Maar nou is daar ʼn probleem. Die saamryers kan nooit die prys behaal nie, want hulle neem nie deel aan die wedloop nie! Daar is letterlik duisende mense wat elke jaar in die Comrades Marathon belangstel en die verloop op TV volg en ander wat selfs in motors of busse saam met die atlete beweeg. Maar dit is net die atlete wat met volharding en inspanning self deelneem, wat op die ou end elkeen ‘n medaljes as oorwinnaarskroon ontvang.
Die vraag wat ons elkeen onsself moet afvra is: Is ek ʼn in die geloofswedloop hier in die gemeente 'n aktiewe deelnemer of net ʼn saamryer en toeskouer?
Maar kom ons gaan verder en vra: "Wat maak van my 'n deelnemer? In die eerste plek sekerlik oefening!
Ja, broeder en suster
2. JY WORD FIKS DEUR OEFENING
Paulus sê in ons teksvers: "Oefen jou om in toewyding aan God te lewe." Ons weet mos dat geen atleet aan 'n wedloop kan deelneem as hy nie fiks is nie. 'n Atleet wat nie fiks is nie, word gou moeg en sak dan uit. Hy hardloop al hoe stadiger en gaan sit later langs die pad terwyl die ander atlete hom verbygaan. Netso kan geen Christen aan die wedloop van die geloof deelneem as hy of sy nie geestelik fiks is nie.
Die logiese vraag is nou: Hoe word ek geestelik fiks? Paulus gee die antwoord as hy sê: "Oefen jou om in toewyding aan God te lewe." Om volgens die eise van God se Woord te lewe en om jouself in die ware sin van die woord diensbaar aan Christus te stel, is nie iets wat sommer maar vanself kom nie. Jy moet oefen om jou geloof uit te leef.
Sommige mense lees baie oor sport. En hulle kyk na sport op die TV. Hulle kan jou alles oor sport vertel. Hulle kan jou presies sê wat op die veld verkeerd geloop het as ʼn span verloor. Hulle kan ook duidelik sê waar en wanneer die skeidsregter verkeerde beslissings gemaak het. Maar hulle neem nie deel nie. Hulle bly net toeskouers!
Om aan die geloofswedloop deel te neem, moet ʼn mens weet wat in die Bybel staan. Jy moet die Woord van God bestudeer. Jy moet volhard in gebed. Jy moet elke geleentheid wat gebied word, aangryp om die Here in die erediens saam met jou medegelowiges te ontmoet. Maar dit alles is in 'n sekere sin nog net die teoretiese deel. Tot hier kan jy oor alles saampraat. Maar jy bly nog net ʼn saamryer en toeskouer.
Jy word eers ʼn ware gelowige as jy jou geloof in die praktyk gaan toepas. Jakobus sê in sy brief (Hfst. 2) dat jou geloof in jou dade sigbaar moet word. So nie, is dit ʼn dooie geloof! Ek en jy moet hierdie dinge wat die Here in sy Woord van ons verwag, in ons jou lewe van elke dag gaan toepas!
Ons moet sy woord fisies gaan verkondig. Ja, met mense oor die Here en sy verlossingswerk in en deur Jesus Christus praat. Ons moet elkeen persoonlik gaan en siekes en eensames besoek. Ons moet prakties mense wat in nood is, met kos en klere gaan help en hulle ondersteun. Hierdie dinge gebeur nie sommer vanself nie, broeder en suster - ek en jy moet hard oefen om dit reg te kry! Daarom is die volgende punt wat van belang in ons teksvers waar Paulus sê :
3. SPAN AL JOU KRAGTE IN
ʼn mens moenie die fout maak om agter jou eie onvermoë weg te kruip nie. As ons op ons eie kragte staatmaak om die wedloop van die geloof te voltooi, sal ons nooit daarin slaag nie...
God het ons sy Gees gegee sodat ons onder leiding van die Heilige Gees as nuwe mense kan lewe. Geloof is op sig self ʼn gawe van die Gees. As ons nie ons geloof dade laat word nie of as ons ons met verkeerde dinge besig hou, bedroef ons die heilige Gees.
