Sosiale Skakels

Besoekers

We have 14 guests online

Teken In

Follow us on FacebookFollow us on Twitter


Thursday, 28 April 2011 11:38

JY GAAN HIERDIE JAAR AAN GOD SE TEMPEL BOU - KYK MOOI HOE JY VERDER BOU

Written by 
Rate this item
(0 votes)

JY GAAN HIERDIE JAAR AAN GOD SE TEMPEL BOU - KYK MOOI HOE JY  VERDER BOU

 

Geliefdes in ons Here Jesus Christus,

 

Na die afgelope tyd van vakansie en feestelikheid het die nuwe jaar hierdie afgelope week in alle erns begin.  Almal is nou min of meer terug van vakansie en die skole het ook geopen. Alles is nou weer aan die gang en dinge gebeur sommer vinnig!

 

Vir ons as gemeente is die jaar 2011  ʼn besondere mylpaal.  Hierdie gemeente van die Here vier vanjaar eeufees.  Deur die Here se genade bestaan hier nou vir 100 jaar lank ʼn gemeente met die naam:  Gereformeerde Kerk Krokodilrivier.

 

Maar wie en wat is die Gereformeerde Kerk Krokodilrivier? 

Wat verwag die Here van ons in hierdie mylpaaljaar waarin ons ons nou bevind?

 

Die eerste belangrike punt wat die Here wil hê dat ons vanoggend sal verstaan is:

 

1.  ONS ALMAL SAAM IS GOD SE TEMPEL

 

In ons teksgedeelte word die gelowiges wat in die stad Korinte in ʼn gemeente saamkom die tempel van God genoem.  In vers 16 vra Paulus:  Weet julle nie dat julle die tempel van God is en dat die Gees van God in julle woon nie

 

Omdat ons elkeen as persoon en ook gesamentlike die gebou van God,  sy tempel is, moet ons op die regte manier na die gemeente kyk. 

 

Die gemeente is nie ons as lidmate se eiendom nie.  Daarom is dit nie reg om van ons kerk te praat nie.  Dit is die Here se tempel.  Verder is ook nie reg om van Ds X of Ds Y se kerk te praat nie. Die kerk is die Here se duurgekoopte eiendom.  Hy het met sy bloed vir hulle betaal.  Dit sê elke doopgeleentheid mos baie duidelik vir ons!

 

Omdat die kerk God se eiendom is, is dit vir Hom baie kosbaar.  Luister wat sê Paulus in ons teksvers:  As iemand die tempel van die God beskadig, sal God hom straf, want die tempel van God is heilig, en die tempel is julle.

 

In die gemeente van Korinte het daar  juis op hierdie punt ʼn probleem ontstaan.  Die lidmate het onder mekaar begin twis.  Waaroor het die twis gegaan?  Party lidmate was Paulus-ondersteuners terwyl ander weer Apollos aanhangers was.  Die een groep het Paulus ondersteun en Apollos gekritiseer terwyl die ander groep weer vir Apollos ondersteun het en vir Paulus gekritiseer het. 

 

Paulus wys beide groepe skerp tereg.  Hy sê:  Daar kom twis en jaloesie onder julle voor.  Is dit nie omdat julle nog wêrelds is en julle wêrelds gedra nie?  As een van julle sê: ‘Ek is vir Paulus’ en  ʼn ander sê: ‘Ek is vir Apollos’, is julle nie dan nog wêrelds nie?

 

Hy sê verder:  Wat is Apollos dan?  Wat is Paulus?  Hulle is maar net dienaars deur wie julle tot geloof gekom het, en elkeen het doen net die werk soos die Here hom dit gegee het.

 

Paulus stel dit duidelik dat hy en Apollos maar net diensknegte is wat in God se saailand werk.  Hy het geplant en dit is Apollos het natgegooi, maar dit is God wat laat groei.

 

Paulus verduidelik.  Dit werk soos met  ʼn gebou. Die een lê die fondament en die ander een bou daarop.  Albei van hulle werk in God se diens, die een bou verder waar die vorige een opgehou het. 

 

So het hierdie gemeente deur die jare verskillende herders en leraars gehad. Mense met verskillende persoonlikhede en gawes. Hulle moes verder aan God se tempel bou. God het hierdie mense elkeen op  ʼn unieke manier gebruik om verder te bou en hy sal ook nog weer ander gee wat in die toekoms hier verder moet bou.

 

Maar weet u?  Uiteindelik is dit nie net predikante wat aan  ʼn gemeente bou nie.  Daar is mos ook ouderlinge en diakens wat deur die jare dienswerk verrig. Hulle bou ook.  Uiteindelik word elke lidmaat  ʼn medewerker in hierdie bouprojek van die Here.

 

2.  ONS BOU VERDER OP DIE FONDAMENT

 

Paulus sê:  Elkeen wat bou, moet mooi kyk hoe hy verder bou, want niemand kan  ʼn ander fondament lê as wat reeds gelê is nie.  Die fondament is Jesus Christus.

 

Omdat elke lidmaat van die gemeente enersyds  ʼn lewende steen en andersyds ook  ʼn medewerker aan die gebou van God is, moet ons elkeen hierdie taak met groot verantwoordelikheid aanpak.  Ons moet op die fondament bou en die fondament is Christus.

 

Hoe bou  ʼn mens aan God se tempel en dan op Christus as die fondament?  Wat presies behels die bouwerk?

