Sosiale Skakels

Besoekers

We have 28 guests online

Teken In

Follow us on FacebookFollow us on Twitter


Friday, 06 April 2012 05:35

Duisternis sak toe wanneer God met ons sonde afreken - Markus 15:33 & 34

Written by 
Rate this item
(1 Vote)

 

Skriflesing: Markus 15:21 - 41

Teks: Markus 15:33 & 34

 

DUISTERNIS SAK TOE WANNEER GOD MET ONS SONDE AFREKEN

 

Geliefdes in ons Here Jesus Christus

 

Waarom word hierdie openbare vakansiedag juis “Goeie Vrydag” genoem? Wat is dan so “goed” aan hierdie dag?

 

Goeie Vrydag is immers die dag waarop ons die kruisdood van ons Here Jesus Christus herdenk. En ons weet mos die kruisiging was alles behalwe ’n goeie manier om te sterf.

 

Ons noem hierdie dag waarop ons Jesus Christus se weersinwekkende kruisdood herdenk, Goeie Vrydag...

Waarom? 

 

Vir ons as Christene is vandag Goeie Vrydag omdat God op hierdie dag met ons sonde afgereken het en ons saam met kinders van God gemaak het

 

Om reg te verstaan  wat ons Here Jesus Christus vir ons daardie Vrydag toe Hy gekruisig deurgemaak het, moet ons twee dinge in gedagte hou:

  • God is ernstig in sy haat teen die sonde en
  • God is fel in sy oordeel en straf op die sonde

 

1. GOD IS ERNSTIG IN SY HAAT TEEN DIE SONDE

 

Toe Adam en Eva in sonde geval het, het God hulle uit sy teenwoordigheid en uit die paradys gedryf.  Hulle ongehoorsaamheid aan sy duidelike opdrag het duidelike skeiding  gebring.

 

As gevolg van die mens se sonde het die dood ingetree en God het die aarde vervloek.

 

Daarom sit ons tot vandag toe nog met haat, twis korrupsie en geweld. Al die hartseer, siekte en pyn. Ja, die volle omvang van die ellende wat ons op hierdie aarde beleef, dit alles is God se reaksie op die mens se sonde. 

 

En nou is die punt:  God haat die sonde. Hy wil die aarde van die mens se sonde reinig, dit skoon was. Daarom het Hy die geweldige klomp waters van die sondvloed gestuur.  Hy maak  ʼn skoon begin met Noag en sy gesin. Maar, broeder en suster,  die sonde sit aan die mens, selfs aan die mees gehoorsame, voorbeeldige en getroue mens.  Nie baie lank nadat Noag uit die ark kom, is die sonde maar net weer daar. Hy lê hy dronk en kaal in sy tent!

 

Die res van die Ou Testament vertel hoe God vir Hom  ʼn eie volk bymekaarmaak. Hy sluit met hulle  ʼn verbond. Hy gee aan hulle  ʼn eie land om in te woon.  Hy stuur profete om sy Woord aan hulle te bring. Maar alles is tevergeefs. Selfs die 70 jaar in ballingskap kan hulle nie weer in die regte verhouding met God bring nie.

 

Om van die sonde op hierdie aarde ontslae te raak, is meer as net  ʼn  goeie en gehoorsame mens nodig.  God moes persoonlik in hierdie sonde ellende kom ingryp.

Daarom stuur Hy sy Seun sy enigste, wat Hy liefhet om die aarde van die ellende wat die sonde veroorsaak, te kom verlos.

 

En kyk hoe stel Jesus Homself dan bekend.

  • Hy begin met sy werk deur te preek. D.w.s. hy wys die regte pad aan.  Die pad van God se koninkryk. 
  • Verder dryf hy duiwels uit om sy mag oor die Satan te toon. 
  • Dan maak Hy ook mense gesond en wek selfs dooies op. Maw. Hy oorwin siekte en dood.

 

Vir ongeveer drie jaar stel Hy Homself as die Seun van God bekend en dan breek die oomblik van sy eintlike verlossingswerk aan - Die Goeie Vrydag toe Hy aan die kruis hang!

 

Daar was natuurlik ’n aanlopp tot die kruis. In die drie jaar toe Hy Homself bekendgestel het, het die Satan Hom versoek, en op verskillende maniere aangeval.  Onder andere het die Skrifgeleerdes en Fariseërs Hom gedurig as ’n vals profeet en bedrieër probeer brandmerk.  Een van sy eie dissipels verraai Hom uiteindelik en so begin sy, sal ons maar sê, finale marteling.  Hy kry met die volle spektrum van die ellende wat deur die sonde veroorsaak word, te doen.  Valse beskuldigings, ’n onregverdige verhoor, sy eie mense wat Hom verlaat. Hy word gespot en op die allerwreedste manier gemartel.  En uiteindelik gekruisig.

 

Al hierdie dinge, hoe erg ook al, is dinge wat ander mense van sy tyd ook deurgemaak het en wat ons vandag ook nog deurmaak.  Daar is vandag ook valse beskuldigings; onregverdige regters; mense wat gespot en gemartel word en mense wat op die wreedaardigste maniere denkbaar vermoor word.

