Sosiale Skakels

Besoekers

We have 15 guests online

Teken In

Follow us on FacebookFollow us on Twitter


Wednesday, 30 May 2012 06:07

GELOOF WAT WERK - Aktiewe geloof. 2 Petrus 1:5 - 7

Written by 
Rate this item
(1 Vote)

 

SKRIFLESING: 2 PET 1:1 – 15

TEKS: 2 PET 1:5 – 7

TEMA: GELOOF WAT WERK- AKTIEWE GELOOF

 

As iemand wat nie in die Here Jesus glo nie, vandag na jou toe kom en vra:  Hoe werk jou geloof? 

Sal jy vir hom met  een of ander redenasie probeer verduidelik?

 OF

Sal jy hom nooi om  ʼn dag met jou saam deur te bring?

 

Bestudeer  ʼn mens die Bybel, is dit nogal opmerklik dat dit nie noodwendig ‘n preek of een of  ander redenasie is wat mense na geloof in die Here Jesus Christus lei nie.  Mense word  dikwels  veel makliker deur  iemand se dade tot geloof gelei.

Het u opgemerk wat Petrus homself  noem?   ʼn Dienaar van die Here Jesus.  As jy sy woorde direk vertaal, noem hy homself eintlik  ʼn slaaf.  Ja hy sien homself as  ʼn bediende van Jesus Christus! 

Broeder en suster. Hoe sien jy jouself?  Kan jy jouself voorstel as  ʼn bediende in diens van ons Here Jesus?

Dalk moet ons dit maar erken:  Ek en jy word nie maklik bediendes nie! Nee, nie sommer nie, want  om  ʼn bediende of  ʼn slaaf te word, vra van ons groot opoffering.  Dit beteken boonop dat ek en jy onsself moet verneder.  En dit is baie moeilik!  Uit jouself kry  jy dit beslis nie reg nie.  As ons eerlik is sal ons erken dat ons maar al te graag eer en erkenning soek. Ons wil presteer en ons wil belangrik voel -  Nie bediendes wees nie!

Daarom is die noodwendige vraag nou:

 1. HOE WORD ONS DIENAARS VAN DIE HERE?

Om  ʼn bediende te word, moet  ʼn mens  ʼn wesenlike verandering ondergaan.  Jy moet van iemand wat vol van eie belang en selfgesentreerd is in  ʼn slaaf verander. 

En nou is dit nogal baie interessant.  Die Bybel beskryf iemand wat selfgesentreerd is aan die dinge van die wêreld vasklou as iemand wat dood is.  Ja, van nature is die mens geestelik dood en vasgevang  in sy sonde. Hy kan die koninkryk van God nie sien nie en stel daarom ook nie daarin belang nie.

 Eers as jy deur die Heilige Gees wedergebore is, word jy  ʼn dienaar van die Here.  Eers wanneer die Heilige Gees jou hart van klip verwyder het en aan jou  ʼn hart van vlees gegee het, is jy in staat om te glo en om die Here te dien.

En onthou, dit is alles genade. Die Here stuur sy Woord na jou toe. Hy werk deur sy Gees in jou hart sodat jy die Woord kan glo. In die Woord leer jy dat dit God is wat in die persoon van die Seun na ons toe gekom het om ons te kom verlos.  Dit is Hy wat in ons plek aan die kruis gehang het om namens ons die straf vir ons sondes te dra. Dit is Hy wat opgestaan het uit die dood sodat elkeen wat in Hom glo, saam met Hom in  ʼn nuwe lewe kan opstaan. 

En dan, eers wanneer jy so deur die Heilige Gees wedergebore is en saam met die Here Jesus in  ʼn nuwe lewe opgestaan het, word jy  ʼn slaaf en kan jy  ʼn bediende wees.  Dan lewe jy nie meer nie.  Dan lewe die Here Jesus Christus binne-in jou.

Ja, broeder en suster

2.  DIE HERE GEE VIR JOU ALLES WAT NODIG IS

Luister wat staan in vers 3:  Sy Goddelike krag het ons alles geskenk wat nodig is om te lewe en Hom te dien.

Ja, dit moet ons goed verstaan, geloof is  ʼn gawe, dit is ʼn geskenk van God.  En ons kry hierdie geskenk enkel en alleen uit genade.  Dit beteken: Ons verdien dit nie – inteendeel, in Romeine 5 lees ons dat ons Here Jesus vir ons gesterf het toe ons nog goddeloos was en boonop nog sy vyande was!

Broeder en suster.  Die Here se genade en ontferming is so groot dat Hy, voordat Hy van jou verwag om vir Hom te werk, dit eers vir jou moontlik maak om vir Hom te werk.

Daar is tog geen sin daarin om aan  ʼn dooie persoon  ʼn opdrag te gee nie.   Voordat daar enige aktiwiteit kan wees, moet daar tog eers lewe wees.

 ʼn Mens kan dit met  ʼn boerdery vergelyk.  Dit sou sinloos wees om vir iemand die opdrag te gee om te boer, maar die persoon het nie  ʼn plaas nie.  Wat moet gebeur?

