Sosiale Skakels

Besoekers

We have 20 guests online

Teken In

Follow us on FacebookFollow us on Twitter


Sunday, 08 April 2012 04:21

Christelike hoop oorwin realiteite - Lukas 24:21

Written by 
Rate this item
(0 votes)

 

Skriflesing: Lukas 24:13 – 35

Teks: Lukas 24:21

 

CHRISTELIKE HOOP OORWIN REALITEITE

 

Geliefdes in ons Here Jesus Christus

 

Wanneer ons as mense met die harde werklikheid van hierdie sondige bestaan te doen kry, sien ʼn mens dit sommer duidelik geteken op ons gesigte. Jy sien verslaentheid en moedeloosheid.  Jy sien hartseer en teleurstelling.   

 

Toe die Emmausgangers op Jesus se vraag, waaroor hulle besig was om te praat, moes antwoord, so lees ons, was hulle gesigte somber.  Ja, die Here Jesus kon duidelik die swaarmoedigheid en die hartseer op hulle gesigte lees.

 

Dit wat die vorig paar dae in Jerusalem gebeur het, was verskriklik.  Jesus se oorlewering aan die Joodse raad, sy onregverdige verhoor en wrede kruisiging het hulle diep getref. Hoor wat sê hulle:

 

“Ons het so gehoop dat dit Hy is wat Israel sou verlos, maar boonop is dit vandag al die derde dag vandat die dinge gebeur het”

 

Die feit van die saak, broeders en susters is:

 

1. HARDE REALITIETE LEI MAKLIK TOT WANHOOP:

 

Hierdie twee mans was voor Jesus se kruisiging vol hoop. Hulle het in hulle verbeelding gesien hoe die glorieryke en voorspoedige dae van die ryk van Israel, soos in Dawid en Salomo se tyd geheers het, weer sal aanbreek.

Boonop was hierdie Jesus, wat gekruisig is, ‘n besondere mens. Hy het met gesag gepraat en kon wonderwerke doen. Hy het siekes gesond gemaak, sommer duisende mense op  ʼn slag kos gegee en selfs dooies opgewek.  Hulle was so seker dat Hy die beloofde Messias, waarvan die profete gepraat het, was.

 

Maar nou is Hy dood. Hy het aan die kruis gesterf en is begrawe. Alles tevergeefs.  Ja, daarom is hulle gesigte somber en voel hulle moedeloos en swaarmoedig.

 

Wanneer ‘n mens so met die werklikhede en die feitlikhede van jou omstandighede gekonfronteer word, lei dit maklik tot wanhoop.  Wanneer jy voor die feitelikheid van jou siekte gestel word, weet jy: Ek sal nooit weer dieselfde wees nie. Wanneer die berig kom dat iemand vir wie jy lief is, skielik dood is, weet jy: Hier is die realiteit. Hy of sy is dood en ek kan niks verander nie.

 

Dieselfde gevoel kom by jou op wanneer jy met ‘n skok voor die werklikheid van byvoorbeeld jou kind se verkeerde of sondige optrede staan en besef, maar ek sou dit anders wou hê, maar ek kan niks doen nie.  Ook wanneer jy jou werk verloor, weet jy, hier sit ek met die harde werklikheid.

 

So ervaar  ʼn mens ook swaarmoedigheid en wanhoop as jy in jou huwelik by die punt kom waar jy besef hier is iets radikaal verkeerd.  Ek voel nie meer oor hom of haar soos ek gevoel het nie.  Iets het hier heeltemal skeef geloop.  My huwelik is besig om uitmekaar te val.

 

In sulke situasies voel jy alleen, moedeloos en verontreg. Soms  voel dit selfs of die Here jou verlaat het.  Hoor net hoe kla die Koragiete in Psalm 42: “Soos ‘n wildsbok smag na waterstrome, so smag ek na U, o God”  En in Ps 73 sê Asaf dat dit vir hom so donker geword het dat sy voet wou gly. En in Ps. 13 kla Dawid dat die Here aanhoudend van hom af wegkyk!

