Sosiale Skakels

Besoekers

We have 23 guests online

Teken In

Follow us on FacebookFollow us on Twitter


Thursday, 23 February 2012 07:02

DIE HERE NOOI JOU OM SAAM FEES TE VIER - JOH 6: 22 – 40

Written by 
Rate this item
(0 votes)

SKRIFLESING: JOH 6: 22 – 40

TEKS: JOH 6:33 (vgl. ook NGB  art 35)

TEMA:  DIE HERE NOOI JOU OM SAAM FEES TE VIER

                               

Die Here Jesus verander  ʼn mens se hele lewe!

Hy neem ʼn eenvoudige, en deur-sonde-beperkte-lewe wat boonop in  ʼn doodloopstraat is, en maak daarvan  ʼn feestelike lewe!

Hoe doen Hy dit?

Hy doen dit deur vir ons die regte kos te gee!

In die eerste gedeelte van Joh. 6 lees ons hoe die Here Jesus meer as 5 000 mense met net 5 garsbrode en twee vissies soveel kos gee  dat hulle daarna nog 12 mandjies oorskiet bymekaar kon maak.

Hierdie wonderwerk het die skare mense so beïndruk dat hulle die volgende dag weer op sy spoor was. Hy het intussen egter na Kapernaum aan die oorkant van die see van Galilea gegaan.

Toe hulle hom daar kry, trek Jesus in sy gesprek met hulle, ʼn lyn tussen die manna wat hulle voorouers in die woestyn gekry het na die kos wat Hy hulle die vorige dag gegee het en dan trek Hy die lyn verder na Hom as Persoon.  Hy wys dat Hy net soos hulle hemelse Vader destyds aan hulle kos kan gee.

Maar dan gaan Hy verder:  Hy bied Homself dan aan as die brood wat God uit die hemel gee.  Hy is Self die brood!

In ons teksvers sê die Here Jesus:

Die brood wat God gee, is Hy wat uit die hemel kom en aan die wêreld die lewe gee.

Broeder en suster

Die Here Jesus nooi jou om vanoggend saam met Hom fees te vier

Kom nader

 

1. KOM ONTMOET ONS GASHEER

Ons Gasheer vanoggend  is niemand minder nie as ons Here Jesus Christus Self.

Hy het die nagmaal ingestel en gereël dat sy kerk dit gereeld moet vier. Toe Hy destyds die nagmaal ingestel het, het hy sy dissipels beveel om vooraf op  ʼn bepaalde plek vir die Pasga gereed te maak.  Daar in die bovertrek waar Hy en s dissipels byeen gekom het, het Hy toe die nagmaal ingestel.

Net so gee Hy vandag nog die opdrag dat ons as gemeente saam met Hom die nagmaal moet vier.  Dit is nie die kerkraad of die predikant wat u na die nagmaal toe uitnooi nie.  Nee, die Gasheer is ons Here Jesus Christus.  Hy is deur sy Gees en Woord Persoonlik hier en Hy nooi ons almal uit om saam met Hom fees te vier.

Maar nou moet ons goed nadink waarom ons vandag hierheen gekom het.  Wat kom soek ons by ons Gasheer?

Vir die skare wat Hom destyds gesoek het, het die Here Jesus gesê:

...... Julle soek My nie omdat julle die wondertekens gesien het nie, maar omdat julle van die brood geëet en versadig geword het.  Julle moet nie werk vir voedsel wat vergaan nie, maar vir die voedsel wat nie vergaan nie en wat ewige lewe gee(Joh. 6:26 en 27).

Wat wil ons van Hom hê?

            Dat Hy ons voorspoed sal gee?

            Genoeg geld en besittings?

            Goeie gesondheid?

            Goeie huwelike?

Soek ons ook soos die skare destyds net die brood? Net dit wat  hierdie lewe elke dag vir ons goed en voorspoedig maak?

Luister wat sê Jesus in vers 35:  “Ek is die brood wat lewe gee.  Wie na My toe kom, sal nooit weer honger kry nie, en wie in My glo, sal nooit weer dors kry nie”.  (Joh. 6:35)

Jesus wys die skare mense daarop dat hoewel Hy kos vir die liggaam kan gee, Hy in werklikheid gekom het om veel meer te gee!

