Sosiale Skakels

Besoekers

We have 22 guests online

Teken In

Follow us on FacebookFollow us on Twitter


Monday, 07 May 2012 05:57

DIE HERE SE KONINGSKAP BRING WARE VREDE - MARKUS 5:24a

Written by 
Rate this item
(0 votes)

 

SKRIFLESING: MARKUS 5:21 - 43

TEKS: MARKUS 5:24a

TEMA: DIE HERE SE KONINGSKAP BRING VREDE

 

Ons ken mos almal bekommernis.  Bekommernis is  ʼn ding wat  ʼn jou verskriklik kan uitmergel. Ja, dit maak jou gedaan!  Luister net na Jaïrus.   ʼn Mens hoor sommer die bekommernis  in sy stem wanneer hy na die Here Jesus toe kom en dringend smeek:  My dogtertjie lê op haar uiterste.  Sy kind is ernstig siek.  Sy is in werklikheid al besig om te sterf.

En dink net aan die vrou waarvan ons ook in die gedeelte gelees het. Dink net hoe sy haar al oor haar gesondheid bekommer het. Twaalf jaar lank soek sy hulp, gaan sy van die een na die ander dokter, maar haar toestand is net besig om te vererger.

Wat doen  ʼn mens as jy in sulke situasies beland? Situasies soos die van Jaïrus en ook hierdie siek vrou?

Albei hierdie mense het na die Here Jesus toe gegaan. Albei het hulle hoop op Hom gevestig. 

Maar kyk, geliefdes.  In beide gevalle is daar

 

1.  ʼn  PUNT VAN VERRASSING  

Die eerste verrassing kom wanneer Jaïrus,  ʼn raadslid van die sinagoge, voor die Here Jesus op sy knieë kom staan.  Die leiers van die Jode was gewoonlik die grootste teenstaanders van die Here Jesus.  Vorige kere het van die raadslede van die sinagoge hom probeer teregwys omdat hy mense op die Sabbat gesond gemaak het.

Maar wat laat dan  ʼn raadslid van die sinagoge voor die Here Jesus op sy knieë staan?  Die antwoord is:  Bekommernis oor sy siek kind!

Hierdie man wat gewoonlik deel was van die opposisie en kritici is nou skielik in  ʼn aanbiddingsposisie voor Jesus.

Broeders en susters. Dit is hoe die Here selfs die hardste hart kan aanraak en sag maak.  Jaïrus se liefde vir sy enigste kind,  ʼn dogter van twaalf jaar, wat tot die dood toe siek word, is die Here se manier om  ʼn vername man op sy knieë voor Hom te dwing.  Daar is vir hierdie pa wat sy dogter so liefhet geen prys te hoog, geen afstand te ver en geen vernedering te veel nie. Hy wil net sy kind se lewe red.

En die Here Jesus se reaksie?  Hy gaan saam met Jaïrus!

Die tweede verrassing kom wanneer  ʼn onbekende vrou wat twaalf jaar lank siek was in die gedrang van die skare net aan die Here Jesus probeer raak.  Sy was desperaat en het geglo dat die Here Jesus haar kan verlos.  Die verrassing kom wanneer die Here Jesus meteens gaan staan en vra:  Wie het aan my klere geraak?  Sy dissipels is skoon verbaas.  Hulle antwoord:  U sien tog dat die mense van alle kante af teen U druk, en dan vra U nog: Wie het aan My geraak?

Die Here Jesus is sensitief. Hy is ingestel op jou nood. Hy is juis oppad om Jaïrus in sy nood by te staan en hier is Hy bewus van die vrou se nood.  En Hy gaan weer saam. Hy knoop met haar  ʼn gesprek aan.  Sy kan haar hele geskiedenis aan Hom vertel.   ʼn Mens dink hier aan die Here se belofte aan sy volk in Jesaja 43:  As jy deur water moet gaan is Ek by jou en as jy deur vuur moet gaan sal die vlamme jou nie brand nie, want Ek is die Here jou God.

Ons elkeen kan seker wees dat die Here ons nood ken. As ons aan Hom vasgryp, sal Hy ons nood wegstoot of sommer ignoreer nie. Hy wil verlos.  Hy wil saam met ons op die pad gaan.

Maar kyk wat  is nodig voordat jy werklik aan die Here kan vasgryp.

 

2.   ʼn  BELYDENIS VAN ONVERMOË

Sowel Jaïrus as die siek vrou het hulle eie onvermoë terdeë besef. 

Jaïrus moes sy reputasie, sy posisie en boonop sy eie sienings op die spel plaas om na die Here Jesus toe te gaan.  Eers toe hy geen ander opsie meer oor gehad het nie en gesien het dat sy kind besig is om te sterf, toe gaan soek hy na Jesus.  En dan staan Hy op sy knieë.  Hy bely daarmee dat hy geheel en al van die Here Jesus afhanklik is.

