Sosiale Skakels

Besoekers

We have 26 guests online

Teken In

Follow us on FacebookFollow us on Twitter


Monday, 13 February 2012 08:36

VAN BEWONDERAAR NA DISSIPEL - LUKAS 5:1 – 11

Written by 
Rate this item
(0 votes)

Skriflesing: Lukas 5:1 – 11

Teks: Luk 5:8 - 10

 

TEMA:  VAN BEWONDERAAR NA DISSIPEL

 

Sedert die begin van ons Here Jesus Christus se openbare optrede destyds in Galilea, is daar, breedweg gesien, deurgaans twee kategorieë mense wat met Hom verbind kan word.

 

Die een groep kan as bewonderaars beskryf word terwyl die ander groep dissipels genoem word.

 

Toe Hy daar teen die hang lang die Gennesaretmeer besig was met sy sogenaamde Bergrede, was daar baie bewonderaars. Mense het gekom om na sy preek te luister. Daar was so baie wat in die gedrang naby aan hom wou kom, dat hy  ʼn plan moes maak om behoorlik gehoor te kon word.

 

Hy het toe in een van die skuite daar op die kant van die meer geklim vir Simon aan wie die skuit behoort het gevra om hom so  ʼn entjie van die oewer af weg te stoot. Daar vanuit die skuit het Hy die skare van bewonderaars geleer.

 

Kom ons kyk na   

                                                   

1.  DIE BEWONDERAAR

 

Simon wat later ook Petrus sou word, was op hierdie stadium nog net ʼn bewonderaar van die Here Jesus. Hy het die Here Jesus toe reeds redelik goed geken.  Hierdie ontmoeting daar by die Gennesaretmeer was  dus nie Petrus se eerste kennismaking met die Here Jesus nie.  ʼn Mens kan amper sê hulle op die stadium al goeie kennisse was.

 

Jesus was al selfs met  ʼn vorige geleentheid by Petrus aan huis. Tydens daardie besoek het hy Petrus se skoonma van  ʼn hewige koorsaanval genees (Luk 4:38 – 39).  Petrus het dus uiteraard  ʼn bewondering vir Jesus gehad.

 

Tot op hierdie dag, daar by die meer, het Petrus saam met sy gesin in sy huis gewoon. Hy het, kan ons maar sê,  ʼn gewone lewe gelei. Hy het elke dag op die normale manier voortgegaan met sy dagtaak as visserman.  Tydens hierdie geleentheid, toe die Here Jesus sy Bergrede gelewer het, was Petrus ook daar in Jesus se nabyheid. 

 

As  ʼn mens die evangelies bestudeer, sien jy dat die Here Jesus gedurende sy lewe op aarde baie bewonderaars gehad het.  Daar was gedurig mense wat na Hom wou luister en ander wat graag van sy wonderwerke wou sien. So lees  ʼn mens van duisende mense wat by geleentheid moes kos kry.  Dan lees  ʼn mens lees van die vrou wat aan bloedvloeing gely het en in die gedrang van die skare ter wille van genesing net aan Jesus probeer raak het.

 

Een van die bewonderaars was die ryk jongman wat na Jesus toe gekom het en gevra het wat hy moet doen om in die ewige lewe in te gaan. Hy was oortuig daarvan dat hyself al die gebooie van Moses onderhou het. Hy wou weet wat hy nog verder moes doen.  Toe Jesus  vir hom sê:  .... gaan verkoop jou besittings en gee die geld vir die armes, en jy sal  ʼn skat in die hemel hê. Kom dan terug en volg My, het hy bedruk weggegaan. Hy het nie kans gesien om die volgende stap te neem nie.  Hy was nie bereid om alles op te offer  om die Here Jesus te volg nie. Hy was net  ʼn bewonderaar...

 

Petrus was aanvanklik ook net  ʼn bewonderaar.  ʼn Mens sien dit wanneer Hy met die Here Jesus praat, want noem hy vir Jesus “meneer”.   Maar in ons teksvers val Hy voor Jesus op sy knieë en noem Hom Here!

 

Nou moet  ʼn mens mos vra:  Wat het gebeur?  Waarom het Petrus se houding teenoor Jesus so verander?

 

Kom ons kyk na

 

2.  DIE OPENBARING

 

Soos ons alreeds gesê het, het Petrus die Here Jesus op hierdie stadium al redelik goed geken, soveel so dat hy tog teen alle redelikheid in, bereid was om te doen wat Jesus gesê het.

 

Onthou Petrus was  ʼn visserman van beroep. Hy het visvang geken. Die vorige nag het hulle die hele nag deur geswoeg sonder om iets te vang. Hulle was moeg en teleurgesteld. Hulle wou hulle nette gereedmaak en dan huis toe gaan om te rus sodat hulle die volgende nag weer kan gaan probeer om vis te vang.

