1. DIE FARISEËR SE GODSDIENS
Hulle het die “wet en die profete” , dws die hele Ou Testament goed geken, dit uitgelê en toegepas.
Daarom sê Jesus in verse 2 en 3 van hierdie hoofstuk:
“Die skrifgeleerdes en Fariseërs het die gesag om die wet van Moses te vertolk. Julle moet alles doen wat hulle vir julle sê…”
Ja, die skrifgeleerdes en Fariseërs het beslis die nodige kennis gehad. Jy kon luister as hulle die Skrif uitlê, maar dan hoor dan wat sê Jesus:
“…… maar hulle voorbeeld moet julle nie navolg nie, want hulle doen self nie wat hulle sê nie”.
Sien u die probleem? Die skrifgeleerdes en Fariseërs se leer en hulle daaglikse lewe het glad nie bymekaar gepas nie. As jy mooi kyk, sien jy: Dit het vir hulle eintlik net oor die uiterlike dinge gegaan. In vers 5 staan: Alles wat hulle doen, doen hulle net om deur mense gesien te word. Hulle maak die gebedsband om hulle voorkop breed en die tossels aan hulle klere groot.
Die gebedsband was ʼn leerband wat hulle om hulle koppe gedra het. Daarin was ʼn houertjie met Deut. 6:4-9 op ʼn papiertjie geskryf. Hierdie mense se gebedsbande was breër as die gewone.
Ook die tossels wat volgens Num 15 deur elke Israeliet aan die hoeke van sy bokleed vasgemaak moes wees om sy getrouheid aan die wet te simboliseer, die maak hulle groter.
Hulle godsdiens moes gesien word! Ja, die spreekwoordelike Fariseërs was iemand wat homself as die voorbeeld van godsdienstigheid voorgehou het. Hy het van die godsdiens ʼn klomp wette en reëls gemaak. Die Here Jesus beskuldig hulle daarvan dat hulle laste op ander mense lê deur gedurig op die letter van die wet te wys. Hulle het aanhoudend op allerhande klein uiterlike dingetjies fokus en boonop baie gou mense veroordeel wat van die reëls en wette afgewyk het. Jesus sê hulle was besig om die muggies uit te skep.
Ja, geliefdes, dit was
2. DIE HERE SE PROBLEEM MET DIE FARISEËR
Die Here Jesus sê in hierdie hoofstuk by herhaling: Ellende wag vir julle skrifgeleerdes en Fariseërs ....
En dit is tog so ironies! Hulle was immers mense wat ywerig, met toewyding en oorgawe hulle godsdiens beoefen het!
Tog sê die Here Jesus by elkeen van hierdie “ellende-uitsprake” baie duidelik waarom die ellende vir hulle wag. Met hulle manier van doen, sluit hulle die deur van die koninkryk in mense se gesig toe. Met hulle optrede skrik hulle mense af en verhinder hulle mense om by God uit te kom.
En kyk dan wat gebeur! Wanneer hulle wel een bekeerling maak, sê die Here Jesus, leer hulle hom om soos hulle te wees en dan word die toestand in daardie mens se lewe selfs nog erger. Jesus sê hulle maak so ʼn persoon dubbel ryp vir die hel!
Wat die ironie hier nog groter maak, is dat hulle nuwe wette maak om ander wette te kan ontduik. So sê hulle byvoorbeeld jy kan ‘n eed by die tempel aflê. Maar jy is nie aan jou eed by die tempelgebind nie. Daar is egter ʼn ander eed wat jy by die goud van die tempel aflê. En ʼn eed by die goud van die tempel, daaraan is jy gebind. Hulle maak die eed belaglik en niksseggend! So tas hulle God se eer aan!
Dan wys die Here Jesus hulle op nog ʼn vergryp. Hulle is so pynlik getrou met hulle tiendes dat hulle selfs van die kruie wat hulle in hulle kos gebruik, tiendes gee! Daar is nie eers so ʼn opdrag in die wet nie! Hulle het dit bygevoeg. Weer die klein uiterlike dingetjies – die muggies!
