Sosiale Skakels

Besoekers

We have 26 guests online

Teken In

Follow us on FacebookFollow us on Twitter


Monday, 19 March 2012 07:23

GOD SE GENADE IS NIE GOEDKOOP NIE - LUKAS 13:23 & 24

Written by 
Rate this item
(1 Vote)

 

SKRIFLESING: LUKAS 13:22 - 30

TEKS: LUKAS 13:23 & 24    

TEMA:  GOD SE GENADE IS NIE GOEDKOOP NIE

 

Het u al gesien watter chaos daar uitbreek as  ʼn hele klomp mense gelyk probeer om deur een deur te storm?

Jesus sê so ʼn toestand gaan op die laaste dag ontstaan!

Hoor wat sê Hy:

Baie, verseker Ek julle, sal probeer om in te gaan, maar dit nie regkry nie.

Die heersende gedagte destyds onder die Jode was dat jy 'n Jood moes wees om gered te word. Ja, as jy kon sê dat jy Abraham, Isak en Jakob as voorvader het, was jy  eintlik reg.  Al wat jy verder moes doen, was om die wet na te kom. En dit het 'n Jood mos darem met volle oorgawe gedoen!  Hy het gereeld gevas, hy het sy tiendes gegee en ook aalmoese aan die armes gegee. Hy het volgens die voorskrifte van Moses se wet gelewe - al die reiniging­swette en offerwette noukeurig nagekom.

Maar toe kom Johannes die Doper en sê hulle moet hulle bekeer. Hy berei toe die weg vir Jesus wat leer dat jou verlossing nie nasionalisties, volgens jou afkoms, bepaal word nie, maar wel geestelik, d.w.s op grond van jou geloof!  Dink maar net aan Jesus se leer in die Bergrede. Hy het nie gesê dat die Jode as nageslag van Abraham salig is nie, maar eerder dat die wat honger en dors na wat reg is en die wat oor hulle sonde treur en die wat rein van hart is, hulle is salig!

Om deel van God se verbondsvolk te wees is wel  groot genade, broeders en susters. Ja, om lidmaat van die kerk van Christus te wees is 'n heerlike voorreg, maar

GOD SE GENADE IS NIE GOEDKOOP NIE!

 

Iemand uit die skare mense wat vir Jesus gevolg het, het aan Hom gevra: Here, is dié wat gered word, maar min?

Kom ons kyk na die Here Jesus se antwoord in drie punte:

1. DIE WAT OP TOEGANG AANSPRAAK MAAK, IS BAIE.

2. DIE DEUR NA DIE KONINKRYK IS SMAL

3. DIE WAT INGAAN, IS MIN.

In die eerste plek:

1. DIE WAT OP TOEGANG AANSPRAAK MAAK, IS BAIE

Die Jode het destyds gedink dat hulle liggaamlike afstamming die toegangskaartjie tot die ewige lewe is. Hulle het gedink al die Jode sal ingaan.  Om dus die ewige lewe in te gaan, was wat hulle betref, maklik - jy moes maar net amptelik 'n Jood wees.

Vandag sit ons met dieselfde probleem. Baie mense dink omdat hulle deel van God se verbondsvolk is en die teken van die doop ontvang het, is hulle nou outomaties op pad na die ewige lewe.

Jesus praat met die Jode en sê: As die eienaar van die huis eers opgestaan en die deur toegesluit het, sal julle buite staan en aan die deur begin klop en roep: “Here, maak vir ons oop!” Maar Hy sal julle antwoord: “Ek weet nie waar julle vandaan kom nie”.

Baie mense is, op so  ʼn wyse, net in naam deel van die volk van God. Hulle kom ook graag al die formele wette en die gebruike en ook die tradisies van die voorvaders na. Formeel is alles in orde!

So kry jy vandag ook mense wat gereeld eredienste bywoon en ook bydraes gee.  Hulle lees uit die Bybel en bid elke dag. Jy kan na hulle godsdienstige optrede kyk en dink:  Hierdie mense is goeie gelowiges. So op die oog af, lyk alles in orde.

Maar nou kom Jesus en sê:  Op die laaste dag sal die Here vir party mense sê: “Ek weet nie waar julle vandaan kom nie. Niemand van julle het gedoen wat reg is nie.  Maak dat julle van My af wegkom!”

 

Die probleem, broeder en suster, is:

2. DIE DEUR IS SMAL

Jesus vergelyk die koninkryk van God met 'n huis wat net een deur het. Mense word geroep om in die huis in te gaan, want die deur gaan op 'n sekere tydstip gesluit word.

Hierdie deur, sê Jesus egter, is smal. Mense moet een-een of twee-twee ingaan. Dit verg inspanning.

Op  ʼn ander plek (Joh. 10), sê die Here Jesus dat Hy die ingang na die koninkryk is.  Hyself is m.a.w. die deur. Jy kan net deur Hom alleen ingaan. Daar is nie nog  ʼn deur nie en boonop is die deur smal.  In Matt. 7:13 sê die Here Jesus:

Gaan deur die nou poort in. Die poort wat na die verderf lei, is wyd en die pad daarheen breed, en dié wat daardeur ingaan, is baie. Maar die poort wat na die lewe lei, is nou en die pad daarheen smal, en dié wat dit kry, is min.

·         As jy deur die Here Jesus, die smal deur,  in die koninkryk wil ingaan

·         Kan jy nie met jou motor daar inry nie

·         Kan jou afkoms nie jou toegangskaartjie wees nie

·         Ook kan jy nie met jou plaas of besigheid deurgaan nie.

