Ja, broeder en suster,
2. HOE HANTEER JY DIE KRISIS EN SPANNING?
Saul se redelik onervare leërmag was opgeroep. Hulle het darem die Amonniete verslaan, maar hierdie Filistyne is baie en boonop goed bewapen en nog beter opgelei. Wat sou die beste wees? Sy eie mense se moraal was nou goed. Hulle het darem die Amoniete verslaan. Hoe gouer hulle dus tot die aanval kon oorgaan hoe beter.
Maar wat van sy afspraak met Samuel? Samuel het gesê hy moet 7 dae wag. Hulle moet eers offer. Hulle moet saam bid om die Here se leiding en krag.
Maar waar is Samuel? Die spanning neem toe. Dis twee dae, drie, vier en Samuel daag nie op nie. Die soldate begin onrustig raak. Teen die vyfde en sesde dag begin die soldate dros.
Die sewende dag breek aan, die soldate word al minder en steeds is daar nog nie 'n teken van Samuel nie. Daar is nog net 600 manskappe in Saul se kamp oor!
Broeders en susters, kan u vir uself die spanning in Saul se tent voorstel? Wat sou u gedoen het as u in Saul se skoene gestaan het?
Wat doen u as die spanning in u eie lewe opbou en al die dinge net vir u te veel word? Dryf spanning u nader aan die Here? Laat spanning u meer afhanklik van die Here voel? Of word u omstandighede vir u rotse van struikeling? Soveel so dat u in sulke tye van God verlate voel?
As Saul maar net rustig kon word en begin dink het, sou hy sekerlik die woorde van die profeet Samuel onthou het toe hy as koning gesalf is:
"Die Gees van die Here sal kragtig in jou werk .... jy sal 'n ander mens word .... God is by jou."(1 Sam 10:6 & 7)
Saul kon egter net self ook terug gekyk het in die geskiedenis en Gideon die rigter onthou het. Gideon het mos die leërmag van die Midianiete wat "onmoontlik was om te tel" met net 300 man, die helfte van Saul se leër, verslaan! (Rigters 6) Gideon kon dit doen omdat die Here by hom was. En die Samuel het tog gesê dat die Here ook by Saul sal wees.
Maar kyk wat gebeur. In plaas daarvan dat Saul toegelaat het dat die spanning hom in die arms van God dryf, laat hy toe dat die ongeduld die oorhand oor hom kry.
Toe die dag vorder en Samuel daag weer nie op nie, neem hy die sake in sy eie hande. Kyk na vers 9:
"Bring die brandoffers en maaltydoffers na my toe. Hy het toe self die brandoffer geoffer"
En toe kom Samuel daar aan! Dadelik vra Samuel: "Wat het jy nou aangevang? Al Saul se verskonings verkrummel voor die deurdringende kyk in Samuel se oë. Dan kom die beskuldiging: "Jy het dwaas gehandel. As jy maar die bevel van die Here jou God .... nagekom het! Waarlik dan sou die Here nou jou koningskap oor Israel vir altyd bevestig het"
Die Here het vir Saul getoets. Sou Hy kon wag op die Here? Of sal hyself, op sy manier, die koningskap bedryf?
Wat doen ons wanneer die spanning oplaai? Probeer ons nie ook maar dikwels, wanneer ons in ‘n krisis kom, soos Saul, self noodmaatreëls toepas nie? Is ons nie ook maar geneig om onder druk te swig en in ons vertroue te wankel nie? ‘n Mens raak partykeer mos so ook so ongeduldig. En dan wag jy nie op die Here nie!
Die Here toets ons. Hy wil ons leer om Hom te vertrou. Daarom is die enigste oplossing vir ons spanning:
3 VERTROU OP GOD
Saul se fout was dat hy onder druk sy vertroue op God verloor het. Hy kon sy koningskap bevestig het. Hy kon as koning sy manskappe geleer het om saam met Hom op die Here te wag. Wat Saul se uur van triomf moes wees, het toe sy grootste nederlaag geword!
Hy maak die fout om sake in sy eie hande te neem. Hy was ongeduldig en toe raak hy onverantwoordelik en ongehoorsaam.
Nou is die vraag: Hoe moet 'n mens dan optree?
Die apostel Paulus skryf aan die Korintiërs:
"Die swaar wat ons moes verduur, het ver bo ons kragte uit gegaan, sodat ons selfs die hoop om te bly lewe laat vaar het.....Maar dit het gebeur sodat ons nie op onsself sou vertrou nie, maar op God". (2 Kor 1:8 & 9)
Wanneer die krisisse in ons lewe kom, kan ons of na die bulderende stem van die omstandighede luister en ons teen die sogenaamde werklikhede rondom ons blind staar, of ons kan luister na die fluisterende stem van die Heilige Gees van God. (Vgl 1 Kon 19:12)
Die stem van die Gees, is die Woord van God. Die evangelie van Jesus Christus. Juis omdat Paulus na hierdie stem van die Gees geluister het, kan sê: "Ek is tot alles in staat deur Christus wat my krag gee". Jesus Christus sê mos duidelik aan elkeen van ons: Kom na my toe almal wat uitgeput en oorlaai is, Ek sal julle rus gee"
Maar nou moet ons ook goed begryp, broeders en susters, as jy na Christus toe gaan, beteken dit nie dat jou omstandighede nou meteens gaan verander nie. Die gebeur nie so dat die Here, soos 'n towenaar, sommer gou alles wat verkeerd is regmaak nie. Nee, wat werklik gebeur is dat God jou, mét jou omstandighede saam, in sy Vaderarms optel en dra.
Onthou, God is in beheer. Hy beheer die wêreldgeskiednis, en ook ons eie land se geskiedenis. Hy weet van die ANC se heidense rituele en goddelose optrede hierdie naweek met hulle uitspattige feesvierings in Bloemfontein.
Hy is ook in beheer van ons elkeen se persoonlike lewe. Selfs die hare op ons koppe is getel. Waarom is ons dan so maklik bekommerd?
Ek en jy dra dalk swaar aan die krisisse in ons lewens. Jy wil dalk swig onder die las op jou skouers, maar onthou, die Here is by jou. Hy het in Christus mens kom word soos ons. Hy ken ons omstandighede. Hy het ons in en deur sy Seun Jesus Christus nuut gemaak. Hy het ons oorwinnaars gemaak toe Hy die satan se kop vermorsel het. Hy het deur sy Gees in ons harte kom woon.
Ons hemelse Vader dra ons saam met al ons persoonlike vrese en bekommernisse en ook ons krisisse in sy Vaderarms.
SLOT
Geliefdes, wat maak u met die krisisse in u lewe? Wat maak u met die spanning wat oplaai? Dryf hierdie dinge u verder weg of luister u na die stem van die Heilige Gees wat u roep om geduldig op die Here te wag. Hy sal u nooit in die steek laat nie.
AMEN.