Daarom nooi Hy u ook vandag uit:

2. KOM PROE DIE KOS

Hier aan die tafel is vir u brood en wyn gereed gemaak.  Vir elkeen van ons net  ʼn stukkie brood en net  ʼn slukkie wyn. Op die oog af lyk dit maar min.  Hoe kan dit nou oorgenoeg wees sodat  ʼn mens nooit weer honger en nooit weer dors sal word nie?

Net soos die twee vissies en die vyf brode destyds vir  ʼn skare van meer as 5000 totaal te min gelyk het, lyk die stukkie brood en slukkie wyn vandag dalk ook vir ons heeltemal te min.  Maar onthou wat destyds gebeur het!  Jesus het  ʼn wonderwerk laat gebeur. Al daardie mense is versadig en daar het nog oorgebly!

En wanneer die mense dan die volgende dag weer na die kos kom soek, sê die Here Jesus Ek is die brood wat lewe gee....

Die Here Jesus wou hê dat die skare na die kos, die brood en vissies moes kyk en Hom raaksien, maar hulle het nie.  Hulle het net teen die kos vasgekyk.  Hulle wou meer kos hê.  Daarom sê Hy in vers 36:  Maar wat julle betref, Ek het reeds gesê: Julle sien My en tog glo julle nie in My nie.

Wat sien ons vanoggend?  Sien ons net die stukkie brood en die slukkie wyn?  Of sien ons die Here Jesus wat die ware brood is?

Toe Hy die nagmaal ingestel het, het Hy die brood geneem en gesê: Neem, eet dit is my liggaam en toe die wyn: Drink almal daarvan, dit is my bloed.

Die apostel Paulus sê:  As jy aan die Nagmaalstafel sit en die brood eet en die wyn drink en nie die liggaam van die Here daarin raaksien nie, eet en drink jy  ʼn oordeel oor jouself!

Onthou die brood en wyn is net die tekens.  Ons word as ons gelowig eet en drink geestelik met die Here Jesus Self gevoed!

Maar kom ons kyk verder na die feesmaal.

 

3. KOM KYK WIE IS DIE GASTE

Die gaste, broeders en susters,  is God se kinders.  In ons belydenis, die Nederlandse Geloofsbelydenis, Art 35 bely ons dat die mense wat aan die fees van die nagmaal deelneem, wedergebore moet wees.

Om  ʼn kind van jou aardse pa en ma te wees, moet jy uit hulle gebore word. Dan word jy mens en dan kan jy aan jou ouers se tafel met gewone kos, soos brood en vis, gevoed word.

As jy egter aan die Here se tafel wil aansit, moet jy as sy kind gebore wees!  Die Here Jesus het vir Nikodemus gesê: Jy moet opnuut gebore word!

Dit beteken prakties dat God jou deur sy Gees  ʼn hartsverandering moet gee. Hy moet die hart van klip verwyder en aan jou  ʼn nuwe hart gee.  ʼn Hart wat Hom bo alles kan liefhê en wat jou ook in staat stel om jou naaste lief te hê soos jouself.

Net soos ouers net hulle eie kinders daagliks aan hulle tafel versorg, voed en versorg die Here ook net sy eie kinders aan sy tafel. Daarom kan nie sommer enige een vandag hier kom aansit nie.  Hierdie kos is net vir God se kinders bedoel!

Omdat ons God se kinders is, sit ons vandag saam met ons Gasheer Jesus Christus aan God se tafel. Ons vier fees want ons is God se warekinders en ons het die ware lewe tot in ewigheid.

Hy voed ons sodat ons hier kan opstaan as sy kinders daar buite gaan lewe en werk.  En onthou, omdat ons God se kinders is, gaan ons daar buite  ʼn verskil maak!

SLOT

Vandag vier ons fees!  Die Here Jesus is ons Gasheer. Die kos is die Here Jesus Self! Ons word deur die Heilige Gees met Hom gevoed sodat ons saam met Hom as God se kinders kan gaan lewe.

                                                                       AMEN. 

Read 2963 times Last modified on Thursday, 08 March 2012 10:21
Danie de Kock

Website: www.facebook.com/profile.php?id=1438745475 Email This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it
Login to post comments

Soek