SKRIFLESING: HANDELINGE 4:1 - 15
TEKS: H. K. SON. 11 IN DIE LIG VAN HAND 4:12
TEMA: DIE ENIGSTE NAAM WAARMEE GOD VERLOS
Broeder en suster
Weet jy wat jou naam beteken? Elkeen van ons se naam het mos ʼn betekenis.
Dit is nogal interessant om na so ʼn lys te kyk en dan te sien wat jou naam beteken:
Christoff of Christa beteken: Draer van Christus
Janette beteken: Gawe van God
Hester beteken: Ster
Hannes beteken: God is genadig
Daniël beteken: God is my regter
Ja, ons wil graag weet wat ons name beteken, maar dit maak nie werklik vir ons saak nie. Ons name sê nie regtig wie of wat ons is nie. M.a.w. Ons heg nie veel waarde aan die betekenis van ons name nie.
In die Bybel is dit egter anders. God het geskep deur te spreek. Sy woord het aan elke ding wat Hy geskep het inhoud en betekenis gegee. M.a.w. dit wat Hy gesê het, het die bepaalde ding wat Hy geskep het, se wese en betekenis bepaal.
En wanneer God aan ʼn persoon ʼn naam gegee het, het dit daardie persoon se menswees en karakter bepaal.
Adam beteken: Man uit die rooi grond
Abraham beteken: Vader van baie mense
Isak beteken: Lag
Jakob beteken: Bedrieër
Petrus beteken: Rots
Juis omdat die name wat God gee besondere betekenis het en die wese en betekenis van die betrokke persoon verklaar, vra ons belydenis in Sondag 11 vraag 29:
Waarom word die Seun van God Jesus, wat Verlosser beteken, genoem?
En dan kom die antwoord: “Omdat Hy ons van al ons sondes verlos en by niemand anders enige saligheid te soek of te vind is nie”
1. JESUS SE NAAM BETEKEN VERLOSSER
Die Heidelbergse Kategismus vra nie die vraag oor die betekenis van die Here Jesus se naam uit nuuskierigheid nie. As ʼn mens na sy naam kyk, gaan dit ook nie oor watter soort mens hy was of hoe sy lewe verloop het nie.
Nee, die vraag word gevra omdat die antwoord op die vraag alles met my en jou verlossing te doen het!
Luister wat het die apostel Petrus vol van die Heilige Gees bely: “Hy bring die verlossing en niemand anders nie. En dan sê hy verder: Daar is geen ander naam op die aarde aan die mense gegee waardeur God wil dat ons verlos moet word nie”.
Petrus sê God wil ons deur hierdie NAAM verlos!
Reeds voor die Here Jesus se geboorte het die Here ʼn engel na beide Josef en Maria toe gestuur en aan hulle elkeen afsonderlik die opdrag gegee: Julle moet Hom Jesus noem.
In hierdie naam wat die Here Jesus in opdrag van God op aarde ontvang het, lê sy wese en sy karakter. Dit bepaal sy doel op aarde. Hy is die Verlosser wat deur God na hierdie aarde toe gestuur is sodat elkeen wat in Hom glo nie verlore sal gaan nie, maar die ewige lewe sal hê.
2. JESUS IS DIE PERFEKTE VERLOSSER
Die naam Jesus is Grieks, maar as jy dit terugneem na Hebreeus is die naam Jeshua. Dit is ʼn samestelling van Jahwe of Jehova en Shua wat red of verlos beteken. Jeshua beteken dan: God verlos!
God verlos ons deur die naam Jesus. Maar kom ons vra nou: Waarom is Jesus die perfekte verlosser?
Omdat Hy ons VERLOS en BEVRY
As ons bely dat Hy ons verlos van ons sonde beteken dit dat Hy ons van die skuld en straf wat ons as gevolg van ons sonde verdien, verlos. Jesus het in ons plek die straf gedra wat ons verdien het. Die skuld is betaal en daarom is ons nou nie meer skuldig nie.
As ons verder gaan en bely dat Jesus ons perfekte verlosser is, beteken dit dat Hy ons ook bevry. Omdat Hy die oorwinning behaal het en die satan se kop vermorsel het, het Hy ons bevry. Die satan, die sonde en die dood het nou geen mag oor ons nie en kan dus nie meer oor ons baasspeel nie.