Met die vrou is dit dieselfde. Sy het alles probeer. Vit twaalf jaar lank van die een dokter na die ander.   Intussen versleg haar toestand. Boonop moes sy baie gely het, want sy was boonop, volgens die wet van Moses, die heeltyd onrein. Sy moes haar vir twaalf jaar lank  eenkant hou. Vanweë haar bloedvloeiing was sy sosiaal onaanvaarbaar.  Sy kon daarom aan geen sosiale of selfs godsdienstige aktiwiteite deelneem nie.  Sy was siek, verstoot en verlaat.  Die Here Jesus was uiteindelik haar enigste hoop – As sy maar net aan sy klere kon raak...  En dan wanneer die Here Jesus met haar praat, is sy ook op haar knieë voor Hom.

En kyk wat doen die Here Jesus. Sy optrede is

3.   ʼn BEWYS VAN GESAG

Hy is in beheer.  Daar in die skare se gedrang weet Hy presies wat aan die gang is. Hy weet van die vrou wat aan Hom raak. Hy is sensitief ingestel op haar probleem. Sy ontvang genesing. Die Here het gesagvolle beheer oor siekte.  Selfs hierdie skynbaar ongeneeslike siekte van die vrou wat haar soveel ellende besorg het, is nie vir die Here  ʼn probleem nie.

Intussen hoor hy met een oor die boodskap van Jaïrus se huis af. Die dogter is dood.  Toe die berig kom, sê Hy vir Jaïrus: Moet jou nie ontstel nie. Bly maar net glo!

En by Jaïrus se huis aangekom, spreek hy die professionele roubeklaers aan omdat hulle so huil en raas.  Daarna stuur hy almal uit die huis. Net Hyself die pa en ma en drie dissipels was toe in die huis.

Dan vat Hy die kind aan die hand en sê in Aramees: Talita koem!  Hy laat haar uit die dood opstaan. Selfs die dood is nie vir die Here Jesus  ʼn probleem nie.

Die mense destyds moes dit sien en dit beleef:  Die Here Jesus is Koning. Hy regeer oor siekte en dood!

En as jy dit begryp, dan is dit

 

4.   ʼn WAARBORG VIR VREDE

Die siek vrou hoor uit Jesus se mond:  Dogter jou geloof het jou gered. Gaan in vrede...  Sy wat soveel bekommernis gehad het en soveel lyding moes verduur, het nou vrede ontvang.

En kyk na Jaïrus se dogter. Sy wat tot die dood toe siek was, het opgestaan en rondgeloop. Die Here Jesus gee opdrag dat hulle vir haar iets moet gee om te eet. Sy is gesond sy lewe.

Ons Here Jesus is mos die Vredevors. Hy het gekom om aan almal wat uitgeput en oorlaai is, rus te gee, WANT HY GAAN SAAM!  Hy is by jou in jou nood en ellende.  Hy verlos jou uit die sonde en ellende se greep.

Wanneer die apostel Paulus oor sy liefde en sy oorwinningskrag skryf, breek Hy in  ʼn lofsang uit (Rom. 8):

Hy vra: Wie kan ons van die liefde van Christus skei? Lyding of benoudheid of vervolging, honger of naaktheid, gevaar of swaard?  En dan antwoord hy: Hiervan is ek oortuig: geen dood of lewe of engele of magte of teenswoordige of toekomstige dinge of kragte of hoogte of diepte of enig-iets anders in die skepping kan ons van die liefde van God skei nie, die liefde wat daar is in Christus Jesus ons Here

 Ons weet nie wat die Here se wil vir ons lewe is nie. Hy gebruik selfs siekte en dood om ons nader  aan Hom te bring. Om ons in die geloof sterk te maak. Om ons oorwinnaars te maak. Om ons vrede te gee.     SLOT

Broeder en suster. Ons kan ook hierdie vrede ervaar en hierdie ware oorwinning proe!  Wat egter nodig is, is om in totale afhanklikheid aan die Here Jesus vas te gryp.  Soos Jaïrus, en ook die vrou wat aan bloedvloeiing gely het, moet  ʼn mens op jou knieë voor die Here kom.  Dit kan jy slegs regkry as die Heilige Gees jou  ʼn ware geloof gee.

Bid daarom met oorgawe dat die Heilige Gees in jou sal werk om jou van jou totale afhanklikheid van die Here Jesus as jou Verlosser en Saligmaker te oortuig. Hy alleen gee ware verlossing en ewige lewe.

Hy loop saam!

                                                                         Amen

Read 5871 times
Danie de Kock

Website: www.facebook.com/profile.php?id=1438745475 Email This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it
Login to post comments

Soek