 

Ja, die realiteite van die lewe is hard.

 

Maar broeders en susters, daar is ook ʼn ander realiteit waarvan ons deeglik kennis moet neem en ons moet dit nooit vergeet nie.  En dit is:

 

2. AL SIEN JY NIE DIE HERE NIE, IS HY ALTYD BY JOU:

 

In verse 15 en16 staan: “Jesus (het) self nader gekom en met hulle saamgeloop, maar hulle oë is verhinder om Hom te herken”   Hulle het nie gesien wie saam met hulle loop nie!

 

Hier staan hulle oë is verhinder, maar wat het hulle oë verhinder? Ons lees nie dat dit die Here is wat hulle oë verhinder het nie. Wat was dit dan?  Was dit dan nie tog maar hulle omstandighede, die harde realiteite wat hulle gesigte somber gemaak het en hulle harte so swaarmoedig gemaak het nie?  Soveel so dat dit hulle verhinder het om Hom te herken.

 

Broeder en suster, wanneer jou wêreld ineenstort, is dit moeilik om die Here tussen die trane deur te sien.  Jou probleme is dan so groot dat jy niks anders wil of kan raaksien nie.

 

Maar kyk wat doen Jesus!  As hulle Hom nie herken nie, loop Hy nie maar verder en los hulle alleen nie. Nee, Hy bly by hulle en Hy loop saam met hulle. Hy praat met hulle.  Hy verduidelik weer vir hulle wat die uitsprake van die profete beteken.  Hy onderrig hulle met die Woord.

 

Hier is  nou twee punte wat ons goed moet vashou broeders en susters:

·        (1) Die Here is altyd by jou.  Al gebeur die verskriklikste dinge met jou in jou lewe. Ja, al kan jy Hom nie sien nie loop Hy die pad saam met jou. Hy het immers belowe dat Hy altyd by ons sal wees tot met die voleinding van die wêreld.

·        (2) Hy onderrig jou in jou moeilike situasie met sy Woord.  Hy wil in die donkerste uur die helderste lig in jou lewe wees.  Soms is sy Woord in so ʼn situasie selfs skerp. In vers 25 beskuldig Hy selfs die twee mans en sê: “Wat ʼn gebrek aan begrip en ʼn traagheid van gees!”

 

In hierdie situasie waar hierdie twee mans met oë vol trane en gesigte wat van swaarmoegheid gehang het, is die Here besig met iets groter as wat hulle gedink het.  Jesus wys aan hierdie twee manne dat daar tog hoop is. Hulle moet net glo wat God in sy Woord openbaar. Alles staan daar geskrywe.

 

Let mooi op geliefdes.  Dit wat die twee Emmausgangers as die harde en wrede werklikhede ervaar het, was in toe in der waarheid God se verlossingswerk!  Die dooie Jesus aan die kruis, wat hulle  tot wanhoop gedryf het, was in werklikheid God se verlossingsdaad en sy oorwinning oor die Satan.  Dit was God se genadedaad aan hulle en ook aan ons elkeen wat in Jesus Christus glo!

 

Broeders en susters, dit wat ons harde realiteite noem, is dikwels niks meer as blinde ongeloof nie.  Ons vergeet dat die Here se koninkryk veel groter as ons leefwêreld is. Hy werk met sy hele skepping.  Hy werk met alle mense op aarde.  Hy sien alles en almal.  Ons is egter geneig om net onsself en ons eie omstandighede raak te sien.

 

Onthou sy genade! Die Here is altyd by ons. Hy loop die pad saam met ons - al sien ons Hom nie!  Kyk weer na die twee Emmausgangers.  “Ons het so gehoop……”  sê die twee mans.  Boonop is dit al die derde dag.  Hulle het gehoop, maar niks het gebeur nie. En nou is dit te laat, so meen hulle.

