Sosiale Skakels

Besoekers

We have 21 guests online

Teken In

Follow us on FacebookFollow us on Twitter


Wednesday, 16 May 2012 09:27

DIE HERE SE VERBONDSTROU ROEP ONS OP TOT GEHOORSAAMHEID - Psalm 78:3 & 4

Written by 
Rate this item
(0 votes)

 

SKRIFLESING: PSALM 78:1-17 & 67 – 72

TEKS: PSALM 78:3 & 4

 

 

DIE HERE SE VERBONDSTROU ROEP ONS OP TOT GEHOORSAAMHEID

 

 

Vandag word daar oral nogal baie moeite gedoen om spesiale erkenning aan al die moeders te gee. Dit is immers hulle wat met baie liefde en toewyding hulle kinders versorg en opvoed.  Ek hoop regtig dat elke ma vandag baie spesiaal sal voel!

 

Ek wil vandag nie net op die moeder fokus nie, maar eerder op beide ouers – en dan veral hulle verantwoordelikheid. Omdat gelowige ouers voor die Here  ʼn doopbelofte afgelê het, is dit hulle primêre verantwoordelikheid om hulle kinders op  ʼn spesiale manier op te voed.

 

Kom ons luister weer wat die Psalmdigter onder leiding van die Heilige Gees in ons teksvers skryf:

 

Wat ons gehoor het en wat ons weet, wat ons vaders ons vertel het, sal ons vir ons kinders nie verswyg nie. Ons sal aan die volgende geslag vertel van die wonderdade wat Hy gedoen het(Psalm 78:3 & 4)

 

Hier kom  ʼn baie belangrike vraag aan elkeen van ons: 

 

Wat is die heel belangrikste wat jy jou kinders kan leer?

 

Die antwoord op hierdie vraag staan in Deut. 6.   Moses sê in opdrag van die Here aan die Israeliete, net voordat hulle die beloofde land sou intrek:

 

Luister, Israel, die Here is ons God, Hy is die enigste Here. Daarom moet jy die Here jou God liefhê met hart en siel, met al jou krag. Hierdie gebooie wat ek jou vandag gegee het, moet in jou gedagtes bly.  Jy moet dit inskerp by jou kinders en met hulle daaroor praat as jy in jou huis is en as jy op pad is en as jy gaan slaap en as jy opstaan (Deut. 6:4 – 7).

 

Van die begin af, sedert die skepping, wil God die mens met liefde en seëninge oorlaai. Hy het die mens in die paradys laat lewe.  En al wat Hy van die mens  vra, is gehoorsaamheid. Die probleem is egter dat die mens uit homself eenvoudig net  nie in staat is om God gehoorsaam te wees nie.  Die mens wil maar net sy eie kop volg en sy eie koers inslaan. Die mens dink hy weet beter.

 

Na die sondeval het die Here vir Adam en Eva uit die paradys gedryf. In Noag se tyd het Hy die aarde met die waters van die sondvloed skoon gewas.  Maar die mens bly maar korrup en ongehoorsaam. By die toring van Babel begin hulle alweer hul kragte saamvoeg in hulle opstand teen God.

 

En dan maak die Here weer ʼn nuwe begin.   Hy roep vir Abram uit Ur.

 

1.  DIE HERE SLUIT ‘N VERBOND

 

Hy maak met Abram  ʼn totaal nuwe begin. Hy roep hom uit sy land en uit sy familie.  Hy lei hom na  ʼn nuwe land en belowe aan hom  ʼn groot nageslag. Die feit dat die Here met Abram  ʼn verbond sluit, beteken dat Hy met Abram  ʼn ooreenkoms aangaan.  Hy maak sekere beloftes en verwag dan dat Abram en sy nageslag Hom alleen sal dien.  Hy gee ook aan die volk dan  ʼn teken van die verbond wat Hy met hulle sluit en dit is die besnydenis.

 

Aanvanklik lyk alles goed, maar kort voor lank is daar maar weer probleme. Aanvanklik is die probleme klein.  ʼn Leuen hier en  ʼn rusie daar. Later word dit bedrog  en haat.

En dan beland Abraham se nageslag in Egipte. Daar word hulle slawe. Vasgevang in die greep van die wêreld.

 

Maar die Here ontferm Hom weer oor hulle en lei hulle uit. By Sinai hernu Hy sy verbond met die volk en lei hulle in hulle beloofde land in.

 

Maar dan begin die probleme maar weer. Elkeen doen wat goed is in sye eie oë.

 

Psalm 78 vertel van die worsteling wat die Here met sy ongehoorsame en ontroue volk het.  Hy red hulle en lei hulle met liefde, maar dit is nie lank nie dan is hulle maar weer op die verkeerde pad. Inderwaarheid is die hele Ou Testament een lang verhaal van die mens se ongehoorsaamheid en ontrou. En dit te midde van die Here se liefde, genade en ontferming!

