Sosiale Skakels

Besoekers

We have 16 guests online

Teken In

Follow us on FacebookFollow us on Twitter


Sunday, 11 December 2011 04:55

HY MOET MEER WORD EN EK MINDER - MATT. 3:1 – 12

Written by 
Rate this item
(1 Vote)

SKRIFLESING: MATT. 3:1 – 12

TEKS: MATT 3:11

TEMA: HY MOET MEER WORD EN EK MINDER

 

Geliefdes in ons Here Jesus Christus.

 

As ek u vanoggend vra om die naam van ʼn baie suksesvolle mens te noem, wie se naam kom in u gedagtes.......?

 

As u nou verder dink moet beskryf waarom die persoon na u mening so suksesvol is, watter eienskappe is vir u in so  ʼn persoon opvallend? Dink u dalk aan iemand met ʼn sterk persoonlikheid? Aan iemand met deursettingsvermoë? Iemand met  ʼn goeie selfbeeld? Iemand wat sy homself kan handhaaf en sy man kan staan?

 

Gewoonlik is die gedagte dat  ʼn suksesvolle mens iemand is wat op die voorgrond staan en hoë aansien geniet. 

 

Johannes die Doper was so 'n besondere man.  

 

Na 400 jaar, wat geen profetestem in Juda gehoor is nie, was Johannes die Doper beslis iemand wat aandag getrek het en waaroor almal in die omgewing gepraat het.  Al was hy nie ryk of vernaam nie, het hy beslis aandag getrek. Ons sou hom dalk as eksentriek beskryf.  Hy het klere van kameelhaar gedra en sy kos was sprinkane en veldheuning.

 

Die berig het gou in Jerusalem en omstreke versprei dat daar is 'n profeet is wat in die woestyn optree.  En die mense het na hom toe gestroom.

 

Hierdie man was die man waarvan die profeet Jesaja gepraat het:

 

1. DIE STEM WAT IN DIE WOESTYN ROEP

 

Jesaja het 700 jaar voor Christus ge­leef. Hy het onder leiding van die Heilige Gees in die mistige newels van die toekoms ingekyk en gesê:

 

" Iemand roep: Maak vir die Here 'n pad in die woestyn, maak in die barre wêreld 'n grootpad vir ons God! .....Dan sal die mag van die Here geopenbaar word; al wat leef, sal dit sien."

 

En toe het daar jare verby gegaan. Dekades! Eeue! Die profetiese woord is al hoe minder in Israel gehoor. 

 

Maar dan is daar tog weer iets. Die Here stuur tog nog weer 'n profeet. Maleagi.  Helder klink sy waarskuwings deur die strate van Jerusalem:

 

"As Ek dan vader is, waar is die eer wat My toekom? En as Ek  Here is, waar is die eerbied vir My dan? Dit is wat Ek, die Here die Almagtige vir julle vra..."(Mal 1:6)

 

Ja, tog, al verwyt die Here sy volk omdat hulle Hom nie meer eer nie, is daar tog nog hoop: Hoor wat sê die Here deur sy profeet Maleagi:

 

"Ek gaan nou my boodskapper stuur, Hy sal die pad voor My uit regmaak, en dan sal die Here na wie julle soek, skielik na sy tempel toe kom.  Ja, die Verbondsengel na wie julle met soveel vreugde uitsien, gaan nou kom, sê die Here die Almagtige."

 

En dan is daar weer stilte. Vir 400 jaar lank hoor Israel geen profetiese boodskap nie. Maar die volk moes wag, daar sou 'n teken wees.......

             

       'n stem wat roep in die woestyn.

 

En toe, in die jaar 28 hoor hulle van hierdie besonder man wat in die woestyngebied van Judea optree.

 

Hy het die mense gelok. Ja, selfs al was sy boodskap skerp, was dit tog ook  gesagvol. Hy het vir niks en niemand gestuit nie. Nie vir die Fariseërs en Skrifge­leerdes nie, en ook nie vir Herodes nie. Hy het selfs so ver gegaan om die Fariseërs  en Sadduseërs, die mense van aansien in die gemeen­skap, 'n klomp slange te noem!  Hierdie mense wat tog so trots daarop was dat hulle die nageslag van Abraham was. Hierdie mense wat hulleself as die ware volk van God beskou het. Johannes sê hulle is 'n klomp slange! Hy was 'n man met moed!

 

Maar kyk mooi wat het hy gedoen, broeders en susters. Hy was

 

2. DIE STEM WAT ROEP OM BEKERING

                       

Sy boodskap was:

 

"Bekeer julle, want die koninkryk van die hemele het naby gekom"

 

Johannes se werkplek was nie sonder rede daar in die woestyn nie. Die woestyn se dor en barre omgewing was tipies van die volk se geestelike toestand. 

 

As teken en bewys dat hulle van hulle vuil, son­dige verlede ontslae moes raak, het Johannes hulle gedoop. Daar in die woestyn het hy water oor hulle uitgegiet. Water gee lewe.  In hulle dorre en droë geestelike lewe moes iets gebeur. Hulle moes begin lewe!

 

Maar die lewe is nie by Johannes nie! Hy wou hê die mense moet by hom verby  kyk.  Hy was nie so belangrik nie. Dit het nie oor hom en sy sterk persoonlikheid gegaan nie. Hy wou hê die mense moet iemand anders raaksien.  Die Een wat na hom sou kom!

 

Sy volgelinge het dit moeilik verstaan. Hy het hulle dan so beïndruk.