 

Dit wat mense aan jou kan doen, selfs die allerwreedste dinge,  is nie waaroor Jesus se kruisdood in die eerste plek gaan nie.  Daar was in elk geval duisende ander mense wat ook soos Jesus aan die kruis gesterf het.

 

Die groot vraag is:  Wat maak Jesus se kruisdood dan nou so anders dat ons die dag waarop ons dit herdenk, Goeie Vrydag kan noem?

 

Op daardie Vrydag, broeders en susters, om 12 uur, dws in die middel van die dag, toe die son heel bo aan die hemel sit, het dit meteens pik donker geword.

 

Dink daaraan.  Toe Jesus gebore is, is die donker nag in die velde rondom Betlehem meteens helder verlig.  Jesus word genoem die blink Môrester, die Lig vir die wêreld. Toe Hy egter aan die kruis hang, word dit pik nag donker.

 

Het u al vir uself die vraag gevra:  Wat het in daardie drie donker ure van 12 uur tot 3 uur die middag gebeur?  In ons teksvers staan net:

“Teen twaalfuur die middag het daar duisternis oor die hele land gekom en dit het tot drie-uur geduur”

Net dit.  Niks meer.

 

Geliefdes hier moet ons verstaan. God is ernstig in sy haat teen die sonde, daarom

 

2. IS HY FEL IN SY OORDEEL EN STRAF

 

Jesus Christus, God se eie Seun, wat Hy liefhet.  Hy dra uiteindelik God se volle toorn.....  Hy beleef God se felste woede teen die mens se sonde.... In daardie drie donker ure aan die kruis.

 

In daardie donker ure, broeders en susters het God  met die sonde van die wêreld afgereken.  In daardie drie ure het Jesus die volle gloed van God se toorn beleef!

 

En het u opgelet? Soos die profeet Jesaja gesê het, was Jesus stil soos ’n skaap voor sy skeerders en soos ’n lam wat na die slagplek gelei is.  Toe die mense in hulle sondige waansin hom gespot, gemartel en gekruisig het, het Hy stil gebly.  Selfs die mense se aller-verskriklikste wreedheid het Hom nie laat gil of skree nie. Hy was stil in sy lyding.

 

Maar om drieuur.  Na drie ure van duisternis waar die

mense Hom gelos het, en God, kan ons maar sê, oorge-neem het, roep Hy hard uit:  Eloï, Eloï, lemá sabagtani?  Dit beteken: My God, my God, waarom het U My verlaat?

 

Dit is oor hierdie woorde wat Goeie Vrydag gaan!

 

Jesus Christus moes God se straf op ons sonde dra. En toe Hy besig is om dit te doen, word dit pik donker.  Alle lig verdwyn.  Daar is niemand om Hom te help nie. En dan word Hy ook deur God verlaat. 

 

En dan kom die einde. Net voordat Hy sy laaste asem uitblaas,  roep hy nog een keer hard uit: Dit is volbring

 

Ja, Hy het gedoen, wat Hy moes doen.  Hy het die straf vir ons sondes gedra.  Die straf wat vir ons vrede moes bring, was op Hom.  Daarom kan die apostel Paulus dit in Romeine 8:1 uitjubel:  “Daar is dus nou geen veroordeling vir dié wat in Christus Jesus is nie”.

 

Maar nou is die groot vraag, broeder en suster

 

3. WAT MAAK ONS MET HIERDIE VERLOSSINGSDAAD VAN JESUS CHRISTUS?

 

Jy kan die wrede kruisigingsgebeure wat op die heuwel buite Jerusalem in die Bybel lees of selfs na  ʼn video kyk of na die film The passion of the Christ daarna kyk.  Jy kan geskok en selfs aangedaan daaroor voel.  Ja, die Here Jesus kruisiging was verskriklik.

 

Maar wat van die drie-ure duisternis?  Wat het alles in daardie duisternis gebeur ? In die tyd toe Hy deur God verlaat is?   Wat daarvan? 

 

In daardie drie ure het God met ons elkeen se sonde afgereken. Hy het sy volle woede op sy enigste Seun laat neerbrand.    Broeder en suster:    Dit is Goeie Vrydag!

Daarom hoef nie een van ons met enige sonde saam te leef nie.  Hy het ons kom bevry!  Daarom sê Jesus: Kom na My toe almal wat uitgeput en oorlaai is. Ek sal julle rus gee..”

 

God is ernstig oor die sonde. Hy haat dit en Hy het daarmee afgereken deur sy eie Seun daarvoor te straf… Die groot vraag aan ons elkeen is:

Hoe ernstig is jy oor die sonde in jou lewe?  Wil jy ook daarmee afreken?  Jesus sê: Kom na My toe..

 

SLOT

 

Broeder en suster. Ken u hierdie  Here Jesus Christus van Goeie Vrydag? Het u ’n lewende en ’n persoonlike verhouding met Hom?

 

God is ernstig wanneer Hy met die sonde afreken. Hy het sy eie Seun verlaat sodat ons nooit weer deur Hom verlaat sal word nie. 

 

Daarom is dit vandag Goeie Vrydag!

                                                                AMEN

Read 5090 times
Danie de Kock

Website: www.facebook.com/profile.php?id=1438745475 Email This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it
Login to post comments

Soek