·         Jou aansien of geleerdheid kan ook nie deur die deur kom nie.

·         Al hierdie dinge word in die proses om met inspanning deur die deur te kom, van jou afgestroop!

·         Dit gaan eenvoudig daaroor dat jy in  ʼn persoonlike en lewende verhouding met die Here Jesus staan.

Die Here Jesus verander mos  ʼn mens se hele lewe!  Hy was jou sonde met sy bloed af. Hy gee aan jou sy Gees sodat jy onder leiding van die Heilige Gees wedergebore word.  Dan lewe jy  ʼn nuwe lewe.  Dan gaan dit nie meer oor wie jy is nie, maar oor wat jy doen!

Die Here Jesus sê: Op die laaste dag sal mense aan die toe deur staan en klop en roep.  Hulle sal sê: “Ons het saam met U geëet en gedrink, en op ons strate het U die mense geleer”Maar Hy sal vir hulle sê: “ Ek weet nie waar julle vandaan kom nie. Niemand van julle het gedoen wat reg is nie.

Al ons eie pogings is tevergeefs.  Al die maniere waarop ons probeer om op ons eie manier godsdienstig te wees, is  ʼn gejaag na wind. Al die mensgemaakte reëls en tradisies is hindernisse wat jou terughou, sodat jy nie deur die deur kan kom nie!  Eers wanneer die Here Jesus beheer van jou lewe geneem het, is jy op die regte pad. Hy moet jou reinig. Hy moet jou lewe nuut maak.  Hy verander jou in jou wese.

Ja, daar is baie mense naby die deur. Daar is baie mense in die Here Jesus se omgewing.  En op die laaste dag sal hulle meteens besef hulle was net naby en dan sal hulle gelyk storm om in te gaan, maar dan sal dit te laat wees!  In die chaos gaan die deur voor hulle oë toeklap!  Dan sal dit nie help om te klop en te roep en te sê jy het die Here Jesus geken nie. Om Hom net te ken help niks nie. Hy verwag dat jy sal doen wat reg is. En jy kan net doen wat reg is, as jy aan Hom verbind is, in Hom ingelyf is.  Dit gebeur net deur  ʼn ware geloof.  En ware geloof is nie praatgeloof nie - Dit is doen geloof!

Daarom sê Jesus

3. DIE WAT INGAAN, IS MIN

Die Here Jesus sê: Span al julle kragte in om by die smal deur in te gaan..  Om jou voortdurend in te span is moeilik. Om gedurig met 'n geveg besig te wees is veeleisend.  Hierdie geveg is teen ons dodelike vyande:  Die Satan, die wêreld en my eie sondige natuur!

Ja, hierdie geveg is 'n stryd - ook teen jouself!

Die meeste mense gaan verlore omdat hulle ewe gemaklik saam met die breë stroom drywe.  Hulle doen die dinge op die gemaklike manier. Hulle dink hulle is gelowiges. Hulle is in die kerk, hulle gee darem  ʼn bydrae en woon darem eredienste by. Maar dit is min of meer al.

Sulke mense weerstaan nog die Heilige Gees wat hulle wil nuut maak. Hulle is nog gelowiges op hulle eie voorwaardes en terme.  Hulle is nie bereid om werklik  ʼn tiende van hulle inkomste as dankoffer te gee nie en is ook nie bereid om opofferings te maak om die Here se koninkryk uit te brei nie. Hulle wil naby die Here lewe, maar wil nie doen wat reg is nie!

Onthou wat Jakobus in sy brief skryf:   ʼn Geloof wat nie tot dade kom nie, is  ʼn dooie geloof!  En so  ʼn dooie geloof kan  ʼn mens nie red nie!

Sulke mense wat nog nie deur die smal deur, Jesus Christus ingegaan het nie, hulle wie se lewe nog nie in wese verander het nie, staan nog buite!  Hulle is naby, maar nie binne-in nie!  Hulle sal op daardie laaste dag huil en op hulle tande kners.  Hulle sal die ware gelowiges binne-in die koninkryk sien, maar hulle sal self buitentoe weggejaag word!

Broeders en susters.  Ons lewe nog in genadetyd.  Die deur is nog oop. Die Here Jesus roep nog: “Kom na My toe almal van vermoeid en belas is. Ek sal julle rus gee"

 

SLOT

Geliefdes,  God se genade  is groot, maar sy genade is nie goedkoop nie. Ek en jy word nie sommer maar outomaties gered nie. God vergewe ook nie maar sommer net outomaties jou sondes nie.

Die enigste pad van verlossing is die pad deur die smal deur naamlik Jesus Christus. Hy alleen is die weg en die waarheid en die lewe.  

Dit is die pad wat ons moet loop, is  ʼn pad wat inspanning vereis. Dit is die pad wat verby die kruis en verby die graf van die Here Jesus Christus loop.

Dit beteken dat ek en  jy saam met Hom moet sterf en ook saam met Hom in 'n nuwe lewe moet op­staan!

Broeder, suster:  Waar staan jy vandag?  Het jy al deur die smal deur gestap of staan jy net so naby die deur, maar nog steeds buite?

 

                                                                                  AMEN

Read 7767 times
Danie de Kock

Website: www.facebook.com/profile.php?id=1438745475 Email This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it
Login to post comments

Soek