Ons behoort nou aan Jesus, ons Verlosser. Hy het met sy bloed betaal om ons los te koop.
Ons was wel eers slawe van die satan en die sonde en die dood. Ons bestaan op aarde was ʼn bestaan wat in die teken van die sonde en die dood gestaan het.
Nou is ons egter verlos!
Ons is onskuldig, want ons sonde is met Jesus se bloed afgewas.
Ons is vry, want ons is losgekoop uit die mag van die satan en die sonde en die dood.
Die Here Jesus Christus is nou ons koning. Ons is nou in sy diens. Hy regeer deur sy Gees in ons. Daarom lewe ons as nuwe mense. Wedergebore kinders van God.
Ons was geestelik dood, maar nou lewe ons in Christus.
Ons het haatlik opgetree, maar nou lewe ons in liefde.
Ons was ongehoorsaam, maar nou is ons gehoorsaam.
Ons was gierig en suinig, maar nou is ons vrygewig.
Ons was ontrou, maar nou is ons getrou.
Ons was selfgesentreerd, maar nou is ons Godgesentreerd.
Ons is nuwe mense met ʼn nuwe ingesteldheid en gesindheid. Ons wy nou ons hele ons lewe as dankoffers aan God toe.
Daar is nog een belangrike punt wat ons moet aanraak en dit is
3. JESUS IS DIE EFFEKTIEWE VERLOSSER
Ons belydenis vra:“Glo dié mense wat hulle saligheid en heil by heiliges, by hulleself of iewers anders soek, ook in die enigste Verlosser, Jesus?”
Dan kom die antwoord: Nee, hulle verloën met die daad die enigste Verlosser en Heiland, Jesus, alhoewel hulle met die mond in Hom roem.
Mense maak dikwels die fout om iets van hulle eie prestasie of goeie werke by die Here Jesus se verlossingswerk te wil byvoeg.
· Jesus plus goeie werke.
· Jesus plus die bekeringsdoop.
· Jesus plus Sabbatsonderhouding.
· Jesus plus spreek in tale. Ens. Ens.
Sommige mense beweer ook dat die Here Jesus jou net kan verlos as jy Hom toelaat om dit te doen. Hulle beweer dat die Here Jesus vir alle mense op aarde gesterf het, maar dat sy verlossing net betekenis het vir die mense wat hulle harte vir hom oopmaak. Hulle sal vir jou iets sê soos: Die Here Jesus staan by die deur van jou hart en Hy klop. Jy alleen kan jou hart vir Hom oopmaak en Hom laat binnekom.
Indien dit waar sou wees, beteken dit dat die Here Jesus nie ʼn perfekte verlosser kan wees nie, want dan hang sy verlossingswerk van die mens se wil en keuse af. En onthou wie is die mens! ʼn Verlore sondaar.
Die mens, so bely ons, is dood in sy sonde en ellende. Die mens kan letterlik niks vir sy verlossing doen nie. Hy is geestelik so dood dat hy nie eers ʼn wil of begeerte kan hê om verlos te word nie.
Juis daarom moes God in die Persoon van die Seun na hierdie wêreld kom en hier as ons VERLOSSER kom optree. Hy het ons wat dood was in ons sonde lewend kom maak. In Ef. 2 sê Paulus:
Julle is inderdaad uit genade gered, deur geloof. Hierdie redding kom nie uit julleself nie; dit is ʼn gawe van God. Dit kom nie deur julle eie verdienste nie, en daarom het niemand enige rede om op homself trots te wees nie. Nee, God het ons gemaak wat ons nou is: in Christus Jesus het Hy ons geskep om ons lewe te wy aan die goeie dade waarvoor Hy ons bestem het. (Ef. 2:8 – 10)
Jesus Christus is God met ons. Hy het ons wat dood was in ons sonde lewend kom maak en ons onder die heerskappy van sy Heilige Gees geplaas.
SLOT
Daar is geen ander naam waardeur ʼn mens verlos kan word nie. Daarom sê die apostel Johannes in sy eerste brief:
Wie die Seun het, het die lewe. Wie die Seun van God nie het nie, het ook nie die lewe nie.
Ons het Jesus ons Verlosser. Daarom lewe ons as verlostes. Bevry van die mag van die satan, die sonde en die dood. Ons lewe in die Here Jesus, ons Verlosser, vir ewig!
AMEN