Die Here leer ons dat geloof soos  ʼn boerdery werk.  Hy gee vir ons die plaas. Hy gee ook die  nodige implemente, die saad en die kunsmis.  Al wat ons moet doen, is boer.   Maar daar is nog iets –  al boer ons hoe goed, kan ons nog nie  ʼn oes waarborg nie.  As die Here nie die reën, die sonskyn en  ʼn klomp ander dinge in plek stel nie, sal daar nog geen oes wees nie. 

Nou is die vraag:

3. WAT IS ONS VERANTWOORDELIKHEID?

Dit lyk amper asof ons niks kan doen nie! 

Dit is beslis nie waar nie!  Ons moet werk.  Al is daar  ʼn plaas met alles op wat nodig is, en daar is nie  ʼn aktieweboer nie, sal daar net mooi niks op daardie plaas gebeur nie! 

Die Here verwag dat ons in sy koninkryk sal werk.  Kyk wat staan in vers 5:  “En juis om hierdie rede, moet julle alles in die stryd werp....

Ons geloof is  ʼn gawe van God, waarmee ons moet werk!   En kyk watter harde werk is dit:  Hier staan: julle (moet) alles in die stryd werp...  Ja, die Here verwag dat ons met volle oorgawe en met ywer sal werk.

Net soos  ʼn boer die plaas met allerhande gewasse moet beplant en dit versorg, so moet ek en jy ons geloof  “beplant” en dit “versorg” sodat daar  ʼn oes kan wees!

Kyk hoe staan dit in ons teksvers: 

En juis om hierdie rede moet julle alles in die stryd werp om julle geloof te verryk met deugsaamheid, die deugsaamheid met kennis, die kennis met selfbeheersing, die selfbeheersing met volharding, die volharding met godsvrug, die godsvrug met liefde onder mekaar en die liefde onder mekaar met liefde vir alle mense.

Die verskillende dinge waarmee ons ons geloof moet verryk, kan in drie groepe ingedeel word:

Groep 1 het met  ʼn aktiewe geloof te doen: En dit is: deugsaamheid en kennis.

Groep 2 het met ons ingesteldheid te doen en dit is: selfbeheersing en volharding

Groep 3 het met ons verhoudings te doen en dit is:

godsvrug en liefde.

Ons kyk vandag eers net na die Groep 1.  Die kenmerke van  ʼn aktiewe geloof.  Dit is deugsaamheid en kennis.

Die volgorde hier is opvallend.  Dit is nie eers kennis en daarna deugsaamheid nie.  Nee, deugsaamheid staan eerste!

Ja, geliefdes, die heel eerste ding wat die Here van ons as gelowiges verwag is deugsaamheid.  Nou wat is deugsaamheid?  Deugsaamheid is  ʼn beskrywing van  ʼn aktiewe geloof – geloof wat werk, wat dade word . Vol  energie en toewyding!

Ja, ons geloof moet werk.  Onthou, as jy  ʼn plaas ontvang het, maar nie bereid is om hard te werk nie, gaan daar niks gebeur nie!  Daarom waarsku Jakobus in sy brief dat  ʼn geloof wat nie tot dade kom nie,  ʼn dooie geloof is!  Ons ontvang geloof as gawe, maar dit is ons taak om ons geloof te verryk, dit te beplant met aktiwiteit en toegewyding. Geloof is nie iets wat die Here vir jou gee om in ʼn leunstoel of op  ʼn rusbank te gebruik nie.  Ons geloof moet iets tot stand bring – soos  ʼn plaas wat produseer!

Die  tweede deel van  ʼn aktiewe geloof is kennis.  By jou ywerige en energieke geloofsdade moet nou nog iets bykom en dit is kennis. 

Hierdie kennis is egter nie die basiese kennis van die evangelie wat jou tot geloof lei nie. Nee, hierdie kennis het te doen met begrip en insig.

 ʼn Aktiewe en ywerige geloof storm nie sommer net voort nie. Daar moet met oorleg en begrip en insig te werk gegaan word. Weer kan ons aan  ʼn boerdery dink. Dit help niks dat  ʼn boer met ywer en toewyding inspring en werk dat die stof staan, maar daar is nie beplanning en ordelike bestuur nie. 

 ʼn Energieke en toegewyde geloof wat tot dade kom, moet met insig en goeie beplanning bestuur word sodat dit in die ware sin van die woord, in die Here se Koninkryk diensbaar  kan wees. Petrus het hier sekerlik uit ervaring gepraat.  Hy was mos  ʼn baie gretige en impulsiewe mens.  Hy het op die water geloop; Hy het gesê dat hy bereid is om saam met die Here Jesus te sterf en hy het die ou se oor met sy swaard afgekap. Eers later het hy verstaan dat sy ywer en toewyding met die nodige kennis en begrip gepaard moes gaan.

SLOT

Ek en jy kan net diensbaar wees as ons ons geloof met deugsaamheid verryk en ons deugsaamheid met kennis.  Dan word ons, soos Petrus slawe, diensknegte in die Here se koninkryk.  Ja, dan wys ons met ons optrede wat geloof is.  Dan kan ons vir ander mense wat vir ons vra: Hoe werk geloof? Nooi om saam met ons te stap en dan sal hulle sien wat ons doen.

                                                                    AMEN

Read 6848 times
Danie de Kock

Website: www.facebook.com/profile.php?id=1438745475 Email This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it
Login to post comments

Soek