1. JESUS IS WARE GOD
Kyk wat staan in ons teksvers. Hier sê Petrus vir Jesus: U is die Christus, die Seun van die lewende God.
Sommige mense wil hierdie feit wat in die Bybel staan nie aanvaar nie. Hulle kom met allerhande redenasies soos: In die Ou Testamentiese tyd is die koning ook ʼn seun van God genoem en Jesus was ook net die koning van die Jode genoem. Dit is mos wat op sy kruis geskryf was.
Natuurlik is dit waar dat die konings ook seun van God genoem is, maar met die Here Jesus was dit anders. Toe Petrus die dag bely dat die Here Jesus die Seun van die lewende God is, was Jesus se reaksie: Gelukkig is jy Simon Barjona, want dit is nie ʼn mens wat dit aan jou geopenbaar het nie, maar my Vader wat in die hemel is.
As ons bely dat die Here Jesus ware en ewige God is, dan is dit nie onsself nie wat dit sê nie, maar God wat dit deur sy Gees aan ons openbaar!
En nou moet ons verstaan: Die Heilige Gees word net aan bepaalde mense gegee. Net aan diegene aan wie God Homself wil openbaar!
Daar is letterlik miljoene mense wat van Jesus Christus hoor, maar wat Hom nie as die Seun van God aanvaar nie. Hulle kan nie in Hom glo nie en wil Hom ook nie as God aanvaar nie omdat God Homself nie so aan hulle openbaar nie. God laat hulle in hulle sondedood bly, want hulle is nie deel van sy uitverkorenes nie.
Daar is vandag baie mense en selfs sogenaamde teoloë wat beweer dat Jesus Christus net ʼn historiese figuur was. Hulle ontken die feit dat Hy ware God is. Die sogenaamde nuwe hervormers is teoloë uit die susterskerke. Hulle sê hy was maar net ʼn besondere mens. Hy is volgens hulle nie uit die maagd Maria gebore nie en het ook nie uit die graf opgestaan nie.
Verder verwerp ʼn godsdienstige groep soos die Jehova-getuies ook sy goddelikheid. Hulle sê Hy is Seun van God, maar baie beslis nie God nie. Daarmee verwerp hulle sowel as die nuwe hervormers Hom as Verlosser. Hulle is dan in werklikheid antichristelik!
Vir ons is dit egter glashelder dat Hy werklik God is. Die Skrif sê dit oor en oor! So lees ʼn mens in Jesaja. 9:5 die volgende profesie:
Vir ons is ʼn Seun gebore, aan ons is ʼn Seun gegee: Hy sal heers, en Hy sal genoem word: Wonderbare Raadsman, Magtige God, Ewige Vader, Vredevors.
En in ons teksvers bely Petrus:
U is die Christus, die Seun van die lewende God.
In Johannes. 1:1 & 14 staan:
In die begin was die Woord daar, en die Woord was by God, en die Woord was self God..... Die Woord het mens geword en onder ons kom woon. Ons het sy heerlikheid gesien, die heerlikheid wat Hy as die enigste Seun van die Vader het, vol genade en waarheid.
In Hand 2:34 – 36 haal Petrus uit Psalms 110 aan waar Dawid skryf:
Die Here het vir my Here gesê: Sit aan my regterhand totdat ek jou vyande aan jou onderwerp het.
Ons bely dat die Here Jesus ewige Seun van God is omdat God dit deur sy Woord en Gees aan ons openbaar.
En nou is die wonderlike boodskap wat ons met dankbaarheid en blydskap laat jubel en juig:
2. JESUS IS KIND VAN GOD EN ONS OOK!
Hy het die heerlikheid van sy hemelse woonplek verlaat en na hierdie wêreld toe gekom om ons uit ons sondedood te kom verlos!
In Joh. 6:38-40 sê ons Here Jesus:
Ek het van die hemel af gekom nie om my wil te doen nie, maar die wil van Hom wat my gestuur het. En dit is die wil van Hom wat my gestuur het: dat Ek van almal wat Hy My gegee het, nie een verlore sal laat gaan nie, maar hulle almal op die laaste dag uit die dood sal laat opstaan. Dit is die wil van my Vader: dat elkeen wat die Seun sien en in Hom glo, die ewige lewe sal hê.
En in 1 Joh. 3:1 staan:
Kyk watter groot liefde die Vader aan ons bewys het: Hy noem ons kinders van God en ons is dit ook. En die wêreld ken ons nie, omdat hulle Hom nie ken nie.
Ons wat in Jesus Christus as die enigste Seun van God glo, is nou kinders van God! Natuurlik nie eie kinders nie. Net Jesus Christus is God se eie Seun.
Maar hoe het ons dan kinders van God geword?
Ons was aanvanklik vyande van God. Ons is van nature geneig om God en ons naaste te haat. Uit onsself kon ons niks doen nie. Ons was dood in ons sondeverlorenheid.
God moes kom ingryp en Hy het dit gedoen toe Hy in die Persoon van die Seun Self na hierdie aarde toe gekom het om ons uit die greep van die satan, die sonde en die dood te bevry. Hy het ons aangenome kinders van God gemaak.
Hoe het Hy dit gedoen?
Hierdie vraag bring ons by die volgende punt van ons belydenis. Ons bely:
3. JESUS IS ONS HERE
Hy is nie net Seun van God nie. Hy is ook ons Here. Die Naam Here beteken Eienaar.
Jy word ʼn eienaar as jy iets koop. As jy iets koop word dit mos jou besitting.
Jesus Christus is ons Here omdat Hy ons uit die mag van die satan, die sonde en die dood losgekoop het. Hy het ook nie met geld vir ons betaal nie. Nee, Hy het met sy lewe betaal. Hy het sy eie lewe as losprys vir ons gegee!
Nou besit Hy ons. Hy is ons Eienaar.
Ja, ons is sy duurgekoopte eiendom. Daarom bely ons ook in soveel woorde:
Dat ek met liggaam en siel in lewe en in sterwe nie aan myself nie, maar aan my getroue Verlosser Jesus Christus behoort. Hy het met sy kosbare bloed vir al my sondes ten volle betaal. (HK Son 1)
Kan u verstaan waarom die apostel Paulus homself ʼn slaaf van Jesus Christus noem?
Soos in die ou tyd toe slawe op die veilig soos diere verkoop is, so is ons losgekoop uit die mag van die satan en nou is ons Jesus Christus se eiendom. Ons is nou in sy diens!
Ons behoort nie aan die satan nie. Ons behoort ook nie aan onsself nie. Ons behoort aan die Here. Hy besit ons met alles wat ons is en het! Daarom is ons in sy diens. Ons werk vir Hom. Ons leef vir Hom. Ons dien Hom alleen.
SLOT
Kom ons vat saam:
Ons Here Jesus Christus is ware ewige God wat van die hemel na hierdie aarde gekom het om ons van die satan, die sonde en die dood te verlos.
Hy het ons saam met Hom kinders van die lewende God gemaak.
En nou is Hy ons Here, want Hy het ons gekoop en in sy diens gestel. Ons lewe nou saam met Hom as kinders van ons hemelse Vader.
Daarom jubel en juig ons. Daarom stel ons onself in dankbaarheid tot God se beskikking. Ons word instrumente in sy hand om sy lig en sy liefde in hierdie wêreld sigbaar te maak.
amen