LEES: LUK 17:20 - 37.
TEKS: LUK 17:37: “WAAR AAS LÊ, DAAR SAL AASVOËLS OOK BYMEKAARKOM”
TEMA: KYK OP - WAT SIEN JY?
As ʼn mens in die wildtuin ry, is dit maklik om te sien waar roofdiere iets gevang het. Jy kyk in die lug op en as jy ʼn klomp aasvoëls sien wat so bokant een plek al in die rondte vlieg, weet jy: Daar was ʼn vangs!
Aasvoëls se teenwoordigheid dui op iets wat dood is. Jy sal nooit aasvoëls bo ʼn sterk lewendige dier sien nie. Waar jy hulle wel teëkom is daar waar ʼn dier besig is om dood te gaan of reeds dood is.
Ons Here Jesus het hierdie beeld van aasvoëls gebruik toe hy met die mense oor die koninkryk van God gepraat het. En Hy het ʼn goeie rede gehad waarom Hy juis hierdie beeld gebruik het.
Maar kom ons neem die saak van ʼn kant af.
Die Here Jesus se antwoord was op ʼn vraag wat die Fariseërs aan Hom kom vra het. Hulle het gevra: Wanneer kom die koninkryk van God? Hulle wou dus weet presies wanneer die einde van die wêreld sal aanbreek.
Die Here se antwoord het hulle seker nogal verras, want Hy sê
1. DIE KONINGKRYK IS NOU HIER BY ONS
As jy oor die koninkryk van God praat, moet jy nie vra: Wanneer kom die koninkryk? nie. Jy moet veeleerder vra: Waar kom die koninkryk?
Die mense maak nou al eeue lank die fout om die tyd van die wederkoms te probeer bepaal. Sommige mense werk dit uit en kom met datums. Net verlede jaar was daar mos die Coetzee-man wat beweer het dat die wederkoms iewers in Meimaand sou wees. Daar is natuurlik ook nog ʼn hele klomp mense wat vas glo dat die einde van hierdie wêreld vanjaar op 21 Desember gaan aanbreek.
Baie mense wil met allerhande wiskundige- of sterrekundige berekeninge die tyd van die wederkoms bepaal. Ander kyk na die wêreldtoestande en beweer dat op grond van aardbewings, oorstromings en dinge soos oorloë dat die wederkoms naby is.
Die Here Jesus sê egter duidelik dat geen mens die tyd van die wederkoms sal kan bepaal nie. Die wederkoms sal skielik en onverwags kom – soos ʼn dief in die nag. Hy vergelyk dit hier met weerlig. Dit sal m.a.w. vinnig gebeur en almal sal dit duidelik kan sien. Maar niemand weet presies wanneer dit sal gebeur nie. Selfs nie eers die engele in die hemel of die Seun nie – net God die Vader weet.
Die belangrike punt wat die Here Jesus daarom maak toe die Fariseërs met die vraag kom, is dat dit nie gaan oor WANNEER nie, maar wel oor WAAR sy koninkryk kom.
Die Here Jesus sê: God se koninkryk kom op die plek waar Hy die Koning is – ja, daar waar Hy regeer. Daar waar sy heerskappy erken en aanvaar word en daar waar mense aan Hom gehoorsaam is en Hom dien – daar is sy koninkryk! Daarom sê Hy in vers 21 vir die mense, wat op daardie stadium daar rondom hom staan: .... die koninkryk van God is hier by julle. Hy, die Koning staan immers daar voor hulle!
Maar nou moet u oplet. Die Here Jesus sê
2. DIE KONINKRYK BRING SKEIDING
Skeiding tussen die wat hulle aan die Here se heerskappy onderwerp en diegene wat maar met hulle lewe op die ou manier aangaan.
Hy herinner hulle dan aan die dae van Noag en ook die dae van Lot in Sodom en Gomorra. Nieteenstaande duidelike vooraf waarskuwings het die mense in sowel Noag as Lot se geval gewoonweg aangegaan met hulle lewe. Hulle het geëet en gedrink, getrou en gekoop en verkoop. Hulle was glad nie gereed vir dit wat sou aanbreek nie. Meteens het die vloedwater van die sondvloed hulle oorweldig. Sodom en Gomorra is meteens deur vuur en swael uit die hemel vernietig. Die punt wat die Here Jesus maak is: Die mense van sowel Noag se tyd as diegene in Sodom en Gomorra het in ʼn doodstoestand geleef. As hulle opgekyk het, sou hulle die aasvoëls gesien het....