 

Toe hulle later vir hom vra: "Maar wie is jy dan?", het hy geantwoord:

 

"Ek is die stem van een wat roep in die woestyn: Maak die pad van die Here reguit!"(Joh. 1:23)  Johannes was die vervulling van die Jesaja en Maleagi se profesieë. Hy was

 

3. DIE STEM WAT MENSE NA JESUS CHRISTUS MOES LEI

 

Op 'n dag was hy besig om in die Jordaan mense te doop. Meteens staan daar 'n man voor hom in die water.  En Johannes het geweet: Hier is die man! Uiteindelik! Maar waarom staan Hy hier in die water? Ek kan Hom mos nie doop nie! Dan praat Johannes:

 

"Ek het nodig om deur U gedoop te word en kom U na my toe?"

 

Tog het die Man by Johannes daarop aangedring en Hy is gedoop. En toe skeur die hemel oop! Die Heilige Gees kom in die vorm van 'n duif op Jesus sit. Daar kom ook 'n stem uit die hemel: Dit is my geliefde Seun. Oor Hom verheug Ek My".

 

Van daardie oomblik af het Johannes met groter oortuiging en krag van homself af weg gewys na Christus toe. Johannes het homself as 'n slaaf van Christus beskryf. Ja, selfs minder as  ʼn slaaf! Hy het gesê dat hy nie eers werd is om, soos 'n slaaf, Jesus se skoene uit te trek nie!

 

Ja, broeders en susters, Johannes het met alle mag mense na Jesus toe verwys. Hoor net wat het hy gesê:

 

  • "Hy wat ná my kom, het voor my geword. want Hy was eerder as ek."(Joh 1:15)

 

  • "Daar is die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem!...... Dit is Hy van wie ek gesê het..."(Joh. 1:29 & 30)

 

  • "Ek het gesien en getuig dat Hy die Seun van God is"(Joh. 1:30)

 

Johannes was tevrede. Die skares mense wat hom eers gevolg het, het nou na Jesus toe gedraai.  Maar nou was Johannes se getroue volgelinge ontsteld. Hoor wat sê hulle: "Hy van wie u getuig het, kyk, Hy doop,  en almal gaan na Hom toe"

                                    En hoor wat antwoord Johannes:

 

"Julle is self my getuies dat ek gesê het: Ek is nie die Christus nie,  maar dat ek voor Hom uit- gestuur is........ So is dan hierdie blydskap van my volkome. Hy moet meer word, maar ek minder" (Joh. 3:30)

 

Broeders en susters, Johannes die Doper se hele doel in die lewe was om die mense aan Jesus voor te stel. Hy was eenvoudig net 'n rigtingwyser op die pad wat na Jesus lei. Sy hele sending sou nutteloos gewees het as die mense net by hom, by die padwyser gaan staan het. Die mense moes by Jesus, die Verlosser en hulle Saligmaker uitkom!  Johannes die Doper wat  ʼn besonder sterk figuur was se lewe het eers werklik sin en betekenis gekry, toe hy sien hoe die mense van hom af wegbeweeg na Christus toe?

 

Johannes se persoonlike aansien het gekwyn, maar terselfder­tyd het Christus se aansien gestyg. Christus het meer geword!

 

Dit is tog waaroor alles gaan! Dit is waaroor ons elkeen se lewe gaan! Christus moet meer word en ons minder. Ons elkeen moet saam met Paulus kan sê: "....ek leef nie meer nie, maar Christus leef in my" (Gal 2:20).

 

Hoe lyk dit in die praktyk?  Wat moet ons doen?

 

·         Ek vergeld nie kwaad met kwaad nie, nee, ek oorwin die kwaad met die goeie. 

·         As ek gevloek word, antwoord ek met 'n seën. 

·         As my vyand honger is, gee ek hom of haar kos.

·         Ek kyk nie of ander mense my wil bedien nie, nee ek soek iemand wat ek kan bedien! 

 

Maw broeders en susters, ek maak soos Johannes. Hy het sy eie aansien op die spel geplaas. Hy het mense van homself af weggewys na Christus toe!

 

En kyk dan na die Here Jesus. Hy het soos 'n slaaf sy dissipels, wat besig was om oor hulle eie grootheid en vernaamheid te stry, se voete gewas.  Selfs toe Hy aan die kruis gehang het, het Hy gebid dat God sy vervolgers sal vergewe! 

 

Broeder en suster hoe tree u op?  As u te na gekom word?  Wat doen u as u regte aangetas word? 

 

SLOT

Om in die oë van die wêreld suksesvol te wees, moet jy 'n sterk selfbeeld ontwikkel. Jy moet jouself laat geld! Ja, jy moet jou merk maak. Die mense moet weet wie jy is en wat jy doen.

 

As jy as 'n gelowige egter op hierdie manier by die wêreld in tel wil wees, lei die beeld van die Here, wat jy veronderstel is om te vertoon, ern­stig skade. Jy kan tog mos nie twee beelde ver­toon nie.

 

Al was Johannes die Doper die eerste profeet in 400 jaar en al was hy 'n persoonlikheid wat geweldig indruk gemaak het, moes hy homself elke dag  verloën. Hy moes homself, sy eie beeld, opoffer om sodoende die mense na Christus toe te lei.  As hy aan sy eie selfbeeld gebou het, sou hy nooit as te nimmer aan sy doel kon beantwoord nie.

 

Ons elkeen as Christengelowiges se taak is om Christus se beeld te wees. Hy moet meer word, maar onsself minder.

 

Eers wanneer mense regtig die Here Jesus Christus in ons optrede begin sien, word ons lewe sinvol en eers dan ervaar ek en jy blywende vrede en ware geluk.

                                                                AMEN. 

Read 5795 times Last modified on Thursday, 08 March 2012 11:04
Danie de Kock

Website: www.facebook.com/profile.php?id=1438745475 Email This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it
Login to post comments

Soek