Sosiale Skakels

Besoekers

We have 22 guests online

Teken In

Follow us on FacebookFollow us on Twitter


Thursday, 28 April 2011 11:42

IS JY REG AANGETREK?

Written by 
Rate this item
(0 votes)

IS JY REG AANGETREK?

 

Ons het elkeen mos 'n wil.  Ons maak bepaalde keuses en  besluit dan self wat onswil doen of wat onsnie wil doen nie.  Ons is verseker nie sommer net 'n willose slagoffers van ons omstandighede nie. Jy besluit mos self!  

 

U stem sekerlik ook saam dat dit soms nogal baie moeilik is om die regte besluit te neem…

 

Die apostel Paulus skryf bv. in sy brief aan die Romeine in Hfst. 7: "Die goeie wat ek wil, dit doen ek nie, maar die slegte wat ek nie wil nie, dit doen ek."   Hy het 'n worsteling, 'n stryd gehad.  Hy het geweet wat is reg en wat is verkeerd. Hy wil die goeie doen, maar kry dit nie altyd reg nie......  

 

In ons teksgedeelte vetrel die Here Jesus ‘n gelykenis waarmee Hy ‘n mens leer om jouself te toets.  Jou eie wil en jou gesindheid te toets.

 

Die groot vraag waaroor diet hier gaan, is: Wie is in beheer van my wil?  Ekself of die Here?  Die punt is broeder en suster,

 

1. JOU EIE WIL IS VYANDSKAP TEEN GOD

 

Jesus vertel 'n gelykenis van 'n koning wat vir sy seun 'n bruilofsfees gereël het.  Die gaste is betyds, eintlik lank voor die tyd, van hulle uitnodiging in kennis gestel.  Soos die gebruik egter destyds was, is die mense  ook vir ‘n tweede keer, met die aanvang van die fees, weer genooi.  Hulle moes nou kom, want die fees gaan begin!

 

Die probleem het by die tweede uitnodiging ontstaan.  Hoewel hulle aanvanklik gesê het dat hulle sou kom, reageer hulle glad nie op hierdie tweede uitnodiging nie.  Hulle het ander dinge gehad wat, so het hulle gedink, belangriker as hierdie bruilofsfees was.  Hulle het selfs so ver gegaan om hulle die koning se diensknegte, wat hulle kom roep het, te lyf gegaan het.  Die koning het kwaad geword, die eerste genooides vir hulle wandade gestraf en toe sy diensknegte na die strate gestuur om te nooi soveel hulle kon kry om te kom.  En so het die saal waar die bruilofsfees gehou is vol gaste geword, gaste van die strate en kruispaaie af.

 

Die gelykenis vertel dan verder van een man wat ook, so saam met die ander gaste, van die staat af genooi is. Maar dan vertel Jesus dat hierdie een spesifieke man nie bruilofsklere aangehad het nie.  Dit klink 'n bietjie snaaks.  Hoe kan die koning verwag dat iemand wat sommer so van die straat af genooi is, nou skielik spesiale bruilofsklere sal aanhê?  Dis mos onregverdig!

 

Ons moet egter die gebruik van destyds verstaan. Die gebruik was dat die koning vir so 'n groot bruilofsfees, nie net die gaste uitgenooi het nie, maar selfs die gaste se bruilofsklere voorsien het.  Daarom vra die koning die man vriendelik:"Vriend, hoe het jy hier ingekom sonder bruilofsklere aan?"  Maar die man kon niks antwoord nie.

 

Wat beteken die gelykenis nou?

 

Jesus sê in vers 2:"Met die koninkryk van die hemel gaan dit soos met 'n koning wat vir sy seun 'n bruilofsfees voorberei het."

 

Die gelykenis gaan dus oor die koninkryk van God en hoe 'n mens daar toegang verkry.  Israel is die eerste genooides. Hulle was mos, as die volk van God, geroep om deel te hê aan die koninkryk, maar hulle steur hulle nie aan die fees nie.  Hulle het die profete doodgemaak en die Here Jesus Christus, die seun van God, die bruidegom, verwerp. Hulle het die liefde en genade van God vertrap!

 

Wat gebeur dan? God laat sy evangelie aan die res van die wêreld verkondig.  Ander tale, volke en nasies word nou geroep  - Ja, nou word alle mense van die strate af genooi na die fees van die koninkryk!

 

God se liefde en genade gaan oor die hele wêreld.  As Israel dan sy liefde vertrap, wys God dat Hy nie van mense afhanklik is nie.

 

Maar nou is daar ‘n verder problem.  Kom ons kyk na die tweede deel van die gelykenis.

 

Die vraag wat hier aan die orde kom, is: Wie is die belangrikste?

 

Is die gaste die belangrikste?     OF       Is die koning wat uitnooi die belangrikste?

 

Die man sonder die bruilofsklere het net aan homself gedink.  Hy het homself as die belangrikste beskou.  Die klere wat hy aangehad het, was vir hom blykbaar goed en gemaklik.     Sien u hoe die eie-ek, die eie wil, hier voorop kom staan?  En nou weet ons mos jou eie wil is nie noodwendig reg en goed nie!

                   

Jou eie wil is vyandskap teen God.

                     Maar dit is nie al nie....

