Sosiale Skakels

Besoekers

We have 28 guests online

Teken In

Follow us on FacebookFollow us on Twitter


Thursday, 28 April 2011 11:43

EK IS DIE HERE SE EIENDOM

Written by 
Rate this item
(0 votes)

EK IS DIE HERE SE EIENDOM

 

Watter plek het God in u lewe?

 

Hierdie vraag is absoluut bepalend vir ons elkeen se verhouding met Hom.

 

Toe Jesaja onder inspirasie van die Heilige Gees die gedeelte wat ons sopas gelees het, geskryf het, was die volk Juda in Babel in ballingskap. Hulle was bang en verlate, slawe in 'n vreemde land.

 

En hoor nou wat sê die Here vir hulle by monde van sy profeet:

 

"Maar luister nou, my dienaar Jakob wat Ek uitverkies het: So sê die Here wat jou gemaak het, wat jou gevorm het in die moederskoot en jou nou nog help: Moenie bang wees nie......."

 

Hier is 'n baie belangrike punt wat ons moet raaksien, broeders en susters:

 

Voordat ons kan waag om te antwoord op die vraag:

 

WATTER PLEK HET GOD IN MY LEWE?

                                 Moet ons eers 'n ander vraag vra naamlik: WATTER PLEK HET EK IN GOD SE LEWE?

 

Met ander woorde: Hoe belangrik is ek vir Hom?

 

Broeders en susters kyk net hoe belangrik is ons vir Hom!

 

  • Hy het ons uitverkies en ons gewas in die bloed van sy Seun.
  • Hy het sy Gees aan ons gegee.
  • Ons lewe daarom as sy eiendom.

 

Sien u waaroor dit in die eerste plek gaan?  Dit gaan nie eerstens oor watter plek die Here in ons lewe het nie, maar watter plek ons in sy lewe het!

 

1. GOD HET ONS UITVERKIES!

                                   

Die Here wys sy volk dadelik op die feit dat Hy hulle uitverkies het. Hy het hulle gemaak om sy volk te wees.

 

In Efesiërs 1:4 en 5 skryf die apostel Paulus aan die gelowiges in Efese en sê:

 

 "So het Hy nog voordat die wêreld geskep is, ons in Christus uitverkies om heilig en onberispelik voor Hom te wees. In sy liefde het Hy ons, vol­gens sy genadige beskikking, toe ook al daarvoor bestem om deur Jesus Christus sy kinders te wees."

 

Sien u waarom ons moet vra: Watter plek het ons in God se lewe?

 

Hy het ons reeds voor die skepping van die wêreld tot sy kinders uitverkies! Hy het ons gemaak wat ons vandag is! In sy Seun Christus het Hy ons skoon gewas van al ons sondes!

 

Maar broeders en susters. Kyk nou net na die sondige mens. Hy maak vir homself afgode. Hy kap 'n stuk hout af en maak met 'n deel daarvan vuur om homself warm te maak en om vleis daarop te braai. Uit die stuk wat oorbly maak hy 'n afgod! Hy buig voor die afgod en sê: 'Red my, want jy is my god'.

 

Sien u wat is die mens se natuurlike manier van doen? Hy maak vir homself 'n god. En dan gee hy vir daardie afgod 'n plek in sy lewe.

 

Met die ware God werk dit anders! Hy het jou uitverkies en jou gemaak wat jy vandag is. Daarom bely dioe gelowige:

                   "Ek behoort aan die Here"

 

Maar kom ons kyk verder na die plek wat ons in die Here se lewe het:

 

2. HY GEE AAN ONS SY GEES

 

Aan sy volk sê Hy: "Ek sal my Gees uitgiet op jou kinders, my seën op jou nakomelinge..."

 

Ja, geliefdes, so belangrik is ons vir God, dat Hy deur sy Gees in ons kom woon!  Hy het ons mos uitverkies om in Christus heilig en onberispelik voor Hom te wees.

 

Hy weet egter hoe swak ons is en dat ons van nature geneig is om die slegte te doen. Daarom laat God sy Gees in ons woon, sodat ons wel in staat is om tot sy eer te kan lewe. Die apostel Paulus sê dat ons tempels van die Heilige Gees is. (1 Kor. 6:19)

 

Die gelowige kind van God wat onder leiding van die Heilige Gees lewe, is soos gras wat in die veld uitspruit en soos bome wat langs waterstrome geplant is, vol groei en lewenskragtigheid!

 

Sien u watter plek u in God se lewe het? U is mos sy duurgekoopte eiendom! U is mos gekoop met die bloed van God se eie Seun. Daarom het Hy sy Gees aan u gegee om as sy eiendom te lewe!

 

Broeder en suster. As dit dan die plek is wat ons in God se lewe het, dat kan ons weer by die aanvanklike vraag uitkom nl:

 

          WATTER PLEK HET GOD IN U LEWE?

 

En dan hoor ons die gelowige se belydenis:

 

3. EK LEWE AS GOD SE EIENDOM

 

Ek behoort mos aan Hom. Hy het my uitverkies. Hy het my gemaak wat ek nou is en Hy het sy Gees aan my gegee.  DAAROM lees ons in ons teksvers: "die ander sal op sy hand skryf:

 

           DIE HERE S'N......."

 

Sien u wat gebeur, die belydenis gaan oor in 'n daad!  Die hand begin skryf!  Die hand begin doen en dit wat die hand doen, wys baie duidelik dat dit 'n gelowige hand is.

 

'n Blote belydenis is nog geensins die bewys dat jy 'n gelowige is nie! Jou geloof moet in jou dade sigbaar word. Jakobus skryf mos in sy brief:

 

" 'n Liggaam wat nie asemhaal nie, is dood. So is 'n geloof wat nie tot dade kom nie, ook dood"(Jak 2:26)

 

Kom ons toets onsself broeders en susters. Watter geloofsdade het u die afgelope week gedoen?  Hier praat ons nie van Bybellees en bid nie, maar van dade aan ander mense. Hoe kon ander mense sien dat u 'n gelowige is?  Hoe het u God se Woord uitgedra en ander mense in nood gehelp?

 

Broeders en susters, maak ons nie ook soos die man waarvan ons hier in Jesaja 44 lees nie?  Maak ons nie in ons eie gedagtes vir ons 'n afskeep god wat ons dien soos ons wil nie?

 

Daar bestaan die gevaar dat ons God op ons manier wil aanbid! As ons God op ons manier wil aanbid, is ons nie by die ware God nie. Hy laat Hom nie misbruik nie.

 

 

 

SLOT

 

Geliefdes, WATTER PLEK HET GOD IN U LEWE?

 

Onthou, Hy het ons uitverkies en ons gemaak wat ons nou is. Hy het sy Seun gestuur om in ons plek die straf op ons sonde te dra. En Hy het sy Gees aan ons gegee om ons so te lei dat ons as sy volk kan lewe!

 

Al sit ons soos ballinge in 'n vreemde wêreld waar die Satan en sy bose magte rondloop om te soek wie hulle kan verslind. Ons hoef nie bang te wees nie, want God is ons Vader. Ons behoort aan Hom!

 

Die enigste manier wat ons so getroos kan lewe, is as ons met ons optrede wys dat God al die plek in ons lewe het!

                                  AMEN.

Read 3555 times Last modified on Friday, 09 March 2012 08:16
Danie de Kock

Website: www.facebook.com/profile.php?id=1438745475 Email This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it
Login to post comments

Soek