Die Here Jesus wil hê dat ons sal verstaan dat sy koninkryk in ʼn mens se daaglikse lewe moet aanbreek. Jy moenie vir eendag wag nie. Dan word jy moedeloos. Jy moet nou reeds deel wees van sy koninkryk. Die skeiding is nou reeds daar.
Die punt is, broeder en suster, die oordeelsdag sal so skielik aanbreek, soos weerlig wat slaan. Daarom sal daar nie tyd sal wees vir omdraai en regmaak nie. Die man wat op die dak sit, sal nie tyd kry om eers in sy huis in te gaan en van sy besittings te gryp nie. Die een op die land sal nie eers kan omdraai en eers huis toe gaan nie. Lot se vrou se probleem was juis dat sy omgedraai en terug gekyk het. Dit was te laat. Toe word sy ʼn soutpilaar. Sy het terug gehunker na haar verlede. Daarom kon sy nie vorentoe in die koninkryk van God nie.
Ons elkeen moet nou klaar gereedmaak vir daardie dag. Daar sal nie later tyd wees nie. Dit gaan net meteens gebeur: Twee mense sal op ʼn bed lê en slaap – een sal saamgeneem en die ander agter gelaat word. Twee vroue sal koring maal, een sal saamgeneem en die ander een agter gelaat word.
Hierop reageer die dissipels met ʼn vraag: Waar Here?
En dan antwoord Hy:
3. KYK OP!
Wat sien jy? Ja, broeder en suster. Wat sien jy as jy opkyk?
Aasvoëls of die Here Jesus?
Waar daar ʼn doodstoestand is, sien jy uit die aard van die saak ʼn klomp aasvoëls. Hulle is ʼn bedreiging vir ʼn dier wat besig is om dood te gaan. Hulle voorspel die pad na die dood.
Ons kan opkyk en dan sien ons net al die bedreigings. Ons kan moedeloos sug oor die toekoms, want ons kyk na mense en ons sien mense se sondige optrede. Ons sien dat die sonde die oorhand het. Ons sien die einde van alles. Dan wil ons weghardloop. Maar waarheen? Ons is te swak! Ons kry ook nie ʼn plek wat ware skuiling bied nie. Die aasvoëls draai.....
Maar ʼn mens kan ook iets anders sien as jy opkyk. As jy onder die kragtige leiding van die Heilige Gees deel is van God se koninkryk kan jy opkyk en dan die Here sien. Die Here wat jou toekoms in sy hande hou.
As ʼn mens na die Heilige Gees luister, lei Hy jou na die enigste ware Verlosser die Here Jesus Christus. Die Heilige Gees verander jou gedagtes en jou ingesteldheid. Jy kyk nou op ʼn nuwe manier na die lewe. Jy kan nou ander dinge sien, dinge wat die geestelik dooie mense glad nie kan sien nie!
U onthou mos vir Stefanus, een van die eerste diakens. Die einde het vir hom so skielik gekom. Die Jode het hom met klippe doodgegooi. Hy was die eerste martelaar wat vir sy geloof in die Here Jesus gesterf het. Terwyl hulle besig was om hom dood te maak het hy opgekyk!
Kom ons lees in Handelinge 7:55:
Maar Stefanus, vol van die Heilige Gees, het opgekyk na die hemel en die heerlikheid van God gesien en Jesus wat aan die regterhand van God staan(Hand 7:55).
Stefanus het vol van die Heilige Gees opgekyk. Hy het nie aasvoëls gesien nie, maar die Here in sy heerlikheid! Sy toekoms was vir seker nie die ewige dood nie, maar die ewige lewe!
SLOT
In Psalm 121 sê die Psalmdigter: Ek kyk op na die berge: waarvandaan sal daar vir my hulp kom?
Wat sien u as u opkyk en na hulp soek? Die geestelik dooie mens, die onwedergebore mens, sien aasvoëls. Hulle word bang vir die bedreiging van die sondige toestand.
Die wedergebore mens kyk op en sien die heerlikheid waarmee ons Here Jesus Christus, ons Verlosser en Saligmaker aan die regterhand van God mee beklee is – en hy of sy weet: Ek het ʼn ewige toekoms. My lewe is veilig in my hemelse Vader se hande.
AMEN