 

2. JOU EIE WIL IS ONDANKBAARHEID

 

Die man het geen reg gehad om die bruilofsfees by te woon nie.  Hy is van die straat af genooi!  Hy was nie van adelike afkoms of in een of ander hoë of vername posisie bekleë wat hom die reg gegee het om die fees by te woon nie.  Dit was bloot net die koning se goedgunstigheid wat hom toegang gegee het. Dit kon net sowel iemand anders gewees het. Sy teenwoordigheid was dus net genade!

 

Dink u nie ook dat sy optrede juis dan van dankbaarheid moes spreek nie?  Maar nou het hy 'n arrogante houding.   

 

Wat is die punt?  

 

Ons elkeen is net uit genade deel van die fees van die koninkryk.   Ons het die teken van die verbond, naamlik die doop, ontvang.  Ons het dit  boonop ontvang toe ons nog klein babatjies was.  Ons het NIKS aan hierdie voorreg, wat ons het, gedoen nie. Ons het nie ons plek verwerf nie. Dit is alles genade!

 

Nou is die vraag:  Hoe lyk ons gesindheid?  Hoe lyk ons dankbaarheid vir die wonderlike voorreg?  Beskou ons nie moontlik, ook soos die man by die fees, verkeerdelik die deelwees van God se verbondsvolk as 'n reg nie?  

 

Hierdie gelykenis is eintlik 'n spieël vir elkeen van ons. Ons moet mooi hierin kyk om te sien wat ons alles van God ontvang het.  Ons is, bloot uit genade, genooi na die wonderlike fees wat God vir ons voorberei het.  Ons het geen reg om deel van God se koninkryk te wees nie.

 

Daarom is die belangrike vraag: Is jy reg aangetrek?  Het jy bruilofsklere aan?

 

Die man in die gelykenis het nie bruilofsklere aangehad nie.  Die koning gee opdrag dat hierdie man se hande en voete vasgebind moes word en hy in die buitenste duisternis gegooi moes word.

                      Wat is hierdie bruilofskleed?

 

Dit die bruilofskleed het te doen met jou gesindheid.  Dit het te doen met

 

3. JOU EIE WIL WAT DEUR GOD SE WIL VERVANG WORD

 

Van nature is ons elkeen se eie wil mos vol sonde!  En om van jou eie wil ontslae te raak is nog ‘n stryd. In Rom 7 lees ons van Paulus se stryd:  Hy besef dat hy die goeie moet doen, maar tog doen hy die slegte.  Dan roep hy uit: "Wie sal my van hierdie doodsbestaan verlos?"  En dadelik gee hy die antwoord: "Ek dank God" sê hy, "Want Hy doen dit deur Jesus Christus".

                          Christus maak die verskil.

 

En nou sê Paulus in Rom 13:14: "Beklee julle met Jesus Christus."  Jesus Christus gee jou toegang tot die bruilofsfees van die koninkryk.  Jy kan op geen ander manier toegang verkry as net deur Jesus Christus as die gekruisigde nie. Sy manier van doen, is die bruilfskleed wat jy moet aantrek – sy liefde en sy gehoorsaamheid!!

 

Ja, broeder en suster, as jy werklik jou lewe in Christus soek, dan neem Hy beheer oor.  Hy bestuur jou lewe deur sy Gees.  'n Lewe onder leiding van die Heilige Gees, is egter nie iets wat sommer vanself gebeur nie! Om in Christus onder leiding van die Heilige Gees te lewe, vra van jou toewyding en opoffering!  Dit verg groot aanpassings.

 

In die gelykenis lê die verskil juis op hierdie punt.  Die koning het bruilofsklere vir die gaste voorgeskryf. Maw SY WIL is voorgeskryf.  Tog gaan hierdie man na die fees sonder die voorgeskrewe klere - Maw sy eie wil of voorkeur.  Hy wil deel van die fees wees, maar dan op sy manier en volgens sy eie voorwaardes!

 

Op die ou end word hy uitgegooi - in die buitenste duisternis. Die fees is nie vir Hom nie, al het hy hy so gedink.

 

Met hierdie gelykenis stel die Here ons elkeen voor ‘n keuse.  As jy deel wil wees van God se bruilofsfees, moet jy eers van jou eie wil afstand doen. Jy moet eers jou ou lewe met sy ou waardes en gebruike uittrek en dan Jesus Christus aantrek.   As iemand na jou kyk, moet hulle Jesus Christus sien!  Jesus Christus se lewe wat van liefde, en gehoorsaamheid en toewyding en opoffering getuig.  Jesus wat bereid is om te sterf sodat sy broers en susters kan lewe!

 

Broeders en susters, uit onsself kan ons nie so lewe nie.  Netsoos die man in die gelykenis glad nie met sy eie klere vir die koning aanvaarbaar was nie, so is ons ook nie vir God met ons eie lewe, ons eie waardes en gebruike en maniere, aanvaarbaar nie.  Ons moet eers ons eie wil en ons eie insigte en ons eie voorkeure uittrek en dan Jesus Christus aantrek. 

 

SLOT

 

Geliefdes,

As jou eie wil nog vir jou die belangrikste is, het jy 'n probleem.  Dan is jy nie geskik vir die bruiofsfees nie, want dan het jy beslis nie die regte klere aan nie.

 

Beklee jou met Christus!  Trek Hom aan as jou Verlosser en Saligmaker. Dan sal Hy jou met sy Gees lei en jou in die feesfreugde van God se koninkryk laat deel.

                                                                        AMEN.

Read 2453 times Last modified on Friday, 09 March 2012 08:16
Danie de Kock

Website: www.facebook.com/profile.php?id=1438745475 Email This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it
Login to post comments

Soek