 

Die Here Jesus was nie  ʼn visserman nie.  Toe hy dus vir Petrus sê om na die diep water te vaar en weer sy nette uit te gooi, doen hy dit tog omdat hy  ʼn bewondering vir Jesus gehad het. Hulle vang toe soveel vis dat hulle dit nie kon hanteer nie. Hulle moes hulle maats roep om te kom help!

 

Jesus het Homself hier op  ʼn besondere praktiese manier aan Petrus geopenbaar. Binne sy veld as beroepsvisserman, wys die Here Jesus aan Petrus dat Hy almagtig en alwetend is. Hy wys dat Hy God is, want hy het beheer oor die visse in die see.

 

Toe die Here Jesus op so  ʼn praktiese manier aan Petrus getoon het Wie en Wat Hy is, kom daar  ʼn verandering in Petrus se lewe.

 

Ja, hier kom toe die draaipunt.  Petrus val in aanbidding op sy knieë.  Nou kyk hy met ander oë na Jesus.  Voorheen het hy Jesus as “meneer” aangespreek, maar nou noem hy Hom “Here”!

 

Petrus is nou

 

3.  DIE DISSIPEL

 

Toe  Petrus daar van sy knieë af opstaan, is hy  ʼn ander mens. Hy is nou nie net meer  ʼn bewonderaar nie.  Hy is nou  ʼn dissipel van Jesus.

 

Hy besef nou dat Hy nie maar net met  ʼn besondere mens te doen het nie, maar met die Here.  Petrus en sy mede-vissers was almal stom verbaas oor wat gebeur het. Hulle was sprakeloos.

 

Luister wat sê die Here Jesus dan vir Simon Petrus:  Moenie bang wees nie. Van nou af sal jy mense vang.  

 

As die Here Jesus mag het oor die visse in die see, dan het Hy ook mag oor die mense op aarde.

 

En dan gebeur daar  ʼn merkwaardige ding. Hier staan in vers 11:  En nadat hulle die skuite op die strand getrek het, het hulle alles net so laat lê en sy volgelinge geword.

 

Petrus en sy vriende hier van bewonderaars verander na dissipels. Hulle het volgelinge of te wel navolgers van die Here Jesus geword. Die woord dissipel beteken om  ʼn navolger of  ʼn leerling van iemand te word.

 

En ja,  ʼn dissipel is iets anders as  ʼn bewonderraar.  ʼn Bewonderaar gaan kyk of luister graag wanneer die persoon wat hy bewonder iewers optree. Na die optrede gaan die bewonderaar weer huis toe en gaan met sy gewone lewe voort.

 

 ʼn Dissipel is egter iets anders. Nadat iemand  ʼn dissipel geword het, verander sy lewe op  ʼn wesenlike en praktiese manier.  ʼn Dissipel is  ʼn nuwe mens met  ʼn nuwe lewens benadering.  Petrus en sy mede-vissers het alles net so laat lê.  Hulle het hulle ou lewe  agter hulle gelos.  Hulle het Jesus se se volgelinge geword.

 

Broeders en susters. Dissipelskap is iets wat diep in jou lewe insny, dit raak jou diepste opvattings en benaderings. Dit verander jou ou vooroordele, wysig selfs jou lewensgewoontes wat jy nie so maklik prysgee nie. Dissipelskap druis  in teen jou ou vaste gebruike en oorwegings ..... dit staan dikwels selfs teenoor  sogenaamde nugtere redenasie, lewenservaring en skynbare realiteite.

 

Van hierdie dag af, het Petrus en sy mede-vissers se lewens radikaal verander. Hulle het die pad saam met die Here Jesus begin loop. Die pad was nie maklik nie.  Dit het reuse opofferings geverg. Onthou hierdie manne het beroepe en huise en gesinne gehad. Hulle het alles net so gelos!

 

Om dissipels van ons Here Jesus te wees, beteken nie vandag dat ons almal in die kerk alles moet los en net op die sendingveld gaan werk nie.  Wat wel van  ʼn dissipel van die Here Jesus verwag word, is om  ʼn nuwe lewensbenadering te volg. Ons moet onsself, so sê Paulus, as lewende en heilige offers aan Hom gee.  Ons lewe moet op Hom gefokus wees en nie op onsself of op die dinge van die wêreld nie.

 

SLOT

 

Geliefdes,  ʼn bewonderaar se lewe word nie deur die een wat hy of sy bewonder, verander nie. Daarteenoor word  ʼn dissipel se lewe geheel en al deur die een wat Hy volg bepaal. Paulus sê met groot vrymoedigheid: Word my navolgers, want ek is  ʼn navolger van Christus.  Hy sê ek reken alles, alle ander dinge op aarde as waardeloos, want om die Here Jesus te ken en Hom te volg oortref alles in waarde.  Hy sê dat Hy die Here Jesus Christus as sy enigste bate sien.

 

Is ek en jy bewonderaars of is ons dissipels?

 

                                                                       Amen.  

 

Read 6282 times Last modified on Thursday, 08 March 2012 11:02
Danie de Kock

Website: www.facebook.com/profile.php?id=1438745475 Email This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it
Login to post comments

Soek