Daarom waarsku Paulus in ons teksvers:
Maar van onheilige en sinlose verdigsels moet jy wegbly. Oefen jou liewer om in toewyding aan God te lewe.
Wat is hierdie onheilige en sinlose verdigsels? Dit het ons in die voorafgaande verse gelees. Volgens verse 2 en 3 gaan oor dwaalleraars wat mense met hulle wettiese godsdienstige reëls mislei. Hulle maak asof die geloof uit ʼn klomp wette en reëls bestaan. Sodoende word hulle instrumente in die hand van satan om die gelowiges se oë van die Here Jesus weg te neem en op hulleself te fokus. Dan neem hulle uiteraard nie meer aan die wedloop deel nie. Hulle word moeg en sak uit!
As jy jou oë van jouself en van allerhande godsdienstige wette en reëls wegneem en op Jesus Christus fokus word jy ʼn oorwinnaar! Dit wat ons nie by magte was om te doen nie, dit het Christus mos vir ons kom doen. Daarom kan Paulus in Fil.4:13 sê: "Ek is tot alles in staat deur Christus wat my krag gee" Die krag waarmee ons dus aan hierdie wedloop deelneem, is nie ons eie krag nie, maar Christus se krag! Die krag waarmee Hy oorwin het. Die krag van sy opstanding uit die dood.
Hy openbaar hierdie krag in ons elkeen deur die werking van die Heilige Gees. Die Heilige Gees is mos die eintlike dryfkrag in ons Christenwees!
Maar nou is hier 'n probleem geliefdes. Waarom sien 'n mens dan so min van die krag van die Heilige Gees in ons lidmate se lewens? Waarom is daar 'n traagheid en eerder 'n soort saamry-gees tussen ons lidmate in plaas daarvan dat daar, soos dit behoort te wees, 'n wedloop-gees van ywer en volharding te bespeur is? Waar lê die fout?
Die probleem, broeders en susters, lê daarin dat ons nie genoeg bid om die leiding van die Heilige Gees nie. Ons gebede is te selfgesentreerd. Ons is net met onsself en ons persoonlike behoeftes besig, in plaas daarvan dat ons onsself as diensknegte van ons Koning Jesus Christus sien.
Ons oefen nie om in toewyding aan God te lewe nie! Ons dink dat God net daar is om ons te help sodat ons hier gelukkig kan wees en saam met die bus hemel toe kan ry!
Ja, kom ons wees maar eerlik! Ons praat te veel en doen te min. Ons stel baie belang ja, soos mense wat die sportblaaie in die koerante verslind en graag na sport op TV kyk en selfs wedstryde as toeskouers gaan bywoon. Maar die vraag is, tot watter mate kom ek en jy werklik by die wedloop self uit? Is ons op die baan? Is ons regtig een van die spelers wat al ons kragte inspan? Doen ons genoeg moeite?
Of is ons moontlik geestelik so onfiks dat ons nie eers aan werklike oefening dink nie???
SLOT
Geliefdes, die Here sê in ons teksvers: "Dit het wel 'n bietjie waarde om jou liggaam sekere dinge te ontsê, maar om in toewyding aan God te lewe, het in alle opsigte groot waarde, want dit hou belofte in vir die teenswoordige en toekomstige lewe.
Liggaamlike oefening is waardevol vir 'n gesonde liggaam, maar dit gaan jou nie in die hemel bring nie! Geestelike oefening het meer waarde, want dit sorg nou hier elke dag vir 'n gesonde verhouding met jou hemelse Vader en maak jou diensbaar in sy koninkryk. Dit maak van jou ʼn deelnemer aan die wedloop wat uiteindelik die oorwinnaarskroon sal ontvang
Geliefde Broeder en Suster, Is ek en jy geestelik fiks?
"Kom ons oefen almal saam om in toewyding aan God te lewe....."
AMEN.