Koning Sanherib gaan sterf. En dit het toe ook so gebeur!
Onthou, ons Here Jesus Christus het die satan se kop vermorsel. Hy kan ons nie van ons Koning af wegskeur nie. Die Here Jesus het mos die duidelike belofte gegee: Elkeen wat die Vader vir My gee, sal na My toe kom; en Ek sal hom wat na My toe kom nooit verwerp nie (Joh. 6:37). En dit is die wil van Hom wat My gestuur het: dat Ek van almal wat Hy My gegee het, nie een verlore sal laat gaan nie, maar hulle almal op die laaste dag uit die dood sal laat opstaan (Joh. 6:39).
SLOT
Die satan se strategie is om jou, wanneer jy swaarkry, baie subtiel te benader en jou aan die twyfel te kry. Hy wil hê jy moet aan God se almag en sy liefde begin twyfel. Hy wil hê jy moet teen die Here in opstand kom.
Die antwoord op sy verleiding lê daarin dat jy opnuut aan die Here sal vasgryp. Gaan na jou medegelowiges toe en bid saam met hulle! Dan vlug die satan met sy verleidingspraatjies. Dan beleef jy die oorwinningskrag van ons Verlosser en Saligmaker.
AMEN.