 

Ons opdrag, broeders en susters, is om mekaar te help sodat ons elkeen ons lewe op Christus bou.   Hy is die hoeksteen en die fondament van ons elkeen se persoonlike lewe.  Daarom moet ons mekaar help, ondersteun en bystaan.  Ons moet mekaar enersyds aanmoedig en andersyds, as dit nodig is, ook in liefde teregwys.

 

Kom ons kyk

 

3. HOE LYK ONS BOUWERK?

 

Die Here vra vanoggend vir elkeen van ons:  Waarmee is jy besig?

Bou jy saam of kyk jy net hoe die ander werk?  

 

Mense wat net na  ʼn bouery sit en kyk, kritiseer maklik en is gedurig besig om ander se foute uit te wys.  Die ou spreekwoord sê mos juis:  Die beste stuurlui staan aan wal !  

 

As jy egter saamwerk en doelbewus saambou, is jou benadering tot die gebou en die bouwerk heel anders.  Ja, jy sien tog ook foute en kry met probleme te doen, maar dan help jy dit oplos. Jy loop nie net rond en kritiseer en kla by almal wat jy sien nie.

 

Dit is in elk geval nie die lidmate of selfs buitestaanders se taak om die bouwerk in die gemeente te beoordeel nie.  Luister wat staan in vers 13:  Die dag wanneer Christus kom, sal dit duidelik word.  Die dag kom met vuur, en die vuur sal die gehalte van elkeen se werk toets.  Hoor u? Jesus Christus, die Koning van die kerk, sal persoonlik, self  elkeen se bouwerk toets.

 

Maar hoe bou  ʼn mens aan die gemeente?

 

Omdat elkeen van ons tempel van God genoem word, moet die bouwerk by ons elkeen se persoonlike lewe begin. Dit gaan oor ons bouwerk op die fondament Jesus Christus.  Maw ons lewe in Christus.  Ons gelooflewe.  Die apostel Petrus noem ons geestelike stene wat opgebou word tot  ʼn geestelike huis van God.  Dit gaan dus oor ons verhouding met ons Here Jesus Christus. 

 

Broeder en suster.  Hoe lyk jou verhouding met die Here?  Luister jy elke dag wat Hy in sy Woord vir jou sê?  Lees jy jou Bybel?  Praat jy uit jou hart met Hom in gebed? En in jou huisgesin?  Hou jy saam met jou gesin huisgodsdiens? Doen jy saam met jou kinders vir wie jy  ʼn doopbelofte voor God afgelê het hulle katkisasievoorbereiding? Word pa en ma en kinders daagliks saam stil voor die Here?  En wat van Bybelstudie saam met medegelowiges? Is jy by  ʼn groep ingeskakel waar jy saam met ander gelowiges jou kennis en insig van God se Woord uitbrei en ook saam met hulle die Here dien en aanbid?

 

 Ja, die bouwerk wat ek en jy aan ons eie geestelike lewe, en ook aan mekaar, doen, gaan ook deur die Koning met vuur getoets word.

 

Eers wanneer ons elkeen met groot verantwoordelikheid onsself as lewende stene opbou, kan ons mekaar ook bystaan.  Mekaar in ons gesamentlike opbouproses help.  Dan bou ons saam die gemeente op en ons almal saam vorm  ʼn geestelike huis,  ʼn koninklike priesterdom in die Here se diens.

 

En dan, wanneer ons saam aan die Here se tempel bou, dan sal buitestaanders ons as gemeente raaksien as die huis van God.  Dan sal dit van ons ook waar word wat die profeet Sagaria gesê het: 

So sê die Here die Almagtige:  Daardie tyd sal uit die nasies tien man een Judeër aan die klere gryp en sê: “Ons wil met julle saamgaan, want ons het gehoor God is by julle”  (Sag 8:23).

 

Hierdie saambou is nie maar  ʼn vrywillige saak nie.  Elke lidmaat van die kerk het  ʼn verantwoordelikheid om onder leiding van die Heilige Gees te bou. Ons moet mekaar so in liefde help en bystaan dat ons saam daarvoor sorg dat God se woonplek hier by ons  ʼn sieraad is.  ʼn Plek waarop ons almal trots kan wees!

 

Maar dan sal ons nou moet inspring en help. Elkeen moet by hom- of haarself begin. Ons moet huisskoonmaak en sodat ons kan werk.  Raak ontslae van alle negatiwiteit en kritiek.  Nêrens in die Woord van die Here sal jy  ʼn plek kry waar jy die werk het om die bouwerk van ander te oordeel en te toets nie. Jesus Christus doen dit self!  En Hy doen dit behoorlik.  Hy toets met vuur!

 

 Luister eerder na die waarskuwing: As iemand die tempel van God beskadig sal God Hom straf, want die tempel van God is heilig, en die tempel is julle

 

As ek en jy nie ons eie geestelike lewe behoorlik opbou nie, is ons besig om skade aan te rig – skade aan onsself, en sodoende ook aan die ander dele van die tempel. 

 

SLOT

 

Hier in ons eeufeesjaar moet ons mooi kyk hoe ons verder aan die tempel van God bou. Dis nie ons kerk nie.  Dit is God se tempel.

 

Ons is lewende stene en ons moet mekaar in liefde opbou tot  ʼn geestelike huis,  ʼn koninklike priesterdom,  ʼn nasie wat vir God afgesonder is, die eiendomsvolk van God, die volk wat die verlossingsdade moet verkondig van Hom wat julle uit die duisternis geroep het na sy wonderbare lig.

                                                                              AMEN.

Read 3433 times Last modified on Friday, 09 March 2012 08:15
Danie de Kock

Website: www.facebook.com/profile.php?id=1438745475 Email This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it
Login to post comments

Soek