1. SALWING? GESALFDE? WAT BETEKEN DIT?
In vraag 31 begin ons belydenis die Sondagsafdeling met die vraag: Waarom word Hy Christus, wat gesalfde beteken, genoem?
Die Afrikaanse woord “gesalfde” is ʼn vertaling van die Hebreeuse woord “Messias” en die Griekse woord vir “Gesalfde” “Christus”.
Die gedagte van gesalfde kom van die gebruik in die Ou Testament om sekere mense te salf as hulle in ‘n besondere diens van God gestel word.
So lees ʼn mens dikwels in die Ou Testament van iemand wat gesalf is om koning te wees. ʼn Mens lees ook van profete wat gesalf is om hulle werk te doen.
Gewoonlik is ʼn kruik of ander groterige houer met olie gemeng met kruie en speserye, op die persoon wat gesalf is, se kop uitgegooi. Die olie het dan letterlik oor die persoon geloop en afgedrup.
ʼn Persoon wat op die manier in die Ou testament gesalf is, sou dan ʼn “Gesalfde” of in Hebreeus dan ʼn “Messias” genoem kon word. So ʼn persoon was nou op ʼn spesiale manier in God se diens. Die olie was simbool daarvan dat die persoon nou onder leiding van die Heilige Gees staan.
So lees ʼn mens byvoorbeeld in 1 Sam 16:13 hoe Dawid as koning gesalf is:
Samuel het die horing met olie gevat en hom voor sy broers gesalf. Die Gees van die Here het van daardie dag af kragtig in Dawid gewerk.
In Jes. 45:1 lees ʼn mens selfs dat die Here die heidense koning Kores sy “gesalfde” of sy “Messias” noem . Dit is omdat die Here vir Kores in sy diens gebruik het - al het hy, wat Kores is, dit nie eers regtig geweet nie! Hy was mos die instrument om die Here se volk uit ballingskap in Babel na Jerusalem te laat terugkeer.
2. JESUS IS DEUR GOD SELF GESALF
Daarom word hy Christus of Messias genoem.
Ons het mos gelees dat die dag toe Hy langs die Jordaanrivier gedoop is, die Heilige Gees in ʼn sigbare gestalte soos ʼn duif op Hom neergedaal het (Luk 3:22).
Daar het God Hom gesalf! Hy is deur God aangestel en bestem om in sy diens te werk. En dit het nie sommer maar net op daardie stadium gebeur nie, nee eeue tevore is dit al deur die profete voorspel. Ons lees hoe Jesaja in Hfst. 61 skryf:
Die Gees van die Here my God het oor my gekom; die Here het my gesalf om ʼn blye boodskap te bring aan die mense in nood.
God Self het vir Jesus gesalf om onder leiding van die Heilige Gees hier op aarde te kom werk. Ons belydenis sê dat die Here Jesus gesalf is tot:
Ons hoogste Profeet en Leraar. As ons Profeet en Leraar het Hy die verborge raad en wil van God aangaande ons verlossing aan ons bekend kom maak. Hy is mos die Woord wat vlees geword het en onder ons kom woon het. Ja, hy is die lig vir die wêreld! In Jes. 61 lees ons:
Hy het my gestuur om dié wat moedeloos is op te beur, om vir gevangenes vrylating aan te kondig, vryheid vir dié wat opgesluit is, om aan te kondig dat die tyd gekom het waarop die Here genade betoon...
Maar Hy is ook Ons enigste Hoëpriester. Die hoëpriester moes jaarliks met bloed van offerdiere in die allerheiligste van die tempel ingaan, daar waar die verbondsark gestaan het. Daar moes hy van die offerbloed op die versoendeksel van die verbondsark sprinkel om so versoening vir die volk se sondes te doen.
Toe die Here Jesus aan die kruis gesterf het, het die voorhangsel van in die tempel geskeur. Daarmee het Hy as Hoëpriester die pad na die allerheiligste vir altyd oopgemaak. Jesus het die weg na God toe oopgebreek sodat elkeen wat in Hom glo, saam met Hom daar kan ingaan.
Maar daar is nog meer. Hy is ook: Ons ewige Koning. Hy regeer ons met sy Woord en Gees. Hy lei ons na die ewige heerlikheid van die Vaderhuis. Ons is deel van sy ewige koninkryk!
Het u dit opgemerk broeder en suster? God het vir Jesus gesalf om ons te kom dien. Hy is ons Profeet en ons Hoëpriester en ons Koning! Ons trek al die voordeel uit sy dienswerk!
Wat beteken dit vir ons?
Ons belydenis sê ons is deur die geloof lede van Christus en ons het deel aan sy salwing....
Ja, broeder en suster
3. ONS IS SAAM MET JESUS GESALF
Dit beteken dat ons saam met Hom lewe en saam met Hom werk. Ons word nie verniet Christene genoem nie!
Ons is nou saam met Hom in God se diens! Ons is dus nou ook profete, priesters en konings!
As profete moet ek en jy nou ook God se wil oor ons verlossing in en deur die ere Jesus Christus bekendmaak. Ons moet met ander mense oor die Here Jesus praat. Hulle moet Hom as Verlosser en Saligmaker leer ken. Ons moet aan mense vertel en aan hulle wys wie en wat die Here Jesus is.
As priesters moet ons ook onsself as lewende dankoffers aan Hom toewy. Dit beteken dat ons ons hele lewe in alle fasette in sy diens moet stel. Ons moet bereid wees om ter wille van Hom opofferings te maak! Ons moet ons lewe in sy hande oorgee dat Hy daarmee kan maak wat Hy wil! Juis daarom noem die apostel Paulus homself ʼn slaaf van Christus!
Verder moet ons ook saam met Hom as konings regeer. Nie die sonde, nie die satan, nie die dood het oor ons enige mag of gesag nie. Ons is saam met die Here Jesus Christus konings. Ons heers en ons regeer. Ons is, so sê die apostel Paulus in Rom. 8, meer as oorwinnaars. En verder sê hy dat letterlik niks in die hele skepping ons van die liefde van God kan skei nie!
SLOT
As ons bely dat ons Christene is, sê ons daarmee wie ons is en wat ons doen. En dit is alles behalwe om lekker agteroor te sit. As ek en jy sê ons is Christene, het ons werk! Baie werk! Ons is profete en priesters en konings. Ons moet saam met die Here Jesus werk om onder leiding van die Heilige Gees God se wil bekend te maak. Ons moet, soos Hy, ons hele lewe as ʼn offer gee en ons moet saam met Hom oor die sonde, die satan en die dood heers.
Sien u kans vir die werk wat hierdie week voorlê?
AMEN.