Maar sê Jesus dit wat die swaarste weeg, die kameel, wat lewensgroot voor julle staan. Hom sien julle nie eers raak nie! Ja, dit wat volgens die wet die swaarste weeg naamlik geregtigheid, barmhartigheid en betroubaarheid, dit sluk julle in. Julle is nie eers bewus daarvan nie.
Ja, oor en oor klink Jesus se veroordelende uitspraak: Ellende wag vir julle, want julle is met die uiterlike dinge besig. Buitekant skoon en mooi, maar binne vol hebsug en doodsbeendere.
Broeder en suster. Kom ons wees vandag weer elkeen baie eerlik met onsself en vra: Hoe lyk my godsdiens? Waaroor praat ons? Wat sien ons as die belangrike dinge in ons persoonlike godsdiens en in ons kerklike lewe? As ons bekommerd is oor die Gereformeerde Kerkverband, wat is die dinge wat ons bekommerd maak?
Gaan dit oor sekere uiterlike reëls en wette en gebruike? Of gaan dit oor ons verhoudings? Ons verhouding met God en ons verhouding met ons naaste?
Ja, broeder en suster, vra ons regtig:
3. WAT WIL DIE HERE HÊ?
Hy kyk immers baie diep in jou en my hart. Hy weet baie goed wat ons elkeen se gesindheid is. En onthou Hy verwag dat ons hartsgesindheid reg sal wees.
Daarom het Hy vir die skrifgeleerdes en Fariseërs destyds gesê Hy soek geregtigheid, barmhartigheid en betroubaarheid. Dit het alles met jou hart te doen.
Geregtigheid het met jou gesindheid ten opsigte van regverdigheid te doen. Jy mag nie onregverdig wees in die manier hoe jy ander mense hanteer nie. Jy moet alle mense oor dieselfde kam skeer ongeag van hulle afkoms, sosiale status of velkleur. Die Here weet wat jou gesindheid diep in jou hart is. Die Here Jesus is natuurlik ons geregtigheid, want Hy herstel ons verhouding met ons hemelse Vader. Hy het ons voor God regverdig kom maak!
En barmhartigheid? Barmhartigheid beteken om ander mense onverdiend lief te hê. Dit is immers die manier hoe die Here ons liefhet! Hy het vir ons kom sterf toe ons nog goddeloos en boonop sy vyande was! Hy verwag daarom van ons om ook soos Hy op te tree. Hy sê, die ongelowiges groet ook net diegene wat hulle groet en help diegene van wie hulle weer hulp kan verwag. Ons moet meer doen. Ons optrede moet ander mense se monde van verbasing laat oopval!
Betroubaarheidgaan daaroor dat ek en jy sal ons doen wat ons sê. Dit help niks om net oor jou geloof te loop en praat nie. Geloof moet dade word. Oor die saak is Jakobus baie reguit. Hy sê ʼn geloof sonder dade is ʼn dooie geloof en kan jou nie red nie.
Direk na hierdie uitsprake van die Here Jesus, roep Hy uit:
“Jerusalem! Jerusalem! Jy wat die profete doodmaak ….. hoe dikwels wou ek jou kinders bymekaarmaak, soos ʼn hen haar kuikens onder haar vlerke bymekaarmaak, maar julle wou nie!”
Ja, die Here Jesus huil oor Jerusalem, die simbool van die volk se godsdiens en verhouding met God. Vandag is die kerk natuurlik die nuwe Jerusalem.
Daarom moet ons vra: Is ons met die regte dinge besig? Is ons met ware godsdiens besig? Maak ons nie ook maar te dikwels van klein bysakies, groot hoofsake nie? Is ons nie ook in ʼn sekere sin met muggievangery besig nie?
As ons besig is met sake waarop dit regtig aankom, sal ons ʼn merk in die samelewing maak. Mense sal na ons toe aangelok word omdat hulle sal sien en ervaar dat die Here by ons is. Hulle sal die Here Jesus in ons optrede sien.
SLOT:
Geliefdes, die Here se groot opdrag aan sy kerk is tog om uit te gaan en mense sy dissipels te maak. (Matt 28:19) Dit is tog om sout vir die aarde en lig vir die wêreld te wees! En wanneer die apostel Paulus oor die wesenlike van ons godsdiens praat sê hy dat ons onself as lewende en heilige offers aan God moet gee. Doen ons dit?
AMEN.