 

Maar broeders en susters.

 

3. DIE HOOP BESKAAM NIE:

 

Die Here is by jou. Al sien jy Hom nie. Al verhinder jou omstandighede jou om Hom nou te sien.  Hy is daar. Hy loop die pad saam met jou.  Al sien jy Hom nie, hoor jy sy Woord in die erediens en tydens huisbesoek.  Jy lees ook mos self die Bybel. Die Here praat met jou al het jy  soos die Emmausgangers soms ‘n gebrek aan begrip en  traagheid van Gees.

 

Langs die pad het die twee mans die Here se Woord gehoor.  Aan tafel breek Jesus die brood en vra die seën. Toe gaan hulle oë oop!  Ja, wanneer die Here se Woord verkondig word en die sakramente bedien word, gaan mense se geloofsoë deur die kragtige werking van die Heilige Gees oop.  Dan sien jy jou Verlosser en Saligmaker.

 

Wanneer hierdie twee mans besef dat die Here Jesus lewe en dat Hy die heeltyd saam met hulle geloop het, ken hulle vreugde geen perke nie.  Hulle durf dan sommer die gevaarlike donker nag terug na Jerusalem aan.  Terug na hulle medegelowiges om die goeie nuus daar met hulle broers en susters te gaan deel.

 

En toer hulle daar kom, het die medegelowiges presies dieselfde boodskap:  Die Here leef!   “Hy het regtig opgestaan en aan Simon verskyn!”

 

Geliefdes. Hierdie is die boodskap wat ons as gelowiges vandag en elke Sondag met mekaar deel, maar ons moet dit nie net met mekaar deel nie. Ons moet dit ook met die wêreld daar buite, met hulle wat in die duisternis sit, deel.  Daar is duisende mense, van hulle is ook hier in ons omgewing,  wat nie weet dat die Here Jesus lewe nie.... 

 

 ʼn Mens kr te dikwels selfs kerkmense wat ook  so met somber gesigte loop.  Sulke mense het, net soos die Emmausgangers nog glad nie agtergekom dat hulle saam met die lewende Christus op pad is nie.  Hulle laat nog steeds toe dat hulle swaarkry en negatiwiteit hulle oë verhinder om Hom te herken.  Hulle lewe met somber gesigte omdat hulle skynbaar nie besef dat die Here Jesus Christus  die sonde en die dood oorwin het nie.  Hulle weet ook nie dat Hy elke dag, al sien ons Hom nie,   ons elkeen ‘n oorwinnaar wil maak nie.

 

Die apostel Petrus skryf aan sy gemartelde en vervolgde lesers: “…omdat julle glo, word julle deur die krag van God veilig bewaar vir die saligheid wat reeds gereed is om aan die einde van die tyd geopenbaar te word”.  Ons is saam met Christus op pad.  Ons word deur God se krag bewaar.

 

SLOT: 

 

Geliefdes, as  ek en jy toelaat dat die sogenaamde harde realiteite van die lewe ons verblind, kyk ons die lewende Here Jesus skoon mis.

 

Ja, dan sien jy Hom nie, al is Hy hier by jou!

 

Wanneer dit rondom jou baie donker word en jou omstandighede jou swaarmoedig laat word, luister dan aandagtig na sy Woord en gebruik die sakramente wat Hy ingestel het, dan sal jou geloofsoë oopgaan sodat jy die Here kan sien.  Hy wat die heeltyd die pad saam met jou geloop het en wat besig is om jou na die ewige heerlikheid te lei.

 

Ja, dan kry jou lewe sin en betekenis.  Want eers dan kan jy met blydskap en dankbaarheid ook die blye boodskap van Christus se opstanding  met ander  deel.

                                                                AMEN

 

Read 6461 times
Danie de Kock

Website: www.facebook.com/profile.php?id=1438745475 Email This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it
Login to post comments

Soek