 

Van die Here se kant kom daar liefde en ontferming. Hy maak telkens maar weer  ʼn nuwe begin. Hy het immers  ʼn verbond met sy volk gesluit. Hy doen wat Hy beloof het.

 

Maar waar lê die probleem dan?  Waarom loop die volk elke keer hulle eie koers?

 

Die probleem lê by die volk.  Hulle hou nie by die verbond nie!

 

Die Here het duidelik aan hulle gesê hoe hulle hul kinders moet leer. Hulle moet gedurig met hulle oor die Here praat.  Ja,

 

2.  DIE KINDERS MOET BY HULLE OUERS LEER

 

Die Here wil hê dat die een geslag aan die volgende geslag moet vertel Wie die Here is en wat Hy doen.  Daarom die verbondsbeloftes en die verbondsteken.

 

 

Maar wat gebeur?

 

In plaas daarvan dat die ouers hulle kinders vertel van die roemryke dade van die Here en van sy mag en sy wonderdade, versyg hulle dit.  Ja, die ouers kom nie hulle verantwoordelikheid na nie. 

 

Kom ons lees weer verse 5 – 8.  (Lees)

 

Die Here werk van geslag tot geslag.  As die ouers nie hulle verbondsbeloftes nakom nie, raak die volgende geslag die pad byster.  Dan begin hulle agter afgode aanloop. Hulle ken dan nie meer die Here nie!  Daar loop  ʼn refrein deur Psalm 78,  ʼn refrein van die Here wat Hom ontferm en die volk wat hulle tydelik bekeer en dan maar weer die pad verlaat.....

   

Kyk na die Efraimiete:  Lees verse 9 – 11.

En dan gaan Asaf verder terug na die Israeliete in die woestyn:

Lees verse 18 – 22

Lees ook verse 34 – 37

Ook later toe hulle in hulle beloofde land gewoon het, was hulle ontrou.  Lees ook verse 55 - 58

 

Die probleem het hom herhaal omdat die ouers nie hulle verantwoordelikheid nagekom het nie.

 

Daarom is die vraag vandag:  Wat leer ons kinders by ons?  Wat leer die volgende geslag by ons geslag?

 

Sien en ervaar hulle by ons  ʼn opregte liefde vir die Here?

Beleef hulle by ons  ʼn opregte geloof en vurige ywer vir die Here se koninkryk?

Sien hulle by ons ware diensbaarheid en toewyding?

 

Ja, wat leer jou kinders by jou?  Wat leer jou kleinkinders by jou?

 

As iemand aan jou kinders of kleinkinders sou vra:  Wat is die heel belangrikste ding wat jou pa of ma of oupa of ouma jou geleer het?  Wat sal hulle antwoord?  Dalk moet ek en jy dit  ʼn slag self toets!

 

Maak ons nie maar dieselfde foute as Israel nie?

 

Maar kyk net na die Here se genade! 

 

3.  HY GEE   ʼn  KONING

 

Hy het Dawid as sy dienaar verkies en hom van die skaapkrale af weggeneem.(vers 70)

 

Na eeue se worsteling om die volk op die regte pad te kry, gryp die Here Persoonlik in.  Hy gee vir hulle  ʼn koning.  Maar Dawid was ook maar net  ʼn mens. Hy val ook in sonde.  Uit eindelik is selfs die koning nie genoeg nie. 

 

Maar dan belowe die Here dat Hy die Seun van Dawid sal stuur. Hy het gekom – ons Here Jesus Christus.  En Hy is die enigste Redder, want Hy is Self God.  Hy bly gehoorsaam.  Hy oorwin die sonde, die satan en die dood.

 

Hy gee nuwe lewe.  Elkeen wat deur  ʼn ware geloof aan Hom verbind is, lewe as oorwinnaar vir ewig.

 

Nou is die vraag?

 

Broeder en suster.  Wat leer jy aan die volgende geslag?  Leer jy hulle om met  ʼn ware geloof in  ʼn persoonlike verhouding aan ons Here Jesus Christus vas te gryp?  Leer jy hulle om onder leiding van die Heilige Gees as  ʼn nuwe mens te lewe?  Sien en ervaar hulle by jou  ʼn ywer en toewyding in die Here se diens.?  Sien hulle in jou iemand wat in totale afhanklikheid van die Here lewe?

 

Lees jy saam met jou kinders en kleinkinders die Here se Woord?

Bid jy in opregtheid saam met jou kinders en kleinkinders?

 

SLOT

 

As ek en jy in ʼn lewende verhouding met die Here staan, sal ons met vrymoedigheid onder leiding van die Heilige Gees saam met die Psalmdigter sê:

 

Wat ons gehoor het en wat ons weet, wat ons vaders ons vertel het, sal ons vir ons kinders nie verswyg nie.  Ons sal aan die volgende geslag vertel van die roemryke dade van die Here en van sy mag, van die wonderdade wat Hy gedoen het

 

                                                             AMEN

 

Read 3172 times
Danie de Kock

Website: www.facebook.com/profile.php?id=1438745475 Email This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it
Login to post comments

Soek